Inleiding

’n Oomblik van waarheid word ongevraagd deur die Heilige Gees in gelowiges se harte gelê. Dit gebeur wanneer die appèl van die evangelie onweerstaanbaar op die kind van die Here inwerk. As predikante en teoloë van die NHKA het daardie oomblik vir ons aangebreek. Ons kan nie anders nie. As ons stilbly, sal die klippe uitroep. Ons is saam met baie ander seer oor wat in die Hervormde Kerk gebeur het en is skaam voor God. Hierdie seer kom ‘n lang pad.

 

Die lang pad

Die afgelope Vrydag het lede van die uitvoerende bestuur van die Wêreldbond van Hervormde Kerke die Algemene Kommissie van die NHKA ontmoet oor die kerk se moontlike hertoelating tot hierdie liggaam. Die lidmaatskap van die NHKA is tydens hierdie liggaam se een en twintigste vergadering in 1982 te Ottawa gesuspendeer. Om hertoegelaat te kan word, is toe van die NHKA verwag om ’n ‘ondubbelsinnige sinodale besluit’ te neem wat apartheid as onevangelies verwerp. Hiertoe was – en helaas – is die NHKA nie bereid nie. Beeld verwys na die voorstel in die agenda van die vorige Algemene Kerkvergadering wat wel aan die vereistes sou voldoen het, ‘maar daar was soveel verdeeldheid daaroor dat dit nie ter tafel gebring is nie’ en wat ekumene betref, sien die skriba vir die kerk ’n ‘doodloopstraat’ (Beeld 10 Maart 2009).

 

Verklaring

Ons as predikante van die NHKA verklaar onomwonde dat apartheid sowel in uitwerking as in wese sonde is en enige teologiese regverdiging daarvan is ’n mistasting.

 

Apartheid kan nie aanvaar of goedgepraat word deur Christene nie omdat:

  • dit gebaseer is op ’n beweerde ongelykheid tussen mense wat in die pad kom van die bediening van die versoeningswerk van Christus;
  • dit eksklusiewe voordele aan wit mense ten koste van swart mense gegee het;
  • daar ongeregtigheid en onderdrukking plaasgevind het in onder andere die destydse gedwonge menseverskuiwings wat die gesinslewe van miljoene mense verwoes het;
  • dit die beeld van God in mense aantas – wat die Heilige Gees bedroef.

 

Ons ken geen ander evangelie nie as God se liefde wat van ons vra om deernis te hê vir ander, soos God met ons deernis het. Daarom kan ons nie anders as om apartheid as sisteem in die kerk, samelewing en politiek te sien as inherent mensonterend en daarom as boosheid nie. Die aantasting van mense se menswaardigheid kan op geen manier Bybels, teologies en moreel geregverdig word nie.

 

As mense wat voordeel getrek het uit onregverdige strukture aanvaar ons mede-verantwoordelikheid vir die trauma wat ander gely het. Die evangelie dring ons om nie daaraan mee te werk nie.

 

Eenheid en verskeidenheid in Christus

Ekumeniese verhoudings demonstreer dat gelowiges dwarsoor die wêreld één is in Christus. Ons kan ons nie isoleer nie, maar behoort ons evangeliese roeping na binne én na buite uit te leef. So kan die NHKA saam met ander gelowiges die waardes van God se koninkryk uitleef in hierdie wêreld.

 

Die kerk van Christus is veelkleurig, maar eenheid is die eis van die evangelie. Terwyl ons skakerings in spiritualiteit respekteer, werk ons saam om verskille diensbaar te maak in die koninkryk van God. Ons doen dit deur mede-gelowiges se onderskeie kulture te respekteer, na mekaar te luister en by mekaar te leer wat die kern van die evangelie van Christus is, naamlik mekaar opreg lief te hê met woord en daad.

 

Gebed

Bewus daarvan dat ons elke oomblik in die teenwoordigheid van die heilige God lewe, bid ons: Here, ontferm U! Ons bely ons skuld voor U en voor almal wat deur ons toedoen ontmenslik is. Leer ons om te haat wat U haat, en om U lief te hê met hart, siel, verstand en kragte, en ander soos onsself. Ons wil liefhê soos u liefhet. Bekeer ons tot U in daardie oomblikke waarin ons vir hierdie liefde terugdeins. Laat u koninkryk sigbaar word in wat ons dink en doen. Maak ons getrou aan u evangelie en gee ons die moed om dit nie op die spel te plaas nie. Ons wil ons nooit vir u woorde skaam nie. Laat u wil geskied oral waar ons leef en werk. Maak ons nuut, Here!

 

Uitnodiging

‘n Mens voel alleen en magteloos wanneer die lig van die evangelie dof om jou geword het. Die téénstem (téén alles en almal daarbuite, vír net onsself) is luid en sterk, soms selfs gewelddadig. Die meerderheidstem is dikwels stil. Ons nooi predikante en lidmate van die NHKA wat by hierdie roepstem aanklank vind uit om hulle stemme op ‘n respekvolle en evangeliese manier te laat hoor. Betuig u instemming per e-pos aan een van die adresse hieronder sodat ons mekaar se hande kan sterk. Laat die stem van die kerk gehoor word!

 

Andries van Aarde (andries.vanaarde@up.ac.za)

Johan Buitendag (johan.buitendag@up.ac.za)

Yolanda Dreyer (yolanda.dreyer@up.ac.za)

Ernest van Eck (ernest.vaneck@up.ac.za)

Jimmie Loader (james-alfred.loader@univie.ac.at)

Share this / Deel hierdie: