…’n man van lyding wat pyn geken het (Jesaja 53:3)

Wie hierdie woorde geskryf het, weet ons nie. Oor die jare het ons die skrywer egter Deutero-Jesaja genoem. Hy was ‘n profeet tydens die ballingskap en was waarskynlik vir Jesaja 40-55 verantwoordelik.

In Jesaja 52:13-53:12 het die skrywer iets treffend vertel. Dit is so aangrypend dat ‘n mens dit binne-in jouself moet toemaak en altyd weer daaroor moet nadink. Dit is so hartroerend dat ‘n mens eintlik nie daaroor kán skryf nie.

Hy het van iemand wat gely het, vertel. Mense het dié persoon verag en verstoot. As hulle hom in die straat raakgeloop het, het hulle ander pad gekyk. Niemand het hom ooit van enige waarde geag nie en het hom oral vermy. Niemand wou met hom vriende wees of sommer net lekker gesels nie. Sy afkoms was nederig en niemand het van hom gehou nie.

Hy het ook nie mooi gelyk nie en sy voorkoms het niemand beïndruk nie. Die woorde ‘lyding’ en ‘pyn’ kan dalk op ‘n siekte dui en daarom word dan gesê: ‘Hy het nie skoonheid of prag gehad’ (Jes 53:2).

Hierdie man se pyn is so realisties dat ‘n mens dit self ook aanvoel. Sy verwerping so aangrypend dat ‘n mens deel word daarvan. Hoekom dan hierdie toespitsing op lyding? Een moontlikheid is dat Deutero-Jesaja en sy mense baie oor lyding nagedink het. Hulle (of dan hulle voormense) het die smart van 586 gevoel en het die pyn van totale vernietiging ervaar. Tydens die ballingskap het Deutero-Jesaja-hulle toe veel oor lyding en swaarkry gepeins. Waarom moes mense ly? Miskien weerspieël Jesaja 53 iets van ‘n antwoord: lyding was deel van die mens se bestaan en niemand sou dit ooit ontkom nie. Elke mens voel elke dag nog iets van die tragiese, die onafheid, die onvolmaaktheid van die lewe in homself.

Tog is dít nie al wat Jesaja 53 sê nie. In hierdie verse lê daar iets plofbaar. Iets so rewolusionêr wat tot nog toe nie so duidelik in die Ou Testament gesê is nie. En dit is dat iemand die pyn van ander kan dra; dat die persoon wat so (in Jes 53) gely het ander se pyn op hom kan neem; dat hy ander in hulle pyn kan troos; dat hy ander moed kan gee. c jler