…inleiding…

Egipte – die land van die piramides, hiërogliewe, en ‘n magdom der menigte gode. ‘n Land wat baie lank in geheim en misterie verhul was, maar wat deesdae – stukkie vir stukkie – ons toelaat om ‘n vlugtige blik haar oeroue beskawing te kry.

Treffend van ou-Egipte is veral ‘n sin vir simmetrie en balans. Dit blyk uit die kuns, die beeldhouwerk, argitektuur selfs die hiërogliewe. Hierdie versigtige posisionering van visuele stimuli was nie in die eerste plek weens estetiese oorwegings nie. Ten diepste reflekteer dit die ou Egiptiese godsdiens en wêreldbeskouing.

 

…eers was hulle baie…

Ons word oorweldig, en laat ons dit maar erken, verwar deur die baie gode wat die ou Egiptenare aanbid het. Vandag noem ons dit politeïsme. Met ons 21e eeuse moderne wêreldbeskouing maak ons dit soms af as ‘primitiewe wetenkap’, ‘n naïewe manier om die wêreld te verstaan. Inderdaad, politeïstiese religie het meestal met die natuur en natuur-kragte te make, maar dis nie al nie. Ou-Egipte het in hul godsdiens ook die goddelikheid van die wêreld aanskou. Die wêreld was ‘n komplekse veelvoudige samehang van kosmiese kragte: lewe en dood; lig en donker; warm en koud; orde en wanorde ensovoorts. Hierdie kragte, of konsepte – verbeeld as gode – was mekaar se teenbeeld en het in wisselwerking met mekaar verkeer. Maar die gedagte was nooit dat die een oor die ander sou triomfeer nie. Ja/nee, waar/vals, rasioneel/irrasioneel, kon nie onafhanklik bestaan nie. Eerder as ‘n saak van eliminasie – of die een of die ander – was dit ‘n saak van komplement – en die een en die ander. Een god se bestaan was afhanklik van die bestaan van die ander gode.

          Ou Egiptiese logika werk dus radikaal anders as moderne soeke na empiries verifieerbare feite en een triomfantistiese waarheid. Vir ou Egipte het die waarheid binne komplementêre proposisies gelê, binne ‘n veelvoudige soort wêreldbeskouing. Anders gestel, die waarheid was kompleks, bokant ‘n eenvoudige verstaan van god, mens en wêreld.

 

…toe kom daar een…

Iewers in die middel van die 14e eeu vC word Amenhotep IV die nuwe farao. Op daardie stadium is Amun die belangrikste god in die Egiptiese panteon. Amenhotep IV se naam bring eer aan die god: Amen[hotep]/Amun. Maar Amenhotep IV is ‘n man met ‘n plan. Sy gunsteling-god is Aten, en hy wil graag hê dat hierdie god die belangrikste god moet wees. Hy verander sy naam na Akenaten – om hulde te bring aan sy god Aten. Ook stuur hy die hoëpriester van Amun weg op die een of ander ekspedisie ‘in die wildernis in’, en verklaar Aten nou as die hoofgod van die panteon. Dit opsigself is nie ingrypend nie. Deur die geskiedenis het gode en godinne mekaar afgewissel as die hoof van die panteon, op verskeie stadia en in verskeie stede. Elke god se posisie is egter telkens  proporsioneel en komplementêr ten opsigte van die ander gode gedefinieer.

          Wat doen Akenaten? Die en/en vervang hy met ‘n slegs. Daar is nou net een god, en dit is Aten. Aten is anders as die ander gode. Miskien is dit meer korrek om van ‘die Aten’ te praat, want hierdie god het geen bepaalde geslag nie en word ook nie in terme van mense- of dierebeelde voorgestel nie. Die Aten word slegs verbeeld deur die son met lewegewende strale wat op die koning en sy familie neerdaal. Die Aten-godsdiens staan dan ook bekend as ‘n Lig- of Songodsdiens. Binne die Aten lê kwaliteite van skepping, lewe, lig. Die Aten is die enigste god wat alle bestaan in die wêreld van die lig intrek.

          Sekere godsdienstige rites verdwyn heeltemal van die toneel. Byvoorbeeld, die wêreld van Osiris, die kultus van die onderwêreld en die dood word uit die beeld van die kosmos verdring. Ander gode, maar veral Amun word met godsdienstige ywer vervolg deurdat hul name uit die inskripsies uitgekap word. Voorheen kon die gode deur verskillende middelaars bereik word – hul priesters, beelde, heilige diere, afgestorwenes. Die Aten het net een hoëpriester en dit is die koning. Weg is mitologiese voorstellinge en verbeeldings: die Aten kan slegs geken word deur intellektuele inspanning en insig. Vir die eerste keer in Egiptiese teologie is daar sprake van ‘n leer, ‘n dogma wat vasgelê en versprei word. Akhenaten verklaar alle ander vorms van aanbidding tot kettery en maak aanspraak op absolute en normatiewe waardes vir slegs een benadering wat alle ander uitsluit.

         

…wat nie kon oorleef nie…

Die Aten-godsdiens het slegs bestaan gedurende die regeringsjare van Akenaten. Die eerste ding wat sy troonopvolger Tutankamun gedoen het, was om die gode weer in ere te herstel. ‘n Mens sou kon sê dit was ‘n politieke skuif: uiteraard het Akenaten se godsdienstige revolusie interne spanninge in die land veroorsaak, soos byvoorbeeld dat die priesters van die ander gode of moes konformeer, of werkloos gelaat is. Maar daar is ‘n dieper rede.

          Akhenaten se absolute en eksklusiewe godsdiens het die tradisionele veelvoudige en komplementêre wêreldbeskouing versteur. Daar was nou geen beeld en teenbeeld meer in die kosmos nie. Die hele wêreld het skielik in wanbalans verkeer. Verder het Akenaten het ook die ou Egiptiese panteon radikaal reduseer. Alle gode het verdwyn en net een het oorgebly. Die goddelike het nou een geword. Toe Akenaten alle ander gode uit sy godsdiens afskaf, het hy daarmee saam vir Ou Egipte die goddelikheid uit die wêreld laat verdwyn.

 

…slot…

Akenaten het die ou Egiptiese logika van veelvoud en komplement verwring tot ‘n onverdraagsame eksklusiewe absolutisme. Een staat, een godsdiens, een  waarheid. Intussen het die geskiedenis self alle ewige en absolute waarhede vernietig. Daar is eenvoudig geen definitiewe norme wat vir ewig en altyd bindend is nie. Triomfantlike absolutisms wat tot absurde lengtes gevoer word, maak ‘n samelewing mettertyd siek.

          In die 21e eeu begin modernisme se klinkklare sekerhede en wetenskaplike objektiwiteit reeds wankel. Dogmatiese ideologieë en absolute waardes oor God en godsdiens word toenemend onhoudbaar. Nee, dis ondenkbaar dat ‘n terugkeer na ‘n politeïsme – soos byvoorbeeld in ou Egipte – sal plaasvind. Miskien eerder ‘n herwaardering vir ‘n Goddelike ervaring wat veelvoudig, kompleks en oneindig oop is.

          Want die brandende strale van die onverbiddelike waarheid oor God laat Hom sterf soos kapok in die son…      

 

 

Bronne:

  • Assmann, J 1986. Arbeit im Polytheismus. Die Idee der Einheit Gottes und die Entfaltung des theologischen Diskurses in Ägypten in Von Stietencron H (red) et al, Theologen und Theologien in verschiedenen Kulturkreisen, Düsseldorf, Patmos Verlag, 26-46.
  • Dennett, DC 2006. Breaking the Spell. USA: Penguin Books
  • Hornung, E 1983. Conceptions of God in Ancient Egypt. The One and the Many [vertaal uit Duits (1971) deur Baines, J]. London: Routledge & Kegan Paul.
  • Lamy, L 1981. Egyptian Mysteries. New Light on Ancient Knowledge [vertaal uit Frans deur Lawlor D]. Lancashire: Thames and Hudson.
  • Montserrat, D 2000. Akhenaten. History, Fantasy and Ancient Egypt. London: Routledge.
Share this / Deel hierdie: