God gaan nie sommer weg nie

… God is Koning van die hele aarde … (Ps 47:8 – OV)

In die antieke wêreld was die jaarwisseling nogal ’n belangrike saak. Op dié dag is fees gevier en groot geraas gemaak. Dít was hulle manier om alle bose geeste te verjaag en mense teen allerlei kwaad te beskerm.

Een vraag het hulle in dié tyd bly kwel: ‘Sou die gode by hulle in die nuwe jaar wees?’. Om die gode se nabyheid te verseker, het hulle sekere rites gevolg en liedere gesing. Gewoonlik is die nuwe jaar aan die begin van die lente of die begin van die oestyd gevier en dan is gesê die gode het weer opgestaan. Tydens die winter het hulle in die onderwêreld verkeer, maar op Nuwejaar het hulle weer opgestaan en sou goeie oeste skenk. Of so het die antieke mens gehoop.

Daar is al dikwels gewonder of Israel nie ook sulke nuwejaarsfeeste geken het nie. Niks is seker nie en die gegewens is min, maar dalk hoor ons tog in Psalm 47 die naklanke van so ’n fees. Kort voor dagbreek het die gelowiges by die tempel saamgekom en met eerste lig het die ramshorings geklink en die mense het God se koningskap geloof. Selfs toe daar nie meer ’n koning was nie, het die Israel nog aan God se koningsheerskappy vasgehou en troos daaruit geput.

Israel het God se koningskap egter anders as hulle bure verstaan. Hy was nie die ver, afgetrokke of eenkant Koning nie, maar sy regering het elkeen in sy klein bestaan geraak. Nuwejaar was nie ’n tyd van angstige wonder oor sy nabyheid nie, maar ’n viering van sy ewige koningshulp en nabyheid. Op Nuwejaar het Israel aan hulle Koning gedink wat mense nie sommer los nie, maar heelpad saam met hulle loop.

Pragtig sien ’n mens dit in die bekende verhaal van koning Dawid se korrupte familie. Dawid het ’n man vermoor en toe sy vrou gevat; sy seun Amnon, het sy halfsuster, Tamar, verkrag (2 Sam 13:20); Absalom het Amnon toe doodgemaak (2 Sam 13:23-39) en drie jaar lank in Gesur gaan woon; hierna het Absalom met ‘n volksopstand teen sy pa begin en Dawid moes vlug (2 Sam 15-18); op Dawid se sterfbed het sy seun Adonia hom verraai en hom koning laat maak.

Koning Dawid se familie het mekaar verwoes. Spanning, twis, jaloesie het hulle wrokkig op mekaar gemaak. En tog het God nie dié familie gelos nie. Ten spyte van hulle vele foute, hulle bose gedagtes, hulle verskriklike dade het die groot Koning nogtans sy doel met dié familie bereik.

Here, U is die Koning van ons lewens. Dankie dat U ons nooit sal los nie en dat U altyd naby is. Ó

Share this / Deel hierdie: