Die genesing van Naäman (2 Konings 5:1-19a)

Die verhaal van 2 Konings 5 vertel van ‘n profeet met ‘n merkwaardige verdraagsaamheid en begrip vir mense wat verskillend glo.

 

Die situasie: 5:1-3

 

Die verhaal begin met ‘n karakterskets van Naäman, ‘n Aramese militêre bevelvoerder. Hy is ‘n gerespekteerde en dapper man wie se karakter in sy naam, wat ‘innemend’ of ‘goedwillig’ beteken, gereflekteer word. Alhoewel hy die aanvoerder van die vyand se magte was wat groot ellende in Israel veroorsaak het, hanteer die verteller van die verhaal hom met respek. Dit lyk asof Jahwe selfs terwille van hierdie man die Aramese leërmag teen Israel ondersteun het. Óf die skrywer stel Jahwe voor as ‘n universalistiese God van al die nasies, selfs tot nadeel van Israel wat aan die ontvangkant van Aram se oorwinnings was (v 1).

 

Maar die ironie van die talentvolle Naäman is dat hy melaats was. Terwyl die leser nog wonder oor die uitkoms van hierdie probleem, word die gevange Israelitiese dogtertjie in vers 2 bekendgestel. Haar beskrywing kontrasteer met diè van Naäman: Hy het ‘n naam, sy is naamloos; hy is die ‘groot man’, sy ‘n ‘klein dogtertjie’; hy ‘n bevelvoerder, sy ‘n gevangene in sy huis; hy ‘n Arameër, sy ‘uit die land van Israel’. Hier kry ons in dieselfde huishouding ‘n ontmoeting tussen twee mense van verskillende gelowe sowel as ‘n oneindige verskil in sosiale stand. Die siekte van so’n openbare figuur moes groot spanning in Naäman se huishouding veroorsaak het. Die dogtertjie praat met Naäman se vrou (v 3) en spreek die wens uit dat hy die ‘profeet van Samaria’ gaan sien wat hom sou genees. Sy wend geen poging aan om hom tot haar geloof te oortuig nie, maar getuig wel van Jahwe se krag om hom deur die profeet gesond te maak. Sy demonstreer ‘n gesindheid van besorgdheid vir die vyand wat geloofsverskille transendeer. Haar omgee word ook prakties bewys, want waarskynlik het sy elke dag na haar siek heer se behoeftes omgesien, vir hom kos gemaak en sy besmette klere gewas.

 

Naäman en die koning van Israel: 5:4-7

 

In die volgende vier verse vind ons Naäman oppad na die profeet van Samaria met ‘n brief en geskenke van die koning van Aram, verkeerdelik geadresseer aan die koning van Israel. Dit veroorsaak konsternasie in die Israelse hof wat lei tot die koning se uitroep in vers 7: ‘Is ek dan God wat lewendig en dood maak dat hierdie man na my gestuur word om hom van sy melaatsheid gesond te maak?’ Die verteller impliseer dat genesing van ‘n hoër bron afkomstig is en Elisa se toetrede tot die verhaal is voorberei.

 

Naäman se fisiese genesing: 5:8-14

 

As Naäman by Elisa se huis arriveer (v 9), beveel Elisa hom by monde van boodskappers om hom sewemaal in die Jordaanrivier te was, wat die trotse Arameër woedend onder protes doen (v 11-13). En ‘sy vel het gesond geword soos die van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein’ (v 14).   

 

Naäman se spirituele transformasie: 5:15-19a

 

Ons vind nou ‘n nederige Naäman voor die ‘profeet van Samaria’ en die wens van die Israelse dogtertjie (v 3) is vervul. Vir die eerste keer skep die verteller dialoog tussen die twee karakters sonder tussengangers. Naäman se arrogansie is geknak en hy bely: ‘Ek weet nou daar is geen God op die hele aarde nie, behalwe in Israel.’ Met diè verklaring van monoteïsme erken hy sy geloof in Jahwe van Israel as die enigste God van alle mense omdat hy sy genesing bewerkstellig het wat die gode van Sirië nie kon doen nie. Hy het egter twee versoeke wat aantoon dat hy onseker is oor sy nuwe geloof (vv 17-18). Sy eerste versoek is naïewelik teenstrydig met sy belydenis: hy wil twee muilvragte grond saamneem waarmee hy ‘n altaar wil bou waarop hy vir Jahwe alleen kan offer te midde van die gode van Damaskus. Hy is nog van mening dat Jahwe beperk is binne die grense van Israel en hy erken nog die bestaan van ander gode. Sy tweede versoek behels dat hy vooraf verskoning vra omdat hy moet neerbuig voor die god Rimmon wanneer hy in die toekoms sy koning sal vergesel na die tempel en hom daar ondersteun. Elisa se antwoord is: ‘Gaan in vrede’ (v 19a). (Hierdie betekenisvolle woorde is ongelukkig in die NAV van 1983 wegvertaal.) 

 

Ten slotte

 

Elisa staan met diè woorde beide versoeke toe want daar is geen gevaar of skade om mense van ander gelowe te ondersteun in die aanbidding van hulle God as die persoon standvastig is in haar of sy eie geloof nie. Elisa is oortuig van die integriteit van die Arameër se nuutgevonde geloof ten spyte van sy ambivalente verstaan daarvan. Die profeet se verdraagsaamheid laat Naäman toe om lojaliteit aan sy koning te bewys.

 

Ons as Christene neem aan dat die God van Israel die God is wat ons aanbid – ons behoort dus nie ‘n probleem te hê om die uitdaging van ons verhaal te aanvaar as verteenwoordigend van ‘n Ou-Testamentiese perspektief op ander godsdienste nie. Die Naämanverhaal konfronteer ons met ‘n God wat omgee vir alle mense ongeag hulle religieuse uitdrukking en in navolging behoort ons dieselfde te doen.

 

Bibliografie

 

Ariarajah, W 1985. The Bible and people of other faiths. Geneva:WCC.

Cohn, R L 1983. Form and perspective in 2 Kings V. VT33, 171-184.

Jones, G H 1984. 1 and 2 Kings, Vol II. Grand Rapids: Eerdmans.

Klopper, F 1992. We have a right to believe differently: 2Kings 5:1-27 and religious Tolerance, in Wessels, W & Scheffler, E, Old Testament science and reality, 188-207. Pretoria: Verba Vitae.

Loader, J A 1985. ‘Theologia Religionum’ from the perspective of of Israelite religion – an argument.  Missionalia 13, 14-32.

Share this / Deel hierdie: