Fundamentalisme: 02
- Deur Gerda de Villiers
- Gepubliseer 28 September 2008
- Artikels
-
Evaluering:




Gerda de Villiers
Gerda de Villiers se Artikels
Inleiding
Vroeg in 2006 het Alphonso Groenewald ‘n artikel op teo.co.za geplaas waarin hy die algemene kenmerke van fundamentalisme bespreek het en ook op die gevare gewys wat dit vir die Kerk inhou. In die lig van die beroering wat Angus Buchan tans landwyd in Christelike kringe van alle Christelike denominasies veroorsaak, fokus hierdie artikel spesifiek op fundamentalisme soos wat dit vanuit Amerika oorgespoel het. Alhoewel fundamentalisme ‘n wêreldwye verskynsel is en inderdaad in alle godsdienste aangetref word, het dit ontstaan binne die Christelike Protestantse denominasies in die VSA van die twintigste eeu.
Fundamentalisme
Amerika, vroeg in die twintigste eeu, was aan die voorpunt van ‘n moderne, sekulêre wêreld. Konserwatiewe Protestantse kringe het hierin ‘n bedreiging vir die tradisionele en morele Christelike waardes gesien. In die ‘Princeton Theological Seminary’ onder konserwatiewe Presbiteriaanse akademici het ‘n Fundamentalistiese beweging wortel geskiet wat later, tydens die 1910 Algemene Vergadering van die Presbiteriaanse Kerk, die vyf fundamentele beginsels van geloof uitgespel het: inspirasie van die Bybel deur die Heilige Gees as onfeilbare Skrif; die maagdelike geboorte; Christus se dood as versoening vir sondes; sy liggaamlike opstanding; die historiese werklikheid van sy wonderwerke. Die doel van die beweging was om ortodokse Protestantse Christendom te bevestig en te verdedig teen die aanslag van die liberale teologie, historiese kritiek van Duitsland, Darwinisme en ander soortgelyke denke. Die sogenaamde ‘Monkey trial’ in 1925, ‘n saak wat teen die onderwyser John T. Scopes gemaak is omdat hy Darwin se evolusieleer in ‘n hoërskool in Tennessee aan leerlinge bekend gestel het, is ‘n bewys van hoe ernstig en invloedryk hierdie beweging gesien is. Na die Eerste Wêreldoorlog het Fundamentalisme ook versprei na konserwatiewe kringe van die Baptiste en ander Christelike denominasies. Kenmerkend was ‘n nostalgiese hunkering terug na die simboliese waardes en ‘rotsvaste sekerhede’ van die verlede.
Die Fundamentaliste het sterk separatistiese neigings getoon. Hul sterk godsdienstige en morele beginsels moes ook sosiaal sigbaar wees. Hulle het byvoorbeeld nie gerook of alkohol gebruik nie; hulle het nie gaan fliek nie; vroue het nie langbroek gedra of hul hare kort gesny nie; mans daarenteen het nie hul hare laat groei nie; vroue het nie oordadige juwele of grimering gedra nie; seksuele gemeenskap was bedoel vir die monogame heteroseksuele huwelik en slegs binne so ‘n huwelik; egskeiding was sonde; en ander soortgelyke opvattings. Hierdie amper a-sosiale houding het daartoe aanleiding gegee dat Fundamentalisme op ‘n negatiewe, pejoratiewe wyse aan ‘verkramp’ gelyk gestel is.
Evangelisme
In 1947 identifiseer Harold Ockenga ‘n beweging binne Fundamentalisme wat dieselfde beginsels ondersteun, maar wat tog daarvan afgeskei het en hy noem dit ‘neo-evangelism’. ‘Evangelism’ kritiseer enersyds Fundamentalisme dat dit afsydig en onbetrokke teenoor die wêreld staan, en andersyds die liberale teologie dat dit die waardes en norme van die samelewing ondersteun en daardeur die beginsels van die geloof verloën. ‘Evangelism’ propageer ‘n middeweg: hulle omhels die hedendaagse sekulêre wêreld en kultuur, maar op ‘n positiewe wyse. Tegnologie, die media, ensovoorts word aangewend om die Boodskap te versprei. Musiek is byderwets, maar verkondig die ou-ou boodskap van die Evangelie. Hul kleredrag weerspieël die neiging van die tyd, maar is nie seksueel uitlokkend nie. In die wêreld, nie van die wêreld nie, is die slagspreuk.
Groot herlewingsbewegings is tipies van ‘Evangelism’. Gelowiges word aangespoor om meer aktief en toegewyd te wees in hul spirituele verantwoordelikhede teenoor God en medemens. Hulle moet terugkeer na die basiese Christelike tradisies en morele beginsels en nuwe waarde daaraan heg. Hulle moet altyd onthou dat God die Een is wat herlewing inisieer. Hy is die Een wat mense uit hul geestelike dood na nuwe lewe roep. Gelowiges moet hulself egter hiervoor oopstel, anders sal God hulle nie help nie. Godsdienstige herlewingsbewegings maak gewoonlik ‘n sterk appél op die emosies van gelowiges. Sulke byeenkomste word gekenmerk deur samesang, handeklap, emosionele lag en huil, en persoonlike openbare getuienisse. Die uitkoms is ‘n nuwe of hernieude persoonlike toewyding. Godsdienstige formalisme word heeltemal oorboord gegooi en lekepredikers beklee dikwels ‘n prominente rol. Die outoriteit van die Skrif staan altyd sentraal wanneer aanspraak gemaak word op berou, bekering en wedergeboorte en geloof in Jesus Christus.
Deur aan te sluit by die tydsgees glo die ‘evangelicals’ dat hulle daartoe bydra om Protestantisme as’t ware te laat herleef binne ‘n sekulêre samelewing. Die Evangeliese erfenis moet binne die onderskeie Christelike kerke opnuut toegeëien word, maar binne ‘n pakket wat vir die moderne mens ontvanklik en begryplik is. Teen die einde van die twintigste eeu staan hierdie beweging bekend as Evangelism, en is die mees invloedryke beweging in Amerikaans Protestantse kringe.
Opvattings
Alhoewel daar beslis nuanses en verskille onder die opvattings van die Fundamentaliste en die Evangelicals is,
Daar is ‘n onwrikbare vertroue in die Bybel as onfeilbare Woord van God. Die enigste ware geloof is geloof wat gebaseer is op ‘n letterlike interpretasie van die Bybel. Dit is die enigste manier waarop die goddelike waarheid geopenbaar word. Hierdie goddelike openbaring word nie deur menslike interpretasie gefilter nie, maar word duidelik en sonder twyfel deur ‘n transendente mag gekommunikeer. Al wat ‘n mens dus nodig het, is die essensiële, stabiele en ewige waarheid van die heilige teks. Sommige strominge maak erns met die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste om die letterlike Skrif beter te begryp. Nogtans word die insigte van historiese kritiek verwerp, en word ‘n letterlike interpretasie voorgestaan. Groot waarde word aan die historiese betroubaarheid van die Skrif geheg. Daar is egter ander kringe wat ontken dat tradisionele tersiêre opleiding nodig is om die teks van die Bybel te verstaan: dit is immers so dat die Bybelse waarheid vir almal toeganklik is, en dat almal, selfs die kleinste kind dit
Gevolgtrekking
Alles is nie net sleg nie. Herlewingsbewegings het in die verlede goeie gevolge opgelewer. In die laat agtiende en vroeg negentiende eeu het Engelse Evangelistiese bewegings sosiale kwessies aangespreek en in die laat negentiende eeu het die Heilsleër tot stand gekom om armes en uitgeworpenes te ondersteun. Ook vandag doen Evangelistiese groepe baie welsynswerk, ook in Suid Afrika onder armes en behoeftiges.
Maar waar flikker die gevaarligte?
Op Bybelse gronde word byvoorbeeld aborsie, homoseksualiteit en natuurlik feminisme veroordeel. Aborsie is moord; homoseksualiteit is sonde; die man is die hoof van die huis en sy vrou moet aan hom onderdanig wees. Feministiese kritiek is in hierdie verband korrek: die gebruik van die Bybel op hierdie manier roep net weer ‘n patriargale bedeling in die lewe wat vroue- en kinderregte ondermyn.
‘n Verdere probleem is wanneer die moeilikste vrae van die lewe met maklike oplossings uit die Bybel beantwoord word. Dit geld veral die teodisee-vraag - soos wanneer die ontydige dood van ‘n jong kind verklaar word dat Jesus hom kom haal het om in sy huis te kom speel, of dat Hy haar as die mooiste blommetjie vir sy tuin gepluk het. ‘n Bedroefde en stukkende ouer
Uiteindelik, en terug na die begin: die grootste probleem by die Fundamentalistiese en Evangeliese bewegings kom by hul Skrifhantering. Ten alle koste moet teen menslike interpretasie van die Bybel gewaak word, is hul betoog. Maar in 1910, toe die basiese en fundamentele geloofsbeginsels soos gebaseer op die Skrif vasgelê is, het menslike interpretasie dan geen rol gespeel nie? Is dit nie dalk juis hierdie menslike interpretasie wat verantwoordelik is vir die sekerheid waarmee klinkklare antwoorde op die mees komplekse vrae van die samelewing voor ‘n gehoor van derduisende uitbasuin word nie?
Aanvullende bronne:
Armstrong, K 2001. The Battle for God. A History of Fundamentalism. New York: Ballantine Books.
Brasher, BE 2001. The Encyclopaedia of Fundamentalism.
Lawrence, B 1989. Defenders of God: The Fundamentalist Revolt against the Modern Age.
Versprei die Woord
6 Reaksies op "Fundamentalisme: 02" 
|
se kommentaar op 30 Sep 2008 3:23:18 AM PST
Die artikel is goed gebalanseerd, maar wat my egter bekommer is dat dit maar net weer 'n liberale interpretasie is van gebeure en geloof. Onthou ook dat van daardie kosnerwatiewe Presbiteriane van Princeton ook bekommerd was oor Fundamentalisme (bv. Graham Maschen-ek is nie seker oor die spelling nie).
Wetenskap kon nog nooit in tyd kon terug om te bewys dat sekere dinge gebeur het of nie gebeur het nie. Ons glo dit of ons glo dit nie. Dit is eerder waaroor dit gaan. Sommiges wil nie glo dat dinge soos aborsie en homoseksuele verhoudings sonde is nie, net soos wat baie ander heteroseksuele probleme nie herken word nie. Net omdat heteroseksuele probleme egter nie herken word as sondes nie beteken nie dat homoseksuele praktyke nie sonde is nie. Wat se soort argument sou dit nou ook wees. Verseker moet sulke issues met sensitiwiteit aangepak word, maar dit kan nie maar net gerasionaliseer word om by ons westerse humanistiese (let wel nie Christelik nie) sienings in te pas nie. Dit is interessant om daarop te let dat meer letterlik-geestelike geloofspraktyke en interpretasies lei tot groei en liberalisme en konserwatiwisme lei tot dood. Albei lg. is hiperrasioneel en vertrou op menslike wysheid van woorde en nie op die wysheid van God nie. Beide vg. het nie veel om te bied vir die algemene persoon nie, net vir hiper-intelektueles wat maar weer eens meer op hulle eie verstandelike vermoens vertrou as op God self. Mag ons God toelaat om God te wees en mag ons God met vertroue verkondig, glo in Sy wonderwerke, Sy teenwoordigheid en Sy Woord.
God hou vir ons 'n standaard voor, maar ons doen maar net soos wat ons dink God sou dink. Ons kap vir ons 'n God uit met woorde wat lyk soos wat ons wil he hy moet lyk en nie soos wat God Homself geopenbaar het nie. Dit word afgodery genoem. Dit was die Achilles-heel van Israel en is nog steeds van die moderne "intelektuele".
|
|
se kommentaar op 30 Sep 2008 3:28:48 AM PST
Thank you Gerda, for your Newsletter. I always read most of the articles. Because we have the same problems I feel that we are members of an ecumenical solidarity of scholars and I wish you well. In three weeks I will also be speaking at a forum meeting on "The Bible, the Big Bang and Evolution. A forum on science and Scripture. Scientists who are Christians explain the big bang and evolution. Biblical scholars and theologians discuss the interpretation of Scripture and reconciling the big bang with the Bible." The same problems of fundamentalism will come up. Thank you for your contribution.
Kind regards, Gunther Wittenberg
|
|
se kommentaar op 02 Oct 2008 1:05:43 PM PST
Baie dankie vir 'n (weereens) insiggewende artikel. My belang lê by skrif interpretasie. Wil darem net eers sê dat alhoewel ek self in die evangeliese tradisie staan, daar wel binne die tradisie stemme opgaan vir 'n meer realistiese skrifbeskouing, dit wil sê, vir die rol (prejudices of historical situatedness) van interpreteerders in skrif verstaan. Die 'objektiewe' manier van met die Skrif omgaan hou net nie meer water nie. Dit is juis die ding van 'objektiwiteit' wat so 'n 'sekerheid' verskaf. Die gronde van skrifverstaan lê juis in die mens se vooroordele wat as skakel tussen verlede en huidige situasie dien en nie die een of ander soort van 'objektiewe' metode nie. En tog, soos jy tereg opmerk, kom daar tog goeie goed uit sulke herlewings inisiatiewe. Die vraag wat bly is of sulke inisiatiewe lei tot groter realisme of na 'n groter verwydering van die wêreld, juis die plek waar God herskep? Met ander woorde, kom ons nader aan Jesus of nie? Dit is vir my die implikasie van die artikel. Ek self dink dit neem ons op 'n manier verder weg, maar dan wanneer ek na mense se getuienis luister is ek tog dankbaar daarvoor. So, asof 'n mens wil sê, eerder dit as niks nie! Dankie weereens, lekker gelees!
|
|
se kommentaar op 03 Oct 2008 9:58:39 AM PST
Die Amerikaanse, onsensitiewe Fundamentalisme wat hier beskryf word is 'n fraksie van die verskillende soorte fundamentalistiese benaderings tot die Skrif. Ek sal eerder met 'n fundamentalis die Bybel kan saamlees, as om met 'n liberalis die Bybel weg te gooi.... Hierdie Amerikaanse Fundamentalisme het 'n baie belangrike ander kenmerk wat in Gerda se artikel nie aangeraak word nie: hulle gebruik die Bybel selektief. Hulle kyk nie slegs letterlik na die Skrif nie, maar haal ook net sekere gedeeltes uit wat aanpas by hul eie lewensgewoontes, bv. om nie alkohol te gebruik nie. Die Skrif maak die gebruik van alkoholiese drank bv. deel van ons aanbidding (nagmaal, pasga ens). Om op die letterlike verstaan van die Skrif kritiek te lewer is gevaarlik, want daar is baie gedeeltes in die Skrif wat so bedoel word, bv. "Jy mag nie steel nie". Hoe wil jy dit anders verstaan as letterlik: "Moenie steel nie". Om te verstaan dat daar duisende vorme van steel is, beteken nie dat die letterlike verbod op diefstal nou figuurlik, histories of analogies (of wat ookal) verstaan word nie. Jy hoef dit ook nie eens objektief te lees om te verstaan nie, om die waarheid te sê, jy MOET hierdie gebod juis subjektief lees: "Haai, EK moet nie steel nie!!!" Skrifverstaan is nie altyd maklik nie, maar om jou lewe by die Skrif aan te pas sonder om die Skrif te verdraai is sekerlik die moeilikste. Sommer net my idees.
|
|
se kommentaar op 27 Oct 2008 4:52:23 AM PST
Die artikel dui aan dat die skrywer nie Herlewingsbewegings as ingrype van God en gevolglike terugkeer na die Bybel as riglyn vir die daaglikse lewe van Christene verstaan nie. Fundamentalisme soos in die artikel verduidelik het nie sy basis in 1910 met 'n besluit van Princeton se konserwatiewe Presbiteriaanse akademici gehad nie. Edwin Orr (miskien die grootste kenner van herlewingsbewegings sien www.jedwinorr.com/biblio.htm) maak dit duidelik dat geestelike vernuwing veral op Amerikaanse teologiese kampusse tot 'n terugkeer na God en sy Woord gelei het. Dit was nie maar net 'n morele besluit van 'n groep 'konserwatiewe' teoloe nie maar 'n geestelike verandering in die VSA wat net God kon bewerkstellig het. Omdat heiligmaking 'n resultaat is van herlewing as mense hulle sondigheid voor God besef, is dit natuurlik dat die uitvloeisel van herlewingsbewegings ook 'n baie sterk klem op die nakoming van Bybels gefundeerde lewe sal plaas. Mens kan argumenteer oor die Skrif beskouing van hierdie bewegings, maar dit kom in die eerste plek uit 'n diep verhouding met God uit. Daar is 'n hele aantal ander punte van kritiek wat ek met hierdie artikel het, maar ek het ongelukkig nie genoeg plek vir kommentaar nie.
|
|
se kommentaar op 03 Feb 2010 8:31:56 AM PST
Stem saam met Dr Conradie.
Hierdie artikel ‘stink' soos Wikipedia. Ek dink die artikel is eensydig en defnetief nie akademies van aard nie. Nie alles is letterlik bedoel nie. Ek stem saam met die Chicago Statement On Biblical Inerrancy:-
“So history must be treated as history, poetry as poetry, hyperbole and metaphor as hyperbole and metaphor, generalization and approximation as what they are, and so forth. Differences between literary conventions in Bible times and in ours must also be observed: Since, for instance, nonchronological narration and imprecise citation were conventional and acceptable and violated no expectations in those days, we must not regard these things as faults when we find them in Bible writers. When total precision of a particular kind was not expected nor aimed at, it is no error not to have achieved it. Scripture is inerrant, not in the sense of being absolutely precise by modern standards, but in the sense of making good its claims and achieving that measure of focused truth at which its authors aimed.”
|


Author)