Skepping en ewolusie
- Deur Cornel du Toit
- Gepubliseer 26 February 2010
- Artikels
-
Evaluering:




Cornel du Toit
Cornel du Toit se Artikels
Respons op George Claassen
‘n Kerk wat bang is vir mense wat vir hulleself dink tipeer gewoonlik hierdie selfstandigheid in moreel negatiewe lig: ongehoorsaam; ketters; ateisties. Daarom dat die verband getrek word tussen ewolusie en die bose / ateisme.
Die reaksie spruit waarskynlik uit onkunde. Die aanvaarding van ewolusie is nie gelyk aan die einde van godsdiens of die ‘dood’ van God nie (die ‘dood van God’ is aan godsdiens en nie ewolusie toegedig nie – Nietzsche). Trouens, die geloofwaardigheid van godsdiens word juis bevestig deur dit vanuit ewolusionere hoek te beskou. Daar is veel geskryf oor die ‘godsdienstigheid’ van ons vroegste voorouers (grottekeninge), die ontwikkeling van godsdiens in jagterssamelewings (sien rol van die shamaan), en die ontstaan van die boekgodsdienste (in samewerking met die vroegste staatsinstellings). Ewolusionêr kan aangetoon word hoe godsdiens inskakel by die menslike biologie: die wyse waarop breinfunksies ingespan word om ons ons geloofservaringe te bied. Godsdiens het nie noodwendig ontwikkel om ons te help om beter te oorleef nie, maar het wel ‘n onontbeerlike rol in ‘n gelukkige voortbestaan gespeel: die rol van godsdiens om betekenis aan die lewe te gee; om te help met die interpretasie van onverstaanbare gebeure soos katastrofes en persoonlike ongeluk of lyding. Godsdiens ontwikkel in tandem met selfervaring: die wyse waarop godsdiens inskakel by basies menslike dryfvere soos begeerte (sien Girard); hoe godsdiens inpas by die basiese menslike ervaring van onvervuldheid en ‘op-weg-wees’ (Lacan; Žizek, Vattimo); die rol van godsdiens om ons vrees vir eindigheid te besweer (onsterflikheid / hiernamaals) . Natuurlik sal die konkrete gelowige alle ervaring en gode buite sy eie geloofsraamwerk as vals beskou en aanspraak maak op die persoonlike ervaring en ontmoeting van die enigste, ware god. Dié goeie oorlewingstrategie is oor eeue heen suksesvol bewys. Analoog aan Hegel se ‘slinksheid van die rede’ is godsdiens op meesterlike wyse bo kritiek verhef omdat die transendent-gevestigde aard daarvan dit aan menslike analise, rasionalisasie, en ondervraging ontruk het. Job het geleer dat geen sterfling God (dogma?) kan ondervra nie. Maar dit is ‘n ‘cop-out’ om godsdiens uit die epistemologiese arena te verwyder sodat dit nie deur die rede (natuurwetenskap) ondervra kan word nie (soos Kant wat die rede ophef om vir geloof plek in te ruim). Dit is juis Kant se postulaat van die Praktiese Rede wat die weg oopgemaak vir denkers soos Barth, Kierkegaard, Levinas om God die Gans Andere te maak en so uit die menslike arena uit te skuif. Dit is egter ook ‘n ‘cop-out’ van ‘neutrale’ natuurwetenskap om hulle nie te beweeg op die ‘onvaste’ (oop en bevooroordeelde) gebied van die menslike gees nie.
Die feit dat ewolusie die aanvaarde agtergrond is van die werk van alle natuurwetenskaplikes en dat die basiese prentjie met die ontwikkeling van nuwe wetenskappe (genetika -genetiese kartering-, kognitiewe wetenskappe om 2 te noem) net helderder word, staan vas. Kerke en gelowiges behoort hieroor beter ingelig te word want dit alleen bied vaste grond vir nadenke oor die plek van geloof vandag.
Persoonlik glo ek nie dat ewolusie die eksklusiewe vlak is waar die probleem lê nie. Ewolusie kan nie in isolasie beskou en evalueer word nie, maar moet in samehang met die proses van die wetenskapsrewolusie vanaf die 15e eeu beskou word, die Verligting en opkoms van modernisme. Dit het ‘n manier van dink en doen na vore gebring wat nie anders kon as om die hele geloofswêreld op losse skroewe te plaas nie. Om die rede (as prostituut) daarvoor te verwyt, soos Luther gedoen het, bring ons nie verder nie. Dit gaan nie om een of ander bose komplot teen godsdiens nie, maar om die (ewolusionere) ontwikkeling van menslike (denk-)kultuur. Wat ons behoort te bedreig is nie ons ewolusionêre verlede nie maar ons ewolusionêre toekoms wat vernaamlik in ons hande lê en waar die ontwikkeling en lot van die menslike spesie deur sy waardes en mensgemanipuleerde omgewing en artefakte bepaal gaan word. Die vraag is of die projek (ons ewolusionêre toekoms) moontlik is sonder die diep-menslike waardes wat oor die eeue heen deur godsdienste beliggaam is.
Vandag staan ons voor die verwyt dat ons geestesontwikkeling agtergebly het by ons tegnowetenskaplike ontwikkeling. Waar denkontwikkeling ons gebring het by die ‘einde’ van die filosofie, metafisika, meesternarratiewe (lees ook teologie), het die natuurwetenskappe gekombineer met tegnologie byna geruisloos die rol van betekenisgewende meestersisteem oorgeneem. Vanuit die geslote kader van die empiries-pragmatiese word neergesien op produkte van die rasionalisme en idealisme en word dit saam geloof gerelegeer tot die ‘meta-wetenskaplike’ vlak van die etiese en estetiese. Vir baie is die mistiek die enigste uitvlugsoord uit ‘n verdinglikte bestaan waar die (mensgemaakte) omgewing die Subjek is wat die mens (nou die objek) bepaal.
Die vraag wat ek aan George Claassen (en aan persone soos Dawkins / Harris / Dennet / Park) vra is waarom hulle oordeel dat ‘verligte’ mense nog steeds aan irrasionalisme en bygeloof (geloof) vasklou? As ons bepaal word deur tegnopragmatiek waarom nog die irrasionele reste? Bygeloof het verander (sien mediese praktyke soos homopatie, die dobbelbedryf, aandelemark, geloof in sinkronisiteit), maar nie verdwyn nie. Geloofsuitinge verander maar is nie aan die verdwyn nie. Die rede is waarskynlik omdat daar meer behoeftes bestaan as waaraan ons tegnopragmatisme kan beantwoord. Fenomenologies beskou kan dieselfde motiveringe vir die ontstaansgrond van geloof én bygeloof aangedui word: verklaringsisteme in lig van onkunde, selfbeskerming, soeke na geluk en voordeel en afweer van ongeluk en rampspoed. Eenduidige antwoorde (geslote empirisme) skiet tekort in ‘n komplekse maatskappy waar ons soos alle ander spesies deur ons omgewing beïnvloed word – ‘n omgewing wat in sy pluriforme en snel wisselende aard nie reduksies toelaat nie.
In die (post-sekulêre) omgewing word geloof vandag gekenmerk deur ‘n rasionele oorstyging van ‘n letterlike interpretasie daarvan, ‘n onwil om dit te ‘ontgroei’ omdat dit die laaste nostalgiese reste van ‘n ‘ou wêreld’ verteenwoordig. Vir ander gee geloofservaring of mistiek sin. Toe Niels Bohr gevra is waarom hy as wetenskaplike ‘n perdeskoen aan sy voordeur hang het hy geantwoord dat die mense sê dat dit werk al glo jy nie daaraan nie. Hy glo dus nie daaraan nie maar hoop in die stilligheid dat dit werk. Wie wil nou nie geluk op sy pad hê nie? Baie skeptici sal geloof in God dekonstrueer (in die vernietigende sin van die woord) en tog in die stilligheid wens dat daar gronde was om dit nie te doen nie. Ons glo nie meer in wonderwerke wat natuurwette oorskry nie, maar daar kom tye dat elkeen van ons ons werp op die irrasionele. As dit die menslike kondisie is moet ons meewerk aan die ewolering van geloof wat sin maak in ons tyd.
Binne postmoderne konteks (die konteks waar ons voortdurend voetnote plaas by ons modernistiese oortuigings) leef ons vandag in die era van interpretasie waar denke in beslag geneem word deur belange wat nie meer eksklusief deur wetenskap, filosofie of godsdiens verteenwoordig word nie. Die interpretasiemetafoor bring voortdurend ander beklemtoninge na vore soos elke oggend se koerant. Die wisselende aard daarvan maak nie die impak of geldigheid daarvan minder nie (sien différance). Waarheid is nie objektiewe Archimedespunte (denkwaarhede) vanwaar alle ander dinge beweeg (gemanupileer) kan word nie. Galileio het die mite van ‘n onbeweeglike vertrekpunt die nek ingeslaan. Selfs die onbeweeglike God is daarmee heen (sien Heinrich Ott se Gottes sein ist im werden). Waarheid gebeur (Ebeling) in tussenmenslike dialoog waar taal gedeel word. Navorsing kan nie meer net in een soort vaktaal vasgevang word nie. Daarom vertaal Rorty Hegel se Geist (lees ook selfbewuste en ontwikkelde rede) met gesprek. Dit beteken nie dat gesprek verromantiseer kan word nie (Habermas se kommunikatiewe handeling), maar dat ons na alle alternatiewe handelinge steeds (altyd) daarheen terugkeer– maar nie op dieselfde manier nie (Hegel).
Na die ‘einde’ van die matafisika gaan dit nie meer om kontak met iets wat onafhanklik los van die mens bestaan nie maar om Bildung – en dit is tog altyd menslike Bildung (sien Foucault se ideaal om ‘n mooi lewe te lei). Maar die oorheersende vlak waarop daar vandag sprake is van Bildung is die van tegnowetenskaplike artefakte (produk van natuurwetenskap). ‘n Mooi artefak weerspieël tog altyd ‘n gevormde gees maar hedendaagse artefakte weerspieël ‘n leë gees wat die artefak kan koop. Bildung is vandag pseudoniem vir die tegnowetenskaplike artefakte wat ons identiteit bepaal. Is dit nie analoog aan die verdrywing van die geesteswetenskappe deur die natuurwetenskappe nie? (verdrywing van godsdiens deur ewolusie?). Was die geesteswetenskappe nie nog altyd die verpersoonliking van Bildung nie? Gadamer praat van die ‘hedendaagse’ kultuur in terme van dialoog en fusie, wat kennis vervang met Bildung. Maar in ‘n wêreld waarin kennis onoorsigtelik geword het vra ons steeds na die interpretasie (menslike betekenis) van kennis – ‘n taak wat nie hoort by neutrale natuurwetenskap nie. Ons word gelaat met die bewussyn dat nie alles wetenskaplik verklaar kan/hoef te word nie. Vir ander bestaan Bildung vandag in allerlei ervaringe wat as nunc stans ons enigste moontlikheid is om ons eindigheid ‘n ewigheidsdimensie te gee (Ironies kan ervaringsug juis werklikheidsontvlugting wees).
Wat beteken dit? Waarheid word nie op die vlak van empirie of metafisika besleg nie maar op die vlak van interpretasie. Geloof in die sien-as modus daarvan is ‘n vorm van interpretasie. Die sien-as akte is ‘n ontwikkelde bewussynsfunksie wat waarde, betekenis en dryfkrag bied. Dit bring ons terug by Kant se transendentale subjek waar denkstrukture (sinteties a-prioriese oordele) ons ervaring bepaal. Maar die kritiek wat Fichte en veral Hegel daarop gelewer het is dat dit ons lewe verskeur (dualisme) tussen binne- en buitewêreld. Hegel het aangetoon hoe denke (Geist) alleen ontwikkel deur die opname van die (A)ander (onbekende / negatiewe) in ons bewussyn wat die siening (sien-as) van onsself en die ander radikaal kan verander. Die binnewêreld van geloof kan nie sonder die buitewêreld van die empiriese werklikheid (natuurwetenskap /ewolusie) nie. (Nadat die mens van kleintyd af deur intense kontak met die empiriese werklikheid taal aangeleer het en denkvaardighede ontwikkel het (Lakoff, Johnson), verhef Kant nou die volwasse denker tot Transenderende Subjek/Rede wat onafhanklik (!) van die empiriese werklikheid as skoon lei (Locke) logiese konsistente, sinteties a-prioriese oordele kan formuleer. Dit is soortgelyk aan geloofskonstrukte (metafisika) wat werk met die aanname dat die waarheid daarvan suiwer ‘van bo’ as openbaring op die mens afkom terwyl die inhoud daarvan deurspek is van aardsheid en menslikheid en sonder laasgenoemde ondenkbaar is. Selfs die ondenkbaarheid en onverstaanbaarheid van die Transendente stem presies ooreen met die werking en bepaalde skemata van die mensklike brein soos ons sal sien.)
Godsdiens is nie bloot ‘simboliese’, ‘metaforiese’, ‘emosionele’, ‘morele’ waarheid nie maar bevat dit. Godsdiens is menslike waarheid wat gekenmerk word deur die verheffing van die waarheid bo die menslike sfeer. Maar die denkkwyse het uitgebrand (Verligting!) en moet omgedraai word. Dit kan tipeer word as ‘n immanente of horisontale transendensie wat die mens tipeer as ‘n transendenderende wese. Ons brein/bewussyn is transendent gestruktureer. Taal is transendent gestruktureer (metafoor). Ons verstaan van ruimte en tyd is transendent gestruktureer. Ewolusie is transendent gestruktureer (voortdurende nuwe interaksies met ‘n veranderende omgewing). Dit sou na vore kon kom in ‘n sekulêre spiritualiteit as beklemtoning van geïnkarneerde waarheid wat as aardse waarheid die menslike kondisie weerspieël. Dit word gekenmerk deur ‘n kenotiese teologie waar God as aardse vriend ons menslikheid deel. Dit neem menslike fisikaliteit, rede, emosionaliteit ernstig op. Dit neem die openheid, onafheid, transenderende aard daarvan in ag (die rede se bepaaldheid deur emosie, emosioneel konotatiewe geheue, soos bewerk deur die hipothalmus, neo-korteks, amigdala interaksie). Dit is ‘n inklusiewe, organiese epistemologie wat die voorlopigheid van alle wete soos bepaal deur menslike openheid en veranderlikheid verreken. Dit is ‘n vertrekpunt ‘van onder’ (ons biologie), ‘van agter’ (vanuit ons ewolusionêre verlede), ‘van voor’ (ons oop toekoms). Daarom nie geslote nie maar gekenmerk deur die transenderende bewussyn wat altyd beur na die oorskreiding van die bestaande. Is dit nie godsdiens nie?
Versprei die Woord
10 Reaksies op "Skepping en ewolusie" 
|
se kommentaar op 26 Feb 2010 3:07:51 AM PDT
Cornel, 'n pragtige artikel as dit bloot oor "godsdiens" as uitdrukking van die menslike natuur / kultuur gaan. Maar "die transenderende bewussyn wat altyd beur na die oorskreiding van die bestaande" is nie in my opinie godsdiens soos die Bybel dit verstaan nie (Rom12:1-2). God is die bestaande... of dan in die opinie van baie evolusioniste die "nie-bestaande". Dit is juis waaroor die debat eintlik gaan... bestaan God werklik of is Hy bloot iets wat ons self skep deur te "beur na die oorskreiding van van die bestaande"?
Sluit jy jouself in as jy sê: "Ons glo nie meer in wonderwerke wat natuurwette oorskry nie."? Ek kan nie namens ander praat nie, maar die God wat ek leer ken as die Skepper van hemel en aarde, openbaar Homself juis daardeur dat Hy wel die natuurwette (wat Hy self daargestel het) kan oorskry... wat anders het Jesus dan kom doen?
|
|
se kommentaar op 26 Feb 2010 5:00:09 AM PDT
Dankie vir hierdie bondige, maar puik histories-filosofiese oorsig en saamvat van die plek en betekenis godsdiens.
|
|
se kommentaar op 27 Feb 2010 6:46:43 AM PDT
Prof du Toit
Ek dink dit is goed dat ’n mens alle kante van die storie hoor. En ek sou sê dat dit goed was dat Claassen opgetree het by die UP Teologiese Fakulteit. Ek het net twee probleme:
1. As ’n Christen evolusie aanvaar, dan raak jou argumente teen ’n ateïs baie flou. En dit is ook wat gebeur het – Claassen se argumente is nie werklike weerlê nie.
2. Na hierdie geleentheid was daar ’n versoek dat Mark Harwood van CMI (www.creation.com) ook die Fakulteit sal toespreek, maar prof Julian Muller het dit nie toegelaat nie. Dit is dan mos nie om beide kante van die storie te hoor nie, of hoe?
U sê: “Die aanvaarding van ewolusie is nie gelyk aan die einde van godsdiens...”
U is gedeeltelik reg met hierdie stelling. Daar is baie mense, ook vriende van my, wat gelowige mense is, maar wat evolusie as feit aanvaar het, ten spyte van vele teenstrydighede met so ’n siening. En daarom het hierdie kwessie al veroorsaak dat baie mense hulle geloof verloor het – insluitende Charles Templeton, bekende evangelis.
U sê: “Die feit dat ewolusie die aanvaarde agtergrond is... staan vas. ...dit alleen bied vaste grond vir nadenke oor die plek van geloof vandag.”
U erken dus hiermee dat geloof ondergeskik is aan evolusie, wat u sien as ware wetenskap. Dus, soos die wetenskap verander, moet God ook verander. Maak dit sin? As God werklik bestaan en almagtig is en alles in stand hou, gaan ons feilbare teorietjies hier op aarde Hom verander? Ek dink nie so nie.
U sê: “Vir baie is die mistiek die enigste uitvlugsoord”
Hierdie is baie waar. Ek hoor al hoe meer mense wat die grootheid van God wil besing oor die feit dat ons so min van Hom weet. Maar dit is niks anders as ’n uitvlugsoord nie. En alle mense val nie hiervoor nie – baie mense verloor hulle geloof.
U sê: “Die vraag wat ek aan George Claassen vra is waarom hulle oordeel dat ‘verligte’ mense nog steeds aan irrasionalisme en bygeloof (geloof) vasklou?”
Het Claassen nie ’n punt beet nie? U siening is dat geloof saam met evolusie ontwikkel het om vir die mens ’n gelukkige voortbestaan te veroorsaak en om ons te help om katastrofes te verklaar en die vrees vir eindigheid te besweer (Hierdie laat my dink aan Stephen Hawking wat gesê het geloof in ’n god en ’n hiernamaals is vir mense wat bang is vir die donker). U “glo nie meer in wonderwerke wat natuurwette oorskry nie”. Dit klink baie na wat Willem Bakkes gesê het – God gebeur in ons koppe. Ek is eintlik verstom dat u dit so openlik erken hier waar almal dit kan sien.
Hoekom moet ons dan nog in ’n god glo? Is daar ’n god? Ís dit nie ’n bygeloof nie? Is dit nie dieselfde as om in spoke te glo nie? Ek moet eerlik erken dat indien God nie wonderwerke kan doen nie, wat is die punt daarin om in Hom te glo en aan Hom gehoorsaam te wees? Daarom sal u seker ook nie aan Jesus se letterlike opstanding glo nie. Wat glo u oor die hiernamaals?
U beweer dat geloof se (suksesvolle) oorlewingstrategie is om “alle ervaring en gode buite sy eie geloofsraamwerk as vals beskou en aanspraak maak op die persoonlike ervaring en ontmoeting van die enigste, ware god.”
Dus erken u dat ander gelowe gelyk staan met die Christelike geloof. Om te beweer dat die Christelike godsdiens die enigste ware godsdiens is, is maar net ’n oorlewingstrategie. Ek wonder wat sendelinge wat bv onder lewensgevaarlike omstandighede onder die Moslems werk, hiervan sal sê.
U aanvaar evolusie as wetenskaplike feit. Daar is egter een ding wat baie belangrik is om te verstaan: dit is die verskil tussen operasionele wetenskap en historiese wetenskap. Operasionele wetenskap is herhaalbaar en waarneembaar (vliegtuie, rekenaars, brue, motors), maar historiese wetenskap nie (al die dinge waar ons vandag iets sien en moet spekuleer wat in die verlede gebeur het bv argeologie en evolusie). Kan ek u vra om asb die artikel “It’s not science” (http://creation.com/its-not-science) te lees? ’n Ooggetuieverslag is altyd verhewe bo historiese wetenskap en dit geld in die Regte ook. Daarom glo ek eerder wat mense vir ons in die Bybel opgeskryf het wat fisies daar was.
U gebruik groot woorde wat gewone mense nie gaan verstaan nie. Dit laat my dink aan die tye voor die hervorming – toe slegs die kerk toegang tot die Bybel gehad het omdat dit slegs in Latyn was wat die gewone man op straat nie verstaan het nie. Nou het die man op straat ’n Bybel, maar daar word vertel dat ’n mens eers hoogs geleerd moet wees om werklik die Bybel te verstaan. Sien u ’n patroon? Is dit nie die Duiwel met sy slinkse planne nie?
Dit laat my ook dink aan Kolossense 2:8 (Ou Vertaling) “Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.“
Is dit nie dalk die aanvaarding van evolusie wat u dwing om so om te gaan met die Bybel nie?
|
|
se kommentaar op 28 Feb 2010 11:58:12 AM PDT
Prof. Du Toit, aanvaar jy enigsins iets van die openbaringsaard van die Bybel deur 'n werklik-bestaande God? Ek vra dit na aanleiding van jou stelling: "Natuurlik sal die konkrete gelowige alle ervaring en gode buite sy eie geloofsraamwerk as vals beskou en aanspraak maak op die persoonlike ervaring en ontmoeting van die enigste, ware god. Dié goeie oorlewingstrategie is oor eeue heen suksesvol bewys."
|
|
se kommentaar op 28 Feb 2010 9:48:47 PM PDT
Cornel du Toit skryf: "Die feit dat ewolusie die aanvaarde agtergrond is van die werk van alle natuurwetenskaplikes en dat die basiese prentjie met die ontwikkeling van nuwe wetenskappe (genetika -genetiese kartering-, kognitiewe wetenskappe om 2 te noem) net helderder word, staan vas. Kerke en gelowiges behoort hieroor beter ingelig te word want dit alleen bied vaste grond vir nadenke oor die plek van geloof vandag." Ek kan nie meer saamstem nie! Ek kry egter die indruk dat die "teologiese intelligentsia" só versigtig en soetjies trap oor hierdie potensieel-stekelrige onderwerp dat die deursnee-gelowige skaars bewus is van hierdie manier van dink. Die meeste probeer hulle geloof "red" deur verwoed te baklei teen die wetenskap vir die behoud van 'n sesdagskepping, 'n sondeval en 'n goddelike verlosser wat deur sy "soenverdienste" sorg dat "goeie" Christene eendag in 'n ewige hemel sal gaan woon. Dit is 'n "geveg" wat geloof in 2010 nie sal red nie maar eerder dodelik verwond op die kantlyn laat as 'n oorblyfsel van pre-moderne bygeloof.
|
|
se kommentaar op 01 Mar 2010 4:54:49 AM PDT
Hewige "post-modernistiese" teologiese "jargon" ... nie 'n "patch" op Prof Veldsman se meer padlangse edel argumentasie nie. Selfs George sou moes diep dink om 'n verskil tussen sy standpunt en prof Du Toit s'n te konstrueer ...
|
|
se kommentaar op 01 Mar 2010 5:00:43 AM PDT
Stefan demonstreer duidelik dat geloof in evolusie kan lei tot ongeloof in Jesus Christus as Verlosser. Profs. Cornel du Toit, Danie Veldsman en Julian Müller, wat glo julle wat evolusie 100% steun, van Christus as enigste Verlosser?
|
|
se kommentaar op 02 Mar 2010 11:43:10 PM PDT
Daniël, sê jy dus wetenskaplike kennis moet eerder verwerp word as 'n "leuen" indien dit skadelik is vir tradisionele geloof? Dink jy nie dit is 'n slegte idee om op so 'n fondament van sand te bly voortbou nie? Dit mag op die korttermyn 'n paar gemoedere laat bedaar, maar op die lange duur is dit 'n resep vir 'n katastrofe. Hoe verskil so 'n siening van die kerklike reaksie op Galileo Galilei en Kopernikus destyds? Die geskiedenis wys hoedat die kerk oor sulke kwessies al oor en oor 'n bloedneus gekry het. Indien in hierdie trant voortgegaan word, sal geloof en godsdiens sy laaste greintjie betekenis vir die ingeligde moderne mens verloor. Hoe 'n mens ook al daarna wil kyk, en hoe onaangenaam die gedagte vir sommige mag wees: die konsep van 'n persoonlike God wat vanaf sy woonplek in die lug die aarde se toutjies sit en trek is net nie meer gangbaar nie. "Hy" sal dringend "herontwerp" moet word om steeds 'n sinvolle deel te kan wees van die Westerse Christelike lewens- en wêreldbeskouing. (Dit nou vir diegene wat steeds behoefte het daaraan.)
|
|
se kommentaar op 04 Mar 2010 4:05:33 AM PDT
Nee glad nie Stefan. Goeie, ingeligte wetenskaplike vertolking van oorsprongdata bevestig Bybelse gegewens. As mens die historiese en oorsprongwetenskaplike inligting in die Bybel kan vertrou, en daar is genoeg getuienis daarvoor vir enigiemand wat objektief wil wees, dan het mens soveel meer rede om ook die ontoetsbare in die Bybel te glo. Aan die anderkant, sit mens met jou situasie, of met sommige van die teoloë se situasie, wat op die draad probeer sit.
|
|
se kommentaar op 18 Mar 2010 10:24:51 AM PDT
Om evolusie te bevraagteken is glad nie gelyk daaraan om wetenskap te verwerp nie. Evolusie is een tipe raamwerk om die ontstaan van die sigbare heelal te probeer verklaar, skepping deur God een van die ander. Die vraag is: watter een strook met die werklikheid.
Ek dink eerder dit is die mens wat die evolusionêre verklaring glo wat tans baie krampagtige gedrag vertoon. Evolusie is die enigste wetenskap teorie wat deur vervolging van die on/kleingelowiges (in evolusie) in stand gehou word; sien Slaughter of the Dissidents deur Dr Jerry Bergman: boek en webtuiste Ben Stein se Expelled – No Intelligence Allowed dokumentêr. Waar hy toon dat die geringste betwyfeling van Die Teorie lei tot ontslag van professore /onderwysers met die beste kwalifikasies in hulle departement en beste evaluasies deur hulle studente. Jy mag vrylik argumente teen enige wetenskap teorie of wet voor ‘n klas noem behalwe argumente teen Die Teorie.
As mens die detail van bv die genetiese apperaat bestudeer sal jy vinnig sien geen mensgemaakte apperaat is so ingewikkeld en elegant is nie. Om dan te glo dat hierdie hele apperaat spontaan ontstaan het deur spelfoute (mutasies) in die bloudruk (DNS) verg baaaaie geloof, blinde geloof.
Die Teorie maak nie sin nie. By verre die meeste mutasies is skadelik. Ek weet van geen mutasie wat 'n biologiese molekuul meer optimale funksie gee nie. Ek weet van duisende mutasies wat na siekte en kanker lei. Jou kans om 'n voordelige mutasie (indien daar enige is) vas te lê tussen al die duisende skadelike mutasies is ‘n ronde nul. Alle organismes is oppad om uit te sterf en nie op pad om al beter te word nie, want skadelike mutasies is 1000de keer meer algemeen as potensiële voordeliges.
Die Teorie vlieg nie. Die werklikheid pas beter by 'n skepping deur 'n oneindig intelligente God wat sy skepping 7 keer goed verklaar in Gen 1 gevolg deur 'n sondeval en vervloeking agv hierdie sonde. Rom 8:20 – 21 “Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe -- nie gewillig nie, maar ter wille van Hom wat dit onderwerp het -- in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid…”
Die ‘agtergrond Teorie van alle wetenskappe’ haal slegs een van my 23 Patologie Teksboeke se indeks. Wat verwys na ‘n 1/3 bladsy paragraaf (uit 2245 bladsye) se spekulasie oor hoe iets so ingewikkelds soos die hart geëvoleer het. Eintlik ‘n oefening in vergelykende anatomie as jy ook die 3 verwysings lees. ‘So much’ vir die Teorie van Teorieë.
Die Christendom speel met ‘n gevaarlike vuur om die geloofwaardigheid van die Bybel met die spekulasies van Die Teorie te ondermyn. Geen Adam en Eva, geen sondeval – ek kan doen wat ek wil, volgens Die Teorie is dood die skeppings krag en nie die straf op sonde nie, geen sondvloed, geen patriarge, geen profesieë, geen wonderwerke, geen maagdelike geboorte, geen God-mens Jesus Christus, geen versoenings offer aan die kruis, geen opstanding uit die dood, geen lewe na die dood, geen nuwe hemel / aarde om na uit te sien, geen hel om te vrees, die natuurwetenskap het bg nog nooit bewys nie, geen rede om jou naaste lief te hê soos jouself nie, Die Teorie sê oorlewing van die sterkste, geen rede om ‘n volgeling van Jesus te wees nie, hy sê Luk 17:27 “hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.” en Mark 10:6 “maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak.” Hoe kan enige iets wat hy sê betroubaar wees?
2 Pet 3:3 “aan die einde van die dae spotters sal kom … 4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. (uniformitarianisme) 5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het (nie ‘n vuurbal nie) deur die woord van God,(nie deur ‘n groot ontploffing nie) 6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. (die sondvloed) 7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”
|


Author)