‘n Lewe sonder beperkings deur Nick Vujicic,
Vokome vergifnis deur RT Kendall,
Wanneer God mense nuut maak deur Bennie Mostert,
Die Klassieke Kinderbybel Storieboek vertel deur Johan en Nina Smit.
‘n Lewe sonder beperkings deur Nick Vujicic
Volle bibliografiese besonderhede
Titel: ‘n Lewe sonder beperkings. Inspirasie vir ‘n ongelooflike lewe.
Outeur: Nick Vujicic
ISBN: 987-1-77000-994-3
Afrikaanse uitgawe: 2011
Vertaler: Hester Fourie
Prys: Onbekend
Paginae: 226
Nick Vujicic is van Serwiese afkoms. Sy ouers het onder die Kommunistiese onderdrukking in die destydse Joegoeslawië na Australië geëmigreer. Daar is Nick sonder arms en sonder bene gebore met net ‘n stompie van ‘n voet. Die boek is hoofsaaklik sy outobiografie. Hy skryf eerlik oor sy ouers se skok en afgryse toe hy gebore is, hoe hy die spot van kinders op skool moes verduur, hoe hy soms op die rand van selfmoord gehuiwer het omdat sy toekoms leeg en donker gelyk het, en ook hoedat hy tevergeefs gebid het dat God vir hom arms en bene moes gee. Die wonderwerk het egter nie gebeur nie.
Uiteindelik het Nick van homself en sy eie ellende begin wegkyk. Hy het besef dat al die hindernisse wat hy moes oorkom, van hom ‘n sterker mens gemaak het. Hy het ‘n doelbewuste keuse gemaak om voluit vir die lewe te gaan en ten spyte van sy gebrek, elke geleentheid aan te gryp wat na sy kant toe kom. Sy geloof in God was ‘n belangrike bron in sy lewe. Sy boek is bedoel om mense aan te moedig wat op moedverloor se vlakte sit en deur probleme oorweldig word. Hy gee praktiese raad hoe om deur donker tye te kom, en hoe ‘n mens positief kan reageer, selfs al werk alles nie uit soos wat jy gehoop het nie.
Die boek is nugter en met humor geskryf, en kan nogal inspirerend wees.
Vokome vergifnis deur RT Kendall
Volle bibliografiese besonderhede:
Titel: Volkome vergifnis. Om te vergewe is God se pad tot volkome vryheid.
Outeur: RT Kendall
ISBN: 978-1-77000-912-7
Afrikaanse uitgawe: 2011
Vertaler: Emmerentia Steyn
Prys: R89,95
Paginae: 192
Om ‘n wrok teen iemand te koester kan jou hele lewe vergal. Hierdie boek wil mense aanmoedig om te lewe as mense vir wie God volkome vergewe het, en daarom ook ander volkome moet vergewe. Die skrywer is betreklik nugter daaroor dat volkome vergifnis nie beteken dat ‘n mens alles goedpraat wat gebeur nie. Misdade soos kindermolestering en verkragting moet beslis aangemeld word. Dit is nie waaroor die boek gaan nie. Hier gaan dit oor seerkry situasies in die alledaagse lewe. En dis voorwaar ook nie ‘n maklike proses nie. Verder beteken volkome vergifnis ook nie vergeet nie. Soms is dit wel nodig om te onthou wat gebeur het, maar sonder die negatiewe emosies. Een van die voorbeelde wat Kendall gebruik, is die verhaal van Josef en sy broers, en verder ondersteun hy sy argumente met ‘n aantal tekste uit die Bybel. Die finale stap is as ‘n mens so ver kan kom om vir jou vyande te bid, en uiteindelik is vryheid en innerlike vrede die gevolg van volkome vergifnis.
Die boek kan nuttig wees vir diegene wat wel wraakgedagtes teenoor ‘n ander koester, maar die teologiese gronde is ietwat verdag, veral die gedagte God jou sal seën indien jy wel vir jou vyand bid. En die wondergenesings wat volg op volkome vergifnis aan die einde van die boek, oortuig ook nie.
Wanneer God mense nuut maak deur Bennie Mostert
Volledige bibliografiese besonderhede:
Titel: Wanneer God mense nuut maak. Herlewings wat mense verander het.
Outeur: Bennie Mostert
ISBN: 978-1-77000-949-3
Uitgawe: 2011
Prys: 99,95
Paginae: 268
Die outeur beweeg sistematies deur die geskiedenis van die Christendom en staan stil by groot momente van ‘bekering’. Hy begin by die boek Handelinge, gaan dan na die Reformasie en kyk ook na ander bewegings elders in die wêreld: VSA, Engeland, Indië, en die Verre Ooste, en ook Suid Afrika. Kenmerkend van herlewingsmomente is ‘n diep bewuswording van sedelike en morele verval, ‘n angs vir die hiernamaals, die ewigheid en die hel, en oorweldigende emosies wat mense ineen laat stort en laat huil. Wondergenesings, praat in tale, en profesieë deur jongmense is ook nie ongewoon nie.
Die boek is waarskynlik daarop gerig om Christene moed te gee deur te wys op wêreldwye tekens van herlewing. Maar die motivering is angs vir die hel, daarom kies jy die hemel; straf (tot in die nageslag) vir ateïste, en seën vir gelowiges en hul nasate (vgl p 43). Kernboodskap aan die wêreld: draai of braai!
Angs was nog nooit instrumenteel om iemand van harte te oortuig nie.
Die Klassieke Kinderbybel Storieboek vertel deur Johan en Nina Smit
Volledige bibliografiese besonderhede:
Titel: Die Klassieke Kinderbybel Storieboek.
Outeurs: Johan en Nina Smit
ISBN: 978-1-77000-937-0
Uitgawe: Julie 2011
Prys: 149,95 (hardeband)
Paginae: 420
‘n Bybel vir kinders is seker die heel moeilikste taak wat ‘n outeur kan aanpak. Die omvang van die stof is só wyd en só uiteenlopend dat outeurs noodgedwonge ‘n keuse moet maak. Die teikenmark van hierdie uitgawe is kinders van 8-12 jaar oud, en die keuse het geval op die meer positiewe en ‘opbouende’ verhale in die Bybel. Uiteraard word voorkeur aan die narratiewe gedeeltes verleen en die vertellings verloop chronologies vanaf die skepping in Genesis tot en met die herskepping in Openbaring.
Daar kan baie teologiese kritiek teen so ‘n aanbieding ingebring word. Byvoorbeeld, die wysheidsliteratuur, die Psalms en die Pauliniese en deutero-Pauliniese korpus kom glad nie aan die bod nie. Bittermin word van die profetiese boeke gemaak. Maar – en ek weet niks van kindersielkunde nie – die geldige vraag is, of hierdie boeke ‘n jong leser nie dalk heeltemal sal afskrik nie! Die doel van ‘n Kinderbybel is tog om ‘n positiewe gevoel oor die Bybel as sodanig te kweek.
Wat ek wel kan sê, is dat die verhale in eenvoudige verstaanbare taal oorvertel word, en die illustrasies is knap gedaan. Kinders sal dit beslis geniet. ‘n Mens kan maar net hoop dat hulle nie by die Kinderbybel vashaak nie, maar spoedig die rykdom en kompleksiteit sal ontdek van die Boek wat ons die Bybel noem.