1          ‘Enuma elish’ – die verhaal

‘Enuma elish …’ So begin die sogenaamde Babiloniese skeppingsverhaal. Hierdie storie is eintlik ‘n baie lang gedig wat op sewe kleitablette opgeteken is, en speel af in die voortyd, of oertyd, met ander woorde, voor die begin van geskiedenis. Vandag noem ons so ‘n verhaal ‘n ‘mite’, maar dit is terminologie wat die mense van die Ou Nabye Ooste nie geken het nie.        

   ‘Enuma elish’ beteken eenvoudig – Toe (enuma) bo (elish)’. Alle ou Nabye Oosterse literêre werke staan bekend onder die eerste woorde van hul openingsreëls, en sê dikwels – soos in die geval van Enuma elish – nie veel nie. Sou ons die sin voltooi – en dit in goeie Afrikaans doen – lui dit soos volg:

 

Toe nòg die hemele bo benoem is

nòg die aarde onder by naam uitgespreek is …

 

En toe was daar net twee gode: Tiamat en Apsu. Tiamat was die godin van die soutwater, oftewel die see, en Apsu was die god van die soetwaters, die waters in die riviere en fonteine. Maar as die storie begin, is die twee nog vermeng, en die  waters is een woedende chaos-massa. Tiamat en Apsu verwek vier geslagte gode wat luidrugtig werskaf en speel, soveel so dat hulle Apsu mateloos begin irriteer. Bedags kan hy nie rus nie en snags kan hy nie slaap nie. Saam met sy visier Mummu (die mistigheid) smee hy ‘n komplot om ‘n einde aan die raserige jongelinge te maak.

   Maar Ea die alwetende een, kom van die bose plan te wete, bring ‘n diepe slaap oor Apsu en Mimmu, en maak hulle dood. Ea neem nou Apsu se terrein oor, en spoedig word Ea en sy partner Damkina se spruit in die lewe gebring: Marduk. Hy oortref die ander gode op alle gebiede. Hy sien alles, hy weet alles. Die ander gode is nie in staat om hom te verstaan nie, dis selfs moeilik om hom waar te neem. Marduk is superieur!

   Tiamat gaan egter die dood van haar partner nie ongesiens verby laat gaan nie. Op hierdie stadium lyk dit asof die gode in twee kampe verdeel: sommige aan Tiamat se kant, en sommige aan Ea/Marduk se kant. Tiamat word oorreed om Apsu se dood te wreek, en vervolgens skep sy ‘n bende vreesaanjaende monsters, onder andere ‘n draak, ‘n dolhond, ‘n skerpioen-man en nog ‘n paar ander demone. Aan die voorpunt is haar veggeneraal Kingu. En aan hom is toevertrou … die Tablette van Voortbestemming …

   Aanvanklik neem Ea die strydbyl op, maar deins terug. Hierdie taak is vir hom een te veel. En dan kry hy die insig – Marduk, sy opvolger, is waardig en bevoeg genoeg om Tiamat aan te durf. Marduk neem die uitdaging aan, maar stel ‘n voorwaarde: die gode moet hom as hul onbestrede leier verklaar.

   So gesê, so gedaan. Na ‘n kosmiese vertoning van sterre-konstellasies wat spektakulêr op ‘n enkele woord van Marduk geskape en vernietig word, word hy as koning en krygsman van die gode verklaar.

   Die groot geveg stuur uiteindelik af op ‘n een-tot-een geveg tussen Tiamat en Marduk. In haar oopgesperde mond dryf hy die imhullu (vernietigende storm)wind in wat haar liggaam opblaas. Met sy pyl laat hy haar opgeblase liggaam oopbars. Hy deurklief haar hart en dryf die lewe uit haar uit. Tiamat se vreesaanjaende leërmag slaan op die vlug, maar Marduk neem hulle in sy net gevange. Uit Kingu se hande wring hy die Tablette van Voortbestemming en druk sy eie stempel daarop af.

   Nou vestig Marduk sy aandag op Tiamat se lewelose liggaam. Soos ‘n vis wat gedroog moet word, halveer hy haar. Van haar een helfte maak hy die dak van die hemel, van die ander die aarde wat die onderaardse waters in toom hou. Op die aarde laat hy die Esjarra-tempel bou vir die instandhouding van die kultusse van die gode van ouds: Anu, Ellil en Ea. Van Tiamat se spoeg maak hy die wolke, wind en reën; van haar gif maak hy die digte mis. Vanuit haar oë open hy die Tigris- en Eufraat-riviere. Verder organiseer hy die kosmos. Hy benoem die maande van die jaar en ken drie sterre (planete) aan elke maand toe. Hy laat die sekelmaan as die ‘juweel van die nag’ verskyn om die dae af te tel.

   Maar met Kingu het Marduk nog nie klaargespeel nie. Hy neem die bloed van Tiamat se veggeneraal, en daaruit vorm hy bloed en bene – die mens.

   Die gode is baie dankbaar. Hulle lewer ‘n laaste eerbetoon aan Marduk. Naas Esjarra, die kultiese sentrum van die ou gode, rig hulle vir Marduk sy eie tempel op – Esagila. Dit is die heel laaste groot taak en harde werk wat deur die gode verrig sal word. Want nou is daar mense op die aarde – mense wat hard kan werk, sodat gode vir ewig en altyd kan rus.

 

1.2             Die intensie

Enuma elish was nooit bedoel om iets oor die skepping van die wêreld of iets oor die skepping van die mens mee te deel nie. Om die waarheid te sê, hierdie verhaal moes ‘n probleem van ‘n heel ander aard aanspreek: die opkoms van Babilonië en die posisie van Marduk in die panteon.

   Die Mesopotamiese panteon is oorgeërf van die Sumeriërs. Later het Akkadies Sumeries vervang as spreektaal, en die ou gode se name is ver-Akkadies, maar vir praktiese doeleiendes het die panteon vir baie eeue presies dieselfde gebly.

   Marduk was nie deel van die oorspronklike Sumeriese panteon nie. Hy was wel ‘n belangrike Babiloniese god. Voor die opkoms van die Ou Babiloniese Ryk, was die Babiloniërs nie veel meer as ‘n klan wat hul hoofkwartiere in Babilon gehad het nie. En Babilon was eintlik ook nie veel meer as ‘n gehuggie nie. Nadat die Sumeriese Renaissance en Ur III misluk het, het die koninkryke van Isin en Larsa verwoed meegeding om opperheerskappy in Mesopotamië te voer. Maar terwyl twee honde baklei om’t been, draf die derde daarmee heen: Babilonië. Sin Muballit (1748-1792 vC) het dit alles begin, maar dit was sy meer bekende seun, Hammurabi (1792-1750 vC) wat die ou Babiloniese beskawing tot ‘n hoogbloei gevoer het: hoogbloei in terme van kuns, kultuur en letterkunde. Die ou tradisionele godsdiens het nie juis verander nie – behalwe, daar het ‘n nuweling bygekom: Marduk. Die ou oorspronklike panteon is nie vervang nie – al die ou gode het gebly. Marduk het die hoofposisie nie wederregtelik ingeneem nie, inteendeel, hy is ‘n wettige heerser, seun van Ea, god van wysheid en water. As die een wat die chaosmonster verslaan het, verdien hy die eer wat hom toekom.   

   Dus, twee dinge moes verduidelik word. Eerstens, hoe het dit gebeur dat Babilon wat vantevore ‘n onbeduidende klein dorpie was, nou die hoofstad van die Babiloniese Ryk geword het? Tweedens, hoe het dit gebeur dat Marduk, ‘n vreemdeling, ‘n baba, die heel belangrikste god in die Mesopotamiese panteon geword het?

   Enuma elish is primêr ‘n nasionale mite. Dit legitimeer die bestaan van die Babiloniese Ryk en die posisie van Marduk as hoof van ‘n oeroue panteon. Om te praat van Enuma elish as die Babiloniese skeppingsverhaal, is misleidend – meer nog, dit is heeltemal verkeerd.

 

2              Genesis 1:1-2:4a

Wat dan van Genesis 1-2:4a? Kan ons iets oor ‘skepping en evolusie’ uit die Bybelse skeppingsverhaal aflei?

   Miskien moet ons begin deur te probeer vasstel watter vrae het in die gemoed van die skrywer geleef?

   In 587 vC het die bestaan van die koninkryk van Juda brutaal tot ‘n einde gekom. Nebukadneser II het Jerusalem eers beleër, toe verwoes, en daarmee saam die room van die samelewing na Babilon weggevoer: die koning, priesters en skrifgeleerdes. In ‘n vreemde land, omring deur ‘n volk met vreemde gebruike en vreemde gode, het ‘n handjievol Judese geleerdes – veral die priesters – met baie vrae geworstel, vrae waaroor hulle nie duidelike antwoorde kon kry nie. Die belangrikste vraag was seker: Hoekom het hierdie ramp gebeur? Was die gode van die Babiloniese panteon onder leiding van Marduk sterker as die God van Juda/Israel? Het Marduk vir Jahwe soos vir Tiamat verslaan? Het die Here God saam met die volk die oorlog verloor?

   Hierdie vraag het hulle nie histories-polities probeer antwoord nie, maar teologies: Dit is nie die Here wat swak was nie, maar die volk wat gesondig het, en die ballingskap was ‘n straf – hul verdiende loon. Die ballingskap het die Judese priester-geleerdes egter ook direk in kontak gebring met die verhale van die ‘vyand’ – verhale oor hul helde en hul gode. Vandag noem ons dit mites. So moes die Judese priesters ook mites bedink, want sonder mites is ‘n volk nie ‘n volk nie.

   En hulle doen dit op ‘n briljante manier. Hulle neem die mites van die Ou Nabye Ooste oor, maar her-interpreteer dit volgens ‘n Judese teologie. Ou stories word op ‘n nuwe manier oorvertel, eerstens as polemiek teenoor die oorspronklike Babiloniese verhale, maar veral om ook iets te sê oor die andersheid van die God van Israel.  

   So byvoorbeeld word Enuma elish op sy kop gekeer. Die hemel en die aarde (Gen 1:1) is nie die resultaat van Tiamat se gehalveerde liggaam nie, hulle word deur die Here God geskape. Vaagweg sien ‘n mens dalk iets van Tiamat in vers 2 se beskrywing van die ‘waters’ [Ou Vertaling – ‘watermassa’; Hebreeus – tehôm], maar vir die Genesis-skrywers is dit niks meer as die oerwaters van die voortyd nie. Verder is daar ook geen sprake van ‘n stryd tussen verskillende gode nie; Genesis 1 ken net een Here God wat ‘n grootse en indrukwekkende kosmos slegs deur sy woorde skilder.

   Dit is interessant dat die volgorde van die skepping in Genesis 1 dieselfde orde as Enuma elish volg: Eers word dag en nag geskape, daarna die hemelliggame om die tyd te reguleer, en uiteindelik die mens. In Enuma elish hou die gode eers beraad voordat die mens geskape word – miskien is iets hiervan terug te vinde in Genesis 1:26 – ‘Laat ons mense maak …’ En na die skepping van die mens, volg ‘n tydperk van rus.

   Daar is egter een belangrike verskil: Die mense van Enuma elish word geskape om as slawe vir die gode te werk sodat die gode vir ewig kan rus. Daarenteen word die mense in Genesis 1:27 na die beeld van die Here God geskape en die rusdag word ingestel om ook tot voordeel van die mens te wees (Gen 2:2-3). Al die volke van die Ou Nabye Ooste het heilige dae en feesdae gehad, maar die skrywer van Genesis 1 (- 2:4a) verbind sy volk se heilige rusdag op ‘n besondere wyse aan die handelinge van sy volk se God.

 

2.1             Die intensie

Die bedoeling van die skeppingsverhaal in Genesis 1-2:4a is nie om iets oor skepping en evolusie te sê nie. Selfs die gedagte van creatio ex nihilo is nie heeltemal korrek nie. Genesis 1-2:4a is ‘n verhaal teenoor ander soortgelyke verhale in die Ou Nabye Ooste. Dit wil iets sê oor die unieke manier waarop die God van Israel te werk gaan, dit wil getuig van sy onbestrede soewereiniteit en sy beheer oor die ganse kosmos. En teenoor die god-mens beskouing van die res van die Ou Nabye Ooste, wil hierdie verhaal ook vertel van ‘n ander verhouding tussen God en mens – nie een van baas en slaaf nie, maar die mens na God se beeld om oor die res van sy skepping te heers. Hierdie gedagte word aangrypend mooi ook in Psalm 8 verwoord.

   Ons moet egter nie die res van die literêre konteks vergeet nie. Genesis 1 staan nie verniet aan ‘die begin’ nie! As eerste boek in die Hebreeuse Bybel, gee dit ook vir ons ‘n inleiding tot die Pentateug. Hierdie vyf boeke vertel die geskiedenis van Israel, vanaf die oergeskiedenis tot en met net voor die intog in die ‘Beloofde Land’. Die skrywers begin by die wydste scenario moontlik – die kosmos en ‘n kosmiese Skeppergod. Teen hierdie agtergrond sal die geskiedenis van Israel ‘n paar hoofstukke later begin afspeel. Genesis 1 is met ander woorde die eerste toneel wat toonaangewend vir die res van die drama is.               

 

3                    Slot

Die Pentateug het ‘n lang en ingewikkelde ontstaans- en ontwikkelingsgeskiedenis. Die transformasie van mites is maar ‘n klein onderafdeling hiervan en het veral betrekking op die sogenaamde ‘oergeskiedenis’ – Genesis 1-11. Sonder dat hulle dit egter geweet het, het die Priesterskrywers ‘n baie belangrike ding gedoen: hulle het Israel se mites binne die groter raamwerk van Israel se geskiedenis geplaas. Die God van Israel se mites is ook die God van die geskiedenis. Deurdat die mite binne-in die geskiedenis reik, oorleef albei. Maar daar is nog ‘n rede. Mite sowel as geskiedenis is diep deurdrenk van teologiese nadenke wat wortel begin skiet het toe alle sekerhede inmekaar getuimel het.

   Juis daarom kan ons hierdie getuienisse ter harte neem en dit glo.

 

Bronne  

  • Batto, BF 1992. Slaying the Dragon: mythmaking in the biblical tradition. Louisville: Westminster John Knox Press.
  • Comte, F 2008. Mythen der Welt. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • Damrosch, D 1987. The Narrative Covenant. Transformations of Genre in the Growth of Biblical Literature. San Francisco: Harper & Row.  
  • Jacobsen, T 1975. Treasures of Darkness: A History of Mesopotamian Religion. New Haven: Yale University Press.  
  • Mc Call, H 2001. Mesopotamian Myths. London: The British Museum Press.
Share this / Deel hierdie: