Die vroeë kerk is met verskillende kritiese standpunte gekonfronteer waarop gereageer moes word. Een het met die historiese grondslae van die Christendom te make gehad. Die kerk het al hoe verder wegbeweeg van die oorspronklike geloofservaring en hoe kon dit as ‘t ware herbeleef word?

Montanus het in die jaar 170 hierop probeer antwoord. Volgens hom het die kerk iets verloor wat herwin moes word. ‘n Mens kan sy klag verstaan want in die beginjare moes die kerk ‘wêreldse’ dinge doen om te oorleef: dit moes organiseer, administreer, vergaderings hou, beplan, ampte (soos ‘biskoppe’) instel, geboue oprig, ensovoorts. Kortom: om te oorleef, moes die kerk ‘verinstitusionaliseer’ (‘n instelling word). Montanus het gevoel dat die ‘ou pinksterervaring’ daardeur in die slag gebly het en dat die kerk sy bestaanswyse moes verander. Dit moes heilig wees en die wêreldse instellings vermy. Ook die gelowiges moes hulle van die sondige wêreld afskei en heilig lewe (Dassmann 2000:134-135).

Montanus en sy twee medewerksters, Prisca en Maximilla, het hulle daarteen begin verset. Hulle het beweer dat die Heilige Gees aan hulle besondere openbarings geskenk het, dat die einde van die wêreld naby is, dat askese belangrik is en nog baie ander dinge meer (Drobner 1994:92-94). Montanus se invloed het mettergaan begin gekwyn terwyl die gnostiek die grootste gevaar vir die kerk in die tweede en derde eeu geword het.

Die gnostiese gelowiges was goed georganiseer en in kerke en gemeentes ingedeel en het ’n groot invloed uitgeoefen. Vele teoloë in die vroeë kerk (soos Irenäus, Hippolytus, Klemens, ea) het werke teen die gnostiek en die gnostici geskryf omdat dit so ’n bedreiging gevorm het. Dit ontdekking van ’n biblioteek van gnostiese werke in Nag Hammadi in 1945/46 het besondere lig op hierdie geestesstroming gewerp.

Die gnostiek en die gnostici was nie net sleg nie want hulle was byvoorbeeld die eerste teoloë wat erns met Paulus gemaak het. Behalwe vir Ignatius en Irenäus het die tweede eeuse kerk nie veel aandag aan Paulus gewy nie terwyl dit vir die gnostici ’n basisdokument geword het. Met groot intellektuele krag het hulle Paulus en Johannes in ’n magtige filosofiese sisteem ingebind en kennis daarvan was onontbeerlik vir die gelowige.

Die gnostici het die klem op kennis (‘gnosis’) laat val. Dit was belangriker as geloof. Daar was ‘n sekere soort kennis wat ‘n mens kon salig maak; ‘n soort kennis wat ‘n mens in die geheime van die lewe en die kosmos kon inlei; kennis wat die geheime sleutel tot die saligheid was; kennis wat net by die gnostici en die gnostiese gemeentes beskikbaar was. In die proses het hulle gemeen materie is boos: daarom was die liggaam boos; die belangrikste van ‘n mens is sy ‘siel’ of ‘gees’; die siel is vasgevang in die bose kerker van die liggaam; Jesus was ook nie materie of liggaam nie, maar net gees; Hy het nie na die liggaam gely nie; sy hooftaak was om die mens van al die bande van die liggaamlike, die materie te bevry; Jesus se werk was dus bloot geestelik, dit het bloot konsekwensies vir die siel/gees gehad en niks vir die liggaam nie; Hy het iets van ‘n ‘goddelike vonk’ aan die mens gegee om hom aan sy hemelse oorsrprong te herinner en niks meer nie (vgl Jonas 1969).

In die lig hiervan het Jesus ook nie werklik opgestaan nie. Hy het bloot in die kyrugma of die verkondiging opgestaan en dié opstanding was as ‘t ware nie deel van die heilsgeskiedenis nie, maar deel van ‘n groter gnostiese en mitologiese kennissisteem (Dassmann 2000:144).

En tog was die gnostiek gewild en was iemand soos Augustinus vir nege jaar deel van dié soort denke. Hy het by die Manicheërs aangesluit wat hulle bestaan na ‘n man genaamd Mani (217-276) teruggevoer het. Mani het homself ‘n ‘apostel van Jesus Christus, deur die wil van God, die Vader van alle waarheid’ genoem (Van Oort 2005:23). Hy en die Manicheërs was deel van ‘n breë religieuse beweging wat ons die ‘gnostiek’ noem en Augustinus het by hulle aangesluit.

Waarom? Augustinus was nooit dolgelukkig by hulle nie en hy kon ook nooit verder as ’n ‘auditor’ of ’n hoorder vorder nie (Van der Meer 1957:16-26). Waarom was hy dan vir nege jaar vanaf 373 tot 382 ‘n Manicheër. Daar moes iets gewees het wat Augustinus geboei het. Dalk was dit hulle ‘vermoë’ om antwoorde op die groot lewensvrae te gee. Augustinus was slim en het met vrae oor die bestaan van God en die oorsprong van alle kwaad geworstel (vgl Confessiones III,7,12), en die Manicheërs het antwoorde verskaf.

Dit was egter hierdie tweespalt tussen liggaam en gees en die feit dat Jesus nie werklik gely of opgestaan het nie, wat die gnostiek onaarvaarbaar vir die vroeë kerk gemaak het. Die heil was afhanklik van die werklikheid van sy lyding na liggaam en gees en as dit nie werklik gebeur het nie, was alles tevergeefs (vgl Le Roux 1976:36-44). In die Credo of geloofsbelydenis word ook uitdruklik gesê dat Hy (fisies) onder Pontius Pilatus gely het en die vermelding van laasgenoemde beklemtoon dat die lyding nie maar in ‘n mitiese ruimte plaasgevind het nie, maar dat dit werklik in ‘n bepaalde tyd (die tyd van Pilatus) en in ‘n spesifieke ruimte (Jerusalem) plaasgevind het.

 

Bibliografie

  • Ackroyd, P R & Evans, C F 1989. The Cambridge history of the Bible. Cambridge: Cambridge University Press,541-563.
  • Altaner, B 1951. Patrologie. Freiburg: Verlag Herder.
  • Augustinus, A 1956. Enarrationes in psalmos. Corpus Christianorum, Corpus Latina, 38. Turnhout: Typographi Brepols editores pontificii.
  • Bakhuizen van den Brink, J N 1965. Handboek der kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.
  • Bonner, G 1989. Augustine as Biblical scholar’, in Ackroyd & Evans (eds), 548.
  • Bonner, G 1989. Augustine as Biblical scholar’, in Ackroyd & Evans (eds), 548.
  • Dassmann, E 2000. Kirchengeschichte, vol I. Stuttgart: Verlag W Kohlhammer.
  • Drobner, H R 1994.Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
  • Jonas, H 1969. Het Gnosticisme. Utrecht: Spectrum.
  • Mühlenberg, E 1998. Augustin. RGG1, 959-967.
  • Van der Meer, F 1957. Augustinus de zielzorger. Utrecht: Het Spectrum.
  • Van Oort, J 1995. Jeruzalem en Babylon.  Zoetermeer: Uitgeverij Boekcentrum.
Share this / Deel hierdie: