Rolprent: In Bruges
- Deur Gerda de Villiers
- Gepubliseer 28 September 2008
- Lig-kuns
-
Evaluering:




Gerda de Villiers
Gerda de Villiers se Artikels
Wat het Kersfees in Brugge, Ierse sluipmoordenaars en ‘n rolprent oor die wel en wee van dwerge met mekaar te make?
Ray (Colin Farrell) kry ’n opdrag om ‘n priester te vermoor, maar dinge loop lelik skeef. Sy baas, Harry (Ralph Fiennes) reël ‘n vakansie vir hom in Brugge om die situasie te verwerk. Ken (Brendan Gleeson), ‘n ouer kollega en vertroueling van Harry gaan saam om die proses te monitor. Soos in Waiting for Godot wag die twee vir die oproep van Harry… maar dit kom nie. En wanneer die finale opdrag kom, is die gevolge vernietigend.
Dit is ‘n plofbare situasie. ‘n Vakansie wat eintlik nie ‘n vakansie is nie, dwing twee mense tot genadelose introspeksie. Wat het hulle hiertoe gedryf? Hoekom doen hulle wat hulle doen?
Draaiboekskrywer McDonagh laat die teater van die absurde op die silwerdoek herleef. Kontraste skrei teen mekaar. Middeleeuse kuns en argitektuur word sprokiesagtig mooi verbeeld… gelyktydig en daarmee saam loop die harde realiteit van dwelms en kommersiële seks. Chloë (Clémence Poésy) en Jimmy die dwerg (Jordan Prentice) se vertolking van hierdie sub-plot is dramaties, briljant.
Die brutaliteit van die lewe word hard en wreed aan die kaak gestel. Terselfdertyd is daar pynlike en sensitiewe oomblikke. Ken en Ray, twee mense wat betaal word om ander dood te maak, openbaar ‘n vreemde respek vir die lewe. So ook Harry, hul baas. Hierdie soort moraliteit verwag ‘n mens nie van sluipmoordenaars nie – en tog is dit daar, komies, tragies, eintlik makaber snaaks. Verwysings na erekodes, beginsels, lojaliteit en integriteit deurspek die skerp dialoog asof onvanpas. Lewe verkry ‘n nuwe betekenis – nie net vir die karakters nie, maar ook vir die kyker.
Op ‘n onverwagte en diep ironiese wyse word die drie oënskynlik onverwante temas – Kersfees, sluipmoordenaars en ‘n dwerg – aan die einde van die fliek in Brugge op mekaar voltrek. In Bruges ontgin die verskuilde hoop, onuitgesproke angs en verbrokkelde verhoudinge binne elke mens.
Versprei die Woord
1 Reaksie op "Rolprent: In Bruges" 
|
se kommentaar op 29 Sep 2008 6:12:41 AM PDT
Gerda, baie dankie vir 'n baie goeie resensie. Ek was absoluut gefassineerd en vasgevang deur die film. Dit het uiteenlopende emosies in my losgemaak - humor, deernis, woede, hartseer, ontsteltenis, wanhoop, hoop in 'n mindere mate. Die rol wat kinders en die ongebore baba in die film speel was vir my opvallend. Veral die ironiese(?) houding van Harry, wat self kinders het. Ek ervaar ook 'n onbewuste tema oor godsdiens in die film - die vrae oor die "hemel en die hel" bied nogal 'n interessante perspektief op die godsdienstige en morele worstelinge van Ken en Ray. Beide hierdie karakters se ontwikkeling soos dit deur middel van hulle introspektiewe worstelinge verbeeld word, maak dit 'n uiters kykwaardige fliek. Ek dink dis 'n briljante film! Miskien behoort dominees dit te gaan kyk om bietjie van (soms oordrewe) moralisme gestroop te raak en 'n slag net bepaalde fasette van die werklikheid "in your face" te ervaar.
|


Author)