Lig-kuns


    (Bladsy 1 van 2)   
    « Vorige
      
    1
      2  Volgende »

    Rolprent: Creation

    Creation is nie ‘n dokumentêre fliek of ‘n biografie oor Darwin nie. Veel eerder is dit ‘n interpretasie van twee aspekte van sy lewe: sy stryd tussen die wetenskap en geloof, en die besondere verhouding met sy dogter Annie. Annie’s Box, ‘n interpretasie van Darwin se lewe deur sy agter-agter-kleinseun, Randal Keyes, is as basis vir hierdie rolprent gebruik.

    Rolprent: The Maid [La Nana]

    Rolprent is by uitstek ‘n medium wat van terugflitse gebruik maak. ‘n Karakter se vreemde, afwykende optrede word dikwels belig deur traumatiese gebeure uit sy/haar kinderjare. ‘n Goeie rolprent verloop selde chronologies. Ek sê selde, want The Maid [La Nana] is ‘n uitsondering op dié reël.


    Bioskoop: die magtigste kunswerk van die 20e eeu

    Jy koop jou kaartjie, jou coke en jou springmielies. Jy stap die teater binne, wikkel jouself gemaklik in jou stoel. Voor jou is ‘n skerm, maar jy neem dit sonder veel belangstelling waar. Dan begin dit donker word. Jy voel ‘n aangename sensasie van opwinding. En skielik is dit heeltemal donker. Die skerm verlig. En jou totale universum verander eensklaps. Binne enkele oomblikke betree jy ‘n nuwe wêreld. Daarbuite bestaan nie meer nie, jy is selfs geïsoleer van jou mede-kykers. In die donkerte van die teater word jy oorspoel deur beelde, en jy aanvaar dit as die lewe.

     


    Rolprent: The Reader

    Terug van die skool op pad huis toe, word ‘n jong seun siek in die trem en ‘n ouer vrou help hom. En dit is die eerste ontmoeting tussen Michael Berg (op hierdie stadium gespeel deur David Kross) en Hanna Schmitz (Kate Winslet). Michael is sowat vyftien jaar oud en ‘n hormoon-gedrewe tiener: Hanna is ‘n  ouer vrou en gedryf deur ‘n donker verlede vol geheime. Spoedig raak die verhouding seksueel. Deel van die ‘voorspel’ is dat Michael vir Hanna voorlees uit die boeke wat vir hom voorgeskryf is. Vandaar die titel van Bernhard Schlink se Duitse roman, Der Vorleser wat ongelukkig in Engels onvertaalbaar is. So ‘n ongelyke verhouding is egter gedoem tot mislukking: Hanna verdwyn oënskynlik sonder enige redelike motivering uit Michael se lewe.


    Rolprent: Slumdog Millionaire

    Teen dié tyd ken almal die storie. ‘n Jong, halfgeskoolde selfoon-tegnikus uit die krotbuurte van Moembai beland toevallig op die Indiese TV-uitsending van Who wants to be a millionaire. Teen alle verwagting beantwoord hy al die vrae korrek. Hy stap weg met miljoene, ‘n voorbeeld en inspirasie vir almal wat hulself in droewige omstandighede bevind. ‘Valse hoop’, was die fel kritiek van Salman Rushdie. Maar miskien moet ‘n mens hierdie rolprent met sy ‘van-lompe-tot- luukse’-tema in die genre van ‘n sprokie plaas.


    Rolprent: Doubt

    ‘Twyfel. Die onderwerp van vandag se preek, is twyfel.’ Met hierdie woorde van Vader Flynn begin die fliek. Die scenario is ‘n katolieke skool, St Nicholas in the Bronx, Amerika, die jaar 1964. Ou sekerhede is deur baie onrusbarende gebeure geruk. Kennedy is doodgeskiet. Mense vra vrae wat hulle voorheen nie gevra het nie. Twyfel heers in die harte van baie gemeentelede. Dis nie noodwendig negatief nie, meen Vader Flynn. Twyfel kan ook mense aanmekaar bind wanneer hulle hul gemeenskaplike onsekerhede met mekaar deel. Veel erger is dit as iemand alleen twyfel, en niemand het na wie hy of sy kan uitreik nie. Kom ons reik dus na mekaar uit, en help mekaar in ‘n moeilike lewe. So preek Vader Flynn. Sy gemeentelede van 1964 en ook die rolprentkyker in die 21e eeu, kan identifiseer met wat hy sê.


    Rolprent: Brideshead Revisisted

    Jeremy Brock, regisseur van Brideshead Revisited, slaag daarin om die verhaal te her-definieer en twee uiters omstrede kerklike geskilpunte aan te spreek: homoseksualiteit en die onverdraagsame aanwending van die Skrif en geloofsgebruike.


    Rolprent: Caramel

    Die rolprent Caramel begin met ‘n warm suiker-konkoksie. Perfek, elasties, eetbaar, maar ook geskik vir kosmetiese doeleindes. Laasgenoemde is die fokuspunt van die rolprent: ‘n skoonheidsalon in Lebanon. Suikersoet oomblikke van die lewe se vreugdes, maar ook die pynlike proses van waksbehandelinge word op die silwerdoek baie realisties uitgebeeld. In hierdie salon word universele lewenskwessies aangespreek: verbode liefde, benouende tradisie, verlore maagdelikheid, onderdrukte seksuele oriëntasie, ‘n beroep wat nie uitwerk nie, vrees vir ouderdom.

    Rolprent: In Bruges

    Wat het Kersfees in Brugge, Ierse sluipmoordenaars en ‘n rolprent oor die wel en wee van dwerge met mekaar te make? In Bruges ontgin die verskuilde hoop, onuitgesproke angs en verbrokkelde verhoudinge binne elke mens.

    Rolprent: Dark Knight

    Joker is ‘n sinistêre figuur, alles behalwe ‘n grap. Why so serious? vra hy met ‘n glimlag vir sy slagoffers, mes in sy hand, mes teen hul keel – of voor hul lippe. Want die glimlag op sy eie gesig is die resultaat van trauma. Sy grootste grap is om die mensdom te ontmasker – uiteindelik, wil hy bewys, triomfeer chaos en anargie. Niemand is inherent goed nie. Goed en boos is nie twee teenpole van mekaar nie, goed en boos lê ‘n haarbreedte neffens mekaar. Joker en Batman is albei freaks, die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Hulle het mekaar nodig.


    (Bladsy 1 van 2)   
    « Vorige
      
    1
      2  Volgende »