1.2.3   ‘n Wetenskaplik gefundeerde lees van die Bybel

Dit is belangrik om hierdie volgende paragrawe met ‘n onbevange gemoed te benader. In talle debatte en gesprekke is hierdie benadering, soms kwaadwillig, soms met goeie bedoelings, afgemaak en geëtiketteer as liberaal en dus verwerplik. Dit word dan voorgestel as sou dit daarop ingestel wees om die geloof te ondergrawe. Dit sou gelowiges verwar en onsekerheid saai. Dit sou die ondergang van die Christelike geloof en kerk óf ten doel hê, óf dit in elk geval bewerk, en so meer. Die wetenskaplike bedryf is egter nie op negatiewe dinge ingestel nie. Die wetenskap soek na die waarheid. En in die soektog na die waarheid in verband met die skrifte wat ons as die Bybel ken, het sekere onweerlegbare feite oor die Bybel en die boeke wat daarin voorkom aan die lig getree. ‘n Wetenskaplike lees van die Bybel maak erns met hierdie feite en benut dit in die verstaansproses wat saamhang met ‘n verantwoordelike lees van die Bybel. Wat in die loop van die ondersoek na die Bybelse geskrifte as feitelikhede aan die lig getree het, kan in die vyf punte wat hieronder aan die orde kom, saamgevat word.

 

1.2.3.1          Die skrifte van die Bybel is menslike literatuur

1)       Die woord literatuur

Dat die boeke waaruit die Bybel bestaan, menslike geskrifte is, word deur verskeie kenmerke daarvan duidelik gemaak. Voor ons daaraan aandag gee moet ons net eers stilstaan by die vraag oor wat met literatuur bedoel word. Die standpunt waarvan hier uitgegaan word, is dat byna alles wat mense skryf literatuur van die een of ander soort is. In hoofsaak kan ‘n mens seker alle geskrewe materiaal onderskei in hoë en lae literatuur. Hoogstaande literatuur kan bestaan uit romans, essays, verhandelings, gedigte, en vir seker nog baie meer soorte. Onder lae literatuur kan alledaagse briewe, e-posse, nota’s, advertensies, en so meer aangedui word. In die Bybel word boeke en onderdele van boeke aangetref wat in kategorieë soos hierdie, en nog baie meer, tuishoort. Wat hier dus met die boeke van die Bybel as literatuur bedoel word, is niks anders as om te beklemtoon dat ons met menslike geskrifte van die een of ander soort te doen het nie. En daarmee sê ons dat hierdie geskrifte ‘n versameling is met ‘n geskiedenis, dat hulle kultuurbepaald is, en dat hulle baie verskillende genres van literatuur verteenwoordig. Ons sê in wese dat hierdie geskrifte van mense uit ‘n vervloë tyd, gelees moet word soos enige ander geskrifte van mense. Dit is wat die ondersoek na hierdie geskrifte oor die eeue heen ons van hulleself laat verstaan het. Ons sal ondertoe hieraan aandag gee, maar moet nou eers nog ‘n weinig stilstaan by die probleme rondom die historiese- en die kultuurbepaaldheid van die afsonderlike geskrifte, asook aan die vraag na die genres wat deur hulle verteenwoordig word.

 

2)       Die historiese bepaaldheid van die Bybelboeke (Deist & Burden 1980)

Geskiedenis speel op twee vlakke ‘n rol in die totstandkoming, en dus ook in die verstaan van die Bybelboeke, te wete die feit dat die boeke die kenmerke dra van die tyd waarin hulle geskryf is, en die feit dat hulle elkeen ook ‘n eie geskiedenis deurloop het. Ek moet hieroor baie kort wees en bepaal my tot enkele voorbeelde uit die Nuwe Testament.

 

Die ontstaansgeskiedenis van die vier evangelies kan hier as voorbeeld dien vir die belang van die historiese tydperk waarin die boeke ontstaan het. Dit is belangrik om te weet dat Markus eerste geskryf is en ontstaan het voor die oorlog van die Romeine teen die Jode en die vernietiging van Jerusalem en die tempel in die jaar 70. So ook die feit dat dit uit die omgewing van Galilea afkomstig was. Die ander drie evangelies dateer uit die tyd na die val van Jerusalem. Uit hierdie feite onder andere kan daar oor die vraag waarom ‘n betrokke evangelie geskryf is, besinning gedoen word. En dit op sy beurt het implikasies vir die verstaan van sekere onderdele van die boek. Hierdie konteks word ‘n waardevolle instrument om te bepaal wat die skrywer met sy teks wou bereik, wat hy daardeur by die lesers wou verander. Ons kom later terug by die betekenis van hierdie feite vir die verstaan van Markus.

 

Maar die boeke het ook ‘n eie geskiedenis deurloop. Agter die evangelie van Markus staan daar ongetwyfeld ‘n hele reeks mondelinge tradisies wat deur hom vir sy eie doeleindes verwerk is. En toe Matteus en Lukas later hulle evangelies geskryf het, het hulle kennelik van Markus as bron gebruik gemaak soos die talle passasies waar hulle albei in vertelling en woordkeuse met Markus ooreenstem, duidelik laat sien. Maar hulle het ook albei van ‘n ander bron gebruik gemaak. Dit kan ons sien in die feit dat hulle op baie plekke van Markus verskil en ander stof as hy aanbied, maar dan op hierdie plekke baie dikwels met mekaar ooreenstem. Dié bron is nog nooit in skriftelike vorm ontdek nie, maar is so duidelik uit die twee evangelies op te maak dat die teks daarvan ook al afsonderlik gepubliseer is. (Dit word die Q-bron genoem.) Dat hierdie eie geskiedenis van die boeke belangrik is vir uitleggers en dus vir die verstaan van die boeke, kan met ‘n verwysing na die gelykenisse verduidelik word.

 

Juis die verskille wat daar in die afsonderlike evangelies in hulle weergawes van die gelykenisse voorkom, lei tot die vraag: hoe het Jesus dit oorspronklik vertel? Watter weergawe is outentiek, indien enige? En dus, hoe moet die gelykenis verstaan word, wat is die boodskap daarvan?

 

Ons sal hierdie tergende probleme vereers maar hier moet laat en ons na die volgende vraagstuk moet haas.

 

3)       Die kultuurgebondenheid van die Bybelse geskrifte

Omdat die Bybelboeke in ‘n bepaalde historiese konteks tot stand gekom het, spreek dit vanself dat die gebruike van die spesifieke tyd, die verwysingsraamwerk, die taalgebruik, die lewensomstandighede, kortom die kultuureie van die betrokke tyd, inderdaad die lewens- en wêreldbeskouing van die tyd, in hierdie so menslike boeke weerspieël sal word, en dat kennis daarvan onontbeerlik is vir ‘n goeie verstaan van die boeke.

 

Een voorbeeld sal hier moet voldoen. Die gebruik in antieke tye om drome en visioene te interpreteer as boodskappe wat afkomstig is uit die ‘ander’ wêreld, hetsy van ‘n afgestorwene of van ‘n godheid, word in die Bybel oor en oor teengekom. En aan sulke ‘boodskappe’ word dan groot betekenis geheg. Kennis van hierdie kultuurelement is vir die verstaan van die geskrif uiteraard hoogs belangrik. En vir begrip oor wat dit aan waarde inhou vir ‘n moderne leser wat in ‘n totaal ander kultuur lewe, is dit uiteraard onontbeerlik. Binne huidige ontwikkelde kultuurgemeenskappe is dit mos reeds algemene kennis dat drome en visioene die weerspieëling is van woelinge in die mens se onbewuste en daaruit opkom. Dit maak natuurlik nie daarom hierdie soort belewenisse onbelangrik nie, maar dis duidelik dat mense wat in hierdie kultuur lewe ‘n heel ander konnotasie daaraan sal heg as wat in Bybelse tye die geval was.

 

4)       Literêre genres in die Bybelboeke

Met literêre genres word bedoel die verskillende soort vorms waarin skrywers hulle werk giet. Van die groter vorms waarmee almal bekend is, is byvoorbeeld die roman, die drama, die gedig, die kortverhaal, die essay, die artikel (hetsy wetenskaplik of populêr), ensovoorts. Die Bybelse literatuur vertoon ‘n groot verskeidenheid van genres. Die verskillende boeke presenteer as bepaalde genres, maar bevat deurlopend as onderdele van die stof wat aangebied word, talryke voorbeelde van ander, soms kleiner, genres.

 

Wat hierdie insig meebring, is dat lesers hulle deeglik moet vergewis van die genre waarin dit wat hulle lees, gegiet is. Waarom dit belangrik is, lê daarin dat elke genre op ‘n eiesoortige wyse opgebou is. Daar is reëls (hetsy gekrewe of ongeskrewe) waarvolgens ‘n bepaalde genre geskep word. Wie ‘n stuk lees, en dus interpreteer, moet weet hoe die genre waarmee gewerk word, inmekaar sit en dit daarvolgens interpreteer anders kan die leser haar- of homself op ‘n heeltemal verkeerde pad bevind. Om dit te verduidelik sal ons hier enkele voorbeelde uit die Bybelse materiaal moet bekyk.

 

‘n Psalm, wat ‘n lied is, ‘n gedig, kan tog nie letterlik as koue feite gelees word nie, want gedigte maak tipies gebruik van beeldende taal, van metafore wat die een of ander insig van die skrywer wil verwoord. Dit word daarnaas gekenmerk deur byvoorbeeld ritmiese taalgebruik, rym in sommige gevalle, en parallelle herhaling in die geval van Bybelse (Hebreeuse) digwerk. Die volgende voorbeeld uit Ps 22:13, eers in die 1933/52-Vertaling waarin die parallelisme duidelik word, en dan uit die 1983-Vertaling wat die betekenis na vore bring, sal help om die saak te verduidelik::-

 

 

          Baie stiere het my omsingel,

          sterkes van Basan het my omring.

 

Die twee sinsdele maak dieselfde stelling, gebruik in hierdie geval selfs ook dieselfde beeldspraak. Vir ‘n moderne leser van Afrikaans mag die betekenis daarvan egter onduidelik wees, eerstens omdat die 1933-Vertaling die ou woord stier in plaas van bul gebruik het, maar andersins ook omdat die histories belangrike feit dat die landstreek van Basan bekend was vir sy beeste, onbekend mag wees. Die dinamiese vertaling van 1983 maak die betekenis duidelik, maar boet in ‘n mate die parallelisme in:

          ‘n Wreedaardige klomp mense het my omsingel,                                                                             soos beeste uit Basan staan hulle my toe. 

Uit beide voorbeelde kan ‘n mens ook duidelik die beeldende taal raaksien. Dit is eenvoudig net onmoontlik om dit letterlik op te neem. En op dieselfde manier moet besef word dat elke literêre soort geskrif sy eie reëls het waarvolgens dit opgebou is en gelees moet word.

 

Laat ons na ‘n ander voorbeeld kyk, een uit die Nuwe Testament. Ons bekyk hiervoor Paulus se brief aan Filemon (Roberts 1992:112). Briewe uit die antieke tyd het gewoonlik ‘n redelik vaste vorm vertoon, alhoewel daar variasies in die vormgewing voorkom. Die brief aan Filemon, vertoon die gewone eienskappe van Paulus se briewe. Hy benut steeds die vorm van ‘n antieke brief maar het telkemale die vorm uitgebrei en so sy eie styl gevestig. Dit is duidelik briewe afkomstig uit die Grieks-Romeinse tydperk en moet as sodanig gelees word. Dit vertoon die eienskappe van die menslike literatuursoort brief. Ons sal ondertoe (vgl punt 1.2.3.3 en 1.2.3.4) weer na hierdie saak moet terugkeer en sal daar in groter detail na die vorm van Filemon verwys.