God het vir hulle velklere gemaak.
- Deur Gerda de Villiers
- Gepubliseer 20 August 2009
- Preekhulp
-
Evaluering:




Gerda de Villiers
Gerda de Villiers se Artikels
Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle het dit aangetrek (Gen 3:2
Al die Ou Nabye Oosterse volke het verhale vertel oor die skepping, gode, mense en die natuur. Die gode het die mense op verskillende maniere gemaak – soms uit die bloed van ander gode wat hulle verslaan het, soms uit klei van die aarde. Maar in al hierdie verhale is die mens slegs met een doel geskape: hulle moet werk sodat die gode kan rus.
Genesis 2 vanaf vers 4b vertel vir ons een van Ou Israel se skeppingsverhale. Dit begin met ‘n bar en droë wêreld, ‘n woestynwêreld wat die mense van daardie tyd maar alte goed geken het. Tuine was nie volop nie - net konings of ryk mense kon dit bekostig, want om ‘n tuin aan te lê, te besproei en in stand te hou, moes jy baie slawe hê wat harde hande-arbeid kon verrig.
En dan, met een enkele sin keer die skrywer van Genesis 2 die wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste op sy kop. In die onherbergsame woestyn is die Here God aan die werk! Ons Bybel gebruik Eden as ‘n pleknaam, maar dit is ‘n woord wat verwant is aan edinu, Oud Assiries vir ‘woestyn’. ‘n Skokkende gedagte vir die mense van daardie tyd: die Here God van Israel werk vir ‘n mens – nie andersom nie!
Die prentjie ontvou verder: in die tuin gee die Here God vir die mens alles wat hy nodig het, kos en water, en as Hy sien dat die mens alleen is, gee Hy vir hom ‘n maat, ‘n vrou (Gen 2:22). Maar dan loop dinge lelik skeef: die mens en sy vrou minag God se bevel, en Hy moet hulle uit die pragtige tuin wegjaag. Nou moet hulle self tuinmaak, self spook en spartel om ‘n bestaan uit te werk. Die wêreld daarbuite is hard. God het genoeg rede om hulle aan hul eie lot oor te laat. Maar nog los Hy hulle nie heeltemal weerloos nie: as hulle kaal en skaam is, maak Hy vir hulle velklere (Gen 3:21).
Die woestyn is wreed. Die lewe is moeilik en behandel die mens meestal onbillik. God se troue sorg, sy omgee, sy gemoedelike besoek teen die tyd dat die aandwind opkom (Gen 3:8) word selde beleef. Met God se velklere moet die mens en sy vrou die lewe aandurf.
Velklere, as herinnering aan sy sorg, en as beskutting teen die ongenaakbare woestyn.
Velklere wat God self gemaak het.
Here, maak ons bewus van u velklere as alles inmekaarstort.
Versprei die Woord
2 Reaksies op "God het vir hulle velklere gemaak." 
|
se kommentaar op 21 Aug 2009 11:14:15 PM PDT
"God se troue sorg, sy omgee, sy gemoedelike besoek teen die tyd dat die aandwind opkom (Gen 3:8) word selde beleef. Met God se velklere moet die mens en sy vrou die lewe aandurf. Velklere, as herinnering aan sy sorg, en as beskutting teen die ongenaakbare woestyn. Velklere wat God self gemaak het."
Dieselfde God wat skepsels maak, 'n wip vir hulle stel in die "volmaakte" tuin en hulle dan verdryf om self reg te kom in die "wrede" woestyn as hulle "ongehoorsaam" is? Met slegs maar 'n stel armsalige velklere waarvoor hulle boonop oneindig dankbaar moet wees?
Iets aan hierdie verhaal klink nie reg nie. In ieder geval nie vir 'n mens wat in die jaar 2009 lewe nie.
|
|
se kommentaar op 23 Aug 2009 5:12:15 AM PDT
Was dit definitief die woestyn? In alle geval, die verwysing na 'n "wip" is onregverdig. 'n Wip is iets wat 'n mens onverhoeds vang sonder dat jy enige vooraf-beheer daaroor kon uitoefen. Die mens is gewaarsku teen die gevolge van die verontagsaming van 'n bevel. Die mens was nie 'n robot nie, maar 'n nuwe morele wese wat self besluite kon neem (wat 'n voorreg!).
'n Waarskuwing is doelbewustelik verontagsaam. Hoekom? Die mens wou slimmer wees as God. Daar mag geredeneer word dat die weglating van hierdie "wip" nooit na 'n sondeval sou gelei het nie - derhalwe moet God sadisties wees. Tog, deur 'n skepsel te maak met wie jy vir ewig 'n verhouding wil hê uit vrye keuse, moet daar 'n "alternatief" wees om so 'n keuse werklike geldig te maak. Gestel 'n koning wil met iemand trou, maar om seker te maak dat daar geen kompetisie is nie, verban hy alle mans uit die land. Sal so troue gebaseer wees op vrye keuse en ware liefde? Die nuwe bruid het nie werklik vrye keuse uitgeoefen om vir of teen die koning te kies nie.
Netso het God 'n geldige alternatief (met 'n gepaardgaande waarkuwing "in no uncertain terms") daargestel (slegs een boom in 'n massiewe tuin van veelsydige keuses,) om die mens se werklike lojaliteit te toets. En met 'n alomwetende God, het Hy seker ook geweet die mens gaan faal in sy keuse. Tog, soos wat de Villiers skryf, is ons nie aan onsself oorgelaat nie, maar skep dit die geleentheid waarby God sy vergifnis bewerkstellig en volgehoue betrokkenheid openbaar.
Terloops, ons "moderne wêreld" van 2009 ontaard meer en meer in 'n woestyn van selfsug, liefdeloosheid en geweld soos wat hierdie God al hoe meer uit die prentjie geskuif word.
|


Author)