Skrifbeskouing en Skrifgebruik: Deel III
- Deur Johnnie Roberts
- Gepubliseer 26 February 2009
- Artikels
- Nog geen evaluering
Johnnie Roberts
Johnnie Roberts se Artikels
2 ‘n Skrifbeskouing
Hoe ons die skrifte sien, hoe ons dit verstaan, moet in die lig van al die voorafgaande opgemaak word. Hier sal ek nie verder ingaan op die negatiewe en ook weer saamvat hoe ons die skrifte nie moet benader nie. Ek sal probeer om positief te formuleer hoe ek dink dat ons die Bybel moet sien, wat ons moet verstaan dat dit is en hoe ons dit moet benader. Dit sal in ‘n paar punte saamgevat kan word.
1) Die Bybel is ‘n versameling van baie boeke wat oor baie eeue heen deur baie mense geskryf en dikwels redaksioneel verwerk is.
2) Die versameling, ‘n biblioteek in werklikheid, bestaan byna uitsluitlik uit godsdienstige literatuur wat in ‘n verskeidenheid van genres die verskillende opstellers se sienings weergee oor die lewensituasie waarin hulle en hulle lesers verkeer. Dit bevat ook die antwoorde op die bepaalde lewensituasies en wat, volgens hulle eie besondere sienings, verstaan moet word as God se woord vir elkeen se spesifieke situasie.
3) Omdat die boeke van die biblioteek Bybel almal sonder uitsondering die sieninge en antwoorde van mense is, moet hierdie boeke gelees word soos enige ander antieke boek en met behulp van die beste wetenskaplike metodes ontleed en interpreteer word.
4) Binne die kring van gelowiges, onder kerkmense dus, bestaan die behoefte om in die skrifte wat aldus ontleed en geïnterpreteer is, hierdie woorde van mense as Woord van God vir húlle te hoor. Ons argument hierbo was dat dit net gebeur wanneer die leser/hoorder eksistensieel deur ‘n verkondigde woord aangespreek word, dit beleef word, ervaar word as ‘n woord, as iets wat God vir haar/hom wil sê. Maar dan bly die vraag nog: waarom dit juis in hierdie boeke van die Bybel hoor? Die antwoord hierop is nie hierbo bespreek nie omdat dit ons heeltemal te ver sou neem, omdat dit ‘n tema is wat eintlik maar op sigself bespreek sou moes word: Dit gaan hier naamlik om die hele vraagstuk van die Bybel as kanon van die kerk. In kort hieroor net enkele punte. Daarna sal ek terugkeer na die probleem en my eie antwoord, wat darem ook die antwoord van baie ander is, probeer deurgee.
In die kerke wat na die reformasie tot stand gekom het, leef ons met die Bybel van ses-en-sestig boeke wat langs ‘n bepaalde weg deur die kerke besluit is dat dit die boeke is waaruit ons lewe. Ander kerke het meer boeke in hulle Bybels as wat ons het. Dit is die kanon wat hulle besluit het die boeke is waaraan hulle gesag toeskryf. In die eerste eeue van die Christendom was daar geen vastigheid oor wat as kanon gegeld het nie. Sekere groepe het ook ander boeke aangehang wat later min of meer van die toneel verdwyn het. Vir eeue was daar stryd oor die vraag of Hebreërs by die lys gevoeg moet word. Dieselfde het die boek Openbaring gegeld. Sonder om dieper in te gaan op hierdie en ander probleme rondom die vraag oor watter boeke tot die Bybel behoort, behoort dit tog vir elke denkende Christen duidelik te wees dat die hele geskiedenis van kanonvorming implikasies het vir wat as Woord van God beleef kan word. Vandag vergeet ons van hierdie moeilike geskiedenis en praat dan so maklik van die Bybel as die onfeilbare Woord van God. Maar genoeg hieroor.
En nou dan weer die vraag: Waarom probeer ons juis die Woord van God hoor uit hierdie besondere groep boeke wat ons as die Bybel ken? Op hierdie vraag ken ek slegs een antwoord: omdat dit ons tradisie is. As lede van die NG kerk, met wie ek tog in die eerste plek hier praat, staan ons in die erfenis van die protestantse tradisie wat na oorweging – en nie sonder om daarmee self ernstige probleme te veroorsaak en te negeer nie, maar waarop ons hier nie verder kan ingaan nie – op hierdie lys van boeke besluit het as die boeke waaruit ons wil leef en waarop ons ons geloof wil bou. Dit beteken egter nie dat die boeke wat vir ander Christene belangrik is of was, nie waarde het nie en nie bestudeer behoort te word nie. Ook daardie boeke lewer elkeen ‘n unieke bydrae tot ‘n beter begrip van waaroor dit in die geloof gaan en wat die volk van God oor die eeue heen daaroor gedink en van oortuig geraak het. Die houding om ander Christene wat ander oortuigngs huldig, as vyande te beskou, moet ons nie langer met skandaligheid omhul nie.

