Gustav Claasen

 Artikels deur die Outeur

Wat verwag die kerk van teologiese opleiding?

Teologiese opleiding is seker van die mees belangrike werk waarmee die kerk haarself besig hou. Om hierdie rede is hierdie ontmoeting jaarliks met dosente van die fakulteit altyd ‘n besondere geleentheid. By hierdie geleentheid verneem die kerk graag na die wel en weë van die fakulteit. Vir die kerk is dié welstand van die fakulteit van uiterste belang.

   Die NG Kerk staan in ‘n tradisie van noue skakeling met wetenskaplike denke en professionele kultuur. Ons teologiese tradisie lei ons om nie in agterdog terug te trek in ’n eie hoekie nie, maar die wêreld van die wetenskap as ’n uitdaging te beskou en in gesprek daarmee te tree.  Om hierdie rede word teologiese opleiding aan ’n universiteit gesetel, steeds deur die kerk gekoester en beskou as die beste manier om opleidingstandaard en kwaliteit te verseker.