Inleiding

Die belangrikste konsep in ons geloofslewe is sekerlik om God ‘lief’ te hê. Volgens sommige is dit so eenvoudig, selfs ‘n klein kindjie kan dit verstaan. Maar as ‘n mens daad by die woord probeer voeg, is dit nie so maklik om God ‘lief’ te hê nie. Liefde ontstaan binne ‘n intieme verhouding, tussen twee mense wat baie vir mekaar omgee, en intens in mekaar se vreugde en verdriet deel. Liefde is afhanklik van die sintuie – om die geliefde ander te sien, te hoor, hom of haar te kan vashou, selfs ruik. Nou, … hoe is dit moontlik met God? Hoe kan ‘n mens God liefhê as jy Hom nie kan sien nie, as Hy nie praat sodat hy Hom kan hoor nie, as jy nie aan Hom kan vat, of sy fisiese nabyheid op die een of ander manier kan ervaar nie? Hoe kan ‘n mens God liefhê? So lief, dat dit vir jou hele wese bepalend is?

 

Liefde

Maimonides, ‘n Middeleeuse Joodse geleerde, het gesê dat om na God te hunker is vergelykbaar met ‘n man wat na ‘n vrou hunker wat hy nie kan kry nie. En dis inderdaad die soort liefde wat ons ken: ‘n allesoorweldigende emosionele gevoel. Die Hebreeuse woord vir liefde is ‘hb. Een konteks waarbinne dit verstaan word, is soos ons dit verstaan, naamlik ‘n gevoel wat twee mense vir mekaar koester. Byvoorbeeld, Jonantan het Dawid ‘liefgehad’ soos homself (vgl 1 Sam 18:1). Daar was egter ‘n ander konteks ook waarbinne ‘hb gebruik is, en dit was polities van aard. In die taal van die Ou Nabye Oosterse vasal-verdrae het ‘hb ‘n baie belangrike rol gespeel. Dit was ‘n politieke term wat met lojaliteit te make gehad het.

   Die nasies in die Ou Nabye Ooste was voordurend in oorlog gewikkel. Elke volk was op die een of ander stadium deur ‘n ander volk bedreig. Gewoonlik het die koning van die bedreigde volk hom na die koning van ‘n sterker volk gewend, en hom om beskerming gevra. As die sterker koning toestem om die ander een te help, het hulle ‘n verbond gesluit, ‘n verbond tussen ‘n suserein en ‘n vasal. Die verhouding tussen suserien en vasal is met die term ‘hb beskryf. Maar hier beteken ‘hb lojaliteit. Ons lees byvoorbeeld in 1 Konings 5:1 (vers 15 in die Hebreeuse Bybel) dat koning Hiram van Tirus altyd vir Dawid ‘liefgehad’ het. Die woord ‘hb word inderdaad gebruik, maar waarskynlik hier met die betekenis dat hy altyd aan hom lojaal was in terme van ‘n verdrag.

   Natuurlik was so ‘n verdrag tussen twee konings nie onvoorwaardelik nie. Die suserein het sy beskerming belowe, maar in ruil daarvoor hy het sekere vereistes gestel waaraan die vasal moes voldoen. Lojaliteit aan die suserein en die stiptelike uitvoer van sy bepalinge was ‘hb. Die teenoorgestelde was natuurlik ook moontlik:  dislojaliteit, verontagsaming, oortreding van die verordeninge, verbreking van die eed. Die teenoorgestelde van liefde, is haat.

   In hierdie verband is dit nodig om nog iets te sê oor die verhouding tussen suserein en vasal. Dit was wel ‘n verhouding tussen ‘n meerdere en ‘n mindere koning, maar dit was in die eerste plek ‘n verhouding tussen twee konings, nie een van heerser en onderdaan nie. So ‘n verbond het berus op ‘n wedersydse skikking, ‘n konsensus tussen die twee partye. Daar is slegs enkele gevalle waar so ‘n ooreenkoms geforseer of met geweld afgedwing is – maar dit was die uitsondering.  Die onderliggende beginsel was die morele en wetlike verpligtinge aan die kant van die vasal in ruil vir die gunste wat hy van die suserein sal kry. Nooit ooit was daar sprake van vernedering en uitbuiting nie, veel eerder was dit ‘n verhouding van wedersydse respek waar een party hulp en ondersteuning gevra het, en ‘n ander party dit op grond van sekere voorwaardes beloof het.

 

Vasal-verdrae en Verbond: enkele opmerkings   

Baie geleerdes het al op die ooreenkomste gewys wat daar bestaan tussen die sogenaamde vasal-verdrae in die Ou Nabye Ooste en die ‘Verbond’ tussen God en Israel. Dit kom nogal duidelik na vore as ons die geskiedenis van die uittog beskou soos dit in Eksodus vertel word.

   Vasal-verdrae is gewoonlik voorafgegaan deur ‘n historiese proloog. Dit beskryf die gebeure wat aanleiding gegee het tot die ooreenkoms. Eksodus begin om die swaarkry en onderdrukking van die Israeliete in Egipte te beskryf. En dan, in Eksodus 2:23b gaan hulle geroep op tot God, Hy hoor hul gekerm (v 24), en neem die nood van die Israeliete ter harte (v 25).

   Daarna bewys God Homself as God wat Israel op ‘n wonderbaarlike wyse verlos en teen vele gevare in die woestyn beskerm. Uiteindelik kom hulle by die Sinai-berg aan. Hier word die verbond tussen God en die Israeliete gesluit. Aan die begin van die Dekaloog stel God Homself bekend, nie as die Here God wat die hemel en die aarde geskape het nie, maar as ‘… die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het’ (Eks 20:2). Dít is die weldade wat Hy aan Israel bewys het.

   Dit is dus duidelik dat God die suserein is. Maar wie is die vasal, die onderdanige koning? Die Israeliete het wel ‘n leier, naamlik Moses, maar Moses is nie ‘n koning nie. Ook word die verbond nie tussen God en Moses gesluit nie, maar tussen God en die volk. Hoe moet ‘n mens ‘volk’ verstaan? As die ‘hele volk’ betrekking het op die volk as korporatiewe liggaam, impliseer dit dat hulle almal saam iets moet doen, soos byvoorbeeld ‘n tempel bou of ‘n kanaal grawe. Maar dit is nie wat die Dekaloog in gedagte het nie. Die gebooie wat God, die suserein voorhou, is van so ‘n aard dat elke individu in die gemeenskap dit kan nakom – of verbreek – ongeag stand of geslag. Die vasal-koning met wie God van Israel ‘n verbond sluit, is elke Israeliet – man, vrou, kind. Elke mens in Israel het die status van ‘n vasal koning wat in dankbaarheid onder die beskerming van ‘n goddelike suserein lewe. Elke Israeliet is dus ‘hb aan God verskuldig.

   Vervolgens was daar die verpligtinge wat die vasal-koning moes nakom. In terme van die verbond tussen God en Israel, word die verpligtinge in die Dekaloog, die Tien Gebooie uitgespel. Van die eerste dinge wat ‘n suserein in die Ou Nabye Ooste gedoen het, was om die politieke aktiwiteite van die vasal te beperk. Eintlik is dit vanselfsprekend. Die vasal kan slegs aan een suserein lojaal wees. As hy hom na ‘n ander wend, is dit ‘n verbreking van die eed van lojaliteit – van ‘hb.   

   Die eerste gebod in die Dekaloog vereis dan ook: ‘Jy mag naas my geen ander gode hê nie.’ Hierdie gebod interpreteer ons gewoonlik vanuit ons oorgelewerde epistemologiese perspektief: die God van Israel is die enigste ware God, die ander is almal afgode. Maar in die konteks van die Ou Nabye Oosterse vasal-verdrae, is die implikasie dat Israel as vasal verbied word om haarself na ‘n ander suserein – ander gode – te wend vir hulp en beskerming. Trouens, na alles wat God vir Israel gedoen het, is dit heeltemal ondenkbaar dat so-iets kan gebeur, en is dit vergelykbaar met hoogveraad.

   ‘n Vasal kon dus nie meer as een suserein hê nie, maar niks het die suserein verhoed om sy welwillendheid aan meerdere vasal-konings te betoon nie. Heel dikwels het hy ‘n gunsteling onder hierdie konings gehad. Die gunsteling word die sglt van die suserein genoem. In verbondsterminologie het sglt met eiendom, persoonlike besit te make, en treffend word dit presies so in Eksodus 19:5 gestel (Ou Vertaling): ‘As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.’ Onder die volke beklee Israel dus ‘n besondere en bevoorregte posisie voor die Here, die suserein aan wie die hele wêreld onderdanig is. Israel is die Here se uitverkore volk.                       

   Nadat die verbond tussen suserein en vasal gesluit is, is ‘n kopié daarrvan in die tempel van die onderdanige koning se god geplaas. Hierdie handeling het bevestig dat ook die gode van die vasal die skikking goedkeur. Soortgelyke gebeure vind ons in die Hebreeuse Bybel in Eksodus 25:21; 40:20; Deuteronomium 31:26, wanneer ‘Getuienis’ of ‘wetboek’  in die verbondsark geplaas word. Op hierdie manier erken Israel simbolies die belangrike plek van die ooreenkoms binne hul eie waardesisteem. Maar hier is die god van die vasal niemand anders as die suserein self nie, die Here God van Israel.

   Die verbond is wel tussen die twee konings gesluit, maar soos in alle gevalle waar twee partye ‘n ooreenkoms aangegaan het, moes die geldigheid daarvan deur ander getuies bekragtig word. In die Ou Nabye Ooste was getuies van ‘n vasal-verdrag dikwels die gode in die panteon of elemente in die natuurlike wêreld, soos berge, riviere, strome, winde, wolke ensovoorts. Die Hebreeuse Bybel ken natuurlik nie ander gode nie, maar die Here self is by magte om elemente uit die natuur as getuies op te roep, soos byvoorbeeld die hemel en aarde (vgl Deut 4:26 en 32:1).

   Alle Ou Nabye Oosterse vasal-verdrae is op kenmerkende wyse afgesluit met ‘n reeks seën-en-vloek uitsprake. In ruil vir sy lojaliteit, sou die vasal-koning ryklik geseën word, nie deur die suserein nie, maar veral deur die gode. Maar, net so bonatuurlik groots en oorvloedig die seën-uitsprake was, so onaards en boosaardig was die vloeke! Troubreuk is eenvoudig nie geduld nie, en is swaar gestraf. Tipiese seën-en-vloek uitsprake vind ons in die Hebreeuse Bybel in Eksodus 20:5-6; Levitikus 26 en Deuteronomium 28.

 

Slot

‘Liefde (‘hb)’ het ook betekenis in die politieke leksikon van die Ou Nabye Ooste. Die skrywers van die Hebreeuse Bybel – by name die Pentateug – het die paradigma van verdrag tussen vasal en suserein oorgeneem maar dit aangewend vir teologiese doeleiendes. Onverdeelde lojaliteit, trou, dankbaarheid wat die vasal teenoor die  suserein vir al sy weldade verskuldig is, kry teologiese implikasies. Die vasal is Israel, die suserein in God. Dit is ‘liefde’ vir God.

 

Bronne

  • Berman, JA 2008. Craeted Equal. How the Bible broke with Ancient Political Thought. Oxford: Oxford University Press.
  • McCarthy, DJ 1978. Treaty and Covenant.: A Study in Form in the Ancient Oriental Documents and in the Old Testament. Rome: Biblical Institute Press.
  • Neumann, K 2006. Liebe in Frevel, C & Berlejung A (reds), Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament, 305-308.
Share this / Deel hierdie: