5. Gevolgtrekking

Sentraal in die bundel is die bewussyn van die verbygaan van dinge, die vlietende hede, van ons onvermoë om tyd te verstaan en ewigheid. Daarmee kom ook die onvermoë om onsself te ken en verstaan – die self is immers 'n "ineenstortende samestelling wat oopgaan op 'n beierende niet van waar 'n gewaarwording gebore word wat afhanklik is van 'ek' om tot 'n wete te kom"

Om egter van hierdie gewaarwording tot 'n wete te kom is die "gedigdink" daar. Soos 'n geliefde, waarvoor hy telkens wag, kom die moment na hom en in daardie vang van die metafoor, in die liefde-maak met die woordtorinkies, word die holtes gevul en kan tyd deur die vertelvel momenteel gevang word (soos om wind te ving). Steeds skuiwend, soos alle metafore juis nie vas is nie. En daarom laat dit meer reg geskied aan ons beskrywings van die wêreld van steen en been, al skiet dit te kort om die flikkering van die vlam vas te vang.

* * * *

Ons gee by UJ, met hierdie prys, erkenning aan die werk wat as die beste skeppende werk uit die vorige jaar geag word. Die keuse van die nege beoordelaars vir die werk uit 2007 was eenparig. Ja, en ons wat hierdie toekenning maak is self bewus van al die gebreke van beoordeling, die probleme met pryse vir kuns. En miskien is prys die verkeerde woord vir die oorhandiging wat ons doen. Eintlik gaan dit immers nie om 'n kompetisie soos die Comrades van eergister nie. Eintlik gaan die UJ-toekenning vir my om iets gans anders. Veral vanaand: Dit is vir my 'n dankie aan die maer man met die groen trui wat nie alleen die landskap van die Afrikaanse poësie radikaal verander het nie, maar wat my lewe radikaal beïnvloed het. Ek onthou hoe ek as skoollaaitie by familielede TV gaan kyk het omdat ons nie een gehad het nie. Ek het gegaan om na Haas Das te gaan kyk maar het langer gebly en op die nuus verneem van 'n digter se hofsaak. Eers veel later het ek jou gedigte begin lees en al wat ek weet is dat die verbysterende metafore my maniere van dink oor god en kerk en volk en taal en wêreld en identiteit geskuif het. Die wonder van metafore is dat dit mens dinge laat saamdink wat jy nie andersins sou kon nie, dit maak heeltemal ander maniere van kyk moontlik. En omdat jou verse dit al vir 44jaar doen, is die toekenning vir my ook 'n dankiesê vir die dinkmoontlikhede wat die kanteldenke van jou verse vir my moontlik gemaak het.

Dames en here, Kyk, hy is onskadelik, wees hom genadig.

Bronnelys
Augustinus' Belijdenissen. 1940. Vertaling en Inlijding van Dr. A. Sizoo. Delft: Naamloze Vennootskap W.D. Meinema.