- Tuis
- Geskiedenis van OT-eksegese
- Geskiedenis van Ou Testament-eksegese, 12: Luther se stryd en die Ou Testament
Geskiedenis van Ou Testament-eksegese, 12: Luther se stryd en die Ou Testament
- Deur Jurie le Roux
- Gepubliseer 24 May 2010
- Artikels , Geskiedenis van OT-eksegese
-
Evaluering:




Jurie le Roux
Jurie le Roux se Artikels
Laaste woorde oor die Bybel
Dit is gepas dat
van sy laaste woorde oor die Bybel sou handel. Hy het geskryf dat niemand
Vergilius se ‘Bucolica’ of ‘Georgica’ kan begryp sonder dat jy tenminste vyf
jaar 'n boer of 'n herder was nie. En om sin van Cicero se briewe te maak, moes
jy ten minste twintig jaar se kennis van 'n land se adminstrasie en bestuur
besit. Niemand verstaan egter die Bybel sonder 'n honderd jaar se saamleef met
die woorde van die profete, Johannes die Doper, Christus en die apostels nie.
Skrifstudie vra jare lange toegewyde studie en navorsing en aan die einde is
ons volgens Luther steeds nog bedelaars. Bedelaars wat steeds nog elke dag om
begrip vir God se woorde moes bid (Oberman 1988:166).
'n
Kenmerk van Luther se teologie is juis hierdie eindelose eksegese van die
Skrif: ‘Luther’s entire work can be understood as a comprehensive, many-faceted
interpretation of the Bible’ (Raeder 2008:365). Op 19 Oktober 1512 het Luther 'n
doktorsgraad in die teologie van die Universiteit van Wittenberg ontvang en hy
moes 'n belofte af lê om die Bybel altyd getrou en suiwer uit te lê. As
professor en doktor in die teologie was sy taak om ‘lectura in Biblia’ te lewer
en dit het hy my oorgawe gedoen. Nie al die destydse teologiese professore het
hulle noodwendig net aan Skrifuitleg gewy nie. Die bekende Gabriel Biel (circa 1420 of 1425 -- 7
Desember 1495) het nooit 'n enkele eksegese-lesing gelewer nie, maar het eerder
'n kommentaar op die werk van Petrus Lombardus (circa 1100 -- 20 Julie 1160)
geskryf. Vir hom was dit 'n belangrike voorstudie tot die eksegese van die
Skrif: voordat 'n jong priester op die wye en gevaarlike oseaan van die Skrif
kon uitvaar, wou Biel hulle eers met Lombardus bekend maak; wou hy dat die
nuwelinge eers die leer van die kerk, soos deur Lombardus verwoord, baie goed
moes ken. Anders gestel: 'n goeie kennis van die teologie en die kerkleer was
'n voorvereiste vir die jong Bybelstudent .
Luther was egter
anders want sy ganse teologiese arbeid was niks anders as 'n konstante eksegese
van die Skrif nie. In een van sy tafelgesprekke vergelyk hy die Bybel met 'n
bos en die bome met die afsonderlike Bybelboeke, en sê dan dat hy het aan almal
geskud en van die vrugte gepluk het (Luther WAT 1, nr 674,9ev). Om egter Luther se verstaan van die Skrif te
begryp, vra 'n diepe kennis van sy persoonlike lewe. Sy eksegese was intens met
sy lewenstryd, sy worstelinge gemoeid (Ebeling 1983). Of soos hy self op 'n
keer gesê het: ‘Sola … experientia facit theologum’ (WA TR I; 16,13 No 46
(1531). Teologie word in en deur die lewe gevorm en in die geval van Luther is
dit in besonder waar.
Hierdie artikel
word dus in sy geheel aan Luther se vroeë lewe gewy. Sy stryd en hoe dit sy
Bybelverstaan en teologie bepaal het.
Alles
het met 'n donderslag begin
Luther
het met die Middeleeuse kerk en die tradisie gebreek. En in dié tyd was die
kerk alles. Dit was die allesomvattende betekenishorison waarbinne die Skrif
verstaan is. Dit het die norm vir alle Skrifuitleg bepaal; dit het die
verstaanskonteks van die Skrif geword; dit het 'die groot eksegeet' geword.
Eintlik was dit ’n wonderlike tyd waarin kerk, geloof en Skrif sonder spanning
bymekaar was. Dit was ook so ’n warm en gerusstellende gedagte: aan die boesem
van die 'mater ecclesia', die moederkerk is die gelowige getroos en daar is hy
geleer om die Skrif te verstaan; in die midde van die kerk en te midde van
soveel ander gelowiges is die Skrif se betekenis eers ten diepste begryp.
Toe dié knusse verhouding tussen
kerk en eksegeet opgehef is, het iets begin wat ons heelwat later ’n
‘historiese lees’ van die Skrif sou noem en wat in die negentiende en
twintigste eeue tot volle wasdom sou kom en wat die Bybelwetenskap tot vandag
toe beïnvloed. En dié eksegetiese kopskuif het op ’n warm dag in Julie 1505
begin.
Terwyl Luther nog so loop, slaan die weerlig vlakby
hom en 'n geweldige donderslag volg. In sy skrik sê hy toe: 'Help my, heilige
Anna, ek sal 'n monnik word'. Hoekom het hy dit gesê? Luther was bang, bang vir
God. Vir ons klink dit onmoontlik, maar in die Middeleeue was God inderdaad 'n
angswekkende figuur. Mense was bang vir Hom omdat Hy die kwaai God was. In die
destydse skilderkuns is Hy ook op 'n skrikwekkende manier uitgebeeld. Hy het op
die wolke gesit en fyn gekyk wie gestraf en wie beloon moes word. Uit God se
regteroor het 'n lelie gegroei en daaronder het die verlostes gewandel. Uit sy
linkeroor weer het 'n swaard gegroei en die mense aan sy linkerkant sou baie ly
(Bainton 1964:15-22).
Waarom het Luther gesê hy sou monnik word? Destyds
is gemeen dat wie 'n monnik word, gered kon word. Wie die klooster betree het,
het 'n goeie kans gestaan om deur afsondering en goeie werke die saligheid te
bekom. Anders gestel: deur sy dae in 'n kloostersel te slyt, kon Luther in God
se goeie boekies kom; deur hom dag vir dag aan die streng kloosterreëls van die
Middeleeue te onderwerp, kon hy God dalk beïndruk en aan sy regterkant beland (vgl
Kooiman 1962:7-15).
Broeder Martin se stryd
Skaars
twee weke na sy groot skrik het Luther hom op 17 Julie 1505 in Erfurt by die
Augustynse klooster aangemeld. Eers moes hy drie vrae beantwoord: Is jy 'n
slaaf wat weggeloop het? Het jy skuld en probeer jy jou skuldeisers ontglip?
Het jy die een of ander verborge siekte? Op al hierdie vrae kon Luther met
oortuiging ‘Nee’ antwoord. Hy was dus 'n geskikte kandidaat vir die klooster.
Aanvanklik moes hy
nederige take soos toilette skoonmaak, verrig. Luther het alles met oorgawe
gedoen. Niks van die kloosterlewe het hom ontmoedig nie. Sy proefjaar het goed
afgeloop en hy het met gemak ingepas. Die dissipline, gebedsure, meditasie en
onderlinge gemeenskap met die ander kloosterlinge het hom goed gedoen. Toe hy
na 'n tyd die priestergelofte moes aflê, het alles vlot verloop. Die hoof van
die klooster en die ander priesters was klaarblyklik tevrede. Broeder Martin
was 'n goeie priester.
En tog was hy
innerlik ongelukkig. Hoe kon hy God beïndruk het? Wat moes hy gedoen het om in
die hemel te kom? Hoe kon hy die ewige lewe bekom het? Met verloop van jare het
hierdie probleem vererger. Telkens wanneer hy die uitdrukking ‘die geregtigheid
van God’ in die Romeinebrief teëgekom het, het hy gesidder. Trouens, het op
nogal dikwels vertel hoe hy Luther het dit verstaan asof God iets van hom gevra
het. Iets wat hy nie kon lewer nie. 'n Geregtigheid wat hom in die hemel sou
laat kom (Luther WA 54,179-187).
Luther het elke dag
gevoel hy skiet te kort en dit het hom amper waansinnig gemaak. Hy moes daarom
baie harder aan sy saligheid werk. En met watter oorgawe het Luther dit nie
gedoen nie. Elke dag het hy sy sondes by sy vrome biegvader, Johannes von
Staupitz, bely. Oortredinge in sy vroegste kinderjare het hy uit sy geheue
opgediep en bely. Dit het so erg gegaan dat Von Staupitz hom naderhand aangesê
het om te stop. Hy sou mal word, maar Luther het aangehou. Al die
vroomheidsoefeninge van sy tyd het hy tot die letter toe uitgevoer (Bainton
1964:27-39).
Niks het egter
gehelp nie. Die onrus het gegroei en Romeine 1:17 het ’n struikelblok gebly. Hy
het ‘die geregtigheid van God’ steeds ‘aktief’ verstaan: hy moes iets doen om regverdig te word. Hy kon egter nie en dit het
sy spanning vererger.
Was
dit so uniek?
Luther het aan depressie gely. ‘Anfechtungen’ het hy dit genoem. Soms was dit so erg dat hy skaars kon werk. Sy angs, sy spanningsvlakke en sy swaarmoedigheid het soms sulke hoogtes bereik dat dit was asof hy in die poorte van die hel gelê het. Die nagte was die ergste. Dan het die worsteling begin en die slaap het gewyk (Ebeling 1983: 27-42).
Dít was egter nie so uniek nie! Protestante is geneig om al dié
worsteling te romantiseer terwyl iemand soos Jean Gerson (1363-1429) sou gesê het dit was doodnormaal.
Gerson was volgens sommige een van die heelbelangrikste teoloë tydens die eerste
helfte van die vyftiende eeu (Schaff 1882:200) en wou gewone mense help om God
te vind, om die Bruidegom te omarm, om hemelse blydskap te ervaar, om by 'n
punt te kom waar God se liefde ervaar is en daar geen vrees meer vir Hom was
nie. Op pad na hierdie eenwording moes
'n mens jouself reinig, jou van die wêreldse genietinge onttrek en moreel reg
leef (Oberman 1992:33-34). Kortom: die gelowige moes self iets doen. En as 'n
mens se weg na hemelse vreugde dan deur worsteling, ‘Anfechtungen’ gelei het, was
dit heeltemal normaal.
Vir
Luther was dit onmoontlik. Hy het wel oor en oor probeer, maar het
telkens misluk. Miskien moet ons sy probleem van 'n anderkant benader en sê die
Middeleeuse teologie kon hom nie met sy probleem help nie.
'n Selfdoen-teologie wat nie gewerk het
nie
Rober Holcot was
'n voorbeeld hiervan. Hy was 'n Engelse teoloog van Northampton
wat tydens die ‘swart dood’ in 1349 gesterf
het nadat hy siekes besoek en vertroos het. Vir Holcot was die saak van
die regverdiging baie duidelik: God het aan die mens die vrye wil en die vermoë
gegee om vir die heil te kies. Hy moes net iets doen. Hy moes net sy
innerlike vermoëns, sy rede inspan en sy bes doen om na God toe uit te reik. En
die uitdrukking wat daarvoor gebruik is, was ‘facit quod in se est’. Uiteraard
was dit nie so maklik nie want die menslike rede is nie in staat om die geloof
sy eie te maak nie. Dit is nie dat die rede teenoor die geloof staan of die
geloof verwerp nie, maar dit het net nie vermoë om die geloof te omvat, te verstaan,
te omskryf nie. Om na God toe uit te reik, het dus hoegenaamd nie beteken dat
die rede afgesweer of 'n blinde geloofsprong geneem moet word nie. Die rede het
net nie die krag om die geloof toe te eien nie.
God
het die mens daarom tegemoetgekom. God het in sy soewereiniteit besluit om sy
vrye genade op die mens uit te stort, maar dan moes hy iets doen: ‘facit quod
in se est’; hy moes al sy natuurlike
vermoëns gebruik om na God uit te reik. En wanneer dit gebeur, het God hom
halfpad ontmoet en hom die ewige heil geskenk: ‘if man goes halfway, God will
meet him with the gift of grace. Without this gift of grace man is helpless; but it is just as true that,
without the full use of man’s own natural powers, the offer of grace is useless’ (Oberman 1992:92).
En
skielik hoor ons Pelagius se stem uit die vyfde eeu in die laat-Middeleeue
klink. Holcot is ook nie verniet een van die ‘Pelagiani moderni’, moderne Pelagiane,
genoem nie. Pelagius het 'n radikale vorm van die vrye wil geleer. Elke mens
was vry om te kies en keuses te maak en dáárom kon hy uit vrye wil vir God, vir
die heil in Christus kies. 'n Mens moet egter Pelagius se tyd verstaan: nadat
Konstantyn die Christelike godsdiens staatsgodsdiens gemaak het, het almal
Christene geword. Vir Pelagius was dit onaanvaarbaar en het daarop aangedring
dat elkeen vir Christus móés kies. En elkeen kón dit doen want God se grootste
gawe aan die mens was die vye wil; die vrye wil waarmee elkeen onbelemmerd vir
God kon kies (Drobner 1994:339-342. Augstinus het uiteraard anders gedink en
gesê dat Adam se sonde die moontliheid van 'n vrye keuse vernietig het; dat die
sonde die mens so verdorwe het dat die heil slegs uit genade verkry kon word.
En toe het die Ou Testament hom gehelp
Tussen 1512 en 1513 het hy as professor in Wittenberg die psalms vir sy studente uitgelê (vgl Köpf 2000:350-362). Een van die kommentare wat hy gebruik het, was dié van Augustinus wat gehelp het om die psalms Christologies te lees. Toe Luther op 'n dag die woorde, ‘My God, my God waarom het U my verlaat’ (Ps 22:2), moes uitlê, het hy dit op Christus betrek. Dit was Hy wat in die Psalm 22 gepraat het, maar waarom het Hy dit gesê? Dit was vir Luther logies waarom hy elke dag hierdie verlatenheid ervaar, maar waarom Christus? En dan volg 'n belangrike insig: Christus het dit gesê sodat hy wat Luther was dit nooit hoef te sê nie. Christus het in sy plek van God verlate gevoel sodat hy dit nooit hoef te ervaar nie (Adam 1968:264-293).
En hier sien ons al iets van die nuwe. Alles is intens geïndividualiseer. Dit gaan nie om die Middeleeuse pous of die kerk nie en die tradisie het hom voorgesê nie. In sy uitleg gaan dit om homself: sy worsteling, swaarkry en soeke na sekerheid; sy emosies en geloofservaring wat vir hom die psalms ontsluit. Die verklaring van die Skrif het dus vanaf die kerk na die individu verskuif (Reventlow 1997:68-90).
Hierdie individualisering van die eksegetiese proses kan nooit oorbeklemtoon word nie. Dalk het dit eksegese 'n eensamer taak gemaak want die “stutte” van die kerk en tradisie het verdwyn en van nou af was dit net die individu, die enkeling wat die Bybel sou lees en sy eie betekenis sou konstitueer. En uiteraard sou dit geweldige gevolge vir die verstaan van die Skrif in die toekoms hê.
Volgende keer let ons op Luther se gebruik van die Psalms.
· Adam, A 1968. Lehrbuch der
Dogmengeschichte, II.
Gütersloh: Gerd Mohn.
·
Bainton, R 1964. Here
I stand. A life of Martin Luther. New York: Mentor Book.
· Burckhardt,
J 1960. The civilization of the
Renaissance in Italy. London: Phaidon.
· Clement,
O 2004. The roots of Christian mysticism.
New York: New City Press.
· Drobner, H R 1994. Lehrbuch der
Patrologie. Freiburg: Herder.
·
Ebeling, G 1983. Luther.
Philadelphia: Fortress Press.
· Grondin, J 2001a. Der Sinn für
Hermeneutik. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft
· Heusi, K
1921. Altertum, Mittelalter und Neuzeit
in der Kirchengeschichte. Tübingen.
· Johnson,
P 2000. The Renaissance. London:
Weinfeld & Nicolson.
· Kooiman, W J 1961. Luther en de Bijbel. Baarn: Bosch &
Keuning.
· Kooiman, W J 1962. Luther – zijn weg en werk. en de Bijbel. Utrecht: Bosch.
· Köpf, U
2000. The institutional framework of Christian exegesis, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen:
Vandenhoeck & Ruprecht, 148-179.
· Leonardi,
C 2000. Aspects of Old Testament interpretation
in the church from the seventh to the tenth century, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen:
Vandenhoeck & Ruprecht, 180-195.
·
Oberman, H 1987. Luther.
Kampen: J H Kok.
·
Oberman, H 1992. The dawn of the Reformation.
· Raeder, S 2000. The exegetical and
hermeneutical work of Martin Luther, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament, vol II. Göttingen: Vandenhoeck &
Ruprecht, 363-406.
· Reventlow, H G 1997. Epochen der
Bibelauslegung, III. München:
C.H. Beck.
·
Schaff, P 1882.
History of the Christian Church , Vol. IV. 20 Grand Rapids, MI:
Christian CLassics Ethereal Library
·
Tarnas, R 2000. The passion of the western mind.
London: Random House.
· Thiselton, A C 1980. The two horizons. Exeter:Pater
Noster.
Versprei die Woord
1 Reaksie op "Geskiedenis van Ou Testament-eksegese, 12: Luther se stryd en die Ou Testament" 
|
se kommentaar op 01 Jun 2010 12:48:44 AM PDT
Stof tot nadenke
|


Author)