I.L. de Villiers – skerpsinnig en kleurryk: ’n Huldeblyk deur Cas Vos
Cas Vos
Cas Vos se Artikels
Die dood laat ’n mens met sagte oë na ander kyk. Veral as jy en die oorledene dikwels oor die kronkelpaaie van die lewe gepraat het. Dit was veral laataand gesprekke oor die foon. Oorgesprekke. Nadink woorde. Wyse woorde. Woorde vol sterstof. Ek hoor nog die eggo’s daarvan.
Ons paaie het so sewe jaar gelede gekruis. Daar was van meet af ’n aanvoeling vir mekaar. Mense met en van woorde voel ook die ander se woorde.
Ons het baie oor die donker en die lig van menswees gepraat. Veral het ons saam oor die broosheid van menswees besin. Daar was die lag en die traan. En Izak se verrassende humor en kwinkwoorde. Sy insig in die skuiltes van die menslike bestaan. En natuurlik het hy skyn-heiligheid en vertoon verag. Hy was pylreguit en het ook sake diep gepeil. Izak was ’n eenling – enig in sy aard. Hy was hoogsbegaafd, skerpsinning en selfstandig. Izak het sy eie kop en hart gevolg. En tog het hy na wyse raad geluister – as dit wys was.
Soos te wagte het ons baie sand oor die poësie gestrooi. Ek het sy vormvernuf bewonder. Dis hy wat my aangeraai het om ’n paar sonnette te skryf. “Hou aan totdat jy dit regkry. Moenie ophou nie”. Ek het geluister.
Sy Leitourgos is ’n meesterlike bundel. Vol liturgiese en teologiese wyshede. Daar is soveel kostelike humor. As jy ’n votum of gebed soek, is dit daar. Ek het sy twee laaste bundels,
Ek het dikwels vir Izak gesê dat hy die beste skrywer van godsdienstige essays in Afrikaans is. Verder dat ek ’n paar kortverhale by hom vermoed. En nou bly alles in die laai van vergetelheid.
Izak se bydrae tot die Liedboek van die Kerk is magistraal. “Ek sien ’n nuwe hemel kom,…” leef in almal se harte. En nou het die nuwe hemel gekom. In sy voortreflike liedere word daar ’n deurleefde teologie gesing. En dié klanke sal nie ophou nie. Dalk eggo dit ook in die hemel.
Izak, jy het my lewe verryk. Dankie vir jou vriendskap en menswees. Jy is nou in die skadu van genade.
Ons almal dank die Here vir ’n gawe en begaafde mens soos Izak de Villiers.
Meelewing met Rina en die kinders. Al Izak se vriende dink aan julle.
Versprei die Woord
1 Reaksie op "I.L. de Villiers – skerpsinnig en kleurryk: ’n Huldeblyk deur Cas Vos" 
|
se kommentaar op 08 Oct 2009 6:42:45 AM PDT
'n Gepaste en waardige huldeblyk en bydrae van iemand wat self maar mag skryf en dig - want hy kan!
Ek het hierdie stukkie geskryf. Dit is in die Polokwane Observer van vandag gepubliseer en verskyn ook op ekerk (onder "pitkos", my weerklikse "bemoedigende woord). Vir wat dit mag werd wees.
God is Teenwoordig
Izak de Villiers het gemeen dat jy jou eie storie liefs moet skryf wanneer jy oor die tagtig is. Gelukkig het hy sy storie en van die lesse wat die lewe hom geleer het toe tóg vir Henno Cronjé se boek, "Dít het die lewe my geleer" (CUM 1999:57-61), geskryf. "Op sestig leer 'n mens nog te veel, en daagliks", is van die eerste woorde in sy stuk. Ongelukkig het hy tagtig nie gehaal nie. Sy In memoriam Abraham (Jerusalem tot Johannesburg, 2005:45) sluit hy só af: "Toe sterf jy stil een nag, jou Bybel oop / bo-op jou bors. God, ek soek so 'n dood."
Izak was nie bang vir die dood nie. In lied 263 (Liedboek van die kerk) kon hy daarom vir ons 'n lied nalaat waaruit óns ook kan sing: "Gaan dan ook hier ons tyd verby – kom ons aan by God die Vader" (:2). In sy lied oor Henog is sy één wens: "Leer my om tot u eer te handel totdat die nuwe môre daag ... Tot aan die einde van my pad wil ek só wandel; u hand vat" (LB 274:1+2). Hy het. Daarom kon ons so baie by hom leer.
In die laaste gesprek wat ons gehad het, was hy nie sy vurige self nie, al het hy dit weggepraat. "Sommer 'n olikheidjie", het hy nog gesê, die onderwerp verander en gevra dat ek tog eerlik sal sê wat ek van "Strooidak en toring" dink. Dit was een van die enigste gesprekke waarin hy my nie (op sý manier) daaraan herinner het om tog my boek oor die kerklike jaar klaar te maak nie. Hý wou 'n voorwoord daarvoor skryf. Die verlange waarvan hy in lied 296:3 geskryf het, het al nes geskrop: "Heer, U hoor al my gebede, hoe ek sug en smag na vrede. Ja, ook in my lofgesange klink die toon van groot verlange. Laat ek opstaan, laat ek lewe." Hy wéét nou "Aan al ons nood maak Hy 'n end" (LB 326:2). Ons kan hom nasê: "Ja, pyn en smart wyk uit die hart – ons moeite, angs en nood" (LB 602:3; Op 21:1-4). "Mooi is die aarde, dit het groot waarde, maar is gering voor u grootheid, Heer. U is ons lewe, U is ons vrede" (LB 168:2).
In die laaste een van sy oordenkings in In die Teenwoordigheid van God (CUM 2004), skryf hy: "God gee vrede in Christus, vrede wat meesal nie afwesigheid van stryd beteken nie, maar Teenwoordigheid van die liefde. God versorg, soos met die kwartels en die manna in die woestyn. God gee genoeg lig en genoeg viaticum, lewensvoorraad vir die reis wat voorlê ... Die Môrester beweeg deur die nag na die dag toe. In Christus waak God én gaan Hy saam." God is Teenwoordig. Mag jy sy teenwoordigheid, vrede en liefde beleef. Mag jy weet dat daar oor jou gewaak word en vir jou meer gegee word as wat van jou gevra word. En mag jy onthou dat God met jou saamgaan wanneer dit vir jou voel asof jy nie deur die nag by die dag gaan uitkom nie. "Die dag waaraan geen einde is" kom ook vir óns nader (LB 372:3).
|



Author)