Gottesstreiterinnen deur Irmtraud Fischer

Inleiding

Genesis 12-36 gaan oor die sogenaamde ‘aartsvader-verhale’ – die verhale van Abraham, Isak en Jakob. Op talle plekke in die Hebreeuse Bybel word God voorgestel as die ‘God van die vaders, die God van Abraham, Isak en Jakob’. Dat hierdie tekste deur die eeue heen deur ‘n oorwegend manlike bril gelees is, is dus geen wonder nie. Maar daar is ook ‘n ander bril. Die bril wat op die aandeel van die vroue in die verhale fokus. Die bril van Irmtraud Fischer bekyk die tradisionele verhale vanuit ‘n ietwat ander perspektief.

   Sy wys byvoorbeeld daarop dat Israel se hele voortbestaan te danke is aan die knap optrede van die subversiewe vroedvroue in Eksodus 1:17-20. En as dit nie vir Rut en Naomi was nie, was Juda/Israel ‘n monargie kwyt (Rut 4:11 ev). Telkens word die verloop van sake in ‘n bepaalde rigting gestuur – deur vroue. Die geskiedenis van Israel is dus nie net ‘n geskiedenis van mans nie, maar van mans en vroue. Daarom verkies Fischer om nie van aartsvaders (Erzvätern) te praat nie, maar van aartsouers (Erzeltern).

   Hierdie vertellinge word as familieverhale aangebied – alles begin eers by ‘n kleinfamilie, brei dan uit tot ‘n klan wat uiteindelik ‘n groot nasie word. Die vroue in die verhale word dikwels gesien as die moeders van ‘n so ‘n kleinfamilie – die ruggraat, noodsaaklik om daar te wees, maar wie se funksie nie veel verder strek as kos kook en kinders baar binne familieverband nie. Maar, as ‘n mens die moeders so wil sien, moet die rol van die vaders ook tot die familie beperk word: ook die pa se primêre verantwoordelikheid was om vir sy gesin te sorg en hulle te onderhou. Vir hom was dit net so belangrik soos sy vrouens om kinders te hê!

   Deur alle tye heen was die familieverband in ou-Israel die belangrikste en mees basiese sosiale eenheid. Latere skrywers van die Hebreeuse Bybel sluit by hierdie beginsel aan, en gebruik dit as ‘n kragtige metafoor om ‘n geskiedenis oor die volk te skryf. Die familiegeskiedenis is ‘n literêre tegniek waarmee ‘n volksgeskiedenis vertel word. En so word verhale tydloos: ‘n ou kollektiewe idioom het die potensiaal om telkens in nuwe omstandighede opnuut geaktualiseer te word.

    Vanuit die staanspoor het die aartsouer-verhale politieke implikasies, die familie is politiek. Dit geld die hele familie – mans, vroue en kinders. Wat gesinslede aan die begin van ‘n volksgeskiedenis met hul God beleef en herleef, is nie bloot persoonlike, individuele en private Godservaringe nie: in hierdie verhale word ‘n diep deurdagte teologie van Israel weerspieël, ‘n teologie van die vaders en die moeders.      

  

Alles begin by ‘n onvrugbare vrou

Ons ontmoet Sarai die eerste keer in Genesis 11:29-30, in ‘n geslagsregister, en van haar word slegs gesê dat sy onvrugbaar is. Net daarna volg die sogenaamde ‘roeping’ van Abram en die belofte wat aan hom gemaak word (Gen 12:1-3). Die Here roep ‘n man na ‘n onbestemde plek en belowe hom dat hy daar ‘n groot nageslag gaan hê. Maar iets rym nie, want die vrou is onvrugbaar.

   Een moontlikheid om die Abram-verhaal te lees, is om Sarai te sien as ‘n voorbeeld van iemand in wie God se wonderwerke voltrek word: ‘n vrou, reeds verby haar menopouse en van wie die Bybelskrywer self meld dat sy onvrugbaar is, word later in die verhaal swanger en gee geboorte aan ‘n kind. Maar dis nie die enigste moontlikheid nie.    

   Die oudste weergawe van Abram se uittog is waarskynlik vinde in die gedeelte wat volg op die roeping/belofte scene: Genesis 12:4-9. As ‘n mens die roete mooi dophou, sien jy dat Abram en sy entourage die land van Noord na Suid deurkruis. Op twee plekke bou hy altare, by Sigem en weer iewers tussen Bet-El en Ai. Gewoonlik word altare gebou om daar te offer, maar dit is nie wat Abram doen nie. Geen van die gebruiklike kultiese handelinge word by hierdie plekke voltrek nie. By Sigem verskyn die Here (weer?) aan Abram en nou word die ongedefinieerde land van vers 1 gespesifiseer: hierdie land wat die patriarg voor hom sien lê, is die land wat hy gaan kry. En tussen Bet-El en Ai, roep hy slegs die Here se naam aan. Niks daadwerkliks gebeur hier nie. Tradisies uit die Jakob-siklus (Gen 28, 35) word met hierdie plekke verbind, maar op hierdie stadium weef die verteller slegs ‘n vertel-draad in na ‘n storie wat later sal ontvou.

   Maar dit is veral betekenisvol dat die gebied wat hier beskryf word, in die latere Israel of Noordryk geleë is. Hierdie teks moet verstaan word in die lig van die Noordryk wat saam met die verowering van Samaria in 722 vC verlore gegaan het. Sarai se onvrugbaarheid word die tragedie van die land. Die kultus is dood: daar waar Jahwe vereer moet word, gebeur niks. Daarom kom ‘n Priesterskywer uit die ballingskap en gee aan die verhaal ‘n overture van hoop: Genesis 12:1-3. Vir ‘n volk wat ervaar dat hulle alles, hul land en hul kinders verloor het, vir ‘n volk in ‘n hopelose en onvrugbare situasie, gee Jahwe die versekering dat Hy die onmoontlike kan laat gebeur. Die volk wat in ballingskap lewe, kan hoop op Jahwe se belofte aan die voorouers.

 

Egipte toe – en terug

Maar hierdie belofte kom onder groot druk, want oor die beloofde land kom hongersnood, en Abram-hulle vertrek Egipte toe. Hy weet dit nog nie, maar sy nageslag sou ‘n geruime tyd juis in Egipte bly waar hulle mettertyd as slawe onderdruk sou word! Nou het hy egter ‘n ander probleem – sy mooi vrou. Dit lyk asof sy lewe van alle kante bedreig word – as hy nie doodgaan van die honger nie, gaan hy doodgemaak word oor die skoonheid van sy vrou. Abram vrees vir sy lewe.

   Hy stel die probleem aan Sarai. Eers komplimenteer hy haar deur haar te vertel hoe mooi sy is, en dan skets hy ‘n fiktiewe scene – die Egiptenare sal haar in die hande wil kry, en daarom gaan hulle hom doodmaak. Die oplossing vir hierdie probleem is dat sy lieg oor haar huwelik-status deur te sê dat sy sy suster is. In die monoloog blyk dit dat Abram slegs aan homself en aan sy eie heil dink. Sarai se skoonheid sal vanselfsprekend sorg dat sy bly lewe, haar leuen is nie net op sy oorlewing gemik nie, maar hy spreek ook die verdere hoop uit dat dit met hom goed sal gaan.

   En Sarai bly stom. Sy sê absoluut niks. Selfs die woorde van die leuen word deur Abram in haar mond geplaas. Hy beslis volledig oor haar. Dit, tesame met haar swye plaas haar in die rol van ‘n offer – deur haar toedoen word Abram se lewe gespaar – of so is dit veronderstel om te gebeur.

   In Egipte gekom, lyk dit asof alles volgens plan verloop. Van geweld is daar geen sprake nie. Sarai word volgens Egiptiese gebruik in die farao se harem opgeneem, en haar ‘broer’ word met geskenke oorlaai. Maar hierdie verloop van sake dra nie Jahwe se goedkeuring weg nie, en hy tref die Egiptiese heerser met plae.

   Op ironiese wyse is die optrede van die farao meer moreel korrek as die van Abram, die godvresende. Die farao is glad nie soos wat Abram hom in sy vrees voorgestel het nie – inteendeel! Met drie retoriese vrae roep hy Abram tot verantwoording. Die koning van Egipte het regtig nie geweet wat hy doen nie. Hy reageer onmiddellik op die boodskap wat hy van Jahwe kry: iewers het iemand iets verkeerd gedoen. Die farao gee die vrou aan haar man terug en stuur hulle sak en pak weg, sonder om die bruidskat terug te vra. Hy blyk meer bekommerd te wees oor die onreg as oor die onkostes.  

   Net soos Sarai, word die farao ook ‘n offer. Alhoewel hy die magtigste akteur in die verhaal is, word hy bedrieg, en eintlik onbillik gestraf. Al wat hy gedoen het, was om ‘n leuen vir die waarheid aan te sien.   

   Wat is die implikasies hiervan?

   In die eerste plek spreek Jahwe die leuen aan. Hy tref egter nie die skuldiges nie, maar die onskuldige wat niksvermoedend en op die inligting wat aan hom oorgedra is, gehandel het. Maar die fokus van die verhaal is nie of die straf billik of onbillik is nie – dis die resultaat wat tel. Sarai word bevry uit die harem van die farao. Hierdie geskiedenis is dus eintlik ‘n klein reddingsgeskiedenis waar Jahwe ter wille van die swakste intree. Hy gryp in tussen die magtige farao van Egipte en maar net nog een van die vele vroue in sy harem.

   Alhoewel Sarai ‘n swygsame offer is wat deurgaans geen stem het nie, is hierdie storie haar storie: Genesis 12:10-20 is ‘n reddingsverhaal, uitgebeeld deur die nood van ‘n vrou.

  Oënskynlik lyk dit asof hierdie verhaal taamlik letterlik wegdwaal van die vorige konteks, en waarskynlik was dit oorspronklik ‘n unieke selfstandige vertelling. En tog moet dit ook in verband gelees word met die eerste verse van die hoofstuk, Genesis 12:1-4. Jahwe het ‘n nageslag belowe, en deur Sarai moet dit verwesenlik word. Die krisis kom wanneer sy, die draer van die belofte, die beloofde land verlaat. Wanneer sy deur ‘n leuen in die vreemde heerser se harem beland, lyk dit inderdaad asof daar niks verder van die land- of die nageslag-belofte gaan kom nie. Tog word die belofte beskerm. Beloftevervulling moet deur Abram en Sarai realiseer word, en daarom tref die plae die arme niksvermoedende farao! Wie Jahwe se belofte bedreig, word onder ‘n vloek gestel.

   In die breër kanoniese eindteks van die Torah, ontdek ‘n mens in hierdie klein geskiedenis nog ‘n verdere horison-verskuiwing. Die begin van die boek Eksodus (1:8-22) beeld die naamlose farao uit as die onderdrukker van Israel. Hy maak ‘n bevel dat al die manlike nakomelinge van die volk gedood moet word, maar dat die dogtertjies kan bly lewe (Eks 1:16, 22). Abraham se vrees word werklikheid: die man word doodgemaak, die vrou mag bly leef. Sarai se harem-ervaring word Israel se ervaring van slawerny. Die Here stuur plae teen die farao, plae wat eers vir Sarai bevry, en later die onderdrukte volk.

    So beliggaam Sarai ‘n volk wat in Egipte in slawerny gevange gehou en later deur Jahwe bevry word. Uiteindelike is Sarai se storie is nie slegs haar individuele reddingsverhaal nie, dit is die reddingsverhaal van ‘n ganse volk wat deur Jahwe se magtige dade verlos word.

Share this / Deel hierdie: