Meditatio: Ek roep God om hulp (Ps 88)
- Deur Alphonso Groenewald
- Gepubliseer 3 November 2009
- Preekhulp
-
Evaluering:




Alphonso Groenewald
Alphonso Groenewald se Artikels
“Vroeg al in die môre bid ek tot u” – Psalm 88:14
By die lees van hierdie teks lyk dit asof hierdie Psalm poog om as ‘n gebed nog vas te hou aan dit wat vir die bidder van hierdie teks eintlik nie meer moontlik lyk nie. Dit begin met die oorgelewerde geloofswete dat die God van die Ou Testament (Jahwe) ‘n God van redding is. Hy het Hom op sodanige wyse aan sy volk bewys.
In teenstelling hiermee lyk dit egter nie asof hierdie ervaring enigsins van toepassing is op die bidder van hierdie teks nie. Ons kan eerder uit hierdie teks aflei dat hy/sy eintlik nog glad nie hierdie ervaring persoonlik in sy lewe ervaar het nie (v 16). Erger nog: wat hierdie mens gedaan maak, is nie net die ervaring van die afwesigheid en verborgenheid van God nie. Vir hom/haar lyk dit asof die las en nood van sy/haar lewe eintlik as ‘n daad van God ervaar word.
Met ‘n byna skokkend eerlikheid maak hierdie psalmteks dit duidelik dat God self diegene is wat verantwoordelik is vir die lyding van die bidder. Daardie lyding wat soos ‘n watervloed oor hierdie mens spoel. Te midde van hierdie lyding roep hy/sy sonder ophou om hulp, totdat hy/sy uiteindelik nie anders kan nie as om in vertwyfeling te raak en kragloos te verstom nie. Juis hierin vind ons die spanning van hierdie teks: dit begin met ‘n uitroep na die God van redding, en eindig dan met die vreeslike uitroep dat daar uiteindelik net duisternis oor is (v. 19).
In teenstelling met die meerderheid Ou-Testamentiese klaagpsalms, wat meestal op ‘n positiewe en hoopvolle noot eindig (vgl. Pss. 6:9-11, 7:18), eindig hierdie teks presies soos dit begin het: naamlik ‘n protes-uitroep teen hierdie vorm van die lewe. Dit is eerder soos die dood; en daarom veral ‘n ernstige uitroep en klag teenoor God.
Tog gee die bidder nie sy/haar geloof in God prys nie; selfs ook wanneer dit lyk asof alles in sy/haar lewe getuig teen die aanname van ‘n goeie God wat Hom na die mens wend en hom/haar red. Hy/sy is altyd op soek na die versekering dat hierdie God na hom/haar sal luister, hom/haar sal aansien in sy nood en hom sal verstaan. Selfs al lyk dit vir hom/haar asof God heeltemal swyg, of selfs totaal en al verborge is (v 16-17); selfs al lyk dit asof hy/sy met sy uitroepe na hulp wil sê dat daar ‘n totale kommunikasiebreuk tussen hom/haar en God is, blyk dit tog dat hy/sy nader aan God gekom het. Einde ten laaste kan gaan dit tog vir die bidder om hoop op God – selfs al spreek alles nog daarteen. Daarsonder sou hy/sy nie kon uitroep: “Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot u. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep”.
Here, dankie dat ek na U kan roep.
Versprei die Woord
2 Reaksies op " Meditatio: Ek roep God om hulp (Ps 88)" 
|
se kommentaar op 04 Nov 2009 4:56:58 PM PDT
Dankie Alphonso, hierdie psalm het my nog altyd gefassineer, maar as die mees hooplose psalm in die Psalmbundel. Dit beskryf ongeëwenaarde menslike foltering. Die skrywer twyfel nie dat God by magte is om te help nie, maar verstaan net nie waarom God alles oor hom/haar gebring het nie. En God antwoord nie. Vergelyk die vrae van vers 15 ev met 'n klaaglied deur Yitzhak Katzenelson wat in 1944 in Auschwitz vergas is. Sy geskrifte was begrawe en is na die oorlog gevind:
'Heavens tell me why? Tell me, why this, o why? What have we done to merit such disgrace? You saw it happen and looked on from high, but did not turn your face. You have deceived us both, my people and my race. You have cheated us - eternally...'
So is dit met God en met die Holocaust. Al wat ons kan verstaan is die onverstaanbaarheid daarvan.
|
|
se kommentaar op 10 Nov 2009 7:22:20 AM PDT
Dit is presies hoe ek nou die lewe belewe.....
|


Author)