Hierdie jaar was ek en my vrou weer by Aardklop in Potchstroom. Dit was die negende keer en elke keer sien ons agtien na twintig ‘shows’ (soos wat die vertonings nou se dae genoem word). Saam met my vrou is dit altyd ’n belewenis: vooraf bestudeer sy die program deeglik, pas elke ‘show’ in ’n tydsgleuf, koop die kaartjies om half nege by Computicket op die eerste koopdag, sorg dat ons elke keer heel voor sit, kry die nodige leeswerk vir die dramas gereed, sien toe dat ek dit bestudeer, lees voor die ‘show’ begin weer ’n kort samevatting van wat ons gaan sien, bepaal na watter ‘shows’ ons sal stap, ry of met die taxi pendel. Op dié manier is Aardklop telkens ’n intense en ’n verrykende ervaring en hieronder vertel ek iets van my ervaring daarvan.

Vanjaar was daar weer baie om van te kies want vir vele smake is voorsiening gemaak. Een bejaarde Aardklopper het gesê hy wil by die fees net lag en het daarom kaartjies vir al die ‘lag-shows’ gekoop. Daar was heelparty vertonings van ’n ligter trant wat vir groot vermaak gesorg het. Dalk die beste (wat ons gesien het) was Die begrafnis, ’n studenteproduksie wat van Oom Vierman vertel. Sy hele lewe het dié oom met die lyf gesukkel. Toe hy nog jonk was, was hy al so dik dat hulle hom Tweeman genoem. Later in sy lewe het die dikte verdubbel en dit is waar Vierman vandaan kom. Op ’n dag sterf Oom Vierman toe en net daar het die probleme begin. Vanweë sy dikte kon hulle hom nie gekis en uit die huis gedra kry nie en die een skreeusnaakse oomblik na die ander het gevolg. Nog ’n besondere produksie was Shirley Valentine en al die vertonings was gou uitverkoop. Shaleen Surtie-Richards het in die produksie geskitter.

Vanjaar het ons vir die eerste keer met uitstappende Aardkloppers te make gekry. Dit het tydens Audrey gebeur toe Coba-Maryn Wilsenach uit die briewe van Blignault voorgedra en twee tannies ongelukkig was. Uit die tekste (briewe en ander skryfwerk) blyk dat onse Audrey soms hard en kru was, maar vir die dames langs ons was dit te veel. Kort-kort het hulle hinderlik geprotesteer: ‘Audrey sou dit nooit gesê het nie’. Gelukkig het hulle halfpad opgestaan en uitgeloop.

Dié voorval illustreer tog weer iets van Afrikaners se lees van tekste: nooit kan die teks self praat nie want dit word altyd voorgesê; altyd wil die vroom gemoed oorneem en die leesproses so buig dat dit die leser pas. Later die dag lees ek weer die onsmaaklikheid rondom Sewe dae by die Silbersteins in Kannemeyer se Leroux-biografie en dieselfde soort protes val op: sonder enige poging om die teks te verstaan, is dit dikwels afgemaak. Selfs deur mense wat die boek nooit gelees het nie (Kannemeyer 2008:361-388).  

Veral sedert Aardklop 2007 het ons van ’n spanning bewus geword waarvan ons vroeër weinig wis. Dit is die spanning tussen bruin en bruin, bruin en swart, swart en swart. Die soort spanning waarvan EKM Dido in haar 2000-werk, ’n Stringetjie blou krale, ons vertel. Verlede jaar is dit skerp in enkele dramas uitgebeeld en vanjaar kon ’n mens dit veral in die roerende Kroes aanvoel. Dit was egter Yellowman wat die kyker hard getref het. Dit vertel van Eugene en Alma se mooi jeugliefde en van velkleur wat alles vernietig het. Eugene se ma was wit en sy velkleur daarom ligter. Alma weer was groot en swart en dít het dinge moeilik by die ‘skoonfamilie’ gemaak. ’n Kleurskakering lyk opsigself so klein en beuselagtig, maar tog kan dit ook rampspoedig wees.   

’n Stuk wat ek vooraf goed moes lees, was Eugene O’Neill se Long day’s journey into night. Of soos dit in André P Brink se voortreflike vertaling klink: ‘’n Lang dagreis na die nag’. Dit handel oor ’n stukkende familie, gebroke lewens, verslawing, desperaatheid, magteloosheid, maar ook diepe deernis. Dit het die gehoor in die Sanlamauditorium langer as drie uur geboei, maar die stortvloed woorde het telkens nuwe dinge oopgebreek en tog op ’n manier getroos. Dit was naderhand soos W E G Louw se Naggesprek van amper agt en twintig bladsye: die woorde, die saak gryp jou so aan dat jy wens die einde kom nooit nie.  

Een van die groot hoogtepunte was ‘Smag’; die Afrikaanse vertaling van Sarah Kane se ‘Crave’. Dit is donker drama met hier en daar ’n kolletjie lig; dit is ‘absurde teater’ want dit is so eg-menslik. Eg-menslik want dit is nie mooi nie en dit belig menswees se onafheid, se onvoltooidheid. Vier mense sit op die verhoog. Twee mans en twee vroue. Hulle praat en praat. Hulle is bitter, gefrustreerd, desperaat want lewensvervulling ontglip hulle en die greep na geluk skiet telkens te kort. Elkeen het sy/haar eie verhaal; die een smag na liefde, die ander na ’n kind; die een vertel van verkragting, die ander van eensaamheid; die een van verlange, die ander van verwerping.

          Soms het die gepraat net te veel geword; het al die woedende woorde jou oorrompel, oorweldig en verwar; het ’n mens later nie meer geweet wie wat sê nie; moes die woorde jou dra totdat jy weer jou koers in die gesprek kon kry. Soos in ’n kwartet het hulle saam, afsonderlik en teen mekaar ‘gesing’, maar die ‘melodie’ het die stemme telkens bymekaargebring en saamgebind. En die ‘melodie’ van ‘Smag’ is die lewe in al sy sinlose gestaltes. Of soos Prediker oor en oor gesê het: ‘Alles kom tot niks … tot niks’ (1:2). Tog eindig dit ook nie net donker nie want een van die vier wou (om dit met Prediker saam te sê) die lewe met die vrou wat hy liefhet, geniet (9:9).

Die vertaling van ‘Crave’ is deur Willem Anker gemaak en oor hom en veral sy werk Slaghuis moes ons al lankal baie meer gesels het. Anker is ’n opwindende jong Afrikaanse skrywer wat in 2004 Aardklop se Smeltkroes-prys vir Skroothonde ontvang het en vanjaar is sy roman, Siegfried, met die UJ-Debuutprys bekroon. Dié roman begin met ’n treffende een-sin-paragraaf: ‘Sy pa loop uit en val om’. Hieruit groei dan ’n hele verhaal van Siegfried en Smet en die soeke na die ma.

Dit is egter Anker se 2006-Aardklopdrama en SANLAM-pryswenner, Slaghuis, wat my nou nog bybly. Alles speel in ’n slaghuis af met Etienne Leroux wat kompleet met donkerbril en swart baadjie eenkant sy onvoltooide roman, Die Suiwerste Hugenoot, klaar sit en tik. Dan skielik word karakters in Leroux se vorige werke lewendig en treiter hom die hele nag. Almal het die een klag of dalk versugting: ‘Ek is meer as wat jy, Etienne Leroux, van my gemaak het’; ‘Ek is soveel ryker, voller as wat jý ooit kon gedink het’. Dit is so ’n opwindende, aangrypende konsep dat dit my nou nog boei.

          En dikwels het ek al daaroor gefantaseer hoe God ook een Maandagoggend vroeg, wanneer Broer-Dominee nog na Sondag uitslaap, gelyktydig aan al die NG Kerk-pastorieë se voordeure klop; en as onse broer die deur oopmaak, dan gryp God hom voor die bors, ruk hom nader, blaas in sy gesig en sê: ‘Jou ellendeling, Ek is baie, baie meer as wat jy gister van my gemaak het; Ek is oneindig groter as wat jou swak eksegese, jou papierdun-teologie, jou sagte Amerikaanse geestelike literatuur, jou onnadenkende preke, jou gevoelsteologie, jou oorvereenvoudigde antwoorde gister van My gemaak het; Ek is net soveel magtiger as wat jy gister van My in jou bleek, kleurlose, swak Afrikaans probeer sê het’. En as God Broer-Dominee nog ’n bietjie nadertrek, hang Hy hom (ongelukkig) nie soos in Slaghuis op nie, maar gee hom in liefde en genade nog ’n kans.

’n Boeiende vraag bly altyd nog hoe kuns ’n mens aanspreek. Hoekom roer iets jou en waarom is iets op ’n spesifieke oomblik mooi of aangrypend? ‘Werk’ dit dalk ook soos ’n historiese ervaring? Jy kan dit nie maak, skep, bewerk of laat gebeur nie. Dit kom net oor jou. Dit oorrompel jou. Dit gebeur net onverwags. Dit gebeur wanneer die verstand nie meer alles kan verklaar nie (Kant 1990:1-100) en verwondering jou oorweldig; dan voel jy asof jy aan die verlede raak; of jy vir ’n kort oomblik deel van iets groter word (vgl Kant 1968:90-96; Ankersmit 2007:11-20; 1993:1-50; 1990:133).

So ’n ongelooflike ervaring was Beethoven se Kreuzer-sonate (Opus 47) deur Zanta Hofmeyr (viool) en Charl du Plessis (klarvier). Dit was ’n Vrydagmiddag, baie vertonings het al agter ons gelê en ’n ligte moegheid het op ons neergesak. Met die eerste klanke van die viool en die klavier is ek egter gegryp; dit was asof ek vir ’n enkele vlietende oomblik iets, net iets van ’n groter onuitspreeklike, onbeskryflike wêreld aanraak en aanvoel; ’n gevoel wat jou vol en ryk maak, maar jou bowe-alles ook troos. Dít is tog wat groot kuns aan ’n mens moet doen? Dít is wat Aardklop weer vanjaar aan óns gedoen het.

Elk jaar wanneer ons Saterdagmiddag terugry, pak een vraag my altyd: ‘Wat bereik Aardklop nou eintlik?’. Is dit soos ’n kerkbasaar? Almal werk hard, doen ’n klomp dinge, maak geld, maar teen die middag is alles verby. Almal het dit geniet, maar as dit verby is, is dit verby. Is Aardklop so? Of is dit, soos in een van die Qumranrolle gesê word, die klop van ’n nuwe era wat aan’t kom is, die geboortepyne van iets nuuts?

          Soms weet ek nie. Tydens een van die wonderlike Boek-oases het Bernard Odendaal uit sy digbundel, Onbedoelde land, gelees en die titel het my onmiddellik aangespreek. Hyself het na F A Venter se Bedoelde land verwys en veertig of wat jaar gelede het dié titel goed gepas, maar wat vandag? Leef ons in ’n land wat nie eintlik vir ons bedoel is nie? ’n Land waarin ons dalk nie hoort nie? As ’n mens na Diane Victor, Aardklop se feeskunstenaar, se sketse gaan kyk, word dié vrae egter harder, dringender gestel.

Jaap Steyn het ook oor sy nuwe boek gepraat en ek deel sy bekommernis oor taal en kultuur se toekoms. In die slothoofstuk gebruik hy egter woorde uit ’n Van Wyk Louw-gedig op ’n interessante manier. Die hoofstuktitel is, ‘Miskien sal niemand later’, maar in die heel laaste sin van die boek klink ’n stukkie hoop: ‘Miskien sal iemand later tóg “mooi dinge van ons weet”’ (Steyn 2008:384).

Mag dit tog so wees.

 

Anker, W 2007. Siegfried. Kaapstad: NB-Uitgewers.

Ankersmit, F 1990. De Navel van de Geschiedenis. Groningen: Historische Uitgeverij.

Ankersmit, F 1993. De historische ervaring. Groningen: Historische Uitgeverij.

Ankersmit, F 2007. De sublieme historische ervaring. Groningen: Historische Uitgeverij.

Dido, EKM 2000. ’n Stringetjie blou krale. Kaapstad: Kwela.

Gadamer, H-G 1977. Die Aktualität des Schönen. Stuttgart: Philipp Reclam.

Kannemeyer, J C  2008. Leroux: ’n lewe. Pretoria: Protea Boekhuis.  658

Kant, I 1968. Kritik der Urteilskraft. Hamburg: Felix Meiner Verlag.

Kant, I 1990. Kritik der reinen Vernunft. Berlin: De Gruyter.

Louw, W E G 1975. Naggesprek en ander gedigte. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, J C 2008. Sonkyker. Afrikaner in die verkeerde eeu. Kaapstad: Tafelberg. 384

Share this / Deel hierdie: