Hoe om depressie by kinders te identifiseer

Volle bibliografiese besonderhede: As ‘n kind se lag verdwyn. Hoe om depressie by kinders te identifiseer.

Outeurs: Henk en Ansie Gous

Uitgewers: CUM

Vrystellingsdatum: April 2009

Bladsye 124

Prys: R69,95

 

Dr Henk Gous is ‘n predikant en sy vrou, Dr Ansie Gous ‘n kliniese sielkundige. Ondenkbaar dat hul begaafde kind selfmoord sou pleeg. En tog is dit wat gebeur het. Besonder eerlik gee hulle sommer heel aan die begin die redes waarom hierdie boek geskryf is: ‘Dit is swaarder om oor depressie te skryf nadat ons ons eie stryd verloor het. Gewoonlik skryf mense om te vertel hoe hulle geslaag het. Maar die genade was juis dat ons uit ‘n verlies en mislukking iets goeds kon sien groei oor die afgelope paar jaar.’

 

Die boek bestaan uit drie dele. Eers word die werklikheid van depressie by kinders onderstreep, daarna word die simptome bespreek, en laastens word op hanteringsmoontlikhede gewys. Wat ‘n mens tref as jy die boek lees is die nugtere en eerlike aanpak van die outeurs. Geen kitsoplossings of mooi beloftes nie. Depressie by kinders is wreed en slaan genadeloos toe. Dit mag nie ontken word nie want dit sal nie vanself weggaan nie. Professionele ingrype is al wat gaan help – geloof en gebede is nie ‘n plaasvervanger hiervoor nie!

 

Die outeurs probeer nêrens van die werklikheid af wegskram nie, maar kyk dit vierkant en realisties in die oë. Die onderwerp is hoogs aktueel en daarom is die boek beslis aan te beveel vir enigiemand wat by jongmense betrokke is.

Share this / Deel hierdie: