Wie is die historiese Jesus?
- Deur Andries van Aarde
- Gepubliseer 10 September 2010
- Artikels
-
Evaluering:




Andries van Aarde
Andries van Aarde se Artikels
Die “seekers”
Vir bykans twee jaar reeds kom ‘n aantal denkende mense wat hulleself “die seekers” noem, as ‘n gespreksgroep byeen op uitnodiging van die Hervormde Gemeente Wapadarant in
Die grondreëls van die gespreksgroep is dat die lidmaatskap aan enige kerklike denominasie nie ter sake is nie, dat hulle onvoorwaardelik met ‘n oop gemoed hulle kritiese vrae oor godsdiens en die kerk as insituut mag uitspreek, en dat diegene wat om watter rede ook al hulleself nie tuis in die kerk as instituut voel nie, nie onder die dwang van evangelisasie sal verkeer om kerkliklik weer of meer aktief te wees nie. Die kerkraad se bedoeling hiermee is om ruimte te skep vir hulle wat krities staan ten opsigte van konvensionele aanbidding.
Temas wat al bespreek is, sluit in fundametalisme, postmoderniteit, denkmodelle en persoonlikheidstipes in geloofsgemeenskappe, opstandingsgeloof, veelvormigheid van godsdienste, en die vraag: wie is die historiese Jesus? Op laasgenoemde vraag het prof Andries van Aarde die volgende inleiding as sy opinie op skrif gestel:
Wie is die historiese Jesus?
1. Ortodoksie en heterodoksie
Ek glo in …
· in Jesus Christus, sy [= God die Vader se] eniggebore Seun, ons Here;
· wat ontvang is van die Heilige Gees,
· gebore is uit die maagd Maria;
· wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is
en ter helle neergedaal het;
· wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
· wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,
· van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Hierdie “apostoliese belydenis” het die kern en grond van die “ortodokse” Christendom geword. Ook ander vorme van sienings, op grond van die gebruik van die term “ortodokse” versus “heterodokse” sienings oor ‘n “Jesus van die geloof” het in die eerste eeue na die dood van Jesus bestaan. Onder andere is sommige as “gnosties” beskryf en ander weer as “ebionities”.
Soos daar antieke dokumente was waarin die betekenis van Jesus se lewe as byvoorbeeld “gnosties” gesien of as “ebionities”, is die vroegste antieke dokumente wat die “ortodokse” Jesus van die geloof propageer, te vind in die bundel van 28 boeke wat die kerkvader Tertullianus (ca 160-ca 220 nC) as die “Nuwe Testament” beskryf het.
Inhoudelike diskontinuïteit en saaklike verband tussen die historiese Jesus en die verkondigde Christus
Daar is ‘n inhoudelike diskontinuïteit maar saaklike verband tussen die “Jesus van die geskiedenis” en die “Jesus van die geloof” wat die “Nuwe Testament” as sentrale inhoud het. Laasgenoemde het vanaf die agtiende eeu begin bekendstaan as die “kerugmatiese Christus” en eersgenoemde as die “historiese Jesus”.
My historiese (re)konstruksie van die “historiese Jesus” het die volgende resultaat gelewer:
'n Vaderfiguur het nie in sy lewe 'n rol gespeel nie.
Jesus het nie getrou nie en hy was mooontlik 'n ambagsman wat met hout gewerk het.
Hy het in 'n spanningsverhouding met sy familie en die mense van Nasaret gelewe.
Hy het by Johannes die Doper en die kring rondom Johannes aansluiting gevind, maar hom van hulle losgemaak en self aanhangers rondom hom versamel.
Na sy doop deur Johannes die Doper het Jesus 'n singewende rol in die lewe van mense begin vervul – onnder hulle was vroue en kinders wat na die rand van die samelewing gestoot was, die sosiaal-veragtes (weduwees, geskeides en wese, onreines en heidene) vir wie daar in die patriargale samelewing van post-eksiliese
Nadat Jesus die kring van Johannes die Doper verlaat het, was sy lewe gekenmerk deur sy absolute afhanklikheid en vertroue in God as sy Vader.
Die geringes in die Galilese samelewing was sy gehoor toe Jesus met hulle oor sy Vader se koninkryk gepraat het. Hy het hierdie skokkende beeld vanuit die wêreld van maghebbers, eksploiteerders en manipuleerders in onkonvensionele terme in die taal van die landvolk verduidelik.
Vir Jesus was God as 't ware soos 'n paterfamilias (hoof van ‘n uitgebreide familie) in 'n dorpie waar almal in so 'n kleinboerderygemeenskap direkte en onbemiddelde toegang tot die paterfamilias het.
Vir die landvolk was Jesus soos 'n Gees-gevulde messias, 'n wysheidsleraar en geneser, ‘n profeet, ‘n soort 'n populêre messiaanse koning. Hy was gesien soos een van daardie profete wat konings krities aangespreek het.
Op grond van Jesus se populariteit was hy ervaar as 'n bedreiging deur beide die Galilese koning Herodes Antipas ervaar en die owerhede wat in beheer van die Jerusalemse tempel was.
Jesus se wysheid was spreukagtig, maar het die vorm van maklik memoriseerbare stories aangeneem wat dikwels vol was van uitdagende en skokkende metafore; en dikwels het dit oop-eindes gehad wat op verskillende maniere geïnterpreteer kon word en is daarom ook nie altyd eenduidig aan ander en volgende geslagte oorvertel of meer formeel verkondig (=verkondig) nie.
Sy optrede, veral sy genesings,
Jesus het die koninkryk van God nie in die eerste plek voorgestel as 'n katastrofale gebeurtenis in die toekoms wat hierdie-wêreldse lewe op 'n fantastiese wyse gaan vervang en wat vir die lydende regverdiges as 't ware 'n militêre oorwinning oor hulle goddelose vyande gaan beteken nie.
Hy het die koninkryk van God ook nie met aardse koninkryke vergelyk waar menslikheid agter simbole van mag en hiërargie verdwyn nie, maar as 'n huishouding waar troebel verhoudings in mede-lyde en mede-vreugde herstel word en waar God teenwoordig is.
Jesus se onkonvensionele en subversiewe wysheid het die hart van die geïnstitusionaliseerde Jerusalemse tempel se reinheidsideologie (veral ten opsigte van dieet, besnydenis en kalender) aangetas.
Jesus se woorde en dade was so radikaal en onkonvensioneel dat dit nie ten volle deur prominente leiers onder die dissipels verstaan was nie, maar wel deur iemand wat hom nie persoonlik geken het nie.
Dit was naamlik Paulus wat die implikasies van Jesus se evangelie vir dieet, besnydenis en kalender uitgewys het, met ander woorde die vraag of al die regulasies wat jy mag eet en wat nie, wat jy mag aanraak en wat nie, met wie jy ‘n verhouding mag hê of watter relasie onaanvaarbaar sou wees, en of die onderhouding of nie van die Sabbatsdag of ander feesdae, vir God net so belangrik is as vir mense en groepe, omdat hierdie voorskrifte hulle kulturele tradisie sou bewaar en hulleself veilig sou laat voel.
Hierdie implikasies is deur Paulus en ander volgelinge van Jesus beredeneer in terme van die eis om 'n etiese lewe in toewyding aan God en in geregtigheid teenoor alle mense, en wel in die radikale sin van só ‘n toewyding dat martelaarskap gevolg het, en ‘n etiek van radikale inklusiwiteit wat nie diskrimineer ten opsigte van geslag, etnisiteit, nasionaliteit en ouderdom nie.
Jesus het as gevolg van sy subversiewe benadering in konflik gekom met leiers van Galilese dorpe en Fariseërs wat op besoek van Jerusalem was.
In
Jesus was nie deur familie of vriende in 'n familiegraf begrawe nie.
Van die vroegste Jesus-volgelinge het in
In hierdie tyd het die keiserkultus in die Romeinse imperium ook begin om ‘n geïnstitusionerende vorm rondom mark- en keiserlike verjaarsdae aan te neem; die “Christus-kultus” is deur dié se opponente, in sowel die monoteïstiese Judaïstiese as die politeïstiese Egipties-Grieks-Romeinse religieë, gesien as ‘n bedreiging van die keiserkultus.
Hierdie opposisie het aanleiding gegee dat antieke geskrifte ontstaan het wat as offensief en defensief met betrekking tot Jesus se “status” beskryf
Die rol wat Josef as pa van Jesus in sekere dokumente speel, is deel van hierdie apologetiek. Geeneen van hierdie geskrifte, ingesluit dié in die Nuwe Testament, gaan terug tot die periode voor 70 nC nie. Sommige van hierdie geskrifte bevat verwysings na bewerings dat Jesus se verwekking as “illegitiem” beskryf
Hierdie Jerusalemse kultiese gemeenskap het die doop van Johannes die Doper as 'n "doop in die Heilige Gees" geïnterpreteer en dit verstaan as inisiasie tot die "eskatologiese Israel" wat deur die "twaalftal" verteenwoordig word.
Hulle het in
Die kultus se oorlewering van die saak waarvoor Jesus gelewe en gesterwe het, formeel as “kerugma” beskryf word.
Die institusionalisering van “inisiasiedoop” en “seremoniële kultusete” (later bekend as “nagmaal”) was gegrond in die “kerugma” dat God Jesus uit die dood opgewek het.
Herinneringsverhale dat die opgestane Jesus aan sekere mense (onder andere Maria Magdalena, Petrus, Jakobus en Paulus) verskyn het in Jerusalem mondeling die rondte gedoen en is neergeskryf, maar ook op ander plekke buite Jerusalem waar volgelinge van Jesus as kultiese gemeenskap na sy dood bymekaar begin kom het.
Binne so ‘n na-Pase kultiese konteks het volgelinge begin praat van Jesus se messiaanse verhoging tot mag, en het bewyse daarvoor in hulle (Hebreeuse) heilige skrifte gevind
Hulle het met behulp van verwysings in die hierdie heilige skrifte, en ook vanuit die Grieks-Romeinse keiserkultus, Jesus as ‘n verhoogde aanbiddingsfiguur met verskillende erename vereer, byvoorbeeld Seun van die mens, Christus, Seun van God, Here (Kurios), die Alfa en die Omega, Kneg van God, ensovoorts.
As deel van die martelaarstradisie het die kerugma oor en die kultiese deelname aan Jesus se dood en opstanding bygedra dat die volgelinge van Jesus in ‘n toenemende vyandige wêreld kon oorleef (“cope”).
Die aanloop tot en die bestendiging van die “Konstantynse Christendom” het die kerk in ‘n instituut van mag begin verander.
Die skadelike gevolge van mag in die Konstantynse Christendom, en die gegewene van dat mense bewustelik, maar baie keer onbewustelik, na mag strewe, het dikwels gevolge wat as verraad téén die Jesus-saak beskryf móét word. Daarom is die ondersoek na die “historiese Jesus” nie net wenslik nie, maar baat die geloofwaardigheid van die kerk daardeur; dit is ook noodsaaklik dat die soeke na die “historiese Jesus” oor-en-oor moet plaasvind, al bied die ondersoek net hoogstens waarskynlike resulate.
Die moontlikheid/onmoontlikheid om wetenskaplik te
· beskikbare bronne,
· hulle wording-, oorlewerings- en vertalingsgeskiedenis,
· hulle genre in en briefvorm of verhaalvorm,
· hulle na-Pase kerugmatiese inhoud (dit wil sê dat Jesus se geboorte en sterwe deur God geïnspireer is, dat Jesus tot die hemel verhoog is, erename ontvang het, en dat Jesus Here van hemel en aarde is totdat die skepping geheel vernietig is),
· die nie-geobjektiveerde psigosomatiese ervarings van religieuse trans (alternerende state van bewussyn) waarna sommige tekste verwys,
· en die tekste se “ortodokse” (kanonieke) of “heterodokse” (apokriewe) status.
In die teologiese en eksegetiese wetenskap is in die loop van meer as twee honderd jaar metodologiese kriteria ontwikkel om, teen die agtergrond van bogenoemde kompleksiteit, ‘n wetenskaplike ondersoek na die historiese Jesus te doen.
Die Jesus-saak
Wat vir my uitstaan, is dat daar ‘n ooreenkoms in saak is tussen die Jesus van die geskiedenis en die Jesus van die geloof, ten spyte van die inhoudelike verskille tussen wat Jesus gesê en gedoen het en wat sy volgelinge daaroor gesê het. Rudolf Bultmann het treffend hierdie dialektiek beskryf toe hy gesê het dat die naam “Jesus” die raakpunt tussen geskiedenis en geloof is. Jesus wat die bevryder was, is vir hulle wat in Hom glo, die verlosser. Eberhard Jüngel meen soos ek dat Paulus se woorde in Romeine 1:17, te wete “deur geloof alléén sal die mens lewe”, een van die mees kompakte samevattings is van die saak waaroor beide die Jesus van die geskiedenis en die Jesus van die geloof dit het.
Wat inhoudelik nie gekontinueer is nie, is die na-Pase kerugma dat die dood en opstanding die sentrum van die betekenis van Jesus se lewe vir gelowiges is. Die historiese Jesus het dit nie só gesê nie.
Vir Jesus was die eksistensiële betekenis van die oortuiging dat die koninkryk van God ‘n werklikheid vir die híér en die nóú is, die sentrum van sy woorde en dade. Die kerugma het hierdie inhoud saaklik anders vertolk.
Die historiese Jesus was self nie ‘n Christen nie en hy het nie soos wat Christen-gelowiges later gegelo het, sy eie dood bewustelik gesoek met die bedoeling dat dit ‘n offer vir ander se sonde sal dien nie. Wat Jesus geleef en verkondig het, was dat dit nou die beslissende tyd is om vir God te kies bó eie selfbehoud of bewaring van tradisie. Later het Christen-martelare hierdie boodskap saaklik vertolk as dat Jesus vir hulle in dood en herlewe voorgegaan het.
Jesus het dit ook nie as belangrik beskou dat jy ‘n heteroseksuele man met gesin, deel van ‘n bepaalde nasionaliteit en etnisiteit, ‘n sekere moedertaal het, bepaalde kos eet en vir God op voorgeskrewe plek en tyd aanbid nie. Hierdie Jesus-saak is deur onder ander Paulus ná sy bekering uitgeleef en verkondig. Soms het Paulus daarin geslaag en ander kere, soos ander volgelinge van Jesus tot vandag toe, glad nie.
Vir ons die hedendaagse volgelinge van Jesus bly die oproep om gehoorsaam aan Jesus se saak te wees, steeds ‘n uitdaging. Daarom behoort ons nie op te hou om te soek na die historiese Jesus nie – weer en weer.
Versprei die Woord
21 Reaksies op "Wie is die historiese Jesus?" 
|
se kommentaar op 11 Sep 2010 10:26:14 PM PDT
Prof. van Aarde se " soekers", skep die indruk dat hul soeke daarop gemik is om lesers nie histories te begelei nie, maar eerder te verwar, alhoewel ek glo met goeie bedoelings. Ek het respek vir mense se geloosuitinge, maar somtyds wonder ek of die historiese soeke soos deur hierdie groep in die artikel verwoord regtig singewend is?- Ek beoordeel dit maar liefs as die groep se antwoord op die ewige retoriese vraag aan elkeen van ons: " Wie sê julle wie is ek?". Daarom respekteer ek hul sintese, maar voel begenadig om te kan sê: " U is die Christus.........!!!!"
|
|
se kommentaar op 11 Sep 2010 10:26:15 PM PDT
Prof. van Aarde se " soekers", skep die indruk dat hul soeke daarop gemik is om lesers nie histories te begelei nie, maar eerder te verwar, alhoewel ek glo met goeie bedoelings. Ek het respek vir mense se geloosuitinge, maar somtyds wonder ek of die historiese soeke soos deur hierdie groep in die artikel verwoord regtig singewend is?- Ek beoordeel dit maar liefs as die groep se antwoord op die ewige retoriese vraag aan elkeen van ons: " Wie sê julle wie is ek?". Daarom respekteer ek hul sintese, maar voel begenadig om te kan sê: " U is die Christus.........!!!!"
|
|
se kommentaar op 13 Sep 2010 2:52:30 AM PDT
Baie dankie, Prof, vir 'n duidelike uiteensetting van 'n baie komplekse saak.
|
|
se kommentaar op 14 Sep 2010 2:19:37 AM PDT
Prof van Aarde sê: "Die historiese Jesus was self nie ‘n Christen nie en hy het nie soos wat Christen-gelowiges later gegelo het, sy eie dood bewustelik gesoek met die bedoeling dat dit ‘n offer vir ander se sonde sal dien nie." My vraag is: Watter historiese bewyse / getuienis het hy vir hierdie uitspraak? Die mees betroubare historiese getuienis wat ons het (nl. die 4 evangelies in die Nuwe Testament [nie Paulus nie]), maak almal baie daarvan dat Jesus voor sy dood reeds herhaaldelik sy dissipels probeer voorberei het daarop dat Hy in Jerusalem sou sterf. Dat Hy dit gesien het as die noodgedwonge vervulling van die profesieë. En dat Hy dit eers na sy opstanding aan sy disippels kon verduidelik, want hulle kon die bloot net nie aanvaar voor die tyd nie.
U sê heeltemal tereg dat Jesus nie 'n Christen was nie, maar maak niks van die feit dat Hy wel 'n Jood was nie (met die volle betekenis van iemand wat grootgeword het met die Torah en die Profete en logies Sy hele bediening in die lig van "die Skrifte" sou beskou). Die "laaste avondmaal"/nagmaal was juis 'n Joodse pasga-maaltyd wat verband hou met die Fees van bevryding uit Egipte waar die bloed van die paaslam die Israeliete (Jode) verlos het van die laaste plaag wat die begin was van hulle uittog uit Egipte. Die implikasie is duidelik uit die manier waarop Jesus self die aspekte van die ete (nl. die brood en die wyn) interpreteer het... Hy self is die Paaslam van God vir hulle verlossing.
Waar ek sal toegee dat ons kan praat van die "verkondigde" Jesus in teenstelling met die historiese Jesus, is wanneer die uitspraak gemaak word dat Jesus nou aan die regterhand van God sit (op grond van o.a. Ps.110) wat natuurlik nie deur enige van die skrywers van die Nuwe Testament gesien is nie (met die uitsondering van visioene soos bv. beskryf in die Openbaring van Johannes). Maar dit is in my opinie uiters spekulatief om dit wat deur die betroubaarste historiese geskifte beskryf word as die getuienis van ooggetuies (wat spesifiek uitgesoek is omdat hulle feitlik permanent by Hom was deur sy aardse bediening en ook van sy opstanding oogetuies was) as nie-histories te tipeer.
Ek dink dis goed dat daar na die historiese Jesus gesoek word en ek stem saam dat daar na Konstantyn 'n verkondigde "Jesus" verskyn het wat min met die werklike, historiese Jesus te doen het. Maar dit lyk vir my altevol asof die manier waarop daar na Hom gesoek word reeds 'n denkbeeldige Jesus geskep het en dan die beste historiese dokumente wat ons het, ignoreer of selektief gebruik om 'n "historiese Jesus" te skep wat net so min met die werklike Jesus te doen het.
|
|
se kommentaar op 15 Sep 2010 6:45:21 AM PDT
Nie een van die evangelie skrywers het Jesus ooit ontmoet of hom geken nie. Ongeveer 82% van die woorde wat aan Jesus toegeskryf word in die evangelies is nie van Jesus self afkomstig nie. Die evangelie skrywers was in beheer van hulle verhale, amper soos 'n hedendaagse reggiseur van 'n film of toneelstuk. Hulle kon byvoorbeeld karakters sekere dinge laat sê sodat dit 'n sekere boodskap kon kommunikeer, soos deur die skrywer bepaal is. In die lig hiervan is dit so dat woorde as't ware in Jesus se mond gelê was om hom soos 'n Christen te laat klink. Markus laat Jesus byvoorbeeld die volgende sê: 'Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle Hom doodmaak, en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan (vgl: Mark 9:31). Die Johannes evangelie wemel van woorde wat kwalik deur Jesus gesê kom gewees het. Hoekom het skrywers dit gedoen? Ek dink die skrywers het dit gedoen, nie net om mense tot die (natuurlik vroeë) Christendom te bekeer nie, maar grootliks om bymonde van Jesus, gesag aan hulle eie woorde en boodskappe te verleen.
Nogtans dankie vir die interresante bydra en groetnis!
|
|
se kommentaar op 27 Sep 2010 3:46:57 AM PDT
Daniël, jy sê: "Nie een van die evangelie skrywers het Jesus ooit ontmoet of hom geken nie. Ongeveer 82% van die woorde wat aan Jesus toegeskryf word in die evangelies is nie van Jesus self afkomstig nie."
Net een vragie: waarop baseer jy hierdie uitspraak??? Ons Mattheüs-evangelie is volgens alle historiese dokumente waarvan ek weet, die Griekse vertaling van 'n Hebreeuse of Aramese dokument wat deur een van Jesus se 12 apostels (alhoewel nie een van die "binnekring" van Petrus, Johannes & Jakobus nie) geskryf is. Markus lyk volgens interne getuienis (Mark.14:51-52) of hy dalk wel vir Jesus gesien het, alhoewel nie 'n apostel nie en volgens die historiese getuienis tot ons beskikking, het hy sy evangelie grootliks op Petrus se ooggetuienis gebaseer. Lukas self beweer dat hy sy evangelie op die getuienis van ooggetuies baseer (Luk1:1-4) en stem grootliks ooreen met die ander 2 sinoptiese evangelies. Die Johannes-evangelie is volgens interne en eksterne getuienis deur een van Jesus se 12 apostels geskryf (bv. Joh.21:24-25).
|
|
se kommentaar op 29 Sep 2010 12:33:52 PM PDT
Chavoux, ek sou graag baie kortliks wou reageer op jou opmerkings. Wanneer mens die evangelies onder oë het moet jy nooit die lang ontstaans geskiedenis daarvan vergeet nie. Aanvanklik was daar 'n lang mondelinge oorlewering gewees. Verhale is van geslag tot geslag mondeling oorvertel. Dis later eers neergepen. Om geloofwaardigheid aan hulle eie boodskappe te verleen, soos wat ek dit kortliks hierbo genoem het, het die evangelie skrywers Jesus sekere dinge laat sê, selfs geskryf dat hulle hom met hulle eie oë gesien het, of gehoor het wat Jesus gesê het, selfs saam met hom geëet het.
Daar mag nooit uit die oog verloor word nie, dat die verskeie evangelies in verskeie tydperke ontstaan het en onder sekere omstandighede. Elke evangelie skrywer het onder die spesifieke omstandighede 'n sekere boodskap vir sy spesifieke hoorders ingedagte gehad met sy spesifieke Jesus beskouing. 'n Noukeurige leser sal agterkom dat die Jesus beskouing van die evangelies nogal drasties van mekaar verskil. Ons behoort verder ingedagte te hou dat die antieke mens in 'n voor-wetenskaplike tyd gewoon, gewerk en geleef het. Dit beteken, dat hierdie skrywers nie regtig, soos ons vandag, geïnterreseerd was of dit waaroor hulle geskryf het werklik gebeur het, aldan nie. Verhale is vertel om die een of ander verskynsel of gebeurtenis te verklaar. Mens sou eerder vandag na die betekenis van verhale moet soek, as die letterlik of feitelikheid daarvan. Op hierdie manier sou mens reg laat geskied aan hierdie verhale.
Groetnis!
|
|
se kommentaar op 02 Feb 2011 11:04:19 AM PDT
Daniel, ek weet waar kom jy aan hierdie teorie oor die ontstaan van die Evangelies. Het jy enige bewyse daarvoor? Historiese navorsing wys dat die eerste drie evangelies reeds binne die tweede geslag na die kruisiging in omloop was. Waar kom jy aan die idee dat dit mondelings "van geslag tot geslag" oorgedra is? En op grond waarvan kan jy of enigiemand anders beweer dat die Evangelieskrywers Jesus sekere dinge "laat sê" het? Het jy 'n ander weergawe van sy woorde?
|
|
se kommentaar op 14 Sep 2010 1:52:05 PM PDT
Prof van Aarde glo duidelik nie in die Jesus soos oorgelewer deur die apostels nie (hoewel hy graag speel met woorde soos dat ons "steeds moet soek vir die historiese Jesus" (kamma)). Elkeen is geregtig op 'n opinie, maar om te suggereer (soos sy kollegas) dat teoloë wat die "ortodokse" Jesus aanhang eintlik dan nie "krities" of "oop-denkend" is nie, is 'n volgens 'n my oneerlike en misleidende stelling. Daar word dikwels na die "Jesus Seminar", "Seekers" en "Nuwe hervormers"verwys as die "krities-denkende" teoloë. Die sekulere media is natuurlik ook lief vir hulle. Wat beteken dit eintlik? Dat die duisende Bybelgeleerdes wat nie die sg. "hoër-kritiese" teoloë soos Bultmann ondersteun nie, "eng" is. Mark Roberts (wat uit 'n liberale Harvard college kom), se boek "Can we trust the Gospels?" wys duidelik hoe subjektief die metodologie van hierdie stroom "krities-denkendes" is, en waarom hy steeds die apostoliese geloofsbelydenis ondersteun. Die professore by TUKS het dit klaarblyklik lankal reeds verwerp of verwring om by die tydsgees aan te pas.
|
|
se kommentaar op 15 Sep 2010 12:05:00 PM PDT
Cobus, ongelukkig is die apostoliese geloofsbelydenis ook maar geskryf binne 'n bepaalde tydperk met sekere gedagtegange. Dis ook maar net tydgebonde, nie tydsgerig nie. Groetnis!
|
|
se kommentaar op 16 Sep 2010 9:05:12 AM PDT
Ongelukkig is die apostoliese geloofsbelydenis en ander vroeë Christelike geloofsbelydenisse ook maar geskryf binne 'n bepaalde tydperk met sekere gedagtegange. Daar is bronne wat beweer dat hierdie geloofsbelydenisse ongeveer in die tweede eeu ontstaan het, maar eers in die vierde eeu gefinaliseer is. In hierdie tyd is daar 'n hewige debat in die kerke van Egipte tot Klein-Asië begin deur Arius, 'n presbiter van Alexandrië. Hy vra: 'Hoe kon Jesus God wees op dieselfde manier as God die Vader?' Sommer baie kortliks, het die woordjie homo-ousios in hierdie tyd 'n belangrike rol gespeel. Die term kon enersyds wesenseenheid beteken het of anersyds wesensgelykheid. Hierdie is tipiese argumente van 'n Grieks-Romeinse wêreld en kultuur. Dis teen hierdie agtergrond wat vroeë Christelike belydenisse gelees en verstaan behoort te word. Met al die kennis en navorsingsresultate van die Bybelwetenskappe asook ander wetenskaplike dissiplines dink ons vandag in vele opsigte anders oor Jesus en God. Nuwe belydenisse is daarom ook geen vreemde verskynsel in ons tyd en era nie. Groetnis!
|
|
se kommentaar op 22 Sep 2010 7:17:54 AM PDT
Dankie Prof van Aarde, dit is 'n goeie voorbeeld van 'n eerlike en openlike poging in ons soeke na die beste moontlike waarheid en die pogings mag nooit gestaak word nie. Persone wat nie saamstem nie kan dit kritiseer of ignoreer maar ons wat graag wil verstaan was lank genoeg geignoreer. Sekere gelowiges verkies om kennis, geloof en ervaring te integreer en ander glo dalk makliker.
|
|
se kommentaar op 26 Sep 2010 12:03:35 AM PDT
Die Kerk van Christus word geskaak deur teologiese kulkunstenaars
|
|
se kommentaar op 27 Sep 2010 1:14:08 AM PDT
Dankie Gert - dis een van die beste verduidelikings wat ek nog gehoor het oor die sg. (self-verklaarde) "krities-denkendes"!
|
|
se kommentaar op 27 Sep 2010 1:24:30 AM PDT
Goed gesê, Gert! Al wie die sogenaamde "denkendes" kan voorhou, is 'n gestroopte Jesus, op dieselfde vlak as Mohammed of Moeder Theresa. My Jesus is die Seun van die Lewende God, die enigste Een wat in die hele kosmos waardig was om die boekrol van Openbaring 5 oop te maak, die Een Wie se Bloedoffer aan 'n houtkruis op Golgota versoening vir my sonde by die Lewende God bewerk het.
|
|
se kommentaar op 27 Sep 2010 2:31:12 AM PDT
Goeie navorsing en baie moeite(m.i.),maar ons het eintlik nie 'n godsdiens van rituele nie,wel leef ons in 'n afhankilike verhouding met 'n lewende Here wat die voltooiing is van God se belofte vir 'n nuwe tydperk vir die aarde,Luk 24;47-49..Ons het nie soseer 'n klomp dogma nie,maar eerder getuienisse van ervaring met die lewende Here.
|
|
se kommentaar op 27 Sep 2010 4:42:55 AM PDT
Dankie vir so 'n helder uiteensetting van u bevindings. Daar is baie wat ek oortuigend vind, al is ek in die algemeen redelik skepties oor die moontlikheid om op goeie gronde 'n "ware" verhaal agter die beskikbare tekste te rekonstrueer, en al vind ek iemand soos Richard Bauckam se argumente dat die vier evangelies grootliks op ooggetuieverslae berus en histories taamlik betroubaar is ook baie oortuigend. Inhoudelik is ek geneig om met daardie Nuwe-Testamentici saam te stem wat die evangelies se vertellings as ou Jesus se dood aan die hande van die Jerusalem-elite voorsien en bewustelik tegemoet gegaan het. Ek besef egter ook dat, op 'n suiwer historiese vlak, dit gissings bly. Kyk maar hoeveel historiese-Jesus-verhale doen tot vandag toe die ronde.
Iets wat die saak kompliseer, is dat mense se interpretasie van die beskikbare gegewens onvermydelik beinvloed word deur hul lewensbeskoulike voorveronderstellings. Daarby kom dan nog dat, in die wetenskaplike geskiedskrywing, "bonatuurlike" faktore nie in ag geneem word nie. Dis ook reg so. Dit beteken egter dat die bevindings van sulke ondersoeke nie kan geld as argument teen die "bonatuurlike" faktor nie, want dit sou op 'n sirkelredenasie neerkom: dit wat by voorbaat buite rekening gelaat word, word dan by nabaat "bevind". 'n Baie goeie hantering van hierdie problematiek sover dit die wetenskap in die algemeen betref, maar ook spesifiek met verwysing na die historiese vraag oor die opstanding, word deur Marcel Sarot gegee in sy boek 'De goddeloosheid van de wetenschap' (waarby 'goddeloosheid' nie as kritiek nie, maar positief bedoel word: die wetenskap, ook die geskiedswetenskap, moet 'goddeloos' wees, maar daarom ook sy perke ken.
|
|
se kommentaar op 29 Sep 2010 5:55:00 AM PDT
Dis tragies dat teoloë wat nie ag gee op Jesus se woorde dat ons soos kinders moet glo as ons die Koninkryk wil ingaan nie, hulle ongeloofsteologie aan ons wil afsmeer. Die histories Afrikaanse kerke betaal reeds 'n duur prys omdat ons nie daadwerklik teen hierdie dwaalleraars optree nie. Ek is 'n NG predikant, maar ek voorsien nie dat my eie kinders eendag in die NGK 'n tuiste sal vind tensy God ons begenadig met 'n herlewing wat ons fakulteite van dwaalleer sal suiwer nie.
|
|
se kommentaar op 02 Oct 2010 7:23:41 AM PDT
Na 10 jaar in die VSA keer ek terug Suid Afrika toe, en ek staan verstom. Dat die kerk waarin ek groot geword het, die kerk van my ouers en voorouers, haar so maklik laat mislei het. Voorwaar geskaak deur teologiese kulkunstenaars. Tragies.
"Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.
Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!
Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!"
(Galàsiërs 1:6-9)
|
|
se kommentaar op 08 Oct 2010 2:06:45 PM PDT
Net 'n paar opmerkings en 'n paar vrae.
As ek ( seker ons almal) na films en fotos van Lower Manhatten in New York kyk, dateer ons dit dadelik as pre- en post 11 September 2001.
Handelinge eindig met Paulus onder huis arres maar met redelike vrye toegang tot besoekers.. Dit kom ook nie voor asof die Romeinse owerheid hom
vreeslik vyandig gsind was nie. Dit skep tie indruk van die tydperk voor die groot brand in Rome. Christene is skynbaar daarna eers vervolg omdat Nero hulle vir die brand blameer het.
Handelinge is dus of voor die brand of baie jare daarna geskryf.
UIt 'n Christelike oogpunt is die vernietigng van Jerusalem ook 'n uitstaande gebeurtenis. Net Jesus se "profetiese rede" verwys daarna , As dit nie 'n "Profesie" was nie dan is die eerste verwysing daarna (Markus?) voor die val van Jerusalem geskryf . Is Handelinge 'n verhaal wat volg op Lukas se evangelie? Waarom stop Handelinge dan by Paulus se huis arres en is daar niks oor die groot brand nie ?
Hoe akkuraat is ons datering van gebeure uit die verre verlede?
Dit geld ook die datering van antieke dokumente ( nie net die Bybel boeke nie). Baie nie- godsdienstige geskrifte wat as redelik akkuraat beskou word, se oudste bewaarde eksemplare het 'n groter tydsverloop tussen gebeurnetnis en die oudste beksikbare dokument as wat geval is met Nuwe Testeamentiese geskrifte. Is hierdie stelling waar?
Johan
|
|
se kommentaar op 12 Sep 2011 3:12:22 PM PDT
Ons ken Jesus nie anders as deur die medium van storie nie. 'n Interessante vraag is dan: Was die outeurs van die vier evangelies debuutskrywers (first time writers)? Die antwoord is duidelik nee, gegewe die struktuur van begin-middel-slot, die motiewe wat ontwikkel word, die spanningslyn, die (oorspronklik) dramatiese oop einde van bv. Markus, die variërende tematiese klemtone van die onderskeie skrywers, en so meer. Agtergrondstudies van die evangelies dui lank reeds aan dat die verhale gekomponeer is vir verskillende gehore (lesers) in verskillende omstandighede. Dit is dus intensionele verhale wat 'n bepaalde effek wil bereik. Natuurlik is Gerrit Brand reg dat dit nie by voorbaat die bonatuurlike element uitsluit nie. Daardie element moet egter nie in die inhoudelike detail van die verhaal gesoek word nie, wel in die effek van die verhaal as geheel. Met ander woorde, waarom het skrywers sulke verhale gekomponeer?M.i. was dit apologetiese verhale ten dienste van die nuwe godsdiens, onder andere om kritiese vrae te antwoord.
|


Author)