Wat ons nodig het in Suid-Afrika vandag is ʼn bewuste uitvinding van ʼn tradisie waarbinne daar vir elke Suid-Afrikaner ʼn regmatige plek is. Self is ek bereid om iets te ontdek of te fabriseer sou dit kon help om die tradisie-proses momentum te gee. Ek sien egter nie daarvoor kans om soos my Protestantse vaders van die sestiende eeuse Europa standbeelde, muurskilderye en monumente met verf te gooi of stukkend te breek om so hulle nuwe tradisie gevestig te kry nie. Hoe dit ook al sy, iets moet gedoen word en dalk kan die geskiedenis ons help om kreatief te raak in hierdie verband.

Enkele weke gelede ontvang ons die nuus dat ʼn besondere manuskrip van Martin Luther, die groot kerkhervormer wat die Protestantse Reformasie geïnspireer het, ontdek is. Hierdie kopie van Aangaande die vryheid van ʼn Christen dateer uit 1520 met nie minder nie as vyftig notas in rooi wat Luther self daarin aangebring het om veranderinge aan te dui wat in die volgende uitgawe in ag geneem moet word. Die ontdekking van hierdie besondere dokument is deur James Hirsten in die Humanistiese biblioteek in Selestat in die noord-ooste van Frankryk gemaak. Hirsten se fonds is ongetwyfeld ʼn besondere ontdekking, maar so is ook sy tydsberekening. Hoekom sê ek so? Gewoon omrede dit oor minder as twee jaar die aanvang is van die vyfhonderdjarige herdenkingsjaar van die Protestantse Reformasie in 2017. Voorbereidings vir hierdie groot feesjaar is al vir etlike jare aan die gang. Die aanvang van die Reformasie word algemeen gedateer 31 Oktober 1517. Dit is die dag waarop Martin Luther volgens oorlewering sy 95 stellings vasgespyker het teen die deur van die Slotkapel in die stad Wittenberg. Ek is egter oortuig daarvan dat Martin Luther niks aan enige deur op daardie dag vasgespyker het nie, alhoewel die oorvertel van die verhaal dat hy dit gedoen het, wel waardevol is en daardie hamerslae steeds pragtig klink in my protestantse ore.

In hulle boek uit 1983 getiteld The Invention of Tradition toon die Britse historici, Eric Hobsbawm en Terence Ranger, aan hoe tradisies wat daarop aanspraak maak om besonder oud te wees inderwaarheid dikwels taamlik nuut is. Hierdie tradisies is dan nie alleen nie oud nie, hulle is heel dikwels ook uitgevind. Ten einde ʼn spesifieke tradisie uit te vind word spesiale mites en simbole ook ontwikkel om die nuwe tradisie aan die gang te kry en daarna ook op koers te hou. In daardie boek word byvoorbeeld gewys hoedat die sogenaamde Hoogland Tradisie van Skotland as ʼn onafhanklike tradisie van Ierland ʼn (taamlik nuwe) uitvinding is. Vir hierdie doel, te wete om ʼn eie Skotse tradisie daar te stel, is antieke klere (kilts en die tartans van die clans) ‘ontdek’ en saam daarmee ʼn egte Skotse bloedlyn. Met die oog op die daarstelling en geloofwaardigheid van die egte Skotse koninklike bloedlyn, wat bygesê al vir jare nie meer bestaan het nie, het twee McPhersons (waarvan een ʼn predikant was) en wat die outeur “two insolent pretenders” noem die Skotse geskiedenisboeke in hierdie verband ‘gekook’ deur ʼn klomp onwaarhede in te werk en sodoende die Stewart bloedlyn weer laat herleef. Wat hulle reggekry het, was egter volgens die skrywer ”a lasting triumph: they had put the Scottish Highlanders on the map.” Hierdie sogenaamde uitvinding van tradisie is niks nuuts nie en ek glo dit word in alle volkere ten alle tye aangetref. ʼn Meer onlangse mooi Suid-Afrikaanse voorbeeld is hoedat Karel Schoeman in sy Die laaste Afrikaanse boek daarop wys dat die viering van Geloftedag ook grootliks vergete was vir ʼn tyd in die Suid-Afrikaanse geskienis, maar in die jare voor 1938 en die Eeufeesvieringe met die Ossewatrek weer heel gepas herontdek is. Hierdie en ander rituele het verseker ʼn belangrike rol gespeel in die vorming van die Afrikaner tradisie. In my eie navorsing het ek al aangetoon hoe dit tans ook afspeel in nuwe onafhanklike kerke in Afrika. Ek glo dat ʼn mens, indien jy fyn kyk, soortgelyke projekte oraloor in ons eie dag sal kan waarneem. Maar na hierdie ompad wil ek terugkom by Luther en sy pas ontdekte boek met die aantekeninge. Ek glo hierdie ontdekking is deel van ʼn voortgaande proses van die sogenaamde uitvinding van tradisie wat al met die simboliese en pragtig mitiese handeling van 31 Oktober 1517 begin het.

In sy boek Performing the Reformation wys Barry Stephenson op die bekende feit hoedat Luther by uitstek die kunste gebruik het as propaganda vir sy nuwe leer. Daarom is dit vreemd dat nie ʼn enkele skildery of afbeelding in die tyd kort na 1517 gemaak is wat die vasspyker van die 95 stellings uitbeeld nie. Vir ʼn eeu na sy dood was hierdie gebeurtenis ook nie deel van die populêre kultuur van die Reformasie nie. Die pragtige mite van die vasspyker van die 95 stellings het ontwikkel en saamgehang met die eeufeesvierings van die Reformasie. Die eerste uitbeelding van Luther by die deur van die Slotkapel kry ons eers met die eeufeesviering in 1617. Luther word afgebeeld dat hy die 95 stellings op die deur skryf met ʼn baie lang pen waarvan die een kant tot in Rome strek tot in die oor van die pous. En dan nog ʼn 100 jaar later, en let wel in 1717, kry ons die eerste munte wat die gebeurtenis uitbeeld, spesiaal natuurlik gemunt vir die tweehonderdjarige vieringe. Tussen 1817 en 1917 kry die gebeurtenis egter momentum in die uitbeelding daarvan waarvan die meeste munte en medaljes wat dit uitbeeld, gemunt is vir die 1917 vieringe van Reformasie se vierhonderdjarige vieringe. In die vroeg negentiende eeu kom Hervormingsdag (31 Oktober) dan ook na vore as die dag waarop die Reformasie as gebeurtenis herdenk word. En in die laaste eeu het die vasspyker van die 95 stellings ʼn belangrike tema en simbool geword soos iemand soos ek ook daarvan geleer het in my kerkgeskiedenisklasse. Dit is duidelik hoe ʼn nuwe tradisie (Protestants) hier pragtig uit die verf kom en elke honderd jaar nuwe energie kry deur iets te skep of dalk eerder te ontdek. ʼn Mens sou veel langer kon aangaan oor die simboliek van die geleentheid, aangesien dit natuurlik op ʼn simboliese vlak pragtig resoneer met die hamers en spykers wat met die kruisiging gebruik is en daardie gebeurtenis ook so oproep. En die ontdekking van die boek van Luther ʼn klompie weke gelede, is ook in pas met die Protestantse skrifkultuur, aangesien daar heel betekenisvol ʼn boek en nie ʼn kelk of ʼn bottel nagmaalswyn ontdek is nie, maar inderdaad ʼn manuskrip. Nou ja, die ontdekking van hierdie boek is bes moontlik gewoon net die ontdekking van ʼn boek. Vir my is dit desnieteenstaande opvallend dat die boek so ʼn bietjie meer as ʼn jaar voor 2017 eerder as daarna ontdek is. En skilderye, munte of bes moontlik webwerwe wat die vasspyker van die 95 stellings simuleer, glo ek sal ons in die volgende jaar of meer kan verwag. Hoe dit ook al sy, dit is goed so. Alle volkere, alle godsdienste, alle mense is voortdurend besig om hulle eie tradisies te ontdek en te bevorder deur die verhale wat hulle vertel en die simboliese handelinge wat hulle uitvoer. Hierdie is ʼn belangrike en voortgaande proses en is deel van ons oorlewing en dien die bevordering van groepskohesie.

In ons eie land was daar inderdaad al heelwat pogings gewees, van ʼn nuwe vlag en volkslied tot en met braaidag asook die meer onlangse beeldestorm vanaf RhodesMustFall tot en met UPRising. Ek het egter gelukkig net verlede week, terwyl ek besig was met navorsing in Tukkies se Argief, ʼn dokument ontdek van Siener Wepener (ja, ek vermoed dis wel familie) waarin sy voorspel dat Suid-Afrika as nasie ʼn baken van lig vir res van die wêreld gaan wees. En volgens gerugte kan ons meerdere sulke ontdekkings in die nabye toekoms in die argiewe van Maties en Kovsies en Ikeys gemaak word. Ek sien met verwagting daarna uit.

 

Enkele geraadpleegde bronne

Hobsbawm, E. & Ranger, T., (eds.), 1983, The Invention of Tradition,. Cambridge University Press, Cambridge.

Post, P.G.J., 1995, ‘De creatie van traditie volgens Eric Hobsbawm’, Jaarboek voor liturgie-onderzoek 11, 77-100.

Schoeman, K., 2002, Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge,. Kaapstad/ Pretoria/ Johannesburg: Human & Rousseau.

Stephenson, B., 2010, Performing the Reformation. Public Ritual in the City of Luther. Oxford Ritual Studies Series 2. Oxford University Press, Oxford/ New York.

Wepener, C.J. “African therapy for a fractured world (view): The life of founder bishop Johannes Richmond and the invention of tradition and group cohesion in an African Initiated Church.” HTS Teologiese Studies / Theological Studies; Vol 71, No 1 (2015), 9 pages. doi: 10.4102/hts.v71i1.2900

Wepener, C.J. 2008. “Liturgy on the edge of tradition”. PTSA 23/2, 313-335.

Share this / Deel hierdie: