Fundamentalisme: grootste bedreiging vir die kerk
- Deur Alphonso Groenewald
- Gepubliseer 13 May 2008
- Artikels
-
Evaluering:




Alphonso Groenewald
Alphonso Groenewald se Artikels
1. Inleiding
Ons word daagliks in die koerante gekonfronteer met berigte van fanatieke gelowiges wat in die naam van hulle god andersdenkendes bestry en besweer. Hulle is so oortuig van hulle waarheid, dat hulle bereid is om selfs daarvoor te veg, ja selfs om ander mense daarvoor dood te maak. Hulle legitimeer hulle gruwelike dade deur hulle te beroep op hulle heilige geskrifte. Dit is dan ook die beeld wat by die meeste mense opkom wanneer hulle die woord “fundamentalisme” hoor: militante onverdraagsaamheid, gevoed deur religieuse oortuiging (Van Harskamp 1999:7).
In ons land word fundamentalisme dikwels deur mense met die Islam en ander godsdienste geassosieer. Tog is dit ‘n multi-religieuse verskynsel. Dit kom in alle religies voor, sowel in die monoteïstiese as nie-monoteïstiese godsdienste. Ook die Christendom ken fundamentalistiese strominge. Sterker nog, die begrip fundamentalisme het sy oorsprong in die Christendom; om presies te wees in die Amerikaanse protestantisme van die laat 19e/vroeg 20ste eeu (Blei 1996:32). Dit het as bynaam gefigureer vir ‘n groep radikaal-ortodokse en radikaal-konserwatiewe protestante, wat onder andere geskok was deur die opkoms van die moderne kritiese teologie. Verder was hulle ook verontrus oor die resultate van ander aspekte van die moderne wetenskappe, met name die biologie en die geologie, die historiese wetenskappe (waaronder die geskiedenis van die ou-antieke en argeologie gereken kan word).
Hoewel “fundamentalisme” histories ‘n sterk Amerikaanse inslag het, word dit vandag veel weier gebruik en verwys dit glad nie meer net na daardie godsdienstig-politieke reaksie van die 19e/20e eeu nie. Dit is ‘n verskynsel wat oraloor ter wêreld en in alle godsdienste aangetref word – ook hier in Suid-Afrika.
2. Wat is fundamentalisme?
Fundamentalisme kan gedefinieer word as ‘n baie konserwatiewe, anti-liberale denkrigting, met ‘n baie sterk anti-intellektualistiese inslag (Blei 1996:30; Deist 1983:14; Labuschagne 2000:29). Hierdie manier van denke was eintlik kenmerkend vir sowel die joodse as die christelike Bybel- en wêreldbeskouing vanaf die begin van die moderne jaartelling. In ons tyd, ‘n tyd waarin die Verligting (Aufklärung) ons denke radikaal verander het, tref ons nog hierdie denkrigting in bepaalde segmente van die Judaïsme, Islam en Christendom aan. Dit kom egter ook veelvoudig in diverse politieke ideologieë voor (Chomsky & Achcar 2006; Huntington 2002:95vv). So tref ons vandag nog ‘n restant van die gangbare denkwyse van vóór die Verligting aan in sekere segmente van die Rooms-Katolieke Kerk, in die ultra-ortodokse protestantse kerke, asook in die biblisisties-evangeliese en charismatiese strominge.
Ons sou die fundamentalistiese denkrigting selfs as ‘n afsonderlike geestelike stroming kon beskou (Blei 1996:31; Labuschagne 2000:29). Hierdie stroming word gekenmerk deur ‘n fanatieke geloof in die “eie” siening van die “eie” groep, wat altyd gepaard gaan met onverdraagsaamheid teenoor andersdenkendes. In hierdie groepe gaan dit oor ‘n teenbeweging van mense wat verontrus is deur die resultate van die moderne wetenskappe (waarna reeds in die inleiding verwys is).
Die aanhangers van hierdie denkrigting blyk dus mense te wees wat, as gevolg van hulle konserwatiewe biblisistiese Bybelbeskouing, nie instaat is om die resultate van die moderne wetenskap in hulle geloofsisteem te kan integreer nie. En juis hierin vind ons die grootste bedreiging vir die kerk. Hierdie mense sien nie kans om die wêreldbeeld, wat hulle op grond van hulle Bybelse verstaan geskep het, los te laat en in ooreenstemming met die natuurwetenskaplike wêreldbeeld te bring nie. So byvoorbeeld is die gedagte van ewolusie vir hulle in stryd met die Bybel (Soggin 1996:35).
Verder beskou hulle ook die bevindinge van die Bybelwetenskappe oor die ontstaan van die Bybel en beskrywinge van die gebeurtenisse in die Bybel, as ‘n aanslag teen hulle bekouing van die onfeilbaarheid van die Skrif. Hulle protesteer ook teen die oortuiging dat die literêre vorm en die voorstellingswêreld van die Bybel histories gebonde is (Van Harskamp 1999:23). Die Bybel het inderdaad besondere en unieke gesag vir moderne Christene, maar nie omdat God daarin bo-natuurlike inligting vir die mens verskaf nie, maar om hulle (moderne Christene) die Bybel hoor en lees as verhale, liedere, wyshede, gedigte waarin mense uitdrukking gee aan hulle ervaringe en hulle soeke na God. Die moderne Bybelleser hoor daarom die stem van God deur en in die stemme van menslike getuienisse. En juis hiervan sku die fundamentalis weg.
3. Fundamentalisme: die grootste bedreiging vir die kerk
Die gevolge van hierdie verkrampte reaksionêre beweging is rampsalig vir die kerk en veral vir die voortbestaan van die kerk (Labuschagne 2000:30). Hierdie stelling staan dus lynreg teenoor die bewerings wat maar alte dikwels vanuit fundamentalistiese geledere gemaak word dat die Verligtingsdenke, en historiese-kritiese denke van die 19e eeu, die kerk bedreig. Die teendeel is eerder waar – dit moet ook luid en hard gesê word. Deurdat die wetenskap verdag gemaak word, en die integriteit van die beoefenaars van die wetenskap in twyfel getrek word, word krities-denkende mense totaal van die kerk vervreem. Hulle keer hul rug op die kerk en die geloof, gegewe die feit dat die fundamentalistiese denke vir hulle onhoudbaar is.
Naas die argwaan, asook die vyandige beskouing, wat die fundamentalistiese stroming koester vir die resultate van die moderne Bybelwetenskappe, is ‘n verdere kenmerk van die fundamentalistiese Bybel- en wêreldbeskouing die fanatieke verdediging van ’n paar selektief gekose aspekte van die beeld wat die Oud-Oosterse mens van die samelewing gehad het. Hier kan byvoorbeeld verwys word na die posisie van die vrou in die samelewing (Haag & Elliger 1999:83vv; Labuschagne 2000:31; Van Harskamp 1999:20vv; Wessels 1999:51).
Die hele antieke Midde-Ooste, inklusief oud-Israel en die vroeë Christendom, ken slegs ‘n patriargale samelewingsorde, waarvolgens die man as hoof van die vrou beskou word. Dit veroorsaak dat die vrou ‘n ondergeskikte posisie teenoor die man moes inneem. Hierdie Oud-Oosterse kultuurgebonde opvatting, wat gelukkig vandag in die westerse beskawing as ‘n gedateerde siening beskou word, word egter nog steeds vandag binne hedendaagse biblisisties-fundamentalistiese kringe verabsoluteer en as universeel geldend as die wil van God voorgehou.
4. Ten slotte
Uit die voorafgaande opmerkings blyk die gevaar van fundamentalisme vir die kerk baie duidelik. Fundamentalisme het, soos geen ander denkrigting of geestelike stroming in die moderne tyd, ‘n wig ingedryf tussen geloof en wetenskap. Soos geen ander beweging het hulle alles daartoe bygedra om die kloof tussen geloof en wetenskap in stand te hou. Hierdie rampsalige denkrigting, hoe mens ookal daaroor nadink, het die Bybel en die Christelike geloof onberekenbare en onherstelbare skade berokken. Hierdie standpunt bring die Bybel en geloof in diskrediet by krities-denkende mense.
Wêreldwyd het hierdie denkrigting in meerdere kulture ‘n klimaat geskep waarin menseregte, die regte van vroue, minderhede en andersdenkendes, nog steeds op groot skaal geskend word (Huntington 1996:95vv). Labuschagne (2000:33) is daarom ook van mening dat fundamentalisme in ons tyd as een van die grootste bedreiginge van wêreldvrede gesien moet word.
Een van die vernaamste uitdagings waarvoor die kerk vandag staan ten einde fundamentalisme te kan bestry, is dat daar erns gemaak moet word met die integrasie van wetenskaplike kennis in ons lewens- en wêreldbeskouing. Dit sal daartoe lei dat kennis vir beide die kerk en haar lidmate bevrydend kan wees; en sodoende ‘n positiewe bydrae tot die samelewing lewer. Hiermee word bedoel ‘n lewens- en wêreldbeskouing en ‘n Bybelopvatting waarin die resultate van die wetenskap ernstig geneem word en volkome met mekaar geïntegreer is.
Bibliografie
• Chomsky, N & Achcar, G. 2006. A cacophony of fundamentalism. Mail & Guardian 3 November 2006. (http://www.mg.co.za/articlePage.aspx?area=/insight/insight_comment_and_analysis/&articleid=288803).
Versprei die Woord
3 Reaksies op "Fundamentalisme: grootste bedreiging vir die kerk" 
|
se kommentaar op 25 Jun 2008 5:55:03 PM PST
Dr George Walt in Frontiers in Modern Biology Nobel Prize Medicine 1967.
"I don't want to believe in God, therfore, I choose to believe in that which I know is scientifically impossible, spontaneos generation leading to evolution."
Ernst Kahane Biochemist in Weltbild der Evolution.
"It is absurd and complete nonsense to believe that a living cell creates itself; but I believe it, as I can't imagine it happening any other way."
Just note how these credentialled scientists use the word believe. Evolution is faith pastors, atheistic faith and you use it to interpert the Word of God.
|
|
se kommentaar op 03 Jul 2008 10:56:47 AM PST
In 'n sekere sin kan mens seker sê dat ewolusie 'n 'geloof' is, alhoewel dit maar 'n wetenskaplike vertrekpunt is, maar nêrens kry ek bewys daarvan dat die skrywer van die artikel ewolusie gebruik om die Bybel te interpreteer nie. Om ewolusie aan te haal as 'n verwysing na die standpunte van fundamentalistiese strominge binne die Christendom onderstreep vir ons die 'mindset' van sulke strominge. Dit kom daarop neer dat sulke strominge nie in staat is om die wetenskap en geloof te integreer nie. Ewolusie is nie hier, soos wat ek die artikel lees, die hermeneutiese vertrekpunt nie, die vertrekpunt is dat interpretasie nooit los kan staan van die manier waarop ons, ons in die wêreld bevind nie. Dit is altyd die samesmelting van twee horisonne, die van die Bybel en die van vandag. Om dan die Bybel te interpreteer sonder die insig is om lukraak met die Bybel om te gaan, gebaseer op 'n vals veronderstelling, naamlik dat ons eie tyd niks met die toepassing van Bybelse waarhede te doen het nie. Hierin lê die waarde van die artikel vir my.
|
|
se kommentaar op 22 Jan 2012 11:34:59 AM PST
Howwel ek in 'n gróót mate saam stem met die artikel, is die vertrekpunt van die skrywer baie duidelik. Ek is van mening, en dit wordhier ook bewys, dat enige iemand bykans enigiets kan "bewys". Die vertrekpunt gaan bepaal wat ek wil bewys. Dis soos statistiek - hang alles af uit watter hoek ek dit interpreteer. Dis ook hoekom wetenskaplike navorsing, ten minste vir my, amper relatief geword het.
Dis jammer dat hierdie artikel se vertrekpunt so oorheers het. Ek dink dit is oorvereenvoudiging om te sê dat fundamentalisme die grootste bedreiging vir die kerk is....hoogstens 'n bedreiging. Daar is vele ander "bedreigings" wat die kerk se wese net so radikaalkan aantas, soos liberalisme, soos die oor-beklemtoning (verafgoding?) van rasionaliteit.
|


Author)