Inleiding

Aan die begin van Julie het die jaarlikse internasionale SBL-kongres (Society of Biblical Literature) in Rome plaasgevind ter herdenking aan die 100-jarige bestaan van die Pontificio Istituto Biblico (Pouslike Bybelinstituut – PBI). Gedurende Junie was dit my en my Ou-Testament kollega, prof Dirk Human, se voorreg om vir ‘n week en ‘n half in hierdie ongelooflik goed toegeruste biblioteek van die PBI navorsing te doen. Ons het Vrydag 19 Julie laatmiddag in Rome aangekom en daardie aand vroeg gaan slaap na ‘n lang en vermoeiende vlug via Dubai. Saterdagoggend het ons net een doel voor oë gehad, naamlik om so vroeg as moontlik by die Piazza della Pillota 35, waar die biblioteek van die PBI geleë is, te kom en ons by die bibliotekaris te gaan aanmeld. Hierdie piazza lê in die hartjie van Rome; ongeveer 200 meter van die bekende Trevi-fontein. Aan die anderkant van die piazza is die Pontificia Università Gregoriana (Pouslike Gregoriaanse Universiteit), waar die SBL-kongres plaasgevind het. Na die formele aanmelding en papierwerk afgehandel was, was dit vir ons moontlik om van al die fasiliteite van hierdie biblioteek gebruik te maak. Die biblioteek bestaan uit vier verdiepings, en bevat slegs boeke oor die Ou-Testamentiese en Nuwe-Testamentiese Wetenskappe. Elke denkbare tydskrifreeks en boekereeks is volledig op die rak. Dit is inderdaad ‘n voorreg om in so ‘n biblioteek te kan werk waar enige boek of tydskrif wat jy nodig het, onmiddellik beskikbaar is.

 

Die geskiedenis van die PBI

Die PBI is ‘n universitêre instelling van die Heilige Stoel, gestig deur pous Pius X op 7 Mei 1909 met die pouslike brief Vinea electa. Dit het ten doel om ‘n sentrum van die studie van die Bybel in Rome te wees volgens die karakter van die Katolieke Kerk. Vanaf die stigting van hierdie instituut was dit in die hande van die Jesuïete (Societas Iesu, S.J.).

 

Aan die begin na sy ontstaan het die PBI studente voorberei op eksamens wat deur die Pouslike Bybelkommissie afgeneem is. Deur middel van die Apostoliese Brief Cum Biblia Sacra (15 Augustus 1916) het Benediktus XV toestemming aan die Instituut verleen om self akademiese grade te mag toeken en op 9 September 1930 het Pius XI aan die instituut toestemming gegee om doktorsgrade te mag toeken. Hiermee het hulle ook volledig akademies outonoom van die Bybelkommissie begin funksioneer. Op 7 Augustus 1932 is die Fakulteit van Ou-Nabye Oosterse Studies geopen. Dit het ook beroemdheid verwerf vir navorsing wat op die terrein van die Orientalistiek gedoen is.

 

Wat is die doel van die PBI? Tydens die Tweede Vatikaanse Konsilie is dit in die dokument Dei Verbum (18 Nov. 1965) soos volg geformuleer:

  • om deur middel van wetenskaplike navorsing van die bybelse en relevante Ou-Nabye Oosters dissiplines tot in-diepte insig en uitleg van die betekenis van die Heilige Skrif te kom (Dei Verbum §12);
  • om studente, veral deur middel van die onderrig van die bybelse tale, voldoende voor te berei vir wêreldklas wetenskaplike navorsing, asook vir hulle werksaamhede binne die Kerk;
  • om studente sodanig voor te berei dat hulle tot ‘n beter verstaan en uitleg van die Heilige Skrif sal kom, sodat daar tot groter volwassenheid in die kerk gekom kan word (Dei Verbum §12); en sodat die Skrif ‘n al hoe groter rol sal speel in die studie van die teologie, in die pastoraat, in ekumeniese dialoog, asook in die liturgie.

Ten einde aan hierdie groot taak en opdrag te kan voldoen, is dit nodig dat ‘n gespesialiseerde biblioteek tot die beskikking van die PBI moet wees. Daarom investeer die Katolieke Kerk jaarliks derduisende Euros om hierdie biblioteek so goed as moontlik toe te rus met boeke en tydskrifte.

 

Wat is die resultaat van hierdie ingesteldheid ten opsigte van die Bybelwetenskappe in die Katolieke Kerk (RKK) in die algemeen?

Hierdie konstruktiewe houding ten opsigte van die studie van die Bybelwetenskappe (met die beklemtoning van die bybelse tale) het groot vrug gedra in die RKK. Reeds in sy ensikliek Divino Afflante Spiritu (30 September 1943) het pous Pius XII die katolieke eksegete aangemoedig om die nuutste metodes van Bybelverstaan te gebruik ten einde tot groter Skrifverstaan te kan kom. Eksegete is aangemoedig om hulle te verdiep in die histories-kritiese metode van Bybeluitleg, asook in die literêre genres wat in die Bybeltekste voorkom. Hy het hom so sterk hieroor verwoord, dat hy gesê het die teendeel sal beteken dat ernstige skade aan die katolieke eksegese gedoen sal word. Daarom moet die teks in sy histories, kulturele en literêre konteks verstaan word ten einde vir die kerk diensbaar te wees.

 

Die Konstitusie van Goddelike Openbaring van die Tweede Vatikaanse Konsilie, Dei Verbum, van 18 November 1965 het al die bogenoemde aanvaar. Daarom, sedert Vaticanum II, het die Bybelwetenskappe groot vordering gemaak in die RKK, en gevolglik is van die wêreld se voorste Bybelwetenskaplikes vandag katolieke teoloë.

 

Pous Johannes Paulus II stel dit in sy voorwoord van die verslag van die Pouslike Bybelkommissie oor die interpretasie van die Bybel in die Kerk dat dit noodsaaklik is (eintlik die voorwaarde is) vir eksegete om die diakroniese en die sinkroniese met mekaar in gesprek te laat tree. Dit is noodsaaklik dat hierdie twee metodes komplementêr tot mekaar hanteer moet word ten einde die teks te kan interpreteer en sodoende aan die eise van die moderne leser en gelowige te kan beantwoord (PBC 1993:23).

 

Die verdieping in die invloed van die Bybel op die teologie het ‘n groot bygedrae gemaak tot teologiese vernuwing in die RKK. Belangstelling in die Bybel en die studie daarvan het toegeneem. Vir diegene wat ‘n soliede basis op hierdie gebied gekry het, is dit onmoontlik om terug te keer na ‘n pre-kritiese vlak van Bybelverstaan; ‘n vlak wat gesien moet word as heeltemal ontoereikend (PBC 1993:31).

 

Ten slotte

Watter les sou die Afrikaanse kerke in die Gereformeerde tradisie uit hierdie ingesteldheid van die RKK kan leer. Waar hierdie kerke vandag almal worstel met hulle eie identiteit en hulle eie wortels in ‘n nuwe Suid-Afrikaanse konteks, lyk dit vir my asof ons baie kan leer by die Katolieke Kerk se ingesteldheid ten opsigte van die teologiese wetenskap en teologiese opleiding. Teologiese, kerklike en liturgiese vernuwing is slegs moontlik wanneer die kerk diep bewus beword van die noodsaak van deeglike en grondige studie van die Bybelwetenskappe. Slegs dan kan daar gepraat word van, en is werklike vernuwing op alle vlakke van die kerklike leer, bediening en lewe moontlik.

 

Bibliografie

De Jong, O 1987 (11e uitgawe). Geschiedenis der Kerk. Nijkerk: Callenbach.

Pontifical Biblical Commission (PBC). 1993. The interpretation of the Bible in the Church. Boston, MA: St. Paul Books.

Wolf, H (Hrsg.) 2007. Ökumenische Kirchengeschichte. Band 3: Von der französischen Revolution bis 1989. Darmstadt: WBG.

Share this / Deel hierdie: