Geskiedenis van OT-eksegese


    (Bladsy 1 van 2)   
    « Vorige
      
    1
      2  Volgende »

    Voordat ons by die negentiende eeu kom eers iets oor die onttowering van die wêreld deur die sestiende en sewentiende eeuse natuurwetenskappe. Eeue lank het die Bybelse wêreldbeeld die vertrekpunt van alle natuurstudie gevorm. Hiervolgens was alles so eenvouidig en duidelik: die aarde was plat en die son en die ander hemelliggame het om die aarde gedraai. Dit was eintlik so 'n wonderlike teorie wat soveel gemoedsrus verskaf het: die aarde, die mens het die middelpunt van God se heelal gevorm en alles (son, maan, sterre) het om die mens en sy wêreld gedraai; die mens was die heelal se sentrum en alles het om hom gewentel; die aarde het op sy pilare gestaan en die mens kon gerus en veilig voel. Natuurwetenskaplike kennis vanaf die sestiende en sewentiende eeur het dié gevoel van geborgenheid egter finaal vernietig (vgl De Knijff 1980:100-102).


    Die wortels van die negentiende eeuse historiese verstaan van die Ou Testament en veral die Pentateugkritiek asook die groei van die histories-kritiese metode moet in die Reformasie en ook Johannes Calvyn gesoek word (vgl Pitkin 2009:341-371). Hy het hoegenaamd geen klaaruitgewerkte historiese metode of denke gehad nie en iemand het hom inderdaad nog ‘vorkritisch’ genoem (Reventlow 1997:132), maar dit lê in die tipe vrae wat hy aan 'n teks gevra het en dié soort inligting wat hy gesoek het om 'n teks te begryp. En natuurlik was hy nie die eerste of die enigste nie, maar in die lees en herlees van Calvyn se kommentare ontdek 'n mens tog telkens nuwe fasette sy eksegese.

     


    Luther se hart het by die eksegese gelê. In Oktober 1512 het hy 'n professor vir die ‘Lectura in Biblia’ in Wittenberg geword en dertig jaar lank sou hy al sy kragte aan die uitleg van die Bybel wy. In die beginjare moes hy ook ander administratiewe take vervul, soos toesig oor 'n aantal kloosters, toelogiese opleiding en die toepassing van kloosterreëls hou. Daarbenewens moes hy oral en altyd in verskillende kloosters preek. En soos wat die jare aangestap het, het  dié take meer geword en dit het sy kragte getap, maar hy het hom altyd weer aan die eksegese en die skryf van kommentare gewy.

     


    Langs sy sterfbed was 'n stukkie papier met 'n paar sinne in Duits en Latyn. Hy het dit 'n dag of wat voor sy dood in die nag van 18 Februarie 1546 geskryf (Oberman 1988:13). Dit verwoord die gevoel van iemand wat hom lewenslank aan Skrifstudie gewy het, maar vir wie dit nooit 'n maklike taak was nie. Iemand wat nooit die gevoel gehad het dat hy alles klaar, volmaak en helder verstaan het nie, maar dat dit nogtans 'n taak was waaraan hy hom met soveel vreugde, ywer en nougesetheid gewy het.

    Die Middeleeue se omgang met die Ou Testament is selfs roerend. Vir hulle (soos vir die vroeë kerk) is alles op die Skrif gebou. Moeite is gedoen om 'n standaardteks saam te flans, elke aspek daarvan te ondersoek en dan daaroor te skryf. Alhoewel nie alles bewaar is nie, is daar ongelooflik baie geskryf. Veral kommentare. En dit nogal voor die boekdrukkuns ontdek is. Tydens die Middeleeue was die klooster, die klein kloostersel en kloosterskole die plek waar dinge gebeur het.

     


    Die Middeleeue was g'n donker nie. In die negentiende eeu is dit so genoem omdat min bronne oor dié era bestaan het en die Middeleeuse mens as intellektueel agterlik beskou is. Soms is dit ook so genoem omdat die Middeleeue vir sommige 'n afbuiging, 'n omvorming van die Nuwe Testament en die vroeë kerk se teologie was. Eintlik was die Middeleeue 'n wonderlike tyd vol lig, kreatiwiteit en opwinding. Nuwe uitvindinge, die Renaissance, die skilderkuns, die geweldige nuwe denke, die ontdekking van die mens en wêreld het van die Middeleeue 'n boeiende era gemaak.


    Van die begin af was die Ou Testament wesenseen met die vroeë kerk se denke oor die eucharistie (of nagmaal) en die viering van pase. In die verhaal van die twee Emmausgangers (Luk 24:13-35) het Jesus die brood tydens die aandmaaltyd gebreek en hulle het Hom herken. In die Lukasevangelie speel dié gebeure ’n kernrol. Lukas gemeente was arm, het swaargekry en het baie onder die Romeine gely. Veral sleg was Jesus se vertraagde wederkoms en die hoop wat al by baie getaan het. En dan sê Lukas dat hulle die Ou Testament moes lees totdat Hy kom; en elke keer wanneer hulle dit doen, sou hulle harte brandende word en sou hulle intense vreugde ervaar. Nou verbonde daaraan was die viering van die eucharistie (of nagmaal); om in die harde eerste eeuse wêreld te kon oorleef, moes die Lukasgemeente uit die Ou Testament leef en die teenwoordigheid van Christus in die eucharistie ervaar.


    Augustinus het nie net sommer net geskryf nie, maar hy wou iets met al sy skrywery bereik. Daar moes iets in die leser gebeur. In sy ‘De doctrina christiana’ sê hy dat hy graag mense in beweging wou bring (Doctr chr 4.28.61/20). Aan die einde van sy lewe het hy in die ‘Retractiones’ verklaar dat sy ‘Confessiones’ bedoel was om mense se intellek en gevoel op God te rig (Retr 2.6). In sy psalmkommentaar moes dieselfde gebeur. Hy wou die leser help om met mense in 'n psalm te identifiseer, om hulle met alle lof- en klaagliedere te vereenselwig. En dit kon maklik gebeur want die psalms het 'n anonieme karakter en ons kan ons probleemloos met andere se woorde en gevoelens identifiseer. Wanneer dít gebeur, het ons 'n psalm verinnerlik en kan ons dit elke dag bid (Rutten 2005:117-119).


    Op die skutblad van Marianne Weber se biografie oor haar beroemde man, Max Weber , verskyn 'n gedig van Rainer Maria Rilke wat só begin: ‘Das war der Mann, der immer wiederkehret …’ (Weber 1986). So was en is Augustinus steeds. Die man wat telkens weer en weer terugkeer, weer en weer aan die deur klop. En nie almal wat die deur oopmaak, hou noodwendig van hom nie, maar dié man het die teologie tot vandag toe ingrypend beïnvloed. Vandag nog praat mense oor hom, lees hulle hom intensief en verinnerlik sy denke. Of ons dus die kloppende Augustinus innooi of wegwys hy is daar en gaan nog lank daar wees.


    Origenes was die grootste. So het baie in die vroeë kerk oor hom gedink. Volgens een het God aan Origenes die wondergawe van uitleg gegee. Hy het die Ou Testament (en ook die Nuwe Testament) so goed verstaan en die boodskap daarvan so goed vir gewone mense verwoord dat dit was asof God die Ou Testament heel eerste aan hom gedikteer het (Paget 1996:500). Volgens 'n moderne kerkhistorikus was daar nog nooit weer so 'n volronde Bybelgeleerde soos Origenes nie (Von Harnack 1969:189-193). Sy bydrae tot die destydse verstaan van die Ou Testament was oorweldigend en groots. Dit was asof baie sieninge, teorieë en probeerslae om die Ou Testament te verstaan in hom saamgekom en ryp geword het. En sy gawe om min te slaap, ontsaglik hard te werk, elke detailtjie in die teks raak te sien, te beskryf en vir die prediking vrugbaar te maak, dwing nou nog net die grootste respek af (vgl Schütz 1984:9-16).


    (Bladsy 1 van 2)   
    « Vorige
      
    1
      2  Volgende »