Kom ons bely: Jesus het opgevaar na die hemel ….
- Deur Andries van Aarde
- Gepubliseer 24 May 2010
- Artikels
-
Evaluering:




Andries van Aarde
Andries van Aarde se Artikels
Wat
is ’n dogmatiese proposisie?
Uitsprake in die
Geloofsbelydenis van Nicea kom voor in die vorm van proposisies. ’n Proposisie is ’n uitspraak wat geldigheid
het vir ‘n groot groep mense. Dogmatiese
proposisies verwoord egter nie noodwendig iets wat ’n individuele gelowige
persoonlik as eie oortuiging ervaar nie.
Mense kan dit in kerke se diensboeke lees, liturge in eredienste dit
hoor uitspreek of dit selfs as deel van die kerklied sing sonder om self die
saak wat deur die die proposisie uitgedruk word as eie geloofsgoed te
beleef. Om saam met die kerk en soos die
kerk te bely vra ’n toeeiening van die saak wat in die belydenis uitgedruk
word. Tog wil ons graag aanvaar dat, ver
terug in die wordingsgeskiedenis van die dogma, die saak wat in die belydenis
van die dogma uitgedruk word, wel op grond van die godsdienstige ervaring van
gelowiges in interaksie met mekaar ontstaan het.
Metafore in belydenisse
Dogmas is dus belydenis van geloof
uitgedruk in stellings. Geloof handel
oor die verhouding tussen mense en God.
Omdat dogmas die aard van die verhoudings tussen God en mense uitdruk,
word metafore in belydenisse gebruik.
Geen mens kan iets oor God se verhouding met mense verwoord sonder om
beelde uit die wêreld van mense te gebruik nie.
Metafore is daarom beeldspraak wat sin maak vir mense omdat dit uit ‘n
gedeelde historiese konteks kom en uitdrukking is van daardie mense se
belewenis van die werklikheid. Ons wat
vandag die Geloofsbelydenis van Nicea oor sê, lewe egter in ‘n ander tyd as die
vierde eeu toe die vergaderde biskoppe oor bepaalde godsdienstige beeldspraak
ooreengekom het. Hierdie beeldspraak is
deur latere konsilies bevestig, maar dit weerspieël raakpunte met ander
geloofsbelydenisse wat reeds vroeër opgestel is terwyl sommige metafore uit die
Bybel geneem is. Histories gesien is dit
’n vraag of die metafore altyd dieselfde verstaan is, want die historiese
kontekste waarin dit telkens oorgeneem is, het oor etlike honderde jare
verander.
’n
Gelowige kan instemming met die presiese bewoording van ’n dogmatiese
proposisie hê, indien die metafore wat daarin vervat is, steeds vir die belyer,
wat nou in ’n ander tyd en konteks lewe, dieselfde betekenis het as toe die
belydenis ontstaan het. Daar is metafore
wat hulle funksie oor lang tye en in verskillende kulturele kontekste behou. Andere se funksie gaan verlore, wysig of kan
behoue bly maar sosiaal onaanvaar word omdat die kulturele konteks verander
het. Dit is ook moontlik dat eksegese
kan uitwys dat die “leer” wat in die belydenis uitgedruk word, nie met die
evangelie ooreenstem nie. As dit die
kern van die kerk se geloofsbelydenis raak, veral wat die Hervormde Kerk
betref, verwag die kerk dat die eksegeet dan op voorgeskrywe wyse die kerk
hieroor sal inlig. Wanneer die funksie
van metafore in dogmas verval, wysig of onaanvaarbaar word, beteken dit nie
noodwendig dat die SAAK wat die dogma verwoord, noodwendig verval of
onaanvaarbaar word nie. In
belydenisinterpretasie behoort die baba dus nie met die badwater weggegooi te
word nie. Die eksegese van dogmas kan
help om uit te vind hoe die klassieke belydenisse steeds singewend ervaar kan
word. Soms sal dit nodig wees dat
eietydse metafore ingespan moet word.
Hemelvaart
Vandag se gelowiges
lewe in ’n wêreld waar “hemel” en “reise na die hemel” nie meer dieselfde
betekenis het as vir mense in die leefwêreld van óf die Bybel of die vierde eeu
nC toe die Geloofsbelydenis van Nicea ontstaan het nie. Die natuurwetenskap het ons vandag iets van
die planetestelsels geleer en dit beteken dat ons nie meer dieselfde oor ’n
“hemelvaart” kan dink as Paulus of Lukas of Seneka in die eerste eeu nC
nie. Seneka, ’n befaamde skrywer in
dieselfde tyd as Paulus, vertel van die Romeinse keiser Claudius wat na sy dood
na die hemel daarbo (dit is die “lug”) opgevaar het, vandaaruit teruggeruk is
om eerder na die “hel” hieronder (dit is Hades) neer te daal. Die Griekse evangelie- en handelingeskrywer
Lukas, in baie opsigte sterk beïnvloed deur Paulus, vertel weer van Jesus wat
voor die oë van sy dissipels in ’n wolk na bo geneem is en dat twee mans in wit
klere (engele?) vir hulle sê dat Jesus net so na hulle sal terugkeer soos hulle
hom na die hemel sien gaan het. Paulus
skryf in die Romeinebrief: “Christus
Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die
regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Rom 8:34). Dit is hierdie tipe godsdienstige beeldspraak
wat in die kerk se belydenis oor Jesus se hemelvaart ego.
Vóór en ná Nicea
Die proposisie oor
die hemelvaart van Jesus in die Geloofsbelydenis van Nicea bestaan uit drie
stellings: Jesus het na die hemel opgevaar; Jesus sit aan die regterhand van
die Vader; Jesus tree in vir ons. Die
laaste twee sluit direk aan by Paulus se uitspraak in Romeine 8:34. Ook die eerste een, die opvaar na die hemel,
kom by Paulus voor – hoewel in ander woorde.
In Romeine 1:3-4 skryf Paulus dat Jesus op grond van sy opstanding uit
die dood as Seun van God gekroon is. In
’n sekere sin is dit “hemelvaarttaal”.
Net so vind ons “hemelvaarttaal” in Filippense 2:9-11 waar Paulus ’n
lied kreatief aanhaal en sê dat God ná die beskamende dood aan die kruis vir
Jesus tot die hoogste eer verhef het en dat almal in hemel en aarde Jesus as
Here erken tot eer van God die Vader.
Ook
ander gelowige skrywers is deur Paulus beïnvloed, soos die skrywers van 1
Petrus (3:22), Handelinge (2:32-36; 5:3; 7:55-56) en die brief aan die
Kollossense wat ook getuig van Jesus se gaan sit aan die regterhand van God
(Kol 3:1). Die skrywer van Efesiërs is
nie net deur Paulus beïnvloed nie, maar het ook die Kollossensebrief as basis
gebruik. Hierdie skrywer sê: “God het Christus
uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan God se regterhand laat sit, hoog
bo alle bose magte ….” (Ef 1:20).
Soortgelyke “hemelvaarttaal” kom voor in Matteus (28:18), Openbaringe
(onder andere 1:5; 5:13) en Hebreërs (5:5-10).
Dit is veral Handelinge 2:32-36 wat Pauliniese invloed weerspieël,
hoewel die wyse waarop Lukas in hierdie gedeelte na die rol van die Heilige
Gees verwys, besonder tipies van sy eie teologiese denke is.
Romeine
8:34 lyk, histories gesien, ons vroegste getuienis in die Bybel waar ons die
spore van die biskoppe van Nicea se beeldspraak oor Jesus se hemelvaart
aantref. Dit het veral betrekking op die
tipiese taalpatroon van Jesus wat eers
as Seun deur God gestuur word, neerdaal, tot in die dood en dan deur God opgewek word, verhoog word,
tot aan die regterhand van die Vader.
Romeine 8:34 het ook nog die verwysing na Jesus wat vanuit die verhoogde
posisie aan die regterhand van God die Vader vir die gelowiges intree (pleit),
maar die Geloofsbelydenis van Nicea het nie hierdie aspek oorgeneem nie. Ons vind dit wel in die Heidelbergse
Kategismis (Sondag 18) en by implikasie in die Nederlandse Geloofsbelydenis
(Artikel 26). Laasgenoemde koppel die “pleitdooi”
van Jesus vir gelowiges (intercessio)
aan die “hemelvaarttaal” wat in die Hebreërbrief aangetref word. ’n Mens kan
redeneer dat die daaropvolgende proposisie in die Geloofsbelydenis van Nicea
(net soos dié in Geloofsbelydenis van Atanasius) oor die wederkoms en die
oordeel die intercessio insluit. Die Heidelbergse Kategismus maak wel hierdie
direkte koppeling.
Self
meen ek dat ons nie die Pauliniese metafoor van Jesus se verhoging behoort los
te maak van sy gaan sit aan die Vader se regterhand nie, veral nie as ons vra
na die betekenis van hierdie godsdienstige beeldspraak in die Geloofsbelydenis
van Nicea nie. Die 318 biskoppe wat in
325 nC die Konsilie van Nicea uitgemaak het, het nie aanvanklik die metafoor
van die Here se “gaan sit aan die Vader se regterhand” tot die fomule oor die
hemelvaart toegevoeg nie. In 381 nC het
150 biskoppe in Konstantinopel bymekaar gekom om die Geloofsbelydenis van Nicea
finaal vorm te gee en dit is by die Konsilie van Chalcedon in 451
herbevestig. In die latere vorm is die
metafoor “gaan sit aan die regterhand van die Vader” toegevoeg. Die ander wysigings hou hoofsaaklik verband
met die verskille oor die wesensaard van die verhouding tussen die Seun en die
Vader.
Henry
Bettenson skryf in sy versameling van vroegkerklike dokumente (Documents of the Christian Church, bl
41): “The decisions of Nicaea were really the work of a minority, and they were
misunderstood and disliked by many who were not adherents of Arius. In particular the terms ek tes ousias [“vanuit die geestelike wese”
van die Vader] and homousios [hoewel
in eksistensie onderskeidend, “dieselfde wese” deelagtig as die Vader”] aroused
opposition, on the grounds that they were unscriptural, novel, tending to
Sabellianism (taking ousia in the
sense of particualr reality … [en nie as geestelike wese nie]) and erroneous
metaphysically.” Dit wil vir my lyk asof
die besondere Pauliniese toevoeging vanuit die “kategetiese notas” van
Cirillius van Jerusalem geneem is.
Waarskynlik het die toevoeging die bedoeling gehad het om die ortodokse
Nikeaanse tweenatureleer met betrekking tot die verstaan van die uitdrukking homousios te ondersteun.
Paulus
Daar is ’n
tydsverskil van meer as driehonderd jaar tussen die Konsilie van Konstantinopel
en Paulus se skrywe aan die gemeente in Rome.
In Romeine 8:33-34 lees ons: “Wie kan die uitverkorenes van God
aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit;
Hy is uit die dood opgewek. Hy sit aan
die regterhand van God. Hy pleit vir
ons.” Dit lyk my dat Paulus
geïnteresseerd was in die vraag oor waarop dit aankom dat gelowiges Jesus
Christus as Verlosser het.
Volgens
Paulus is die eindigheid van die mens en die skepping asook die sonde en die
dood die werklikheid waarbinne mense lewe – en dit sluit trauma van allerlei
aard in. Maar die oneindigheid is
eintlik die essensie van bestaan. Die
verlange na verlossing is die soeke na oneindigheid. Om verlos te wees veronderstel ’n lewe wat
nie beheers word deur wat menslik of deel van die skepping is nie, maar deur
God se Gees. Só ’n lewe kom neer op ’n
sinvolle en singewende bestaan voor God (dit wil sê in liefdevolle diens aan
God en mekaar) te midde van trauma en ten spyte van dood - in die lewe vóór die dood en ná die dood. Paulus vra (Rom 7:24): “ Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan
verlos? Aan God die dank! God doen dit deur Jesus Christus ons
Here.” Gelowiges is bestem om
“gelykvormig te wees aan die beeld van God se Seun.” Paulus sê: “Julle is een met Christus Jesus”
(Rom 6:11) en op ’n ander plek: “Dieselfde gedagte moet by julle aanwesig wees
as wat in Christus Jesus was” (Filip 2:5).
Vir
Paulus is verkondiging van die dood van Jesus Christus, sy opstanding, sy
verhoging, sy gaan sit aan die regterhand van die Vader en sy pleidooi vir
gelowiges uitdrukking van sy dank aan God dat God deur Jesus Christus ons Here
gelowiges van hulle doodsbestaan verlos het.
Die Ou Testament het vir Paulus die agtergrond gebied in terme waarvan
hy sy beeldspraak gebruik het. Psalm 110
praat van ’n messiaanse koning wat gaan sit aan God se regterhand om daardeur
die onderwerping van vyandige magte te demonstreer. Daniël 7 praat van ’n figuur soos ’n mens wat
op die wolke verskyn en met goddelike gesag alles beheer om sodoende vir die
lydende volk van God oorwinning te bied.
In Egipte vind ons replikas vanuit die farao-wêreld waar standbeelde van
die farao en sy seun (of vrou) aan sy regterhand uitgebeeld word. Hierdie ereposisie toon dat die seun (of
koningin) die hoogste eer ontvang het. In die Grieks-Romeinse wêreld lees ons
in tragedies of satires van die verhoging of neerdaling van gestorwe keisers.
Vir
Paulus is Christus Jesus die Verlosser wat na sy dood met Goddelike gesag
verhoog en met heerskappy oor alle vyandige magte geplaas is. Hierdie magte word genoem ons “verganklikheid”,
ons “sonde”, ons “dood”. In metaforiese
taal word beskryf hoe Jesus Christus hierdie magte oorwin het, nou by God vir
ons intree om namens gelowiges by God te pleit.
Ons lewe kan vergelyk word met ’n situasie waarin ons in die beskuldigde
bank geplaas is waar nie ons nie, maar God ons te midde van verdrukking staande
hou sodat alles vir ons ten goede meewerk.
Hierdie “beskuldiging” kan bestaan uit mense wat ons skade doen,
omstandighede wat ons seer maak, plekke wat ons bangmaak, dinge soos lyding en
dood wat ons liggame aftakel.
Liturgiese
taal
Ons belydenis oor
Jesus se hemelvaart en intrede vir ons word in veral in Openbaring op ’n
aangrypende wyse in liturgiese metafore uitgebeeld. Iets hiervan vind ons ook in die
Hebreërbrief. Net soos in die
Efesiërbrief en by Paulus kom die belydenis in Openbaring in liedvorm
voor. Hierdie belydenis is soos in die
gebruik in sekere kulture (miskien is Psalm 110 ook ’n voorbeeld daarvan) ’n
lofprysing van mense wat by die bewindaanvaarding van ’n nuwe koning hom eer –
’n koning wat volgens verwagting uitkoms op nood bied.
Eietydse
belydenis
As die dogma oor
die hemelvaart in die Geloofsbelydenis van Nicea iets wil sê oor die
onlosmaaklike verband ten spyte van die onderskeid tussen Vader en Seun, is die
“leer” daarin vervat, myns insiens nie in stryd met die evangelie nie. Die koppeling van die “onskriftuurlike”
woorde ek tes ousias en homousios aan hierdie spesifieke
proposisie hoef ook nie hinder nie. Die
belangrikste in hierdie belydenis is egter die ervaring van geloof. In ons natuurwetenskaplike wêreld van
ruimtereise wat alledaags geword het sodat die metafoor “hemel” as spesifieke
ruimte nie meer funksioneel is nie, behoort die vraag te wees: is ons belydenis
oor Jesus se hemelvaart werklik ’n lofprysing wat vanuit ons hart kom, omdat
ons die Bybelse inhoud daarvan konkreet uitleef?
Die saak
waarom dit gaan, is dat ons troos vir lewe en sterwe daaruit bestaan dat ons
aan Jesus Christus behoort. Dit is elke
geslag van gelowiges se keuse om self te besluit watter funksionele beeldspraak
hulle gaan gebruik om die oortuiging te bely dat God dit doen deur Jesus
Christus ons Here.
Versprei die Woord
7 Reaksies op "Kom ons bely: Jesus het opgevaar na die hemel …." 
|
se kommentaar op 25 May 2010 1:44:50 AM PDT
Andries, Ek het gelees. Jy eindig met: "Dit is elke geslag van gelowiges se keuse om self te besluit watter funksionele beeldspraak hulle gaan gebruik om die oortuiging te bely dat God dit doen deur Jesus Christus ons Here." My vraag: "Waar en hoe kan enige nuwe besluit oor watter beeldspraak ookal beslag kry? Wie gaan/kan daaroor 'n beslissing neem?"
|
|
se kommentaar op 27 May 2010 7:58:23 AM PDT
Dit is duidelik tyd om histories-kritiese eksegese van die kerk se belydenisse te doen net soos ons dit doen wanneer ons die Bybel lees.
|
|
se kommentaar op 06 Jun 2010 12:06:31 AM PDT
Om 'n uitdrukking van 'n mens se geloof te verwwoord, sal ook by elke individu baie verpersoonlik word. In watter metafoor dit ook al verwoord word is die basiese waarheid sekerlik die kern van ons belydenis, dat ek in God die Skepper glo, en in sy eniggebore Seun en in die Heilige Gees. Ek vind tog 'n sagtheid hiervan in die artikel in teenstelling met ander standpunte wat ek al oor van Aarde in sy siening van Jesus ervaar het. Van Aarde se slotson beklemtoon dit. Die vraag is dus die éen is wat deur Wouter gestel word nie?
|
|
se kommentaar op 14 Jun 2010 10:05:13 AM PDT
Andries, wat jy skryf is alles goed en waar. Maar ons sal verder moet gaan en dit in meer menslike taal moet formuleer. So bv. het de hemelvaart as metafoor vir my geen ander betekenis as dat die kwaad (destruktiewe) nooit die goeie (kreatiewe) in die skepping kan oorwin (oorheers) nie. Daarom is die hemelvaart vir my niks anders as die triomf van die goeie oor die kwaad. En daarom is die lewe vir my sinvol. Ek leef nie onder die las van die destruktiewe nie. Kyk en lees ek van al die kwaad in die wereld, glo ek nie meer wat ek lees en sien nie. Daarin kan ook die moderne mens vreugde vind as hy/sy die hemelvaart nie as 'n buite aardse gebeure beskou nie. Niemand kan tog verwag dat ons vandag nog kan glo dat iemand in die hemel opgevaar het. Dankie dat jy die gesprek op die tafel gelê het.
|
|
se kommentaar op 28 Jun 2010 10:23:12 AM PDT
Hier is darem lig
|
|
se kommentaar op 15 Jun 2010 1:45:43 AM PDT
Andries praat van metafore van die hemelvaart maar wat van die woordjie "God"? Dit is ook 'n metafoor vir die Onsienlike Wese agter alles. Om te glo hang af van die ontwikkelingsvlak van jou bewussyn en hoe jy mites interpreteer. Geloof word op die mities letterlike vlak vereis maar op die mistieke vlakke met persoonlike ervarings van die Eenheid van Alles, val geloof weg. Die hemel (ook 'n metafoor) is om die eenheid innerlik te beleef en is nie 'n plek nie maar eerder 'n toestand. Jesus, as paradigmatiese metafoor van die ontwaakte mens, se hemelvaart dui op die ervaring van "bliss", die eenheid met "God". Nicea was noodsaaklik in die kerkgeskiedenis maar was ook 'n donker oomblik. Dit het die mistieke en die persoonlike ervaring van God uit die kerk verdryf. Dit is nou tyd dat ons dit terugeis. Om vas te hou aan die geloof in die hemelvaart van die 2de persoon van die Triniteit is teenproduktief. Lees ons die Bybel as metaforiese mites verval baie probleme.
|
|
se kommentaar op 23 Aug 2010 7:40:00 AM PDT
Ek is maar 'n leek in die teologie maar hier is my opinie as Ouderling in die NG Kerk.
Tussen Andries en Wouter is een groot waarheid.
Ek het 'n groot liefde vir die Bybel en ons beleidenis skrifte. Maar, vir 'n te lank tyd is die beleidenis skrifte on-aangetas gelaat en word dit self as hoog heilig beskou. Ek waardeur die sagtheid en voledigheid waarmee die artikel deur Andries gedoen is. ek kry dit nie altyd reg nie.
As ons enigiets uit die Armenuis skande van die Nederduitse Gereformeerde kerk kan leer is dit dat as jy 'n uitspraak maak, jy jou navorsing moet doen en indien nodig die verantwoordelike ding te doen om die saak ter tafel te le by die sinodes voordat jy sterf en onkundiges die saak hanteer en skade aan die kerk eenheid verig. ... Arminiues is dood voordat hy sy navorsing klaar gemaak het!
Ten spyte van wetenskaptike metodes en navorsing is daar geen hervorming van die geloofs beleidenisse nie. Is dit omdat so 'n stap te moelik is en dan los ons dit maar om oor gestry te word.
Ons kan of die sake ter tafel neem soos die vroe kerk leiers of dit soos die oostelike ortodokse kerk leer om nie die kerk te verdeel deur dogmas vas te maak nie. Laas genoemde werk nie eintlik vir ons intelektueel gedrewe westerse benadering nie. Solank dit nie 'n intelektueele spelejie van teoloe word nie, maar 'n verantwoordelike omgang met die woord en die die beleidenis skrifte is en die persoon wat dit doen bereid is om dit op sinode vlak op te neem en uit te le (voordat hy sterf soos in Arminius se geval.)
Ek sou graag wou sien dat die gereformeerde geloof beleidenise in eie tydse taal en metafore opgestel word ( veral die Nederlandse geloofbeleidenis en Heidelbergse Kategismes- wat deur die nuwe generasie van gelowiges geeien kan word om relevant oor God te kan gesels.)
|


Author)