Inleiding

Die belangrikste gebeurtenis in die liturgiese jaar van die ganse Christendom is sekerlik Pase: die herdenking aan Jesus se lyding, kruisiging, sterfte, begrafnis en opstanding uit die dood. Vir Christene is Pase selfs belangriker as Kersfees, want die herinnering aan Jesus en sy lyding was die gebeure wat die grondslag vir die Christelike geloof gelê het, en daartoe gelei het dat die vroeë kerk ‘n bepaalde belydenis hieroor geformuleer het. Deel van hierdie belydenis is ‘. . . dat Jesus Christus gely het, onder Pontius Pilatus gekruisig is en gesterf het . . .’ Alhoewel die eerste Christene oor Jesus se lyding en kruisdood saamgestem het, het hulle verskillende sieninge daaroor gekoester. In hierdie teo-bydrae wil ek kyk wat Elaine Pagels, ‘n kenner van die Gnostiese geskrifte, vir ons vertel van hoe die Gnosici die gebeure rondom Pase interpreteer het.

Die werklikheid van Pase

Geskrifte uit die eerste eeu nC, bybelse sowel as buite-bybelse bronne, is dit eens: daar het werklik iemand gelewe wat as Jesus van Nasaret bekend gestaan het, en wat ongeveer 30 nC deur die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus ter dood veroordeel en gekruisig is. Tacitus, die aristokratiese Romeise geskiedskrywer (ca 55-115) verwys hierna in sy verslag oor keiser Nero se brandstigting in Rome en die feit dat hy die Christene hiervan beskuldig. Ook die Joodse geskiedskrywer Josefus noem die naam van ‘Jesus van Nasaret’ in ‘n reeks opruiende gebeure wat die Jode se verhoudinge met die Romeinse owerhede vertroebel het terwyl Pontius Pilatus die goewerneur was (Pagels 2006:89). Jesus se volgelinge bevestig hierdie gebeure. Al vier Evangelies in die Nuwe Testament beskrywe Jesus se lyding, sy kruisdood en haastige begrafnis.

Verskillende interpretasies     

Tog, as meerdere bronne oor die basiese feite van Jesus se teregstelling saamstem, het die eerste Christene radikaal verskillende interpretasies daaroor gehandhaaf. Pagels (2006:91-92) verwys na die ‘Apokalips van Petrus’, een van die gnostiese geskrifte wat by Nag Hammadi gevind is, en die ‘Handelinge van Johannes’, ‘n ouer bron wat nog voor Nag Hammadi ontdek is. Volgens Johannes was Jesus hoegenaamd geen mens nie, ‘n geestelike wese wat Homself vir waarneming deur die menslike oog aangepas het. Hy het byvoorbeeld nooit enige voetspore nagelaat nie, en nooit sy oë geknip nie. Petrus, wanneer hy Jesus aan die kruis sien hang, is vir ‘n oomblik verward en ontsteld deur die verskriklike lyding. Maar dan laat Jesus hom ‘n visioen bó die kruis sien waar Jesus vrolik is en lag. Jesus sê vir Petrus dat dít wat hy bó die kruis sien, die werklikheid is, die lydende Jesus is skyn. Vir beide die gnostiese Petrus en Johannes is Jesus ‘n geestelike wese en nie ‘n werklike mens nie.

Pagels (2006:93, 109) wys egter daarop dat nie alle gnostici so ‘n radikale onderskeid tussen die ware Jesus as gees en die skyn-Jesus as mens getref het nie. Verskeie tekste wat deur die volgelinge van Valentinus geskryf is, aanvaar dat Jesus die ‘Seun van die Mens’ was, dat Hy mens was en soos die res van die mensdom gely en gesterf het. Hy was egter ook die ‘Seun van God’ en die goddelike gees binne-in Hom het nooit gesterf nie, daarom kon hy bo lyding en dood uitstyg. Jesus se menslikheid word dus nie heeltemal ontken nie, maar sy goddelike gees of krag maak dat Hy sy menslikheid transendeer en oor die dood kon heers.

Tog het die ortodokse Christene van die eerste eeue daarop aangedring dat Jesus werklik ‘n menslike wese was en dat die kruisiging ‘n werklike en diep menslike lyding beteken het. In die geskrifte van kerkvaders soos Ignatius en Irenaeus, kom hul verset teen die gnostiese ‘kettery’ driftig na vore, en hulle verwerp summier alle gedagtes dat Jesus enigsins ‘n ‘hoër geestelike natuur’ gehad het wat van Hom minder mens sou kon maak. Waarom hierdie hewige reaksie en die aandrang op die belydenis dat ‘. . . Jesus gely . . .’ het?

Martelaarskap

Vir Pagels (2006:93-107) moet die dispuut rondom die interpretasie van Jesus se lyding en dood in ‘n praktiese vraag gesoek word wat alle Christene in die eerste twee eeue moes hanteer: martelaarskap. Hoe moes gelowiges op vervolging reageer en wat moes hulle doen as hulle self lyding en dood in die gesig gestaar het? As jy gearresteer en aangekla word, en jy het bely dat jy ‘n Christen was, is jy op een van twee maniere tereggestel: ‘n Romeinse burger was gelukkig genoeg om onmiddellik onthoof te word; nie-Romeine is deur middel van ‘n lang en uitgerekte lyding in die openbaar tot bespotting gemaak, hetsy deur gekruisig te word, of as ‘n spektakel in die openbare sportarena wat deur wilde diere verskeur word. Met hierdie vooruitsig, wat moes ‘n Christen doen? Bely, of die bewyse van lojaliteit aan die owerhede toon met die bedoeling om later boete vir die leuen te doen?

Bygesê, die Romeinse Ryk in die vroeë tyd het die Christene nie oor hul geloof vervolg nie. Dit het eerder daaroor gegaan dat die Christene – wat as ‘n ondermynende beweging beskou is – potensiële moeilikheidmakers was wat die ‘Pax Romana’ van die Ryk bedreig het: hulle was volgelinge van ‘n leier wat towery bedryf het; hulle was ‘ateïste’; hulle het aan ‘n onwettige organisasie behoort; daar was gerugte dat hulle menslike vlees en menslike bloed tydens maaltye genuttig het, iets wat towenaars ook gedoen het. Daar was geen wet van die Christendom verbied het nie, maar as enige magistraat van iemand gehoor het wat as ‘Christen’ aangekla is, was hy verplig om ondersoek in te stel.  

Vir die Romeinse amptenare wat die teregstelling van Christene moes sanksioneer en uitvoer, was dit ook nie maklik nie. Die geval van die bejaarde biskop, Polikarpus van Smirna is welbekend (Pagels 2006:97). Die goewerneur het herhaaldelik by hom aangedring om sy belydenis te herroep, en selfs sy ouderdom as motivering aangevoer. Polikarpus het egter hardkoppig geweier, en is lewendig in die arena verbrand. In Noord-Afrika het die   prokonsul Saturninus (ca 180) sy bes gedoen om die lewe te spaar van nege mans en drie vroue wat bely het dat hulle Christene is. Hy het hulle selfs dertig dae uitstel gegee om hul belydenis te heroorweeg. Hy was egter verplig om hulle, weens hul hardkoppigheid tereg te stel.

Nie alle Christene was so openlik nie. Baie het verkies om hul oortuiginge geheim te hou. Vir sommige was martelaarskap ‘n dom keuse, ‘n vermorsing van menslike lewe en dus, teen God se wil. Ook vir die gnostiese Christene was martelaarskap nie noodsaaklik nie. Hulle is egter ook gemartel, en dan het die onderskeid tussen vlees en gees hulle gehelp om te verstaan dat net soos slegs die menslike element van Jesus gely het, ook die gelowige mens se menslike lyding deur ‘n goddelike gees binne-in hom of haar getransendeer word. Heracleon, ‘n gnostiese leermeester en ‘n volgeling van Valentianus sien dit so: daar is twee maniere om Christus te bely. Sommige Christene bely Christus deur hul geloof in hul alledaagse lewe uit te leef. Ander bely hul geloof voor ‘n magistraat. Vir Heracleon is dit die eerste soort belydenis wat universeel van alle Christene verwag word, naamlik ‘n bepaalde soort lewenswyse. Martelaarskap word van sommige verwag, maar nie van almal nie (Pagels 2006:110).      

Nogtans het die ortodokse Christene van die eerste eeue daarop aangeding dat dit vir ‘n Christen noodsaaklik is om gemartel te word. Biskop Ignatius van Antiogië word veroordeel en hy word van Sirië na Rome gestuur om deur wilde diere verslind te word. Hy skryf aan verskeie gemeentes, ook aan die Christene in Rome wat hy glad nie ken nie, om met goeie bedoelings nie ter wille van hom in te gryp nie, maar om hom toe te laat om deur wilde diere opgevreet te word (Pagels 2006:99). Met ander woorde, hy wil dit hê, hy wil graag die allerverskriklikste martelaarskap ondergaan. Ook Irenaeus reken dat die gnostici die Christelike martelaars verag, en die waarde van die fundamentele opoffering verskraal. Irenaeus beskuldig gnostici dat hulle die solidariteit van die Christelike gemeenskap ondermyn. In plaas daarvan om met Christene te identifiseer wat in die tronk was, of wat op die punt staan om gemartel of tereggestel te word, weerhou die gnostici hul ondersteuning en daardeur sny hulle die grootse en glorieryke liggaam van Christus (die kerk) in stukke (Pagels 2006:111).  

Die betekenis van Jesus se liggamlike lyding

Vandag glo en bely ons dat Jesus se kruisiging ‘n verskriklike menslike lyding was, en dat Hy soos ‘n sterflike mens gesterf het. Dus, die ortodoksie het uiteindelik gewen. Waarom? Pagels (2006:111-114) reken dit lê in die solidariteit van die eerste martelare. Onder druk van ‘n gemeenskaplike gevaar, het groepe Christene wat oor die hele wêreld verspreid was, vir mekaar geskryf en van een kerk na ‘n ander gereis. Dan is verslae van die martelare, hetsy in die vorm van hul eie briewe, of dokumente soos wat ooggetuies dit waargeneem het, in die kerke van Klein-Asië, Afrika, Griekeland, Gallië, en Egipte bekend gemaak (Pagels 2006:112).

Die martelare se deursettingsvermoë en onverskrokkenheid het aanvanklike nie-gelowiges ook aangegryp. Beide Justinius en Tertullianus getuig dat die aanskoue van die martelare hulle tot so ‘n mate fassineer het, dat hulle nie anders kon as om hierdie beweging indringend te ondersoek nie. Beide het tot bekering gekom; beide het as martelaars gesterf. Die ortodokse konsensus was om die lydende en gekruisigde Jesus te bely, en hierdie beleid het in die lyding van die martelare vergestalt. Die gnositici was ook in klein groepies oor die wêreld versprei, maar het die leer van die ortodoksie, veral die waarde van ‘bloedgetuienis’ bevraagteken. Hulle wou nie die ortodokse interpretasie van Jesus ware menslike lyding aanvaar nie, en het martelaarskap as sekondêr tot ‘n getuienis van die geloof gereken.

Uiteindelik, sê Pagels (2006:113-114) bied die ortodokse leer van Jesus se lewe en sy lyding, ‘n manier waarop die essensie van menslike bestaan geïnterpreteer kan word. Die gnostiese siening dat Jesus hoofsaaklik ‘n geestelike wese was, word verwerp. Jesus, net soos die res van die mensdom, was gebore, Hy was deel van ‘n gesin, Hy was honger en dors, Hy het moeg geword, Hy het kos geëet en wyn gedrink, Hy het gely en gesterf. Verder het die ortodoksie daarop aangedring dat Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het. Met ander woorde, die ortodokse tradisie bevestig dat ‘n liggaamlike ervaring die kern van menslike lewe is:

‘What one does physically – one eats and drinks, engages in sexual life or avoids it, saves one’s life or gives it up – all are vital elements in one’s religious development (Pagels 2006:114).

Slot

Die gnostici het die kern van menslike bestaan in die ‘innerlike gees’ gesoek wat die fisiese ervaring van menswees wou ontken – hetsy plesier of pyn. Alles wat ‘n mens se aandag van die geestelike realiteit afgelei het, was ‘n illusie. Volgens die gnostiese tradisie was Jesus ‘n spirituele wese sonder ‘n vleeslike liggaam. Deur die eeue heen het Jesus se volgelinge egter meer met sy werklike menslike lyding identifiseer – nie net die martelare nie, maar alle Christene. Lyding, doodsangs – dit is deel van menswees (Pagels 2006:114). Jesus – die menslike Jesus – se verhaal is ook ons verhaal vandag.

Bron

Pagels, E 2006. The Gnostic Gospels. London: Phoenix

Share this / Deel hierdie: