Inleiding

Die kerk oor die wêreld heen, en die NG Kerk by name, word deur talryke probleme geteister. ‘n Mens moet uiteraard nie vergeet dat kerke, en so ook die NG Kerk, werklik wonderlike bydraes lewer om van die wêreld ‘n beter plek te maak nie. Pessimiste wat net verdoemend na die kerk verwys, kyk nie met oop oë na wat in die kerke gebeur nie en ek wil geensins die indruk wek dat ek met hierdie stroom meeloop nie. By alle probleme wat die kerke ervaar, bly dit die versamelpunte van gelowiges en vorm dit wêreldwyd die liggaam van Christus en die bouwerk van God. So glo ons en hieraan moet ons steeds vashou. Dit neem egter nie weg dat ernstige probleme deur die kerk(e) ervaar word nie. Onder die probleme tel die verlies aan lidmaatskap, veral ook en juis onder die jeug. Voorts is daar die voortslepende verdeeldheid, die onvermoë van kerke om mekaar te vind ondanks die feit dat almal bely dat die kerk die een liggaam van Christus is. Selfs binne die een familie van NG  kerke blyk daar ‘n halsstarrige verset teen eenwording te wees. By al die ander probleme wat genoem sou kon word, is daar, om maar hiermee op te hou, dié van wêreldvreemdheid wat veral ook op kansels waarneembaar is: die nood van die wêreld waarvoor die kerk juis ook op aarde is, is maar selde in die perspektief. My vraag is of daar nie aan al hierdie en miskien ook aan die meeste ander probleme ‘n gemeenskaplike, dieperliggende probleem ten grondslag lê nie. Ek dink daar is en wil dit graag hieronder van nader bekyk.

 

Uit die opskrif van hierdie bydrae behoort dit meteen duidelik te wees dat die groot struikelblok na my mening in die kerk se Skrifbeskouing en Skrifgebruik geleë is (Deist 1994:535). En met kerk bedoel ek hier nie soseer die offisiële liggame van die kerk nie, maar juis ook en veral die lidmate van die kerk. Ek wil daarom in hierdie bydrae die klem laat val op twee aspekte van hierdie saak, naamlik waar die probleem lê en wat daaraan gedoen kan word.

 

Oorsigtelik kan aangedui word dat die probleem rondom die Skrif hom op drie kardinale areas openbaar, naamlik dié van wetenskap en geloof; die vraag na die soort boeke wat die Bybel uitmaak; en die vraag na die spreke van God. Wanneer ons oor hierdie punte klaarheid gekry het, kan ons probeer om in nederigheid ‘n aanvaarbare Skrifbeskouing te formuleer en van daar uit na te dink oor ‘n verantwoordelike gebruik van die Skrif.

 

1          Die drie probleemareas

1.1      Wetenskap en geloof

Alle egte wetenskap is ingestel op die soeke na die waarheid. Hierby speel die waarneming van feite en die verklaring daarvan ‘n vanselfsprekende rol. In die natuurwetenskappe staan die uitvoer van eksperimente om oor waarnemings sekerheid te kry voorop. In die geesteswetenskappe is dit dikwels die voer van argumente vir en teen standpunte wat op grond van waarneming geformuleer is, wat deurslaggewend is. Maar in alle vertakkings van die wetenskap staan die een beginsel bo alle ander vas: Opvattings en standpunte wat ingeneem word moet bewysbaar wees en in die vasstelling van wat as waarheid voorgehou word inderdaad ook bewys word. Die vereiste van bewys is vir die wetenskap ononderhandelbaar. In die geesteswetenskappe lê die bewysvoering, wanneer daar nie (soos in die sielkunde en die sosiologie) met eksperimente gewerk word nie, in die aanvoer van motiverings waarlangs oortuigings gevestig word ten opsigte van die waarheid.

 

En nou is dit juis op hierdie punt dat die spanning, wrywing, dikwels vyandskap, noem dit wat jy wil, tussen wetenskap en geloof ontstaan. Vir baie beteken dit dat daar tussen wetenskap en geloof ‘n onvermydelike onverdraagsaamheid sal wees, ‘n totale onversoenbaarheid. Die rede lê daarin dat geloofsgoedere juis nie bewysbaar is nie.

 

Hierdie laaste stelling verdien nadere ondersoek. Dat sake van die geloof nie bewysbaar is nie, lê in die aard van wat ons geloof noem. Laat ons eers iets hieroor sê vanuit ‘n Christelike gesigspunt, want uiteraard strek die saak waaroor dit hier gaan oor ‘n veel wyer veld: Dit dek per slot van sake die oortuigings van alle godsdienste en het dus ‘n algemeen menslike karakter. Noukeurige ondersoek van die gebruik van die begrip geloof in die Nuwe Testament, lei tot die slotsom dat wat wydlopend in dié geskrifte daarmee bedoel word niks anders is as die gedagte van vertroue nie. Om te glo beteken om jou vertroue op iets of iemand te stel. (In Engels word drie woorde gebruik: belief, faith en trust.)  En die sake waarop vertroue gestel word, noem ons dan geloofsgoedere. En dit is hiervan dat ek sê: dit gaan oor dinge wat nie bewys kan word nie.

 

Laat ons ‘n voorbeeld noem. Christene glo in die kruis van Christus. Daarmee wil hulle byvoorbeeld sê dat God diegene wat daarop vertrou dat Christus vir hulle sonde gesterf het, daarvan bevry is en dat hulle sodoende die redding verkry het. Daar kan op wetenskaplike wyse navorsing oor die kruisiging van Jesus gedoen word en die feit kan daardeur bevestig of ontken word. Maar dat God deur die kruis vir mense heil bewerk, kan op geen enkele manier bewys word nie. Dit word eenvoudig net geglo. Nou hoe kan mense dan, al gelowend, beweer dat hulle deur die kruis van Christus gered is? Hiermee beweeg ons na die kategorieë van belewenis en ervaring. ‘n Christen sal sê: Toe ek die evangelieboodskap van redding deur die kruis gehoor het, het ek dit geglo, ek het my vertroue daarop gestel dat dit vir my geld – en toe het ek die ervaring van bevryding beleef; dit het vir my waar geword. (In die Nuwe Testament word hierdie feit duidelik geïllustreer deur Efesiërs 1:15-16, waaroor later meer.) Geloof het dus te make met die ervaring van God en sy heilsgawes wat eksistensieel deur ‘n mens beleef word. Dit is vir so ‘n persoon ‘n waarheid waarby s/hy sal staan of val, ‘n lewenswerklikheid. Maar in wetenskaplike terme is die aanvaarding van God se werking en die bevryding van sonde deur die kruis, volstrek onbewysbaar.

 

Die andersoortige kategorieë waarin geloof en wetenskap beweeg, lei dan dikwels tot probleme, tot ‘n onverdraagsame skeiding van weë. Die vraag is egter of so ‘n skeiding noodwendig die geval hoef te wees. Van die kant van sekere wetenskaplikes word hulle lewenshouding dié van: Wat nie bewys kan word nie, bestaan nie. Maar so ‘n aanvaarding kan self ook nie bewys word nie en is ook niks anders as ‘n vorm van geloof nie. Aan die ander kant was kerkmense se houding dikwels dié van: Die wetenskap is uit die bose want dit tas ons geloof aan en maak dit bespotlik.

 

Ek sal dit graag as my standpunt wil stel dat skeiding tussen geloof en wetenskap heeltemal onnodig en geforseerd is.

 

Maar laat my hieroor ‘n spesifieke voorbeeld neem. Toe Darwin in die negentiende eeu die siening ontwikkel het dat lewe op aarde verklaar moet word deur ‘n proses van spesiëring langs die weg van natuurlike seleksie, is hy deur baie Christene as ‘n soort antichris beskou wat teen God en sy gebod in opstand is. En baie dink vandag nog so oor evolusie as verskynsel. Baie wetenskaplikes aan die ander kant weer het inderdaad die standpunt ingeneem dat die proses van evolusie bewys dat geloof in God niks anders as bygeloof is nie. Baie ander het egter nie hierdie weg opgegaan nie – Darwin self terloops, ook nie. Die vraag is dan: Waarom sien sekere Christene die wetenskap as ‘n bedreiging vir hulle geloof? Hulle probleem word baie duidelik juis in die wetenskaplike oortuiging dat lewe op aarde deur ‘n proses van evolusie ontwikkel het, terwyl húlle sê dat die Bybel tog duidelik leer dat God alles in ses dae geskape het.

 

Waar die probleem in hierdie verband lê, gaan ek nie hier probeer duidelik maak nie, want dit hang saam met die vraag na die soort boeke wat die Bybel uitmaak en wat hieronder verder bespreek sal word. Dit op sy beurt het natuurlik direk te make met die vraag oor hoe die boeke van die Bybel gelees moet word. Na hierdie sake kyk ons in die volgende afdeling.