Australië, 1950. Dungarter. ‘n Agterlike gehuggie in die agterveld. ‘n Trein hou stil, ‘n vrou klim af. Sy is die spreekwoordelike ‘femme fatale’. Haar openingswoorde: ‘You bastards, I’m back.’ En nou weet jy, gaan die poppe dans.

Die vrou is Myrtle ‘Tilly’ Dunnage (Kate Winslet). Vyf en twintig jaar gelede is sy onder ‘n wolk weg; daar is gesê dat sy vir die dood van een van haar klasmaats, Steward Pettyman, verantwoordelik was. Sy is weggestuur na ‘n kosskool in Melbourne, maar daarna het sy haarself as mode-ontwerper in die voorste modehuise van Europa en Engeland bekwaam. Nou het sy teruggekeer om soete wraak te neem in ‘n dorpie wat haar steeds as ‘n ‘moordenaar’ beskou.

Soet is die uitrustings wat sy met haar naaimasjien optower. Tilly daag by ‘n voetbalwedstryd op in skeppings wat die manne skoon van die bal laat vergeet. Tilly sorg dat die lelike eendjie Gertrude Pratt (Sarah Snook) die spreekwoordelike swaan word en die oog van haar toekomstige bruidegom vang. Op ‘n komiese dog roerende noot ontwikkel ‘n besondere verhouding tussen Tilly en Sersant Horatio Farrat (Hugo Weaving) wat in die geheim ‘n transvestiet is – en Tilly weet presies waar om sy knoppies te druk. Erotiek knetter in die lug wanneer die vonke tussen Tilly en die aantreklike voetbalspeler Teddy McSwiney (Liam Hemworth) begin spat.

Bittersoet is die verhouding tussen Tilly en haar moeder – ‘Mad Molly’ (Judy Davis). Molly sluk swaar aan haar dogter se reputasie as ‘n ‘moordenaar’. Aanvanklik verwerp sy haar, maar wanneer Teddy op die toneel verskyn, raak bitter Molly ‘n bietjie meer soet, selfs ‘n bietjie minder mal. Oor ‘n bordjie sop verwissel rolle tussen moeder en dogter in onthullende momente van deernis.

Bitter is die raadslid Evan Pettyman (Shane Bourne), vader van die ‘vermoorde’ Steward. Hy doen alles in sy vermoë om Tilly te verongeluk. Sy het sy seun vermoor, en dit is dit. Hy gaan so ver soos om Una Pleasance (Sacha Holder) ook ‘n mode-ontwerper te laat kom om Tilly se lig te steel. Maar Evan Pettyman is ‘n donker figuur – daar’s vroue, daar’s duister motiewe.

In hierdie rolprent gaan dit om die onvoorspelbaarheid en vreemde wendinge van die lewe. Nie heeltemal soos wat jy dit sou wou hê nie.

Alles eindig met ‘n rooi tapyt, vlamme en ‘n trein na Melbourne.

Bon voyage – gaan kyk dit gerus.             

Share this / Deel hierdie: