Die God van die Bybel is ’n God wat praat, skryf N.T. Wright in The Last Word. Maar watter taal praat God dan?

 

Umberto Eco vertel in sy La ricerca della lingua perfetta nella cultura europea (in Nederlands: Europa en de volmaakte taal) oor die lang soeke na die “volmaakte taal”, wat in die moderne era die vorm aanneem van ’n versugting dat één taal, byvoorbeeld Engels, die enigste wêreldtaal moet wees, dikwels omdat dié taal as inherent superieur beskou word. Andere wil ’n nuut geskepte taal vir internasionale kommunikasie, soos Esperanto, bevorder om sodoende taaloorheersing uit te skakel.


In die premoderne tyd is die volmaakte taal volgens Eco as die taal van God, die hemelse taal, voorgestel. Dit sou Latyn kan wees (die Latynse Bybelvertaling is as die kerklik gesanksioneerde weergawe gesien), of Hebreeus (die taal wat Adam en Eva vermoedelik sou gepraat het), dalk ’n taal wat weens die sondeval (dink aan die verhaal van die Babelse verwarring) verlore geraak het, of selfs ’n natuurlike taal waarmee mense as ’t ware gebore word, maar wat hulle dan mettertyd afleer. Om laasgenoemde te ontdek, het een vors selfs gereël dat die vroedvroue onder sy beheer ’n aantal pas geborenes isoleer en glad nie met hulle praat nie – om dan te kyk watter taal hulle spontaan sou besig. Die eksperiment het misluk, want die baba’s het gesterf ...

 

Eco self meen die inheemse taal van Europa is eintlik vertaling: Wanneer kommunikasie tússen tale plaasvind, kom die wesenlike identiteit van Europa tot uitdrukking. Hiermee kies hy teen die romantiese nasionalisme, waarvolgens volk, taal en grondgebied as identiteitsbepalers móét saamval.

 

Is vertaling dalk ook God se taal?

 

Lamin Sanneh lyk dit in sy Translating the Message te suggereer. Navorsing het getoon dat die Christendom in Afrika die vinnigste gegroei het in gebiede waar die Bybel in die plaaslike taal beskikbaar was, en dat inheemse Afrika-kerke soos die ZCC ook juis in daardie gebiede ontstaan het. Dit dui daarop dat verinheemsing van die geloof deur vertaling van die boodskap aangewakker word – dikwels teen die bedoeling van die sendelinge in!

 

Daar is Christene, veral in behoudende evangelikale kringe, wat die inspirasie, gesag en onfeilbaarheid van die Bybel streng gesproke slegs aan die sogenaamde “oorspronklike manuskripte” toeskryf. Hiermee stem Sanneh nie saam nie. Hoor ons dan nie die Woord van God wanneer ons die Bybel in ons moedertaal lees nie? Volgens Sanneh is ’n wesenlike onderskeidende kenmerk van die Christelike geloof dat sy heilige skrif ook in vertaling Woord van God bly. Hierin verskil die Christelike geloof van onder meer die Islam, waarin slegs die Koran in Arabies as Gods openbaring beskou word.

 

Sanneh wys daarop dat die Nuwe Testament, as Christelike basisteks, reeds ’n Griekse vertaling is van ’n evangelie wat die eerste keer in Hebreeus of Aramees verkondig is. Deur die eeue het die evangelie telkens by wyse van vertaling – talig én kultureer – deur die wêreld versprei. Reeds in God se selfopenbaring aan Israel word die ewige Goddelike Woord in mensetaal vertaal, en – nog tasbaarder – in Christus word God self in ’n mens “vertaal”. G’n wonder nie dat, toe die Gees op die apostels uitgestort is, hulle in al die tale van hul toehoorders begin praat het (Handelinge 2).

 

Net soos “heidene” nie besny hoef te word om tot die liggaam van Christus te mag behoort nie, hoef hulle ook nie ’n nuwe taal te leer om God se Woord te kan hoor nie. Voor God maak geen taal jou meer mens as ’n ander nie.

 

Wat beteken dit vir hoe ons in die kerk en die breër samelewing mekaar se tale behandel?

Hierdie artikel het in Kerkbode verskyn.