Volle bibliografiese besonderhede

Outeur: Willie Mc Loud

Titel: Op soek na Abraham en sy God

Subtitel: ‘n Studie oor die hisotirisiteit van die Genesis-verhale

Uitgewer: Griffel Uitgewery

Plek: Kaapstad

Datum: 2012

Paginae: 122, bibliografie en kleurplate ingesluit

ISBN: 978-1-920424-53-4

Soos die titel weerspieël, is die vertrekpunt van die boek Abraham. Mc Loud se standpunt is dat Abraham se voorsate in Ou Sumerië gewoon het, en dat sekere van hierdie tradisies saam met die Bybelse Abraham na die land Kanaän toe gekom het. Die Bybelse tradisies en die latere Israelitiese godsdiens het dus Sumeriese wortels. In die boek word veral die verhale in Genesis 2-14 behandel, dit wil sê, vanaf die tweede skeppingsverhaal tot by Abram se ontmoeting met Melgisedek. Die skrywer betoog deurgaans dat die gebeure wat in hierdie hoofstukke beskryf word, regtig plaasgevind het en gebruik ook argeologiese getuienis om dit te besvestig. Byvoorbeeld, die Elamitiese inval waarna  Genesis 14 verwys, bevestig dat Abraham ‘n werklike historiese figuur was, aangesien Mesopotamiese tekste ook hierdie gebeure opteken (p 15).
          Die argeologiese inligting asook die geskiedenis van Sumerië is interessant, en die kleurplate aan die einde van die boek is verhelderend. Dit gee die leser ‘n baie goeie agtergrond van die wêreld waarin die gebeure afspeel. Mc Loud stel sy lesers dan ook aan tekste bekend – veral Sumeriese tekste – wat die deursnee Afrikaanse leser nie ken nie. Name soos Enmerkar (p 29), Etana (pp 38-40), Adapa (pp 43-44) en Lugalbanda (pp 85) is immers nie name wat jy aldag hoor nie. Hierdie karakters word binne ‘n bepaalde historiese milieu geplaas en hulle word ook aan die verhale of mites wat op hulle betrekking het, gekoppel.
          Die bespreking oor verskillende godename, El Sjaddai en El-Elyon (pp 57-66) laat blyk dat die skrywer deeglik met antieke tale en tekste, sowel as die Sumeriese panteon en Kanaänitiese Baäl-mites vertroud is. Een van die belangrikste hoofstukke in die boek is sekerlik hoofstuk 7, die bespreking oor die drieverdiepingkosmos. Die antieke mens se siening oor die wêreld word uiteengesit en met nodige illustrasies toegelig. Mc Loud bring hierdie atieke wêreldbeskouing met verskillende Sumeriese en Bybelse tekste in verband. Dis ‘n komplekse wêreldbeeld wat alte maklik deur die hedendaagse mens as ‘naïef’ afgemaak word. Want daar is ook ‘n ‘onsigbare kosmos’ wat direk by profete en sjamane (hoofstuk 8) se ervaringe aansluit, naamlik die dat hulle die vermoë kry om die godewêreld – die onsigbare kosmos - te betreë.
           Mc Loud skryf sy boek om die betroubaarheid van die Bybelse verhale deur middel van argeologiese getuienis te bevestig. Die waarheid van die Bybel is te vinde in werklike historiese gebeure: die skepping / vloed / spraakverwarring ensovoorts het regtig gebeur en daarom is die Bybel waar. Abraham en Moses was werklike historiese figure, en daarom kan ‘n mens die Bybel glo. Die Bybel is ‘n betroubare en gesaghebbende bron van die geskiedenis. Mc Loud skaar homself aan die kant van die ‘behoudende teologie’ en daarmee daag hy die standpunt van die Bybelwetenskappe uit, onder andere dat die ontstaan van baie van die Genesis-verhale na die tyd van die ballingskap of selfs na die tyd daarna herlei kan word.
          Myns insiens forseer hy die teks in die argeologie in. Die argeologie kan en moet bevestig dat die Bybel waar is, want slegs dan kan ‘n mens dit alles glo. Maar, om die tekste met argeologie en harde historiese feite te laat klop, misken die intensie van die Bybel: dit wil juis nie ‘n betroubare gesaghebbende bron van die geskiedenis wees nie. Anders as wat Mc Loud beweer, is die Bybelwetenskappe hoegenaamd nie daarop uit om die historiese bestaan van die Abraham-figuur te betwyfel of om ‘n streep deur die waarheid te trek en daarmee die Bybel as verkeerd te bewys nie. Die Bybelwetenskappe vra net ander vrae. In die eerste plek – wat Abraham betref – kyk die Bybelwetenskappe na die tekste oor Abraham. Want oor Abraham het ‘n mens slegs tekste, en boonop tekste wat mekaar weerspreek (bv Gen 15 en 17, en lees dit ook saam met Gen 16 en 21). Die vraag is dan nie na Abraham as historiese figuur nie, maar na die teologie – of teologieë rondom die Abraham-figuur. Deur tekste het Ou Israel nie ‘n historiese Abraham nie, maar ‘n teologiese Abraham en sy God beskryf. En dít is die Bybelwetenskappe se soektog: nie ‘n historiese Abraham nie, maar ‘n Abraham soos wat Ou Israel hom verstaan het.
           ‘Op soek na Abraham en sy God’ is ‘n interessante en insiggewende boek oor die argeologie en die geskiedenis en godsdiens van Mesopotamië: die gedagte dat argeologiese getuienis die verhale in die Bybel en daarmee die Bybel self as ‘waarheid’ bevestig, kan egter nie sondermeer aanvaar word nie.