Digby
die Amstelstasie in
Die
Nederlandse simpatie met die Boere tydens die oorlog en daarna is ‘n bekende
feit. Daarom het daar in die eerste deel van die vorige eeu in verskeie stede
buurte met Boere-straatname ontstaan. Maar dit is ook ‘n feit dat daar later
net so ‘n weersin ontwikkel het teen apartheid. Beide hierdie sentimente het
simbolies gestalte gekry langs die Krugerplein, op die hoek van Genl Louis
Bothalaan en Schalk Burgerstraat in die Transvaalbuurt naby Amstelstasie. ‘n
Beeldhouwerk is opgerig wat die gedagte van eenheid, maar ook die gevaar van
verdeeldheid op ‘n baie treffende wyse uitgebeeld. ‘n Arm en ‘n been wat vas
teen mekaar die lug in wys, is uit ‘n ander hoek ingesien, weer in twee gekloof
- asof met ‘n swaard oopgekloof. ‘n Paar meter van die beeld is die straat
opsigtelik verander van Genl. Louis Botha na Albert Luthuli. En voor die
beeldhouwerk is daar ‘n plaat op die plaveisel met die volgende inskripsie:
Wie onder ons is
meer of minder
Monument tegen
apartheid
En racisme
De relatie van arm
en been
Staat voor
menselijke eenheid
In verskeidenheid
De onnatuurlijke
splitsing ervan
Is de moedwillige
ontkenning
Van de eenheid (Pepe Gregoire –
Beeldhouwer)
Ons het toevallig
die middag hier beland. Ons woon omtrent ‘n kilometer weg in ‘n woonstel wat
deur die Vrije Universiteit aan ons voorsien is. Op soek na ‘n supermark waar
ons die nodige
Ons haak
vas voor die fassinerende beeldhouwerk en ontdek dan die inskripsie op die
plaveisel. Terwyl ons dit alles staan en inneem en meegevoer word in ons eie
gedagtes wat spring tussen denkbeelde van oorlog, vrede, verdeeldheid en die
brose eenheid in ons eie land, is daar meteens ‘n oproerigheid rondom ons. ‘n
Polisiekar hou omtrent teen ons stil met mense wat wild en wakker hardloop en
op mekaar skree. Presies wat en waar gebeur het, weet ons nie, maar daar word
oor en weer geskree en vingers gewys. Die polisie sit ‘n paar kinders agterna
en ‘n ander man word vlak by ons deur drie polisiemanne omsingel en ondervra.
Toe alles tot
bedaring gekom het, is daar ‘n moslemvrou (herkenbaar aan haar drag en volgens
voorkoms van Turkse afkoms) wat vlak by ons staan en met die polisievrou praat.
Ons hoor duidelik wat sy sê:
“Dese
Marokane wil altyd de overhand hebben. Ze moeten naar hun land terugkeren!”
Sy staan
met haar voete op die inskripsie. Ek weet nie of sy dit al ooit gelees het nie,
maar duidelik het sy dit nie ter harte geneem nie. Dit maak in elk geval nie ‘n
verskil aan haar ervaring van die etniese onenigheid in hulle klein
Transvaal-buurt nie. Dit is asof die edel motiewe wat in die name en simbole
van die buurt vasgevang is, nie grondgevat het in die gesindheid en verhoudinge
tussen die gewone mense wat daar woon nie. Dalk verteenwoordig die vreemdelingehaat
wat uit die vrou se woorde na vore kom, nie werklik die sentimente van die
meerderheid buutbewoners nie. Nogtans tref dit mens dat sy nie huiwer om in
duidelik hoorbare klanke, op die openbare plein, so ‘n uitspraak te maak nie.
En die feit dat sy dit vir ‘n polisievrou in amptelike drag en voertuig sê,
vertel ‘n verhaal op sigself.
Die
algemene indruk wat mens van die Nederlandse samelewing kry is dat daar ‘n
groot mate van toleransie bestaan. Mense van verskillende kulture en rasse leef
vreedsaam naas mekaar. Maar dit is ook duidelik, veral in hierdie tyd voor ‘n
algemene verkiesing op 9 Junie 2010, dat die saak van vreemdelinge, emigrante
en asielsoekers brandende politieke kwessies is. Onverdraagsaamheid kom
normaalweg nie so blatant na vore nie. En dit is nogal ‘n skok om dit vlak voor
die anti-apartheidsbeeld vlak by die Krugerplein, in die Transvaal-buurt te
ervaar!
Ons is
stil toe ons huis toe stap. Ons is opnuut onder die indruk van die broosheid
van waardes soos respek vir ander, ruimte vir vreemdelinge, vreedsame
naasbestaan, dit wat die Bybel noem naasteliefde. Hierdie waardes word telkens
weer bedreig en dit is duidelik dat dit nooit vanselfssprekend na vore kom nie.
Dis maar ‘n paar weke gelede toe ons in Suid-Afrika ook die rooi ligte van
rasse-haat sien flikker het. Mag ons
daarvan bewaar bly om nie haat aan te blaas terwyl ons, by wyse van
spreke, bo-op die inskripsies van ons geskiedenis met sy verleenthede en
oorwinnings staan nie.