Inleiding

Die Ou Testament vertel die verhaal van God se betrokkenheid by die geskiedenis van die volk Israel. Deurentyd was daar egter mense wat Hy gebruik het om hierdie volk na sy wil te lei, en om hulle ook te waarsku wanneer hulle die spoor byster geraak het. In hierdie artikel gaan ek na God se verhouding met ‘n paar individue op die pad van Israel se geskiedenis kyk, en hoe Hy sy wil aan hulle gekommunikeer het.

Teofanie

‘n Goddelike verskyning, oftewel ‘n teofanie word dikwels geassosieer met skouspelagtige, bonatuurlike en asemrowende momente. Soms is dit wel die geval, maar nie altyd nie.

God en die eerste mense

Die Ou Testament vertel van die eerste twee mense wat God geskape het, en met wie Hy in ‘n besondere houding van omgee en sorg gestaan het. Sy fisiese nabyheid blyk eers uit die skepping van die man wat Hy uit stof vorm, en dan sy eie lewensasem in sy neus inblaas sodat hy ‘n lewende wese word (Gen 2:7). Daarna skape die Here God die vrou uit die ribbebeen van die man (Gen 2:21-22) om vir hom ‘n maat te wees.

Die teks gee geen aanduidings of die mens God kon sien en hoe God moontlik kon gelyk het nie. Die mens hoor egter wel God se verbod baie duidelik: hy mag nie van die boom van kennis eet nie (Gen 2:17). Wanneer hierdie verbod oortree word, hoor die mens en sy vrou dat God in die aandskemer saam met die wind nader kom, en na hulle soek (Gen 3:8-9). Hulle weet ook goed dat God hulle kan sien, want hulle kruip weg omdat hulle kaal is. Die mens en sy vrou vermy direkte oogkontak met God: ons sou miskien kon aflei dat hulle Hom wel ook gesien het. Maar vir die skrywer van die teks is dit nie belangrik om God se voorkoms te beskryf nie. Veel eerder gaan dit om die verhouding tussen God en mens: selfs nadat hulle uit die tuin van Eden verdryf is, blyk God se fisiese betrokkenheid. Hy stuur hulle nie weg in hul naakte toestand nie, maar Hy maak vir hulle velklere en trek dit vir hulle aan (Gen 3:21).

Hierna praat God wel met Kain (Gen 4) en met Noag (Gen 6-8), maar dit lyk nie asof Hy wel fisies aan hulle ook verskyn het nie.

God en die aartsouers

Abraham

Eers wanneer ons by Abram kom, maak God weer ‘n verskyning. Sy naggesig in Gen 15 is egter nie werklik ‘n verskyning van God nie, dit kan eerder vergelyk word met die ‘woord van die Here’ wat tot ‘n profeet kom om vir hom ‘n bepaalde goddelike boodskap oor te dra (dit word hieronder bespreek). Maar in Genesis 17 verskyn die Here inderdaad aan hom – weereens sê die teks nie vir ons hoe Hy lyk nie. Klaarblyklik vervul die verskyning vir Abram met groot ontsag, want hy val op sy knieë, en dis duidelik dat hy hierdie verskyning as ‘n verskyning van God beleef. Abram hoor dat sy en sy vrou se name verander gaan word na Abraham het Sara, dat hulle op hul oudag ‘n kind in die wêreld gaan bring deur wie God ‘n blywende verbond gaan voortsit.

Vir Abraham en Sara is die gedagte aan ‘n kind op hul ouderdom menslik ongeloofwaardig, maar goddelik moontlik. Om dit te bevestig, verskyn God weer aan Abraham in Gen 18. Maar hierdie keer as een van drie mans (v 2). Die teks gaan ook amper uit sy pad om God in ‘n menslike gedaante voor te stel. Abraham sien die mans en draf nader. Hy kry vir hulle water om hul moeë voete mee te was en eers ‘n bietjie onder ‘n boom kan rus. Dan sê hy Sara aan om roosterkoeke vir hulle te bak, en hyself gee ‘n slaaf opdrag om ‘n kalf te slag en vir die gaste voor te berei. En die mans lê weg aan die maaltyd (v 8).

Eers wanneer ‘een van hulle’ aan die woord kom en na Sara se toekomstige moederskap verwys (v 10), is daar ‘n aanduiding in die teks dat hierdie ‘een’ moontlik God kan wees. Vanaf vers 13 word Hy eksplisiet die Here genoem, en sy handelinge word onderskei van die ander twee mans. Die drie mans staan op en Abraham stap ‘n entjie saam met hulle. Terwyl hulle afkyk in die rigting van Sodom, wonder die Here of Hy vir Abraham van sy planne om Sodom te vernietig, moet vertel. Nadat Hy dit doen, draai die ander twee mans weg, en Abraham en die Here bly oor om verder te onderhandel oor wat met Sodom moet gebeur.

Isak

Isak belewe nie werklik opspraakwekkende verskynings van God nie. In Genesis 22 ontkom hy die dood weliswaar ter noue nood, maar die Here – of die Engel van die Here – word slegs gehoor, nie gesien nie. En in Genesis 26 ‘verskyn’ die Here aan Isak en sê hy moenie Egipte toe trek nie, maar liewers in Gerar bly.

Jakob

Jakob se ervaringe met God is meer dramaties. In die eerste hiervan sien hy God in ‘n droom (Gen 28:12-15). Voortvlugtend vir sy broer, oppad na Haran toe, gaan slaap Jakob op ‘n plek waar hy ‘n klip vir ‘n kopkussing gebruik. In ‘n droom sien hy ‘n leer waar engele op en af klim, met die Here wat bo-aan staan. Die Here kom staan dan by hom en praat met hom, en maak aan hom ‘n belofte, soortgelyk aan sy oupa Abraham. Maar hierdie droom vervul Jakob met vrees en ontsag. Hy noem die plek Bet-el – ‘huis van God’.

Jakob se tweede ontmoeting met God is nog meer skrikwekkend, want nou is God fisies naby hom (Gen 32:24-32). Dit gebeur by die Jabbokdrif, weer in die nag. Aanvanklik praat die teks net van ‘n onbekende ‘man’ wat met Jakob tot dagbreek stoei. En die feit dat die man nie daarin slaag om die oorhand te kry nie, laat ‘n mens wonder of dit regtig God kan wees, veral wanneer die laaste uitweg blyk te wees om arme Jakob se heup te slaan sodat dit uit die potjie spring.

Teen die einde van die vertelling word Jakob se naam deur die onbekende man na Israel toe verander – net soos wat God destyds Abraham se naam verander het. Wanneer Jakob uiteindelik deur die man geseën word, noem hy die plek Pniël, wat ‘aangesig van God’ beteken, want, sê hy ‘ek het God van aangesig tot aangesig gesien …’ (Gen 32:30).

God en Israel

Moses

Veral Moses ervaar God se verskynings in vuur of in stormagtige natuurverskynsels. Dit begin by die brandende doringbos wat nie wil uitbrand nie (Eksod 3). By hierdie geleentheid openbaar God hom aan Moses as YHWH, die God van sy voorvaders en roep Hom om sy mense uit Egipte, uit slawerny uit te lei. Vir Moses, maar ook vir die volk Israel is dit ‘n beslissende moment. Moses is aanvanklik skrikkerig en selfs onwillig, maar as hy uiteindelik instem om te doen wat God hom beveel, brei die persoonlike verhouding tussen Moses en JHWH uit na ‘n omvattende verhouding tussen JHWH en Israel. JHWH word die God van Israel se geskiedenis.

Nog steeds egter openbaar Hy sy wil aan die volk deur Moses. Wanneer die Israeliete by die Sinaiberg kom, is dit tyd om die Tien Gebooie vir hulle op te skryf. Van onder aanskou die volk weerligte en ‘n donker wolk op die berg, en hoor hulle harde donderslae. Moses is bergop om die Here te ontmoet, en die Here kom in vuur en rook af sodat die hele berg soos ‘n rokende oond begin lyk waar die Here Moses in die donderslae antwoord (Eksod 19:16-19).

Hierdie beeld van ‘n wolk op die berg en ‘n gloeiende vuur word ook in Eksodus 24:16-18 herhaal wanneer die verbond beseël word. Moses klim die berg uit wat deur ‘n wolk omhul word terwyl die Here se magtige teenwoordigheid vir die Israeliete soos ‘n gloeiende vuur op die berg lyk. Dan gaan Moses die wolk in, en hy bly vir veertig dae en veertig nagte daar.

Dit is baie duidelik dat die Here met Moses praat, want sy woorde word verbatim aangeteken. Wat egter nie so duidelik is nie, is of Moses wel die Here sien, of net ‘n verskynsel van Hom. Want in Eksodus 33:18-23 versoek Moses die Here om sy magtige verskyning te sien. Dan antwoord die Here hom dat Hy net sal verbygaan. Terwyl dit gebeur, moet Moses in ‘n rotsskeur bly sit terwyl die Here hom met sy hande toemaak. As Hy verby is, sal Hy sy hande wegvat, sodat Moses Hom net van agter kan sien, want ‘geen mens kan My sien en bly lewe nie’ (Eksod 33:20).

God en die profete

… die woord van die Here

Wanneer ons by die profeteboeke kom, is ‘die woord van die Here het gekom tot …’ ‘n algemene uitdrukking. Die heel eerste profeet, Samuel het werklik die stem van die Here gehoor vandat hy ‘n klein seuntjie was (1 Sam 3:1-10), maar hierna is dit nie presies duidelik wat met die ‘woord van die Here’ bedoel word nie. Oor die algemeen lyk dit nie asof dit gaan oor ‘n werklike Goddelike stem wat die profeet in ‘n ekstatiese toestand van geestesverrukking gehoor het nie – maar soos in die geval van Esegiël, kan dit ook nie heeltemal uitgesluit word nie. En na aanleiding van 1 Samuel 10:5-6, kan ons aflei dat profete wel iets gedoen het om hulle in ‘n alternatiewe bewussynstoestand op te werk – in hierdie geval, musiek: ‘Wanneer jy die stad binnekom, sal jy op ‘n groep profete afkom. Hulle sal van die hoogte af gaan onder begeleiding van harpe, tamboeryne, fluite en liere, en hulle sal as profete optree.’

Maar oor die algemeen lyk dit eerder asof die ‘woord van die Here’ iets soos ‘n innerlike oortuiging was dat die profeet weet wat God wil. As daar gesê word dat die ‘woord van die Here’ tot ‘n profeet gekom het, wil hy daardeur laat blyk dat hy seker is dat die boodskap wat hy kommunikeer, wel ‘n goddelike boodskap is, en nie iets wat hyself uitgedink het nie. Al het hy nie die ‘woord van die Here’ as ‘n werklike hoorbare stem gehoor nie, het hy tog God ervaar en die dringendheid van iets wat God hom op die hart gelê het.

… visioene

God kommunikeer ook soms met sy profete in drome en visioene. Die bekendste voorbeelde is seker die profete Amos (7-9), Jeremia (24), Sagaria (1-6), en Esegiël (bv 37:1-4). Hierdie visioene is meestal simbolies van aard, en soms, soos byvoorbeeld in die geval van Sagaria is die profeet self nie eers seker wat hulle beteken nie. Die Here self verskyn nie noodwendig in so ‘n visioen nie.

Esegiël probeer egter ‘n beskrywing van sy Godservaring gee (Eseg 1:4-28). Eers sien hy ‘n storm kom, ‘n groot wolk en vlamme. Daarna gebruik die profeet vergelykings om sy visioen verder te beskryf: ‘Bokant die gewelf bo hul koppe was daar iets soos saffier met die vorm van ‘n troon, en daarop was ‘n gestalte met die voorkoms van ‘n mens, hoog daarbo. Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeidnde wit metaal, na iets soos vuur met ‘n rand rondom, en na wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met ‘n helder glans rondom’ (Eseg 1:26-27). Hierdie beeld is moeilik voorstelbaar. God se voorkoms en majesteit is vir die profeet só oorweldigend, dat hy nie regtig woorde kan vind om dit mee te beskryf nie, en die wyse waarop hy dit doen, ten spyte van die gloeiende vuurbeelde, is alles behalwe verhelderend!

… in die troonsaal van God

Die ‘troonsaal’ van God gaan meestal ook met ‘n visioen gepaard. Dis asof die hemele vir die profeet oopgaan, en hy bevind homself in ‘n bo-aardse sfeer. Hy kyk binne-in, of neem selfs deel aan die verrigtinge wat in die hemel plaasvind.

Die profeet Jesaja ervaar so ‘n visioen (Jesaja 6:1-8). Hy sien die Here wat op ‘n baie hoë troon sit, omring deur serafs wat sy heiligheid en sy magtige teenwoordigheid uitroep. In hierdie toneel word Jesaja ingetrek. Hy besef dat hy nie voor God se heiligheid staande kan bly nie, en hy betreur hardop sy eie onreinheid en dié van sy volk. Die serafs hoor dit, waarop een van hulle sy mond met ‘n brandende kool aanraak. Nou is sy sonde versoen, nou kan hy die stem van die Here hoor. Jesaja kan selfs met die Here praat. Wanneer die Here na ‘n boodskapper vra wat Hy na sy volk kan stuur, het Jesaja die vrymoedigheid om homself aan te bied.

Die negende-eeuse profeet Miga wat tydens die regering van koning Agab optree, gee ‘n soortgelyke beskrywing, alhoewel hy nie soos Jesaja self aan die hemelse verrigtinge deelgeneem het nie: ‘Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan’ (1 Kg 22:19). Ook hy hoor die Here praat, maar dis ‘n onrusbarende boodskap: daar is ware en valse profete, en laasgenoemde is besig om Agab na sy dood toe te lei. Miga probeer die koning daarvan oortuig dat hý die ware profeet is, en dat hý gesien en gehoor het wat in die hemel aangaan. Ongelukkig kry arme Miga ‘n hou op die kakebeen, word met ‘n skraal rantsoen kos en water in die tronk gestop, en, soos voorspel, sneuwel Agab uiteindelik.

Slot

 

Hierbo het ek maar enkele voorbeelde van mense in die Ou Testament geneem aan wie God verskyn het en op ‘n bepaalde manier met hulle kommunikeer het. Daar is nog meer – soos Elia, Job, en andere. Elkeen van hierdie mense het God op ‘n unieke wyse ervaar.

          Soms, soos in die geval van Abraham, lyk God soos ‘n mens, en Hy tree ook soos een op. Jakob het God in ‘n droom gesien, en fisies met Hom gestoei. Ander kere, soos by Moses, verskyn God nie direk nie, maar is Hy in vuur of in angswekkende natuurkragte. Die profeet Samuel het bloot sy stem gehoor, terwyl die woord van die Here vir ander profete eerder ‘n innerlike oortuiging van sy boodskap was. Uiteindelik het God sy profete visioene laat sien, en hulle selfs ‘n blik in sy troonsaal gegee.

          In die geskiedenis van ou-Israel was dit sulke ervaringe van God wat mense se lewens verander het, en hulle daartoe gedryf het om sy wil te doen en sy boodskap te verkondig, selfs soms tot hul eie nadeel. Godservaringe in die Ou Testament was nie individueel en strelend nie: inteendeel, sulke ervaringe was kragdadig, want dit was die wyse waarop God Homself en sy wil aan die mense openbaar het.

 

Share this / Deel hierdie: