Boeke


    (Bladsy 1 van 4)   
    « Vorige
      
    1
      2  3  4  Volgende »

    Woordwyser 2010

    Woordwyser is ’n Bybellees-projek van die Oostelike Sinode. Die doel is om die ‘teksies’ in konteks te lees. Met ander woorde, om nie alte maklik ’n enkele versie onmiddellik op vandag se lewe van toepassing te maak nie, maar eers te vra: Wanneer is dit geskryf?; Vir wie is dit geskryf?; Hoe het die wêreld in daardie tyd gelyk?; Watter vrae wil die teks beantwoord – ensovoorts. Woordwyser is verder interessant in die sin dat die Bybelboeke nie sistematies van Genesis tot Openbaring behandel word nie, maar dat die boeke wat saam ontstaan het, saam gelees word.


    Boeke vir Bybelstudie

    Hierdie drie boekies is presies wat hulle voorgee om te wees: Bybelstudies waarvan die eerste twee spesifiek vir vroue geskryf is. Die positiewe noot is dat elkeen op ‘n eie manier gefokus is – òf op ‘n bepaalde Bybelboek soos in die eerste twee gevalle, òf op ‘n onderwerp, soos die gelykenisse (en dan ook net dié in Matteus en Lukas). Aldrie probeer die bepaalde Skrifgedeeltes op die leser se eie lewe van toepassing maak, en stel interessante onderwerpe vir persoonlike nadenke en algemene bespreking voor.


    Boekbekendstelling: passie & spasie. Lewe in die gesin.

    Hoeveel mense is daar sonder enige gesinsverband? Iemand sonder ’n lewensmaat of kind, pa of ma, broer of suster, swaer of skoonsuster? Een met geen gesin nie? In Passie en spasie: Lewe in die gesin verken Julian Müller die verhouding tussen individue in verskeie soorte gesinne. In sy kenmerkend nie-veroordelende styl kyk hy vanuit ’n Christelike tradisie na die werklikheid waarin ons leef – nie ’n idealistiese storieboekprentjie nie.


    Boekbekendstellings

    Twee nuwe boeke uitgegee deur CUM: Seisoene, Storms en Woestyne. Verstaan die swaarkry-tye in jou lewe deur Isak Burger en Wie My volg ... 366 oordenkings uit die Evangelie, Briewe en Openbaring van Johannes deur Jan du Rand.


    As ‘n kind se lag verdwyn

    Die boek bestaan uit drie dele. Eers word die werklikheid van depressie by kinders onderstreep, daarna word die simptome bespreek, en laastens word op hanteringsmoontlikhede gewys. Wat ‘n mens tref as jy die boek lees is die nugtere en eerlike aanpak van die outeurs. Geen kitsoplossings of mooi beloftes nie. Depressie by kinders is wreed en slaan genadeloos toe. Dit mag nie ontken word nie want dit sal nie vanself weggaan nie. Professionele ingrype is al wat gaan help – geloof en gebede is nie ‘n plaasvervanger hiervoor nie!


    Een maand om te leef

    Een maand om te leef het ten doel om lesers tot ‘n meer vervulde lewe te lei, om só te lewe dat daar uiteindelik niks sal wees waaroor jy spyt gaan wees dat jy dit nie gedoen het nie. Vier grondbeginsels word neergelê: Leef met passie, Leef in liefde, Leer met nederigheid, Vertrek vreesloos. Die skrywers gebruik voorbeelde uit hul eie lewens om hierdie beginsels te illustreer, vra telkens die leser om self stil te staan en oor sy/haar lewe na te dink, en aan die einde van elke hoofstuk om sy/haar koers te bepaal. Dis ‘n boek wat as lewensverryking, gerig op selfverwesenliking bestempel kan word.


    30 Nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden

    Etienne van Heerden se romans is vol kontras. Keer op keer, soos nou ook hier, dien sy geliefde Karoo as die oerruimte van die milieu. Hierop vervleg hy boeiende en kontrasterende wêrelde, soos die stadslewe, die akademie, die internasionale nywerheid, en nou in sy jongste boek, Amsterdam - die wêreldstad wat in die nag anders lewe as die dag, waarin vreemde burgers vanoor die heelal langs mekaar bestaan.  Uit die titel blyk dit dat nag die eintlike tyd is vir lewe in Amsterdam.  


    Vuurwiel: Ryk bundel verse vol verrassings

    In haar bundel Palinodes (1987) het die bekroonde digter, literêre kritikus en akademikus van formaat ’n gedig oor Emily Dickinson geskryf:

     

    Ek lewe met drif

    ter wille van dié skrif -

    omrede die durende

     

    koors genaamd poësie.

     

    Hierdie koors breek weer uit in Joan Hambidge se soveelste bundel. Maar dan ’n aansteeklike koors sodat die leser die vuur voel brand.


    Dalk is dit alles waar … *   
                         
       
     

    “God is dood,” sê Nietzsche.

    “God is werkloos. Die duiwel ook. Hulle is afgelê,” sê The Complete Secret Diaries of God.


    Dié nuutste teks van Kombuis is steeds kontroversieel, soos wat sy ouboet The Secret Diary of God was. Dit gaan die bye en brommers laat gons, die spreekwoordelike kat tussen die duiwe loslaat, die sissies van die Amasones skei.


    Hoekom sê ek dit? Want ...


    Resensie: Ná Maanvrug, Weerloos

    Die koerante het gegóns. Hier is iets núúts. Voorheen was daar ander openbare rimpelinge oor seksualiteit: “Sexually speaking, with Dr Paul”, op Talk Radio 702, en sy gelyknamige boek; Dr. Agrippa Kathide se praatjies in oorwegend swart kerke en radio- en televisieprogramme; pastoorsvrou Ivy Sutton se veelbesproke gemeentepraatjie met behulp van ’n besemstok; Kleinboer se Rapport-prysboek Kontrei, en die sekstydskrif vir die Christelike Afrilkaanse vrou, Intiem. Maar hier was iets núút: ’n Afrikaanse vrou wat ’n seksboek skryf. G’n hygroman, prikkelend storie-agtig nie; ampers-histories, eerder; ampers-outobiografies. Sy’s gelowig; sy’t tradisioneel-Afrikaans grootgeword; sy’s voorstedelik getroud (die koerante kon nie genoeg maak van die “Garsfonteinse huisvrou” nie); sy skryf onder ’n skuilnaam (tot ’n joernalis onbeholpe haar identiteit uitblaker); vanuit al hierdie doodgewone agtergronde, skryf sy haar seksualiteit óóp... Maanvrug.


    (Bladsy 1 van 4)   
    « Vorige
      
    1
      2  3  4  Volgende »