‘n Wêreld wat verander het

In 539 vC het die Perse die Babiloniërs oorwin en dit was die begin van ‘n radikaal nuwe era in die wêreldgeskiedenis. Die Perse was die nuwe wereldmag, maar hulle was anders. Hulle was meer oop, meer tolerant en op die lange duur sou dit Israel ook beïnvloed. Dít sien ons die verhaal van Abraham en Abimelek wat in Genesis 20 vertel word, maar eers iets oor die historiese konteks.

In 538 vC kon die eerste ballinge teruggaan en ‘n nuwe lewe begin, maar dit was nie so maklik nie want hulle wêreld het radikaal verander. Daar was nie meer ‘n koning nie, die profete het minder geword en boonop het hulle leefruimte baie kleiner geword. Tydens Dawid se tyd was die land groot, maar deur die eeue het dit al hoe kleiner geword en in die tydperk onmiddellik na die ballingskap was dit maar ‘n skraal stuk land van ‘n paar kilometer rondom Jerusalem.

Een ding wat Israel na die ballingskap moes leer, was om met ander groepe klaar te kom. Hulle was nie meer die enigste in die land nie en hulle moes met die ander volke en groepe rekening hou. Dit het hulle gedwing om oor identiteit na te dink en hulle plek binne die geheel van nasies te bepaal (vgl ). En hoe sou hulle dit doen? Deur na die geskiedenis terug te gryp.

Om tot klaarheid hieroor te kom, het hulle dus uit die geskiedenis, of liewer God se geskiedenis met hulle, geleef. God se groot ingrype in die geskiedenis was altyd die troos dat Hy by hulle is en daarom het hulle dié geskiedenis oor en oor geïnterpreteer en hulle eie gemaak en dit het gehelp om hulle wêreld te verstaan. Genesis 20:1-18 is waarskynlik ‘n goeie voorbeeld hiervan. Veral die figuur Abraham uit die gryse verlede is so geïnterpreteer dat sy verhaal hulle kon help met die probleem van die omringende groepe. Deur herinterpretasie kon die na-ballingskapse gemeente Abraham vir hulle konteks so relevant maak dat hy lig op hulle probleem kon werp. En die neerslag van hierdie worsteling vind ons in Genesis 20:1-18.

En waarskynlik is dié verhaal ook ‘n reaksie op ‘n vroeëre verhaal oor Abraham wat in Genesis 12:10-20 vertel word. Dié twee verhale verskil en dit help ons om Genesis 20:1-18 beter te verstaan.

 Twee verskillende verhale oor Abraham

Om die herinterpretasie van Abraham in Genesis 20:1-18 beter te verstaan, let ons eers op Genesis 12:10-20. Laasgenoemde vertel van Abraham se tog na Egipte vanweë ‘n kruipende hongersnood. Eintlik is dit ‘n droewige verhaal. Aan die begin van die hoofstuk word vertel hoe hy sy pa Abraham en sy familie gelos het omdat God hom aangesê het om te trek. Groot beloftes van ‘n nageslag en ‘n land is aan hom gegee, maar die ontnugtering het hom gou ingehaal. Hy het die land met groot verwagting binnegekom net om te ontdek dit is nie syne, maar dat die land aan die Kanaäniete behoort. Na ‘n ruk gebeur nog iets erger. Hongersnood het hom Egipgte toe laat trek. Duskant Egipte word hy bang en sê vir Sara om te sê dat sy sy suster is. Abraham se vrees was nie ongegrond nie want in die antieke wêreld het sterker nomadiese groepe veral die vroue van kleiner stamme weggevoer en as hulle mans geprotesteer het, is hulle summier doodgemaak. Abraham was dus bang dat dit met hom sou gebeur en daarom die leuen.

Sy vrese het waar geword want die Egiptenaars het haar raakgesien en sy het in die farao se paleis beland. Vir Abraham was dit ‘n dubbele verlies. Hy het nie net die beloofde land verloor nie, maar nou ook die vrou waaruit die nageslag gebore sou word. Op ‘n gegewe oomblik het God ingegryp en ‘die farao en sy huis met swaer plae getref’ (Gen 12:17) en die farao het vir Abraham gesê: ‘Hier is jou vrou dan. Vat haar en maak dat jy wegkom’ (Gen 12:19).

In Genesis 20:1-18 kry ons iets soortgelyk, maar dit is heeltemal anders. Toe Abraham op ‘n keer in Gerar was, het hy ook gesê Sara is sy suster en die koning, Abimelek, wou met haar trou. Iets interessant gebeur toe. Anders as vroeër in Egipte het God nie plae gestuur nie, maar sommer met Abimelek in ‘n droom gepraat en gesê dat Sara reeds getroud is. Abimelek was hewig ontsteld en gesê hy het dit nie geweet nie en God het selfs gesê, ‘Ja, Ek weet dat jy dit onskuldig gedoen het’ (Gen 20:6). God het egter vir Abraham opgekom en gesê hy is ‘n profeet en dat hy vir Abimelek sal bid. Abraham het homself verontskuldig deur te sê dat Sara sy halfsuster was en gebid dat God Abimelek en sy mense gesond moes maak. Uiteindelik het Abimelek vir Abraham gesê, ‘My land lê oop voor jou. Bly net waar jy wil’ (Gen 20:15).

 ‘n Antwoord vir ‘n ander tyd

Vroeër jare is gesê dat Genesis 12:10-20 van die Jahwis, die eerste samesteller van die Pentateug, afkomstig was en Genesis 20:1-18 van die Elohis (Van Seters, 1999:127). Laasgenoemde sou êrens in die Noordryk of Israel gewerk, onder invloed van die profete gestaan en ‘n fyner etiese bewussyn gehad het. Vir die Elohis of die E-bron was Abraham se optrede heeletmal onaanvaarbaar en daarom het hy sy verhaal anders vertel. Sara was sy halfsuster en Abraham was ‘n profeet wat vir die koning en sy mense gebid het. Alhoewel hierdie werkshipotese lank goeie werk gedoen het, het die navorsing ander paaie begin loop.

Baie klem word tans op die Persiese tyd as die verstaanshorison van die Ou Testament asook die aartsvaderverhale geplaas. En as ons Genesis 20:1-18 radikaal binne dié konteks lees, kry dit ‘n besondere betekenis. Die eerse ding wat ons dan opval, is die rol wat Abimelek in Genesis 20:1-18 speel (Hagedorn 2011:47). Hy is eintlik die hooffiguur in die verhaal en God se verhouding met hom is totaal anders as in Genesis 12:10-20. Daar is as ‘t ware ‘n vriendelike gesprek tussen die twee en God gee die vreemde vors gelyk dat hy onskuldig is. In hierdie verhaal word ‘n ander beeld van God geskets. Hy is nie meer die een wat met plae straf nie, maar is oop vir die ander en straf nie. Abraham se God is meer universeel, meer akkommoderend en verstaan Abimelek in sy nood. Abraham se God is ook die God van die hele wêreld wat vir almal omgee. Abimelek moes dit ook ervaar het want in vers 4 spreek hy God as ‘Here’ aan. En soos Hagedorn sê: ‘In Genesis 20, a foreign king speaks of God in the same terms as does Israel’ (Hagedorn 2011:47).

Dié optrede van God moes Abraham verander het: ‘Abraham has to modify his attitude to foreigners and is forced to correct his xenophobic world view’ (Hagedorn 2011:48).

Vergelyk ons hierdie verhaal met Genesis 12:10-20 val die andersheid van God op. Hy is Israel se God, maar ook die God van die hele wêreld. En dié soort denke kon eers na die ballingskap en tydens die Persiese tyd gebeur het. Hierdie soeke na identiteit en die klem op God se grootsheid vind ons ook in ‘n ander tekste in die Persiese of na-ballingskapse tyd (vgl Gerstenberger 2005:138). Genesis 17 byvoorbeeld probeer deur die grense van kleindenke oor God en Israel breek deur van Abraham se seun Ismael te vertel wat hy by ‘n Egiptiese slavin verwek het (De Pury 2001)

Volgens die na-eksiliese se gemeente se herinterpretasie van Abraham in Genesis 20 moes hulle hulle houding teenoor die omringende groepe en volke verander. Hulle moes genaakbaarder en met groter deernis met die ander groepe omgaan. God het dit gedoen en daarom moes hulle dit ook doen.

Bronnelys

  • Becking, B., 2011, Yehudite Identity in Elephantine, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judeans in the Achaemenid period, pp. 403-420, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • Ben Zvi, E., 2013, ‘The memory of Abraham in Late Persian/ Early Hellenistic Yehud/ Judah’, in V. E. Edelman & E. Ben Zvi, Remembering Biblical figures in the late Persian and the early Hellenistic periods, pp. 3-37, Oxford Press, Oxford.
  • Blenkinsopp, J., 2011, ‘Judaens, Jews, Children of Abraham’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judaeans in the Achaemenid period, pp. 461-482, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • De Pury, A., 2000, ‘Abraham: The Priestly Writer’s “Ecumenical” Ancestor’, in S. L. McKenzie and T. Römer (eds), Rethinking the Foundations: Historiography in the ancient world and the Bible, pp. 163-181, Walter de Gruyter, Berlin.
  • Frevel, C., ‘Grundriss der Geschichte Israels’, in E. Zenger (ed.), Einleitung in das Alte Testament, Kohlhammer, Stuttgart.
  • Gerstenberger, E. S., 2005, Israel in der Perserzeit, W. Kohlhammer, Stuttgart.
  • Hagendorn, A. C., 2011, ‘The absent presence: Cultural responses to Persian presence in the Eastern Mediterranean’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judeans in the Achaemenid period, pp. 39-66, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • Köckert, M., 1988, Vätergott und Väterverheissungen, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.
  • Köckert, M., 2013, ‘Vom “Urgestein” der Väterüberlieferung zum “theologischen Programmtext” der späten Perserzeit’, Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaf, 125(1), 25-48.
  • Mühling, A., 2011, Blickt auf Abraham, euren Vater, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.
  • Noth, M., 1972, A History of Pentateuchal Traditions, Prentice Hall, Englewood Cliffs, N.J.
  • Schaper, J., 2011, ‘Torah and identity in the Persian Period’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judeans in the Achaemenid period, pp. 27-38, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • Schmid, K 1999. Erzväter und Exodus. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.
  • Schmid, K., 2011, ‘Judean Identity and Ecumenicity’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judeans in the Achaemenid period, pp. 3-25, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • Van Seters, J., 1978. Abraham in History and Tradition, Yale University Press, New Haven.
  • Ziemer, B., 2005, Abram–Abraham, Walter de Gruyter, Berlin.
  • Ziemer, B., 2013, ‘Die aktuelle Diskussion zur Redaktionsgeschichte des Pentateuch und empirische Evidenz nach Qumran’, Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaf 125(3)3, 386–388.

 

Share this / Deel hierdie: