Die vraag wat vir my gegee is, is: ‘Doen die Afrikaanse kerke genoeg om rassisme in eie geledere te bestry?’

Die kort antwoord, ten minste wat betref die NG Kerk en die Hervormde Kerk oor wie dit lyk my vandag hier gaan, is natuurlik: ‘Nee.’ Maar terwyl ek 10 tot 15 minute gegee is om dit te sê, laat my ‘n paar perspektiewe daarop toe.

 

1. Dat ek dink rassisme in die kerke steeds ‘n probleem is, het ek laat verlede jaar in ‘n rubriek geskryf. Dit was nadat ek binne die bestek van omtrent ‘n maand die algemene kerkvergadering van die Hervormde Kerk en drie van die NG Kerk se Transvaalse streeksinodes bygewoon het.

By die Hervormers het ek dit gesien in die debatte en die voorstelle oor die herstel van verhoudinge met die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en die verhouding met die swart Hervormers in die Maranatha Reformed Church of Christ.

By die NG Kerk het ek dit gesien in die debatte oor kerkeenheid.

 

2. Soos toe, wil ek nou weer sê dat ek nié dink dat dit ‘n kru, hatige soort rassisme is nie. Dié is daar seker ook, en dalk word dit in ons dag meer, maar wat ek gehoor het, is ‘n sagter soort rassisme. Dié soort wat sê: ‘Ons verskil te veel om in een kerk te wees. Ons gun julle jul eie kerk en ons sal met julle saamwerk, maar ons wil nie in dieselfde kerklike struktuur as julle wees nie.’

Die studente onder ons sal te jonk wees om dit te onthou, maar mense van my geslag sal weet dat dit die soort taal is waarmee die hele apatheidstelsel destyds onder Afrikaners goedgepraat is.

Jare gelede, lank voordat hy nog professor was, het ek by Russel Botman geleer dat die onderliggende leer van die onversoenbaarheid van mense, ten diepste berus op ‘n ontkenning van die versoenende krag van Jesus Christus.

 

3. As ons vir mekaar sou sê dat ons dink die kerke behoort iets hieraan te doen, moet ons duidelikheid kry oor wie in die kerke ons wil hê iets moet doen, en wat ons wil hê hulle moet doen. Want ‘die kerk’, of dit nou die NG Kerk of die Hervormde Kerk is, is nie ‘n homogene dier nie. En rassisme in die kerk is nie ‘n eenvoudige ding om te takel nie. Jy kan dit nie met die druk van ‘n knoppie afskakel nie.

 

4. Ons sou sê ons dink die onus in die kerke berus op die sentrale leierskap: die kommissie van die algemene kerkvergadering in die Hervormde Kerk, en die algemene sinodale moderamen in die NG Kerk.

Dan wil ek daarop wys dat dié leiers se hande deur die kerkreg taamlik sterk gebind is. Hulle kan nie soos biskoppe besluite oor die kerk en sy koers vorentoe neem nie.

Ek wonder hoeveel mense besef dat die NG Kerk se ASM nie eens direk met gemeentes mag kommunikeer nie. As daar binne die ASM ‘n voorstel sou kom dat hulle dit moes doen, sou die Noord-Kaapse afgevaardigdes baie gou daarop wys dat die algemene sinode ‘n sinode van sinodes is. Hulle mag slegs met die streeksinodes kommunikeer. In praktyk besluit die leierskap op streeksinodevlak dan of en hoe hulle die boodskap van die ASM verder na gemeentes deurvoer. En as dit by gemeentes kom, besluit die dominees of en hoe hulle dit aan lidmate gaan deurgee.

In die Hervormde Kerk het die vorige kommissie van die AKV moedig probeer om die kerk weg van apartheid te stuur. Hulle is uit sekere kringe baie kwalik geneem, onder meer oor die hou van ‘n colloquiem, wat baie gou as ‘n onkerkregtelike struktuur afgemaak is. En toe die algemene kerkvergadering kom, het die kerk daar besluit om ‘n ander koers in te slaan.

Die NG Kerk se ASM het hard gewerk, hart en siel sou ek kon sê, aan kerkeenheid. En toe die gemeentes (deur die streeksinodes se strukture natuurlik) gevra word om terugvoer op die voorstelle, het ‘n beduidende deel van die kerk gesê (as ek dit effe kru mag parafraseer): “Te hel met julle eenheid.”

Toe die kerkhervormers ná die reformasie nuwe kerkregeringstelsels bedink het, het hulle dit goed reggekry om te keer dat daar binne die kerke van die reformasie ‘n herhaling sou wees van pouslike magsvergrype, maar hulle het dit nie reggekry om kerkleiers te bemagtig om kwessies soos kerklike verhoudinge en kerkeenheid te hanteer nie.

 

5. Dit gaan ook nie net oor die strukture nie, maar ook oor ‘n kultuur van lojaliteit aan kerklike leierskap.

Ek het onlangs ‘n paar keer met die Russies-Ortdokse priester in Midrand gesels, en as ‘n mens hoor hoe hy oor sy patriarg praat, is dit wêrelde verwyder van hoe dominees en gemeentes in ons kerke oor hul leiers praat. By ‘n wit Anglikaanse priester hier in Waterkloof, het ek ‘n groot lojaltieit teenoor sy swart biskop gehoor.

Miskien is dit ‘n Afrikanerding, maar uit ons kerke hoor ek daai soort lojaliteit glad nie. Inteendeel. Uit ‘n beduidende sektor van ons kerke hoor ek wantroue.

Ter illustrasie: ‘n jaar of twee gelede skryf ‘n verslaggewer in Rapport, in ‘n bedenklike stukkie joernalistiek moet ek bysê, dat daar reeds op ‘n nuwe naam besluit is vir die nuwe kerk wat uit die NG Kerkfamilie se eenheidsproses tot stand moet kom – en sy haal so ‘n lang Engelse naam aan.

In ‘n ringsbesluit distansieer die ring van Louis Trichardt hulle van dié sogenaamde besluit, al is daar by herhaling deur kerkleiers gesê daar is nog geen besluite oor sulke goed geneem nie. Al kan enige van daai dominees met een oproep na dr. Johan Pienaar kontroleer wat die feite is.

Ek het vir een van die dominees van daai ring gesê: ‘Julle glo Rapport soos die evangelie, maar julle glo nie julle eie leiers nie.’

In die Hervormde Kerk is die vure van wantroue teenoor die kommissie van die algemene kerkvergadering ook verlede jaar sterk aangeblaas. Ek hoop vir prof. Dreyer se onthalwe dit gaan nou beter daar.

 

6. As ons teen dié agtergrond nie kan verwag dat die sentrale leierskap van die kerk nie veel aan die rassisme in eie geledere kan doen nie, kan ons dit van die dominees op plaaslike vlak verwag?

Ek is nie heeltemal seker of ek dit net so oor die Hervormde Kerk sou kon sê nie, maar my indruk in die NG Kerk is dat baie dominees geabdikeer het van die rol om te praat oor kwessies wat te naby die politiek lê.

Dis asof daar ‘n gevoel is dat ons voorheen ons vingers verbrand het toe ons ons op politieke terrein begeef het, en daarom wil ons dit nie weer doen nie. Daarom, is my indruk, preek dominees nie oor goed soos rassisme nie.

Daar is natuurlik ‘n paar wat dit probeer het en hulle vasgeloop het, wat hulle in die proses heeltemal van hul lidmate en gemeentes vervreem het. Dit is dus nie ‘n eenvoudige ding om te doen nie.

Miskien lê iets van die antwoord daarin om nie oor rassisme te preek nie, maar oor die liefde van Christus, oor ‘n liefde wat so wyd en diep loop, dat dit geen ruimte laat vir enige vorm van rassisme om te bly bestaan nie.

 

7. Met dit alles gesê, sien ek enige lig vir dié twee kerke ­– wat betref die Hevormde Kerk se verhouding met die Wêreldbond, wat betref betekenisvolle eenheid in albei dié kerke, wat betref die stryd teen subtiele en minder subtiele vorme van rassisme in lidmate se gemoedere?

As ek my analitiese, dalk siniese, joernalistieke bril opsit, dan moet ek sê nee. Ek sien nie lig vorentoe nie.

Maar nou het ek in my lewe al so gevoel oor verskillende vasgeloopte situasies en dan gaan daar deure oop waar ek nie gedink het deure is nie. Ek moet seker nou ook bly vashou aan die hoop dat niks vir God onmoontlik is nie.

Share this / Deel hierdie: