Om buite die boks te glo ...
- Deur Julian Müller
- Gepubliseer 17 December 2009
- Artikels
-
Evaluering:




Julian Müller
Julian Müller se Artikels
Meer as 10 jaar gelede, op 1 Februarie 1999 het ek die opdrag gehad om ‘n referaat te lewer by die opening van die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria. Die titel was “’n Nuwe millennium: Uitdagings vir die kerk”. Ek het gepraat oor twee geloofstale of twee maniere van glo: Die dogmaties-korrekte manier en aan die ander kant die poetiese verbeeldingstaal.
In die afgelope 10 jaar was daar bemoedigende tekens van die versterking van die tweede taal om daarmee die ontoeganklikheid van God en die misterie van geloof uit te druk. Terselfdertyd is dit verstommend om te sien hoedat georganiseerde godsdiens die ou “taal” ten alle koste wil beskerm en instand hou. Daar is weerstande teen die aanleer ‘n nuwe geloofstaal en nog erger weerstande teen ‘n teologie wat so ‘n taal wil bevorder.
In genoemde toespraak het ek verwys na ‘n paradigmaskuif en dit verduidelik aan die hand van die twee bordspeletjies Scrabble en Balderdash.
Scrabble is ‘n spel van woordbou. Elke speler kry ‘n aantal houtblokkies met letters daarop. Met hierdie letters, wat elk weer ‘n waarde het, moet woorde gebou word. Die wenner is die persoon wat met vernuftige aansluiting by die bestaande woorde op die bord, die meeste woorde met die hoogste letterwaarde kan bou. Dit is ‘n spel van reg en verkeerd. Die spelreëls van die betrokke taal geld en daarby moet letterlik gehou word. Die spelers kan net van bestaande, erkende woorde gebruik maak en is nie vry om nuwe woorde te skep nie.
Balderdash is ‘n perd van ‘n ander kleur. Dit is ook ‘n woordspeletjie, maar op die kartondoos word dit geadverteer as die “Hilarious bluffing game”! Dit werk heeltemal anders met woorde en plaas die klem eerder op die kreatiewe benutting van woorde en taal as op die korrekte gebruik van taal. In hierdie geval trek ‘n speler ‘n kaartjie waarop daar ‘n vreemde woord geskryf staan. Op dieselfde kaartjie word ‘n betekenis vir die woord op aangebied. Die woord, sonder die betekenis word uitgelees en al die spelers spring dadelik aan die werk om hulle eie defenisies of betekenisse te skryf. Al die bydraes word geskommel met die “werklike” betekenis. Dit word voorgelees in willekeurige volgorde. Nou moet elkeen kies watter is die regte een. Jy verdien nie alleen punte indien jy die kaartjie se betekenis kies nie, maar ook vir die hoeveelheid persone wat jou betekenis as die regte een gekies het.
Waar dit in Scrabble gaan oor die vernuftige benutting van bestaande woorde, gaan dit in Balderdash oor ‘n vernuftige verbeelding en oor interpersoonlike vaardighede wat maak dat ander persone jou aanbod aantreklik vind. Dit is twee speletjies wat van woorde gebruik maak, maar op heeltemal verskillende maniere. Dit verteenwoordig twee paradigmas, twee maniere van dink en omgaan met die werklikheid. Albei het meriete. Die een daag jou uit om kreatief te wees met die gegewene. Jy moet binne die vasgestelde reëls beweeg en met wenkombinasies vorendag kom. Die ander daag jou uit om verbeeldingryk te wees en nuwe betekenisse te konstrueer wat in ‘n bepaalde konteks oortuigend is. Die klem val hier minder op korrektheid en meer op verbeeldingryke interaksie.
Neem ‘n mens nou hierdie twee bordspeletjies as metafore van twee verskillende geloofstale, is daar nie twyfel nie dat die hedendaagse mens al hoe meer gemaklik is met Balderdash. ‘n Scrabble-tipe geloof vind nie meer inslag nie. Daar het ‘n nuwe verstaanswêreld ontwikkel. Ons konstrueer nou ons wêreld veel meer met verbeelding en moontlikhede as met vasgelegde waarhede en strukture. Geloof wat stol in vaste formules spreek ons nie meer aan nie, terwyl die ontwykende ervaring van die swygende God ons al meer aanspreek.
Paradokse en die misteries van die lewe is nie meer so bedreigend nie. In die vorige era, wat meer op die Scrabble-paradigma gebaseer was, moes alles helder en duidelik uitgeklaar wees. Daarvolgens glo jy reg of verkeerd, waar of vals. Daarteenoor, dink mense nou meer in die Balderdash-taal en daarvolgens is daar meervoudige moontlikhede en ons word uitgedaag om kreatief om te gaan met die oorgelewerde tradisie.
Phil Streeter stel dit onverbeterlik in sy gedig “The mutilation of mystery”:
How tragically inevitable that a
melting awareness of the mysterious,
great hushed unaswerables and
awe-struck inexplicables,
Become re-cast into
crystalised codes,
solidified institutions and
petrified dogma.
That established systems of belief become
intellectual obsessions
Demanding docile submission instead of
drunken delight,
Obedience rather that romance.
Ought-ness rather than is-ness.
Adherence to rather than freedom to become.
Hierdie behoefte aan “freedom to become” is waarskynlik die krag agter beide die hedendaagse godsdienstige oplewing en die golf van ontkerkliking wat parallel daarmee plaasvind. Die tyd vir vasgeledgde en onveranderlike waarhede is eenvouding verby. Daarom verdwyn sommige uit die kerk omdat hulle dit as eng, bekrompe en kortsigtig belewe. Ander gee hulleself oor aan ‘n ander soort godsdienstigheid as wat in die tradisionele kerke gevind word. Die behoefte aan die “drunken delight”, die “romance” en die “is-ness” van godsdienstige belewenis kom onkeerbaar sterk na vore. G’n wonder dat die charismatiese godsdiens asook die evangeliese entoesiasme hand-oor-hand toeneem nie.
En voel myself nie tuis by een van bogenoemde groepe nie. Want ek bly daarvan oortuig dat die Balderdash-geloofstaal die beste gepraat word waar Scrabble ook steeds in omloop is. Laat ek verduidelik: Vernuwing maak net sin indien dit die resultaat is van ‘n kritiese bevraagtekening en voortgaande diskussie met die ou tradisie van geloof. By wyse van spreke moet ‘n mens eers Scrabble baasraak, voordat jy Balderdash kan geniet. Dit beteken dat jy eers gemaklik moet wees in die ou tradisionele geloofstaal, voordat jy kan begin saampraat in die koor van nuwe moontlikhede.
Dit is juis binne die gevestigde kerklike omgewing met sy vaste belydenisse en liturgiese rituele en simbole waar daar sinvol met ‘n nuwe “taal” geëksperimenteer kan word. Die alternatiewe wegbreekgroepe is na my mening liturgies te kaalgestroop om enigsins ‘n bydrae te lewer tot die ontwikkeling van hierdie nuwe taal.
Dit is op sigself paradoksaal, dat mense soms juis binne die vaste strukture die “vryheid om te word” ervaar. In ‘n ou kerkgebou met toring en kansel, in ruimtes wat deurdrenk is van teïstiese godskonsepte, kan mense op hulle beste uitgedaag word om op ‘n post-teïstiese manier te glo. Dit is immers juis in gesprek met ons geloofstradisie wat ons in staat is om skuiwe te maak in ons geloofsdenke en –taal. Daarom is dit betekenisvol dat vele van die vernuwende teologiese denkers steeds ‘n kerklike verbondenheid handhaaf. Kritiese denkers wat ou dogmas en geloofsuitsprake bevraagteken, sit Sondae in die kerk en beaam die klassieke ou geloofsformules probleemloos saam met die gemeente.
Dit beteken egter nie dat die ou taal probleemloos is nie! Ons kan nie meer die taal vir ons geloof gebruik wat die mense wat in ‘n voor-wetenskaplike wêreld geleef het, gebruik het nie. Ons kan nie anders as om ‘n groter huiwering te hê oor verskynsels wat vir hulle volledig binne die raamwerk van moontlikhede geval het nie. Bo-natuurlike verskynsels word anders beoordeel deur mense wat deurdrenk is met ‘n wetenskaplike wêreldbeeld as deur mense in die pre-moderne era. Daarom moet ons soek na woorde en taal wat vandag se geloof sinvol uitdruk, maar ons moet dit doen in piëteit en lojaliteit aan die oorgelewerde geloofstradisie. Ons is nie ‘n eerste geslag gelowiges nie. Ons bou voort op eeue.
Versprei die Woord
6 Reaksies op "Om buite die boks te glo ..." 
|
se kommentaar op 21 Dec 2009 1:15:23 AM PDT
Daar's natuurlik 'n soort veiligheid in die dogma - hardloop streng tussen die lyne en dan vrywaar dit jou van die verantwoordelikheid om die groot mensweesvraagstukke met jou intellek uit te pluis. Dis waar wat u sê dat die Christelike geloof irrelevant kan raak in die moderne, wetenskaplike era waar die evolusieteorie al beter deur nuwe navorsing ondersteun word en waar baie aspekte van ons dogma en geloofsbeleidenis meer vrae uitlok en onrustigheid bring as wat dit vrede en harmonie bring. Verder raak navorsing oor die herkoms van die Nuwe testament en die ontwikkeling van die ortodokse geloofsmodel al meer beskikbaar vir die gewone ouens soos ek. Soos u sekerlik weet is laasgenoemde 'n verhaal van stampe en stote en 'n gebuig en getrek om 'n sinvolle geloofsmodel te maak uit dit wat die Bybel vir ons nagelaat het. Ek is baie lief vir die Christelike geloof en die Bybel maar ek het uit die dogma "uitgeklim" en ek ondersteun ten volle die wetenskaplike teorieë wat die skeppingsverhale effektief (vir my) vervang. Daar's 'n behoefte om op 'n nuwe manier 'n Christen te wees sonder om die baba (Jesus) met badwater-en-al uit te gooi.
|
|
se kommentaar op 21 Dec 2009 1:45:34 AM PDT
My probleem is nuwe die nuwe taal nie... dit is die realiteit wat agter die taal sit, wat my aangaan. Bestaan God werklik? En as Hy werklik bestaan, hoe is Hy? Nie in terme van doktrines en dogmas nie, maar in terme van karakter en persoonlikheid. Is Hy ´n veraf, onbetrokke (magtelose?), teologiese geloofskonstruksie, of is Hy ´n persoonlike, aktiewe, (al)magtige teenwoordigheid in die wêreld? Dít is die vraag wat die tradisionele kerk na my mening nie duidelik genoeg beantwoord nie.
|
|
se kommentaar op 22 Dec 2009 4:00:49 AM PDT
Hi Chavoux, Ek sukkel ook met God se aard en karakter. Die ou antwoord dat God nie kenbaar is nie en nie beskryf kan word nie, gaan nie meer af nie. Die God van die Ou Testament lyk maar net soos die ander afgode van die nomadiese mense van die woestyn: Hy verbreek sy eie Tien Gebooie wanneer Hy wil (Jericho se massamoord, "land-grabbing" en diefstal van hulle goud, silwer en yster); Hy aanvaar mense-offers (Jefta se dogter); Abraham kry bevel om Isak te offer - kwansuis 'n toets - ek dink nie dis snaaks nie!, ens.
Aan die ander kant lyk die God wat Jesus voorhou Een van hoë moraliteit, liefde, ens. Vir my is dit nader aan hoe God rêrig is - baie minder probleme daarmee.
|
|
se kommentaar op 04 Jan 2010 5:55:20 AM PDT
Hallo Frik
Ek is eerstens nie seker dat die God van die Ou Testament soos die ander afgode lyk nie (tensy jy verwys na Allah van die Moslems wat wel 'n ander karakter openbaar, maar grootliks gebaseer is op die Bybelse idees van God). Miskien kan jy vir my voorbeelde gee. Om die spesifieke punte aan te spreek wat jy noem:
1. Die inval van Kanaän word baie duidelik gestel as straf op die Kanaäniete se sondige leefstyl (wat Sy gebooie verbreek).
2. Jefta se offer van sy dogter (bygesê, as dit werklik as brandoffer uitgevoer is), word geensins goedgekeur nie. Daar is geen aanduiding dat dit God se wil was nie.
3. En vir my is die toets van Abraham die ¨ultimate¨ vooruitwysing na Jesus en na wat God self gedoen het toe Hy Sy enigste Seun (kyk mooi na die bewoording waarin Hy na Isak verwys as Hy met Abraham praat) geoffer het as plaasvervanger vir ons. Juis in reaksie op Abraham se vertroue tydens hierdie toets (¨omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie¨) kom ook die belofte van die saad van Abraham (enkel in die Hebreeus) waardeur alle nasies geseën sal word. (Terloops, dit gebeur op die selfde berge waar Jerusalem en die tempel later gebou is en waar Jesus ook gekruisig is).
Vir my is al die aanduidings dat Jesus juis die God van die Ou Testament as Sy Vader voorhou, Sy eie roeping verstaan in terme van die Profesieë van die Ou Testament, Sy moraliteit aflei uit die karakter van die God van die Ou Testament en feitlik al Sy leerstellings direk baseer op die Ou Testament (Bv. Matt. 5 -7, 22:36-40).
|
|
se kommentaar op 22 Dec 2009 12:13:01 AM PDT
Verskoon asb my onkunde, maar wat beteken: "om op ‘n post-teïstiese manier te glo"
|
|
se kommentaar op 12 Feb 2010 11:07:53 PM PDT
Ook ék sal graag verneem wat dit beteken "om op ‘n post-teïstiese manier te glo".
|


Author)