Being Missionary Being Human – an overview of Dutch Reformed Mission deur Willem Saayman.
- Deur Nelus Niemandt
- Gepubliseer 1 August 2008
- Boeke
-
Evaluering:




Nelus Niemandt
Nelus Niemandt se Artikels
Saayman, W. 2007. Being Missionary Being Human – an overview of Dutch Reformed Mission. Pietermaritzburg:Cluster. ISBN:9781875053650 Prys R60-00
Willem Saayman is ‘n baie gerespekteerde Missioloog wat die NG Kerk se sendinggeskiedenis goed ken en Suid-Afrika passievol liefhet. Hy pak die grootse taak om langer as 350 jaar se sendinggeskiedenis van die NG Kerk oorsigtelik te beskryf vanuit die sosiale verstaan van geskiedenis aan en poog doelbewus om die geskiedenis van die Afrikaner in die verhaal van die NG Kerk, en andersom, te lees en in te skryf (2007:3). Vandaar ook Saayman se titel Being missionary - being human. Die sendingverhaal van die NG Kerk (die being missionary van die kerk) word vanuit menslike perspektief en die groot gebeure in die Afrikaner se geskiedenis (being human) toegelig. Saayman kies dus vir ’n interdissiplinêre benadering wat die noue wisselwerking tussen kultuur, godsdiens en die politieke ekonomie respekteer – baie in die trant van De Gruchy in sy belangrike werk The church struggle in South Africa (1986: Kaapstad: David Phillip). Konteks en roeping, omstandighede en missionêre bewussyn, vul mekaar aan (:19).
Saayman kies ook om die sosiale geskiedenis te verstaan vanuit die perspektief van golwe van verandering. Daarmee verwys hy na omvattende sosiale bewegings wat vanuit ’n geloofsgemeenskap opwel, daaroor spoel en so ’n geloofsgemeenskap, maar ook die breë gemeenskap, meesleur en die lewens van die meerderheid lede van die geloofsgemeenskap aanraak (2007:9). Hy ondersoek die redes vir die ontstaan van die opwelling van sendingbetrokkenheid in die NG Kerk en die wisselwerking tussen geestelike herlewing en alledaagse politieke en ekonomiese gebeure.
Die boek verteenwoordig in baie opsigte eerstes: die eerste sosiale geskiedenis van die NG Kerk se sendingwerk; die eerste wat die konsep van golwe van verandering in ’n boek oor die NG kerk ontwikkel; die eerste wat die verwikkeldheid van die geskiedenis van die Afrikaner en die NG Kerk se sendingwerk in ’n breë sosiale konteks plaas en daaruit interpreteer. Die meriete van die boek spreek reeds uit die innoverende aanwending van hierdie eerstes. Volgens Saayman het 4 groot golwe wat oor Suid-Afrika gespoel het, sendingentoesiasme hoog in die lewe van die NG Kerk gelig op die deining van die geskiedenis:
o Die 1ste golf (1779-1834) beskryf die eerste sendingwerk van die NG Kerk binne die raamwerk van die vrylating van slawe en die ontstaan van ’n koloniale samelewing aan die Kaap. Die datering begin met die petisie van Vryburgers aan die Kaap aan die Here XVII aangesien dit een van die belangrike temas van die geskiedenis inlui – die evolusie van die nedersetting aan die Kaap van ’n verversingspos na die begin van ’n kolonie (:14). Die betrokke era eindig in 1834 met die Groot Trek en die vrylating van slawe. Die pionierswerk van twee predikante, HR van Lier en MC Vos, staan midde-in hierdie golf van verandering. Saayman (:28-34) beskryf hulle werk onder die slawe en Vryburgers met besondere klem op die feit dat beide predikante se opvoeding, agtergrond en piëtistiese spiritualiteit hulle op besondere maniere toegerus het vir hulle sendingwerk. Die kenmerke van die 1ste golf kan kortliks as volg opgesom word:
- Die sendingontwaking in Europese Protestantse kerke het die groeiende identiteitsvorming van die koloniste aan die Kaap aangevul. Dit is ‘n geval dat Van Lier en Vos die regte persone op die regte tyd was om die golf van sendingontwaking te ry en ’n bediening met belangrike gevolge te begin.
- Beide leraars was goed toegerus om die nuwe klas Vryburgers aan die Kaap te motiveer tot betrokkenheid by sending. Hulle sukses dien ook as bewys van die bepalende rol wat predikante in die mobilisering van lidmate vir sending kan speel.
- Hoewel beide Vos en Van Lier gebore en getoë gereformeerdes was, het die Piëtisme hulle bediening sterk bepaal. Dit het sedertdien ’n bepalende kenmerk van die sendingwerk van die NG Kerk gebly (:41).
- Die NG Kerk se sendingwerk het veral op slawe, die groep wat die duidelikste as nie-Christene geïdentifiseer kon word, gefokus. Saayman is egter krities oor die rol wat ’n skuldige gewete in die fokus gespeel het.
- Die 1ste golf lei die institusionalisering van rassisme in die Suid-Afrikaanse samelewing in.
o Die 2de golf (1867-1939) beskryf die sendingwerk van die NG Kerk as grense wat verskuif. Die belangrikste temas van hierdie tydvak is die ontwaking van Afrikaneridentiteit in omstandighede van verstedeliking en industrialisasie. Die 2de golf begin met die ontdekking van diamante naby Kimberley (1867) en die aanbreek van ’n nuwe era van myne en industrie in Suid-Afrika (:46). Die golf spoel uit in die 2de Wêreldoorlog en die gepaardgaande verdeeldheid in Afrikanergeledere oor deelname aan die oorlog. Saayman beskryf die impak van die 2de Anglo-Boereoorlog en die bediening van Andrew Murray jr. op die NG Kerk as bepalende gebeure in hierdie era. Saayman beskryf onder andere die volgende kenmerke van die 2de golf:
- Die Skotse invloed op NG Kerk.
- Die groot oop gebiede in Suid-Afrika bied unieke geleenthede aan NG Kerk vir sendingwerk.
- Die ervaring van Afrikaners dat God hulle met ‘n spesiale roeping in Afrika geplaas het, dien as motivering vir sendingwerk sowel as regverdiging vir die kolonialisering van die land.
- Die groot rol wat predikante speel in die mobilisering van lidmate vir sendingwerk.
- Die feit dat sendelinge ook betrokke geraak het by sosiale aksies dui op hulle kommer oor mense se geestelike en fisiese nood.
o Die 3de golf (1954-1976) word beskryf as die verskuiwing van innerlike grense. Die era moet verstaan word vanuit die institusionalisering van apartheid as juridiese en staatkundige raamwerk en sosiale sisteem onder die leiding van die Nasionale Party. Dit begin met die eerste stappe in die herskikking van die staatkundige opset om Apartheid te vestig en eindig met die aanvang van die Soweto-opstand van 1976 en die begin van ’n nuwe fase in die swart bevrydingstryd. Saayman teken die belang van die Tomlinsonverslag (oor sosio-ekonomiese ontwikkeling van die tuislande) en die Eiselenverslag (oor swart onderwys). Dit is juis hierdie verslae wat nuwe insig onder NG lidmate in die wêreld van swart Suid-Afrikaners gebring het en gelei het tot ’n nuwe golf van sendingwerk (:74). Saayman lewer ’n besondere bydrae tot die verstaan van die NG Kerk se sendingwerk met die uitgebreide aantekening van die rol van swart plaasskole (:78-95). Hoewel hy ’n aantal (soms voorlopige) bevindinge maak, open hy op vaardige wyse ’n nuwe terrein van ondersoek deur sosiale wetenskaplikes en sendingkundiges. Enkele kenmerke van die 3de golf gee insig in Saayman se verstaan daarvan:
- Die bestaan van twee afsonderlike wêrelde in Suid-Afrika – ’n wit en swart wêreld. Die Tomlinsonverslag het wit Suid-Afrikaners genoop om innerlike grense oor te steek en die wêreld van swart mense te verken.
- Die saambestaan van rassisme en sendingywer. Hy poog om die paradoks van die saak toe te lig en wys op die idealisme onder Afrikaners om erns te maak met die uitdagings wat die Tomlinsonverslag aan die orde gebring het.
- Die NG Kerk raak baie betrokke by opvoeding, gesondheid en ontwikkeling.
- Die teologies-filosofiese kontinuïteit tussen die NG Kerk en die Nasionale Party.
o Die 4de golf begin in 1990 met pres. FW de Klerk se aankondiging in die Parlement oor die ontbanning van swart bevrydingsbewegings en die begin van die nuwe Suid-Afrika. Dit lei ’n nuwe era van sendingywer tot aan die einde van die aarde in. Saayman wys op die meer omvattende verstaan van die NG Kerk se sendingtaak wat in dié era omskryf word as ’n wyer bediening van die wêreld en ganse mensdom. Die omvattender gerigtheid kom veral in gemeentes tereg met ’n verskuiwing van sendinginisiatief weg van sinodes na gemeentes (:107). Hy bespreek twee gevallestudies om die punt te staaf. Die feit dat die 4de golf nog besig is om te breek noop Saayman om sy omskrywing van kenmerke van die era versigtig en voorlopig te formuleer:
- Hy wys op die identiteitskrisis by NG lidmate weens die vinnige politieke ver-andering in Suid-Afrika en beskuldig die NG Kerk dat sy haar lidmate nie genoegsaam pastoraal versorg het in die omstandighede nie.
- Die finansiële las wat met sendingwerk in arm Afrika gepaard gaan, het tot gevolg dat NG lidmate eerder op hulle eie mense fokus (:121). Saayman se argument gaan mank aan deeglike motivering en selfs ’n oorsigtelike lees van verslae wat by NG sinodes dien, toon aan hoe die verskuiwing van fokus na gemeentes baie meer fondse en hulpkragte vir sendingwerk ontsluit het.
- Baie gemeentes is betrokke by sending ver buite Suid-Afrika se grense – dalk weens verhoogde internasionale mobiliteit.
Saayman sluit die werk af met ’n aantal omvattende gevolgtrekkings. Dit wissel van die erkenning van die rol van vroue in sending (:128) tot ernstige kritiek op die NG Kerk wat haar rol in die institusionalisering en handhawing van apartheid volgens hom nog nie genoegsaam en openbaar erken het nie (:135). Die gevolgtrekkings bied ’n geheelbeeld oor die wisselwerking tussen roeping en konteks, tussen die menslike en missionêre aard van kerkwees, en bied as sulks baie stof tot nadenke.
Being missionary - being human bied ‘n vars perspektief op die sendinggeskiedenis van die NG Kerk en die beskrywing van die 4 golwe gee ‘n verantwoordbare raamwerk vir die verstaan van die interaksie tussen konteks en sending.
Versprei die Woord
1 Reaksie op "Being Missionary Being Human – an overview of Dutch Reformed Mission deur Willem Saayman." 
|
se kommentaar op 02 Aug 2008 8:10:54 AM PDT
'n Eerste indruk op grond van die resensie - dus nie die boek nie - is dat soos wat Johannes du Plessis al aan die begin van die twintigste eeu uitgewys het, sendinggeskiedenis en landsgeskiedenis in Suid-Afrika "saam loop". Die vraag is natuurlik of dit in die "materie" van die verlede self lê en of dit vanuit die konteks (en veral met die kennis van agteraf) op die "materie" afgedruk word. 'n Skema van buite-af, dus. Twee voorbeelde. Een: is die datums wat Saayman kies, werklik datums wat met die sendingwerk/benadering/beleid van die NGK saamhang of kies hy sosio-politieke datums en skryf vanuit húlle "invloed" op die sendingwerk van die NGK, sy verhaal? Klaarblyklik laasgenoemde. 'n Datum wat van veel groter belang vir die sendinggeskiedenis van die NGK was, is 1881, toe 'n aparte kerkverband op kleurgrondslag gevorm is (die ou NGSK); 'n datum wat veelseggend van 'n bepaalde kerkbegrip en sendingbeleid spreek. Die spieëlbeeld-datum van 1881, is 1982 - die aanvaarding van Belhar. Wie doen nou aan wie sendingwerk? Belhar was 'n evangeliese getuienis na die kant van die "moeder", nie waar? Wat die sg. "sendingwerk" van die NGK betref, was 1982 duidelik van veel groter betekenis as bv. die politieke datum 1976! As periodisering dan so belangrik is... Twee: die resensie laat blyk dat daar in Saayman se skematisering en benadering van die geskiedenis, steeds nie weggekom kon word van die wanpersepsie wat so diep in die NGK gewortel lê, nl. dat sendingwerk iets is wat blankes aan/onder swartes/bruines doen/gedoen het (en evangelisasie = wit afgedwaaldes en Portugese en Jode?!). So bly die NGK se sendinggeskiedenis dus steeds vasgevang in die geskiedenis van slawerny, apartheid of die stryd daarteen. As jy al in 1956 'n NGSK het wat haar eie 75-jarige feesvieringe reël (1981 weer... én met 'n ander inslag!), hoe kan jy dit dan nog sommer so veralgemend as "sendinggeskiedenis" reken? Nee, noem dit die geskiedenis van die NGK-familie of ekumene of kerk en politiek in SA, maar nie sendinggeskiedenis nie. Anders versterk dit net die wanpersepsie: sending = swart.
Maar goed, ek sien daarna uit om die boek self te lees...
|


Author)