Jy koop jou kaartjie, jou coke en jou springmielies. Jy stap die teater binne, wikkel jouself gemaklik in jou stoel. Voor jou is ‘n skerm, maar jy neem dit sonder veel belangstelling waar. Dan begin dit donker word. Jy voel ‘n aangename sensasie van opwinding. En skielik is dit heeltemal donker. Die skerm verlig. En jou totale universum verander eensklaps. Binne enkele oomblikke betree jy ‘n nuwe wêreld. Daarbuite bestaan nie meer nie, jy is selfs geïsoleer van jou mede-kykers. In die donkerte van die teater word jy oorspoel deur beelde, en jy aanvaar dit as die lewe.
Inleiding
Jy koop jou kaartjie, jou coke en jou springmielies. Jy stap die teater binne, wikkel jouself gemaklik in jou stoel. Voor jou is ‘n skerm, maar jy neem dit sonder veel belangstelling waar. Dan begin dit donker word. Jy voel ‘n aangename sensasie van opwinding. En skielik is dit heeltemal donker. Die skerm verlig. En jou totale universum verander eensklaps. Binne enkele oomblikke betree jy ‘n nuwe wêreld. Daarbuite bestaan nie meer nie, jy is selfs geïsoleer van jou mede-kykers. In die donkerte van die teater word jy oorspoel deur beelde, en jy aanvaar dit as die lewe.
1. Enkele teorieë (daar is meer …)
Psigoanalitiese filmteorie
Bioskoop is ‘n towerplek wat jou onderbewuste oopsluit, dit bevry van morele sensors en toelaat dat fantasie jou rasionele denke verdring. Afgesny van die buitewêreld
Kognitiewe filmteorie
Jy het deeglik navorsing gedoen. Daar is baie goeie redes waarom jy gekies het om hierdie fliek te kyk. Jy weet wie die akteurs is, jy weet waaroor die plot gaan, jy het ‘n hele paar resensies gelees en selfs met ander mense gesels wat die fliek alreeds gesien het. Kortom, jy weet presies wat jy te wagte
Formele/strukturele filmteorie
Dit word donker. Daar is ‘n muur, en agter die muur is ‘n huis. Jy sien ‘n skaduwee van ‘n figuur. Hy kom sluipend nader tot hy teenaan die muur staan. Die musiek klink onheilspellend. Net voor hy herkenbaar is, bevind jou jouself skielik binne-in ‘n kamer waar ‘n slapende vrou op die bed lê. Die venster is oop, ‘n ligte windjie roer die gordyn. Langs haar bed op die bedkassie is ‘n wekker. Dis skuins voor middernag. Die maanlig speel flou oor haar keel. Terug na die donker figuur teen die muur. Daar’s iets in sy hand … Die musiek word dringender, donkerder.
Feministiese filmteorie
Dis ‘n kroeg cum nagklub. Die klandisie is hoofsaaklik mans. Die enkele vroue se voorkoms verraai hul losse sedes. Die ontkleedanseres maak haar verskyning, en stel haar gehoor ook nie teleur nie. Poedelnaak staan sy daar, tot groot vreugde van haar toeskouers. Na die vertoning kom iemand na haar verkleekamer. ‘n Vurige toneel volg. Weer eens is dit háár liggaam wat naak verfilm word – hý is altyd strategies met ‘n laken bedek …
2. Bioskoop se magtige kunsgrepe
Tyd-ruimte opgehef
Jy word weggevoer na ‘n vreemde wêreld, ‘n wêreld van lank lank gelede toe die dinosourusse nog op die aarde geleef het. Hulle praat, en jy vind dit nie vreemd nie. Of jy bevind jouself in die Middeleeue, in ‘n kasteel waar hofdames die hertogin versorg, of in die koue donker ondergrondse kelder waar die held deur boosdoeners gemartel word. Jy
Eers as die ligte weer aangaan, besef jy dat jy die hele tyd op dieselfde plek, in dieselfde gemaklike stoel gesit het.
Plot/chronologie opgehef
Jy word deel van iemand anders se gedagtestroom, net so inkoherent soos jou eie. Onthou gebeur onwillekeurig. Terugflitse na traumatiese kinderjare, aangename herinneringe onderbreek die logiese verloop van die plot. Jy beweeg deur bewussynstoestande, ervaringe, eerder as deur ‘n reeks van planmatig gestruktureerde gebeure; voorkeur word gegee aan vertikale teenoor horisontale verkennings. Daar is nie ‘n logiese storie nie, maar ‘n progressiewe ontvouing van gedagtes, gevoelens, onrus, afwagting, verrassing.
3. Terug na poësie
Die vertelkuns – die narratief - van die rolprent keer terug na die gedig, na poëtiese waarheid. Dit beroof die storie van sy sekerheid, kalmte, onskuld. Dit skep ‘n ‘beleë onsekerheid’. Nog te vroom, nog te boos is tipies van die protagonis, sowel as die antagonis. Optrede is selde voorspelbaar, motiewe meestal duister en laat jou in die war – net soos in die regte lewe!
Namate sekerhede verbrokkel, kom jy stap vir stap nader aan ‘n ervaring van ‘n ander soort waarheid, ‘n diepgaande en uiters pynlike begrip van menswees …
4. Toepassing
Departures
Op ‘n yskoue wintersdag ry Daigo Kobayashi (Masahiro Motoki) in ‘n kar. Hy
Hoe het hy hierin beland? Hy bevind homself in die konsertsaal waar hy entoesiasties cello speel. Die orkeslede gee hul bes – maar die saal is so te sê leeg. En noodgedwonge moet die orkes ontbind. Daigo is werkloos. Soos ‘n salm wat stroomop swem, keer hy terug na sy tuisdorp om daar ‘n heenkome te probeer vind. Hy sien iets wat dalk kan werk: ‘n onderneming soek iemand wat kan help met ‘Departures’ … Daigo aanvaar dit is ‘n reisagentskap, maar dit is toe al die tyd ‘n klein spelfout: ‘Departed’ - en die agentskap is ‘n begrafnisonderneming wat lyke uitlê vir die vertrek op hul laaste reis.
Dowwe herinneringe aan sy pa wat hulle verlaat het toe hy skaars ses jaar oud was, laat hom sy kinder-cello weer opneem. Elegiese klanke weerklink eers in die stilte van die huis, dan oor die wye Japannese landskap. ‘n Klippie van emosie plaas hy in die holte van sy vrou se hand – dit het hy by sy pa geleer.
Daigo ontdek ‘n nuwe kunsvorm. So sensitief soos wat hy die cello speel, so sensitief versorg hy die liggame van die gestorwenes. Hy was en klee hulle met toewyding soos wat ‘n moeder ‘n slapende kind liefdevol vir ‘n goeie nagrus sal toevou. En op ‘n yskoue wintersoggend, op die kruispad van sy lewe, word hy wedergebore deur die dood.
Departures is ‘n verkenning van die lewe en van verlies. Dit aanvaar die yin/yang van bestaan. Oënskynlik is die hooftema die dood. Maar in die skadu van die dood ontwikkel ‘n waardering vir die lewe. Humor speel ‘n belangrike rol, beleë humor handhaaf die fyn balans tussen lag en huil.
‘n Fliek wat ‘n standaardresep vir ‘n morbiede tranetrekker voorhou, verras deurdat dit uiteindelik die lewe vier.
Bronne
Allen, Richard 2001. Wittgenstein, Theory and the Arts.
Erens, Patricia 1990. Issues in Feminist Film Critics.
Vogel, Amos 2005. Film as a Subversive Art. d.a.p / C.T.EDITIONS.