Die ou Nabye Ooste

Inleiding
In hierdie volgende teo-bydrae oor God se swye en die ervaring van die mens dat God afwesig is, gaan ek weer eens op die ou Nabye Ooste fokus. Ek ondersoek die redes wat vir God se stilte aangevoer word, en dan kyk ek spesifiek na twee tipes tekste: die klag van die individu, en oorsake waarom die gode ‘n hele nasie verlaat en hulle aan die verderf oorgee. Die artikel is gebaseer op die hoofstuk van Matthijs J de Jong in die boek, ‘Reflections on the Silence of God’ waarvan Bob Becking die redakteur is.

Stilte – waarom?
In antieke tekste word die volgende redes vir goddelike en menslike swye aangegee: stilte as gevolg van oortredinge; stilte as gevolg van vrees; stilte as gevolg van skaamte; stilte as gevolg van onvermoë; stilte as gevolg van slaap. Voorbeelde van hierdie soort goddelike en menslike stiltes kom in allerlei tekste in die ou Nabye Ooste voor, in Mesopotamië, Egipte, Ugarit, Griekeland, en Israel.

Swye, gebroke kommunikasie tussen gode en mense was nie die natuurlike toedrag van sake nie. Mense het leiding by hul gode gesoek, leiding in die klein probleempies van die alledaagse lewe, tot leiding op nasionale vlak wanneer twee nasies teen mekaar oorlog gevoer het en een van die twee vernietig sou word. Mense het hul vrae aan die gode gerig en vertrou dat dit gode hulle sal antwoord. As dit nie gebeur het nie, as die gode stilgebly het, het die mense dit as ‘n baie negatiewe teken ervaar. Goddelike swye was neerdrukkend en selfs gevaarlik. Die algemene uitgangspunt was dat as die verhouding tussen die gode en die mense goed was, het die gode gepraat; maar as die gode geswyg het, het dit beteken dat daar iets verskriklik verkeerd was.

Die ou Nabye Oosterse mense het die gode op allerlei maniere geraadpleeg. Dikwels het hulle direk tot een of selfs meerdere gode gebid. ‘n Praktyk wat egter in die res van die antieke wêreld voorgekom het, maar wat in Israel spesifiek afgekeur is, is divinasie (divination). Divineerders was ‘n hoogs gespesialiseerde groep kundiges wat die wil van die gode op allerlei maniere probeer peil het. Hulle het byvoorbeeld die gode se boodskappe in die hemelliggame gelees; of hulle sou goddelike voortekens in die ingewande van ‘n geslagte dier sien. Ander metodes was om wierook te brand en te kyk hoe die rokie trek, of om olie op water te gooi en iets uit die voorkoms van die olie-patrone af lei. Nekromansie – dodebesweerdery – is spesifiek in ou-Israel afgekeur (vgl 1 Sam 28:3-25). Divinasie was dus ‘n verdere manier om te probeer agterkom wat die gode van plan was om te doen, en as die voortekens onheilspellend was, dan kon pogings aangewend word om die gode van plan te laat verander.

Daar is dus algemeen aanvaar dat die gode op mense se versoeke sou reageer en leiding op verskillende maniere gee, hetsy ‘n direkte antwoord op ‘n gebed, deur die een of ander vorm van bemiddeling, of om positiewe blyke te gee dat ‘n offer aanvaar word. In die ou Nabye Ooste is daar geen voorbeelde waar die gode stilbly en terselfdertyd op goeie voet met die mense verkeer nie. Goddelike stilte was ‘n blyke van goddelike misnoë, gebede word nie beantwoord nie, selfs gespesialiseerde tussengangers se pogings bly tevergeefs. Stilte aan die kant van die gode was ‘n teken dat hulle hul gesig verberg het, en hul rug op die mense gekeer het.

Stilte – daarom
Ten spyte van allerlei maniere om die gode te wil te peil, ten spyte van die beste offers wat die mens sou bring om ‘n antwoord by die gode te ontlok, of om ‘n woedende god te paai, het almal geweet dat die mens nooit in staat was om die gode te beheer of te manipuleer nie. Dit was uiteindelik die gode se besluit om die mens van inligting en leiding te voorsien – of nie. Die heel ergste scenario was dat die gode besluit het om stil te bly, en die draad van kommunikasie te knip. Uiteraard kon die mens in nood dit nie net daar laat nie, en het wanhopig na ‘n verduideliking gesoek: waarom swyg my God? Waarom het hy of sy my verlaat?

Die antwoord op ‘n swyende god is meestal in menslike oortreding gevind. ‘n Swyende god is ‘n woedende god, en die rede vir die toorn, is ‘n menslike fout. Die gode is kwaad omdat die mens iets verkeerds gedoen het. Die gode is so ongelukkig oor die mense se optrede, selfs divinasie en profesie is nutteloos om enige respons te ontlok. Vanaf die gode se kant wil hulle geen kontak met die mense maak nie; nou is die mens op homself aangewese, hy moet homself help, want die gode gaan dit nie doen nie. Goddelike stilte, mislukte pogings om kontak te maak deur gebed, divinasie, die kultus, dit alles is simptomaties van goddelike woede as gevolg van menslike sonde.

‘n Babiloniese klaag-gebed wat ‘n bidder aan die godin Isjtar rig, is ‘n roerende voorbeeld van ‘n swyende godin en ‘n wanhopige mens (Engelse vertaling beskikbaar op http://www.piney.com/LamIsht.html). Eers loof die mens Isjtar se grootsheid en haar roemryke optrede. Deurgaans smeek hy haar vergifnis – waarvoor word nie gesê nie, maar dis baie duidelik dat hy oor iets skuldig voel, en dat hy baie diep ly, fisies sowel as psigies. So skryf hy:

My kapel is dodelik stil;
My heiligdom is dodelik stil;
Oor my huis, my poorte en my velde is ‘n doodse stilte uitgegiet;
My god – sy gesig is weggedraai na ‘n ander se heiligdom . . .
. . . O my Meesteres, hoe lank sal U smoorkwaad wees dat U gesig weggekeer is?
. . . O my Meesteres, hoe lank sal U woedend wees dat U gees vertoorn is?

Woedende gode verlaat hul mense, draai hul gesig weg, en dit veroorsaak ‘n situasie van intense pyn en lyding, en ‘n gewroeg oor die oortreding wat die mens begaan het om daartoe aanleiding te gee dat die gode nie langer met hom wil praat nie.

Nie net ‘n individu ervaar smart wanneer ‘n god stilbly nie, goddelike swye voorspel ‘n tyd van wraak, ‘n tyd van terreur vir ‘n hele nasie. Woedende gode bepaal die loop van ‘n volk se geskiedenis. Assiriese koninklike inskripsies wat uit die tydperk van Esarhaddon en Ashurbanipal dateer (ca 681-668 vC), teken die volle loop van gebeure op in terme van die guns of onguns van die gode. Die Nineveh-inskripsie van Esarhaddon vertel dat die kroonprins se twee ouer broers meegeding het om die troon van Assirië, maar as gevolg van hul eie bose planne het hulle van die gode vervreemd geraak. Uiteindelik het die gode hulle gestraf, en Esrahaddon die oorwinning laat behaal, omdat hy in opdrag van die gode opgetree het. Esrahaddon, weens sy gedrag wat in ooreenstemming met die wil van die gode was, was dus Sanherib se aangewese opvolger.

Ook die Babilon-inskripsie van Esarhaddon beskryf die boosheid van die Babiloniërs. As gevolg daarvan het hul god Marduk baie kwaad geword en besluit om sy eie stad en sy mense te verwoes. Saam met Marduk het die res van die gode ook die stad verlaat en teruggekeer hemel toe. Na die tydperk van goddelike misnoë, ‘n tydperk van sewentig jaar wat na elf jaar verminder is, het ‘n goeie tyd gevolg: Marduk self het Esarhaddon aangestel om die stad Babilon weer op te bou.

Op persoonlike vlak het goddelike swye onmenslike pyn en lyding voorspel. Op nasionale vlak het die stilte van die gode ramp en teenspoed vir die hele volk beteken. Swyende gode is woedende gode; hulle was so kwaad dat hulle opgehou praat het, en hul eie mense aan vernietiging en dood oorgegee het. Die gode se woede kon egter verduidelik word – dit was die gevolg van menslike oortredinge. Die sonde van die mense is die oorsaak daarvan dat die gode stilbly, kwaad word, hul rug op die mense keer en hulle uiteindelik oorgee aan straf en verdelging.

Slot
Die verduideliking is retrospektief van aard. Dit wil sê, die ramp of katastrofe word agterna verduidelik as die gevolg van goddelike afkeur op menslike oortredinge. De Jong (2013:123) merk op dat hierdie motiewe ook in die profetiese boeke van die Hebreesue Bybel voorkom. So word die vernietiging van Samaria (720 vC) en die val van Jerusalem (586 vC) verduidelik. Die oorsaak van die katastrofe, die rampspoedige gebeure is JHWH se toorn wat oor die sonde en afvalligheid van die volk ontvlam het. Die profeteboeke het dus nie in die eerste plek te make met voorspelling nie, maar met verklaring: die logika van menslike oortredinge lei tot goddelike toorn en straf.

Die retrospektiewe aard van die profetiese boeke in die Hebreeuse Bybel wil egter meer bereik as bloot ‘n verklaring op die rampspoedige gebeure bied wat Samaria en Jerusalem getref het. Hierdie boeke is nie in die eerste plek geskryf vir diegene wat in die katastrofe omgekom het nie, maar vir die nageslag. Die profete wil die volgende generasies by die doemprofesieë betrek om daaruit te leer: om te leer uit die verskriklike voorbeelde van die verlede – want ‘n swyende God is ‘n gevaarlike God. Ou-Israel se God was egter ook ‘n genadige God, en hulle het ‘n tweede kans gekry. En daarom sou hulle voortaan alles in hul vermoë doen om die kommunikasie tussen God en mens in stand te hou.

Share this / Deel hierdie: