Hennie Pieterse

 Artikels deur die Outeur

Die Suid-Afrikaanse liturgiese landskap.

Oor die algemeen word die liturgieselandskap van kerke in Suid-Afrika deur diversiteit gekenmerk. In dieselfde kerkgenootskap kan telkens diversiteit in die liturgieë waargeneem word. En dit geld nie net vir die NG kerk nie. Tussen die verskillende denominasies is daar ook ‘n groot diversiteit in die liturgie te bespeur, selfs al is daar sekere gemeenskaplike ekumeniese aspekte daarin soos byvoorbeeld die vier fases in die verloop van die erediens. In hierdie verband kan ons die konsep van local theologies van Robert Schreiter as hermeneutiese uitgangspunt oorweeg, wat as verstaanskader vir die diversiteit kan funksioneer. “… local theologies can have nuances in the theological tradition of a church denomination as a result of a congregation’s history, context and in the diversity in spirituality. A congregation has acultural web. In this cultural web beliefs, interpretation of the confessional creeds, history of a congregation, spirituality, attitudes, morals, customs, specific practices of a certain pastor,and the environment form an intertwined whole that is a cultural web”(Schreiter 1985:3).In elke plaaslike gemeente het hierdie verskynsel van ‘n eiesoort subkultuur ‘n invloed op die inrigting van die liturgie, tesame met die eietydse postmoderne lewensgevoel.


Boekbespreking: Prediking uit die Ou Testament in ‘n Christelike gemeente

Die vraag in die homiletiek en by predikers in die praktyk van hoe om uit die Ou Testament in ‘n Christelike gemeente te preek, is so oud soos die Christelike prediking self. In die jongste tyd is daar by UP en by Unisa doktorale studente wat hulle opnuut in die vraag verdiep. Rein Bos, predikant van die Protestantse Kerk in Nederland, het in 1992 ‘n proefskrif hieroor geskryf, maar nou in hierdie nuwe boek oor dieselfde tema ‘n leser vriendelike en baie behulpsame boek vir teoloë en predikers in die praktyk gepubliseer.


Teologiese refleksie na ervaring van rooftog

By die skrywe hiervan (24 Oktober) is dit vyf dae gelede dat my vrou, Jos, en ek deur drie rowers van die bank af agtervolg is. Toe ons by ons huis indraai en stop het hulle by ons stilgehou en drie het uitgespring en gesê dat hulle die polisie is terwyl die leier ‘n aanstellings-kenteken vertoon. Maar een van hulle het ‘n 9mm pistool op my gerig op so ‘n vyf treë afstand -- toe weet ons wat aangaan. Hulle het die sleutels uit my sak geruk, die kar se kattebak oopgesluit en Jos se muntversameling van Nederlandse guldens oor baie jare gegryp en weggejaag. Ons was kalm, nooit bang nie en hulle het ons nie verskreeu, geslaan of fisiese leed aangedoen nie. Jos was die heeltyd by my alhoewel ek haar versoek het om weg te gaan. Haar geroep om hulp het die bure van die hele straatblok binne minute by ons gehad, wat ongelooflik behulpsaam was, ons opgevang het en alles vir ons gereël het.


In 2001 het ek ‘n boek gepubliseer met kwantitatiewe navorsing oor prediking aan arm swartmense met ‘n voorstel dat die prediking gepaard moet gaan met gemeenskapsontwikkeling sodat armes gehelp kan word om hulself te help (Prediking in ‘n konteks van armoede). Daarna het ek in ‘n ondersoek gedurende 2005-2006 gefokus op witmense se Godsbelewing wat as gevolg van die wetgewing oor  regstellende aksie hul werk verloor het, of nie werk kan kry nie (sien my artikel in die bundel God in ‘n kantelende wêreld, wat binnekort by Protea gepubliseer word). Die betrokke wetgewing is die wet op gelyke indiensneming (Wet 55 van 1998), die wet op breed-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (Wet 53 van 2003 en die wette op vaardigheidsontwikkeling (Wet 97 van 1998 en Wet 31 van 2003). Daarin word wit mans wat Suid-Afrikaanse burgers is as die ‘nie-aangewese groep’ aangedui wat betref werksgeleenthede.