Martjie Bosman

 Artikels deur die Outeur

By die bekendstelling van Intieme afwesige deur Cas Vos

Wanneer ’n redakteur begin werk aan ’n digbundel, is hy/sy aanvanklik veral op die besonderhede ingestel: Is daar kommas, punte en hoofletters op die regte plekke? Is al die woorde reg gespel? Is die feitelike inhoud korrek? (Verwys die digter byvoorbeeld dalk na De la Rey terwyl hy eintlik De Wet bedoel?) Is die aanhalings korrek? (Teoloë en dominees is berug daarvoor dat hulle die Bybel soms verkeerd aanhaal, en letterkundiges dat hulle gedigte verkeerd onthou.) Maar wanneer die intense redigeerwerk aan ’n digbundel afgehandel het, begin die skerp besonderhede daarin onvermydelik verdof. Dan bly daar ’n vaer, maar miskien ook omvattender indruk in die geheue oor, iets wat ek die tekstuur van ’n bundel sou wou noem. Hierdie tekstuur word ingegee deur die woorde, die klanke en beelde wat die digter gebruik, deur eiesoortige sinskonstruksies, deur temas en motiewe. Die tekstuur kan wees soos dié van ’n grondpad, of ’n hoop droë blare, of dalk ’n soet malvapoeding.