Paul van Tongeren het einde 2015 as professor in die filosofie aan die Radboud Universiteit, Nijmegen afgetree en sy afskeidslesing het toe ‘n boek met ‘n baie belangrike tema geword. Hy het besluit om by dié geleentheid oor ‘dankbaarheid’ te praat. ‘n Tema wat volgens sommige nie veel aandag in die filosofiegeskiedenis ontvang het nie, maar wat vir Van Tongeren tog baie belangrik is (Van Tongeren 2015:15-34). Dankbaarheid is vir hom nie iets goedkoop nie want hy praat daaroor in die era ‘na de dood van God’. Laasgenoemde bespreek hy met behulp van Nietzsche se verskillende fases van nihilisme en beskryf dankbaarheid uiteindelik as ‘n deug. Soms ly die kerk aan oortollige of onnadenkende dankbaarheid sonder om ooit oor dankbaarheid self na te dink en daarom is Van Tongeren se insigte van groot waarde (sien ook Ijsseling 1964). Hieronder word slegs enkele aspekte van sy denke oor dié belangrike tema bespreek.

Die religieuse wêreld het verdwyn

Van Tongeren begin sy boek met ‘n paar interessante voorbeelde oor die moontlike verskraling van dankbaarheid. Toe hyself gebore is, het sy ouers ‘n kaartjie na familie en vriende gestuur met dié woorde: ‘Met grote dankbaarheid ontvingen wij van God een zoon en broertje’. Toe van Van Tongeren se dogtertjie gebore is, word net gesê: ‘Vol verwondering en blij, melden we de geboorte van onze dochter’. Ander familielede se geboortenuus was gewoon kort en saaklik: so en so is daar en dan gebore en dit gaan goed met moeder en kind. Niks meer nie en van God word ook niks meer gerep nie (Van Tongeren 2015:9-13).

Van Tongeren vra dan tereg wat oor ‘n tydperk van 65 jaar gebeur het. Oënskynlik lyk dit op ‘n verskraling van ‘n gevoel van dankbaarheid, maar eintlik is dit nie. Die moderne mens is nie die gevoel van dankbaarheid kwyt nie, maar verwys net nie meer na God as die gewer nie. Iets anders het wel verdwyn en dit is die religieuse konteks waarbinne dankbaarheid altoos met God verbind is. In hierdie ander konteks het God ‘n bietjie oorbodig geword en was Hy nie meer die adres aan wie die gevoel van dankbaarheid gerig moes word nie.

Hoe lyk die veranderde wêreld?

Van Tongeren gebruik Nietzsche se begrippe ‘nihilisme’ en ‘die dood van God’ om hierdie veranderde wêreld te verstaan en met inhoud te vul. Gewoonlik word hierdie Nietzscheaanse begrippe as sinoniem met ateïsme en ongeloof beskou, maar dit is hoegenaamd nie die geval nie. Nietzsche het dit gebruik om sy eie tyd te begryp en dit werp ook lig op ons tyd. Volgens Nietzsche dui nihilisme nie op ‘n enkele gebeurtenis of betekenis nie, maar moet dit eerder histories verstaan word. Nihilisme het in verskillende tydperke verskillende gestaltes aangeneem en dié verskillende betekenisnuanses moet ons goed begryp.

Die eerste fase van nihilisme se geskiedenis begin volgens Nietzsche in die voor-Sokratiese tyd wat hy die ‘tragiese era’ noem en deur ‘n gevoel van pessimisme gekenmerk is. Vir vele was die lewe sinloos, die geskiedenis ‘n betekenislose herhaling van gebeure en in dié konteks het ‘nihilisme’ op die afwesigheid van orde, sin en betekenis gedui. En tog het die Grieke van dié tyd nie in ‘n put van sinloosheid en absurditeit verval nie, maar die nihilisme op ‘n spesifieke manier verwerk: hulle het dit ver-estetiseer en kuns daarvan gemaak. In die groot Griekse tragedies is die nihilisme kreatief tot kuns verwerk. Anders gesê: terwyl die gode hulle in die menslike lyding verlustig het, het die nihilisme (of sinloosheid) deur die dramakuns draagliker geword. In die tragedies wat voor die teaterganger gebeur het, het die toeskouer sy eie ellende ontdek, ervaar en verstaan. Te midde van die afwesigheid van orde, doel en sin het hulle geleer om kreatief (soos in die tragedies) daarmee om te gaan (Van Tongeren 2015:35-37).

Die tweede fase van nihilisme se geskiedenis begin met Sokrates en Plato, is deur die Christendom voortgesit en is ‘n basiese ontkenning of miskenning van pyn en sinloosheid. Vanaf Sokrates en Plato het die estetisering van lyding en pyn kragteloos geword want die ervaring van pyn en sinloosheid het op ‘n vergissing en ‘n gebrek aan insig berus.

Dit lyk maar net of die geskiedenis ‘n doellose herhaling van gebeure is. Dit lyk maar net of die lewe so chaoties en sinloos is, maar eintlik is dit nie want agter of bo of onder hierdie ondermaanse wêreld lê ‘n ander werklikheid wat ons nog nie kan ken of sien nie. In hierdie konteks kry nihilisme die betekenis van ontkeninng; ontkenning van die werkliheid soos wat ons dit ervaar. Die werklikheid van ellende en swaarkry word afgeskaal en verminder omdat dit heeltyd in die lig van iets groter of hoër ontken word. Plato se klem op die wêreld van idees het alle ervaring van ellende hier en nou na ‘n ander meer volmaakte wêreld weggevoer. Die Christendom het dit oorgeneem en mense se pyn afgeskaal met die vooruitsig op hemelse vreugde wat ons eendag sal ervaar. Die egte ware lyding van mense word verklein, afgeplat en misken want God sal ons uit elke moontlike ellende help. Die ware lewe soos wat ons dit hier en nou beleef, kan net nooit in sy afgryslikheid raakgesien, erken en verwoord word nie want daar is altyd die soetigheid van ‘n ander wêreld, ‘n hemelse vreugde, ‘n God wat jou in alles sal help.

Dié soort nihilisme van ontkenning duur nou al 2500 jaar en dit het ‘n vaste burg geword wat ons teen alle chaos, sinloosheid en doelloosheid beskerm het. Binne hierdie burg was en is daar steeds vaste antwoorde wat ons kan help om verby die dissonansies van die lewe te kyk; is daar steeds ‘n arsenaal van sin en betekenis wat ons kan help om die vals akkoorde van pyn en lyding nie te hoor nie (Van Tongeren 2015:37-39) 

En toe kom die derde fase van nihilisme wat Nietzsche die ‘dood van God’ noem. Dit het weereens niks met ateïsme te make nie, maar met ons vaste burg wat begin verkrummel het en daarmee ook God, die hoeksteen wat alle sin en betekenis gewaarborg het. Vanweë vele sosiale en politieke kragte sedert Nietzsche is ons veilige vesting van betekenis geskud, het ons vir onsself ‘n probleem geword en het die vaste kennis van God begin verbrokkel. Anders as in die tweede fase was niks meer so seker nie want al die waardes (soos lewensin, betekenis, ens.) wat ons tydens die tweede nihilisme teen die chaos van die eerste nihilisme moes beskerm, het waardeloos geword. Nihilisme het in dié verband ‘n proses van ontmaskering geword waarin die broosheid van vaste betekenisse, waarheid, lewensin en selfs ook die spreke oor God oopgevlek is (Van Tongeren 2015:40-41).

Die aftakeling duur voort

Tussen Nietzsche en vandag het dié soort nihilisme van ontmaskering van ou gevestigde waarhede sy segetog verder gevoer en het die mens weerloser geword. God het as ‘t ware sy vaste plek verloor en het vir vele ‘n probleem geword. Daar is selfs al gevra of die teologie God nog nodig het en of die teologie nie sonder God kan voortgaan nie want in hierdie derde fase staan ons verleë omdat vaste spreke oor God en mens en wêreld nie meer moontlik is nie. In 1979 skryf Jean Francois Lyotard byvoorbeeld na al die studente-rewolusies dat daar geen meesternarratief meer is nie. Daar is nie meer ‘n narratief wat almal bymekaarhou, waarin almal deel, wat almal se dade rig nie. Al wat oorgebly het, is die kleinverhaal van die kleinmens. En ons, die arrogante mens wat meen hy/sy kan elke objek of ding tot in sy diepste wese ken, is veral sedert die middel van die twintigste eeu van sy troontjie gestamp (Lyotard 1995).

In 1965 het Ricoeur oor die drie meesters van die valse bewussyn geskryf wat ons maskers van pretensie afruk. Ons pretensie dat ons finaal oor God en lewensin en die wêreld kan praat. Dié drie, Marx, Nietzsche en Freud, was die meesters van die agterdog wat die moontlikheid dat ‘n gewone mense vaste waarhede kan formuleer, ondermyn want hierdie mens of subjek was te veel aan ‘buitekragte’ uitgelewer. Volgens Marx is die mens deur sy materiële konteks gebind; sosio-historiese omstandighede bepaal sy kenne en doene. Volgens Nietzsche dryf die wil tot mag die mens; elkeen streef na mag en manipuleer al die pad; onderliggend aan onskuldige optredes lê magsmanipulasie. Volgens Freud word die klem op die onderbewuste gelê; die mens is aan sy onderbewuste uitgelewer; dáár gebeur dinge wat die mens onbewus regeer en stuur; dáár ontstaan die kragte wat die mens van sy troontjie stoot. Kortom: die meesters van die agterdog het dus Nietzsche se derde fase van nihilisme versterk deur die vaste burg van fase twee verder te ondermyn en vaste sekerhede as ‘n illusie te ontmasker (vgl Ricoeur 1978; Huang 1993:57-71).

In hierdie konteks van ontmaskering van die vaste waarhede het dankbaarheid ‘n besondere verleentheid geword. Hoe kan ‘n mens dankbaar oor God se gawes wees as Hy ‘n probleem geword het. Die werklikheid is so onttower dat niks meer sin maak nie en God nie alles ‘red’ nie. In hierdie konteks van ontmaskering van die vaste waarhede het dankbaarheid ‘n besondere verleentheid geword. Hoe kan ‘n mens dankbaar oor God se gawes wees as Hy ‘n probleem geword het. Die werklikheid is so onttower dat niks meer sin maak nie en God nie alles ‘red’ nie.

Is dit klaar met dankbaarheid?

Van Tongeren probeer dan ‘n uitweg uit die impasse kry deur aan die verhouding gewer-geskenk-dankbaarheid te torring. Hiervolgens is dankbaarheid die gevolg van ‘n interpersoonlike verhouding en ‘n ‘wederkerige welwillendheid’ (Van Tongeren 2015:51). Jy ontvang iets van iemand wat jou dankbaar maak en daarop reageer jy met ‘n gevoel van dankbaarheid of ‘n geskenk (Van Tongeren 2015:32-34). Dieselfde driedeling kry ‘n mens ook in die lofpsalms: God gee iets, die ontvanger benoem dit (byvoorbeeld redding uit die nood) en reageer dan met lof en dank (vgl Hossfeld & Zenger 1993).

Van Tongeren vra dan of ‘n gevoel van dankbaarheid van ‘n gewer of skenker afhanklik is? Anders gestel: moet daar altyd ‘n persoonlike gewer wees of is dankbaarheid ook sonder ‘n persoonlike gewer moontlik? Vir ‘n gelowige is dit maklik, maar vir iemand buite die geloofsgemeenskap en ‘die geen adressant heeft voor zijn dankbaarheid’ is dit baie moeiliker (Van Tongeren 2015:52).

Uiteraard hoef daar nie altyd ‘n persoonlike adressant te wees teenoor wie jy dankbaarheid hoef te bewys nie. ‘n Voorbeeld hiervan is Leonard Cohen wat tydens die ontvangs van ‘n Spaanse kultuurprys van ‘n jong Spanjaard vertel het wat hom ‘n paar gitaarlesse gegee, maar kort daarna selfmoord gepleeg het. Cohen vertel dan verder dat sy hele kunstenaarsloopbaan op dié paar lesse gebaseer is en hy daarom ‘n diepe gevoel van dankbaarheid teenoor Spanje en die Spanjaarde het. Eintlik behoort sy kuns aan die Spanjaarde: ‘It is really yours’. En dít het Cohen dankbaar gemaak. Dankbaar dat hy deel van ‘n groot geheel en ‘n groter massa mense kon wees. Of soos Van Tongeren sou sê: ‘Die dankbaarheid impliceert wel een verplichting (jegens dat grote geheel waaraan we veel te danken hebben) maar zonder dat die naar een bepaalde gever kan worden gedistribueerd’ (Van Tongeren 2015:56). Van Tongeren vertel ook van ‘n mede-Nederlander, Cornelis Verhoeven, wat gesê het dat sy dankbaarheid met die tyd steeds groter geword het, maar ook ‘steeds vager en anoniemer’ en ook sonder ‘n ‘duidelijk adres’ (Van Tongeren 2015:63).

Van Tongeren verwys na Chesterfield wat gesê het, ‘the worst moment for the atheist is when he is really thankful and has nobody to thank’, maar in Van Tongeren se denke oor dankbaarheid is dit geen probleem meer nie. Dankbaarheid hoef nie ‘n adres te hê nie want ‘n mens kan ook anders daaroor praat. Van Tongeren doen dit deur dankbaarheid en deug te verbind. ‘n Mens kan sê Van Tongeren wil die eng persoonlike gewer-geskenk-dankbaarheid-verhouding verruim deur dankbaarheid as ‘n deug te beskou.

Dankbaarheid as deug

Van Tongeren se koppeling van dankbaarheid en deug is ‘n uiters belangrike bydrae tot ons verstaan van die gevoel van dankbaarheid. Nie ‘n deug van plig nie want dan verdwyn egte dankbaarheid. Dit is eerder die kultivering van ‘n bepaalde verlange. ‘n Verlange wat ons dalk nie so goed kan verwoord nie, maar wat ons ontvanklik vir ‘n groter werklikheid maak en ook ons handelinge rig. Iemand wat byvoorbeeld die verlange na vriendelikheid gekultiveer en dit deel van sy optrede gemaak het, sal elke situasie (vriendelik of onvriendelik) aanvoel en dit op ‘n spesifieke vriendelike manier hanteer. Dié persoon ervaar die werklikheid op ‘n bepaalde manier, sien en interpreteer die lewe daarom anders as andere en gee só gestalte aan sy verlange na vriendelikheid.

Kan ons dieselfde van die dankbaarheid as deug sê? Miskien moet ons nie by die gewer begin nie, maar by die geskenk. Voordat jy kan dankbaar wees, moet jy eers die geskenk ontvang en dít vra ook weer ‘n soort sensitiwiteit; ‘n gevoel van dankbaarheid vir wat sonder eie toedoen ontvang is; ‘n gevoel van vreugde oor dit wat met ‘n mens gebeur het; ‘n gevoel van nederigheid oor dit wat ontvang is en wat nie deur jouself bewerk is nie. En om dit dalk te vereenvoudig: dié gevoel wek ‘n verlange om dankbaarheid te kultiveer, te ontwikkel tot ‘n deug, tot ‘n soort dankbare lewensgevoel wat oopstaan teenoor die lewenswerklikheid en alles wat ‘n mens oorval, maar nie noodwendig ‘n goeie gewer veronderstel nie.  

Dink na oor dankbaarheid

Van Tongeren sluit sy boek met ‘n treffende gedig van Leo Vroman wat ‘n mens ‘n paar keer moet lees om telkens nuwe dimensies daarin te ontdek. Hy verwoord ‘n lewenservaring wat ‘soet’, ‘sag’ en ‘teer’ is en tot ‘n stille dankbaarheid lei: ‘Zo moet het zijn; het zoete zingen/ van God, heel zacht door alles heen, / een teder zonlicht op de dingen/ die goed zijn, dood zijn en gemeen’ (Van Tongeren 2015:102).

Oor dankbaarheid kan ons nooit genoeg besin nie, veral met behulp van die digkuns. 

Bibliografie

  • Hossfeld, F-L & Zenger, E 1993. Die Psalmen, I. Würzburg. Echter Verlag.
  • Huang, D L 1993. Ricoeur’s critique of ideology for theology, Landes 7, 57-71.
  • Ijsseling, S 1964. Denken en danken, geven en zijn. Antwerpen: Nederlandse Boekhandel.
  • Lyotard, J-F 1995. Het postmoderne weten. Agora: Kampen.
  • Ricoeur, P 1978. The critique of religion, in C E Reagan & D Stewart (reds), The philosophy of Paul Ricoeur, Boston, Beacon.
  • Van Tongeren, P 2015. Denken over danken na de dood van God. Uitgeverij Klement: Zoetermeer.

 

Share this / Deel hierdie: