Inleiding

‘Ag nee, my dogters, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die Here teen my uitgestrek is!’ Woorde van ‘n vrou wat God nie net as afwesig ervaar nie, maar as vyand sien. God het teen haar gedraai, en haar bitter leed aangedoen. Hy is nie vriend nie, Hy is vyand. Ja, God is ‘n gevaarlike God, sy hand is teen haar uitgestrek. God het haar man en haar kinders van haar af weggeneem. Wie weet wat Hy volgende kan doen?

Hierdie vrou se naam is Naomi, en haar storie word in die Rutboek vertel.

 

In die veld van Moab: Godverlate

Die Rutboek begin nie op ‘n positiewe noot nie. Daar is hongersnood in die land (1:1). In die spreekwoordelike ‘land van melk en heuning’, ly mense honger. In Betlehem, wat letterlik ‘huis van brood’ beteken, is daar geen brood nie. Hierdie noodtoestand dryf ‘n Judese gesin, man vrou en twee seuns om ‘n heenkome in die veld van Moab te soek.

Moab word egter ‘n plek van verskrikking, ‘n plek waar die dood seëvier. Wanneer Elimelek, Naomi, Maglon en Kiljon uit die land van God vertrek, lyk dit asof God Homself ook van hulle onttrek het. Hulle kom wel nie van die honger om nie, maar om die een of ander onverklaarbare rede sterf al die mans binne die eerste vyf verse van die Rutboek. Op hierdie moment, wanneer ook die twee seuns sterf, kom die teodisee-vraag op die lippe: waarom?

In die Ou Testament kom goed en kwaad uit die hand van God: God beloon, God straf; God beskerm, God gee oor aan die verderf. Die boek Rut gee geen rede waarom die mans sterf nie. Daar is geen sprake van misdaad of sonde nie, niks wat enigiemand gedoen het wat God sou kon mishaag nie, die verteller gee ‘n neutrale mededeling dat eers Elimelek en dan die twee seuns albei sterf. Waarom?

Drie kinderlose weduwees word agtergelaat. Kinderloosheid in die antieke wêreld was ‘n groter verskrikking as die dood. ‘n Nageslag die voortbestaan van ‘n familie gewaarborg. Vir hierdie drie weduwees het die afsterwe van hul mans ook die uitwissing van ‘n totale familie impliseer. ‘n Kinderlose vrou is sosiaal uitgeskuif. Sy het niks beteken nie, sy was van geen waarde nie. Dit was die realiteit van antieke androsentriese samelewings. Kinderloosheid was ‘n smartlike sosiale ervaring. Naomi se weduweeskap en haar onvermoë om nog kinders te kry, het beteken sy is ook sosiaal dood. Uiteindelik het die verlies aan man en kinders – veral seuns – ook verlies aan identiteit beteken: in die antieke wêreld is ‘n vrou in terme van haar man of haar seuns gedefinieer. In wese was so ‘n kinderlose weduwee ‘n ‘niemand’.

Sonder land, sonder die moontlikheid dat ‘n nageslag kan voortleef, lyk dit asof hierdie familie – Elimelek s’n – ook van die heilsgawe van God afgesny is. Naomi is ‘n vrou wat van alle kante deur die dood bedreig word. Sy het alles verloor, haar man haar kinders, haar identiteit. Naomi se laaste uitweg is om terug te keer na haar geboorteland, nie omdat sy hoop gekry het, of omdat sy daar ‘n nuwe begin wil maak nie, maar om daar te gaan sterf. Haar hele geskiedenis is een wat op die dood uitloop.

Geen wonder dan dat sy by haar skoondogters aandring om terug te keer na waar hulle met ‘n ander geskiedenis kan begin nie, ‘n geskiedenis wat hoop en lewe verseker: hulle is nog jonk, vrugbaar, hulle kan nuwe huwelike sluit en ‘n toekoms tegemoet gaan. Sy reken selfs dat hul gode sal hulle daarmee help. Haar God het teen haar gedraai, Hy is weg, vyandig, nie sy of haar skoondogters kan enigiets van Hom verwag nie.

Tog opvallend, dat net so neutraal soos wat die verteller oor die dood van die mans was, so neutraal is hy oor Naomi se bitter woorde. Dieselfde teologiese openhartigheid kry ‘n mens in die boek Job. Naomi sowel as Job word hul opstand gegun sonder om deur die verteller veroordeel te word. Inderdaad, soms word Naomi die ‘suster van Job’ genoem: net soos hy verloor sy almal wat naby aan haar was aan die dood; net soos hy ervaar sy God meer as afwesig, Hy is die vyandige Een; net soos hy, verwoord sy haar bitterheid en teleurstelling in die God wat haar verlaat het en haar van alles wat kosbaar was, beroof het.

 

Een klein klippie in ‘n donker dam: hesed

In Naomi se wêreld vol van donkerte en dood, maar leeg van God, stap Rut in. Rut, haar Moabitiese skoondogter. Sy is self ‘n hawelose weduwee. Sy het absoluut niks konkreet, niks positief om vir Naomi te bied nie. En alles wat Rut vervolgens sê en doen, staan in die teken van ‘n groot negatief. Haar versoek aan Naomi begin met ‘Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat nie!’ (Rut 1:16). Vervolgens maak Rut ‘n klomp beloftes, maar as ‘n mens mooi kyk, is ook al hierdie beloftes negatief van aard: sy los alles, al haar sekerhede, haar geboorteland, haar mense, haar gode. Rut ‘gee’ in die negatief. Maar sy gee tot in die dood. Sy is bereid om haar eie donker storie van godverlatenheid by dié van haar skoonmoeder te vervleg, totdat die dood een van hulle kom wegneem.

Maar hier begin ‘n storie van waagmoed, die storie van een vrou wat wat ter wille van ‘n ander bereid is om ‘n eksodus uit haar eie gemaksone te onderneem. Rut en Naomi is ewe hulpeloos, haweloos, hopeloos, hoop-loos, Godloos. Miskien is albei ewe uitsigloos. Dan, op hierdie eensame en godverlate pad, kom vat Rut Naomi se hand, en sê vir haar: ‘Jy is nie alleen nie. God is weg, maar ek is hier. Ek het niks om te gee nie, behalwe myself – tot die bittereinde.’

In Job 6:14 sê Job vir sy vriende: ‘Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, selfs al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.’ Dit is min of meer wat letterlik in die Hebreeus staan. Job se geloof is besig om te wankel, hy is besig om sy vertroue in God te verloor. Hy ervaar God as ver en vyandig. Hy pleit eintlik by sy vriende om asseblief tog op te hou met praat, en net by hom te wees, te verstaan, woordeloos te ondersteun. Maar Job se vriende laat hom in die steek. Hulle vertel vir hom dat hy iets verkeerd moes gedoen het, hulle probeer ‘n oorsaak vir sy lyding vind, en hulle verdedig God. Deurentyd probeer hulle Job wysmaak dat hy iets verkeerd gedoen het en dat God rede had om hom te straf. Maar dit is nie wat Job nodig het nie, hy het liefde nodig.

Die Hebreeuse woord wat in Job 6:14 gebruik word, is hesed. Dit kan op verskillende maniere vertaal word: liefde, deernis, trou, lojaliteit. Soms is die betekenis daarvan neutraal, en kan op wedersydse verpligtinge in ‘n gemeenskap betrekking hê. Maar in die Ou Testament is hesed dikwels ‘n eienskap wat aan God toegeskryf word, om God se liefde en trou teenoor sy volk Israel te beskryf. Die belangrikste implikasie van hesed is dat dit standvastig is, lojaliteit, liefde wat nooit wankel nie, trou waarop gereken kan word. En soms, soos in Job en in die Rutboek, het hesed te make met onbaatsugtige selflose liefde: om met die grootste deernis teenoor iemand anders op te tree sonder om enige gunste en gawes in ruil daarvoor te verwag. Dit is wat Job van sy vriende vra; dit is wat Rut teenoor Naomi doen.

Die eerste klein klippie wat Rut in Naomi se donker dam van hoop-loosheid gooi, is hesed. Onwrikbare liefde, standvastige trou. En dan gebeur ‘n wonderlike ding. Rut gaan are optel op ‘n land wat aan ‘n man met die naam van Boas behoort. Hy weet van haar, hy het gehoor van die hesed wat sy teenoor haar skoonmoeder bewys het (Rut 2:11). En die klein klippie hesed veroorsaak rimpels in hierdie dam wat al wyer en wyer uitkring. Boas ontferm hom oor Rut, meer as wat nodig is (2:8-9; 14, 15, 16, 18; 3:15), en uitdeindelik spoel die dam heeltemal oor in 4:16: ‘n kindjie word gebore, en Naomi word sy pleegmoeder. Deur die onbaatsugtige optrede van haar skoondogter, hou die kinderlose weduwee ‘n seuntjie op haar skoot vas, ‘n seuntjie wat eendag die oupa van koning Dawid sal word. Kringe van hesed omskep ‘n doodse verhaal in ‘n ligpoel van lewe en hoop. Naomi se storie vertel van oorwinning oor die dood.

 

Slot: ubi caritas en amor Deus ibi est

‘Waar daar deernis en liefde is, daar is God.’ Geleerdes verskil radikaal oor die datering van die Rutboek – sommige plaas dit min of meer in die koningstyd, tyd van Dawid en Salomo, en ander reken dat dit selfs so laat soos in die Hellenistiese tyd voltooi is. Almal is dit egter eens dat hesed die belangrikste motief is. Hesed is die teologiese dieptepunt van die verhaal: Rut word ‘n lewensmodel van iemand wat haarself volkome en onbaatsugtig gee. En wanneer iemand selfloos in die nood van ander optree, volg kragtige gebeure: die lewegewende God word geopenbaar in mense wat lewe en hoop bring. God wat afwesig en weg lyk, word sigbaar en kenbaar in die liefdevolle optrede van mense teenoor ander mense. Deur Rut se hesed word dit moontlik dat daar vir die godverlate treurende weduwee ‘n verlosser vir Israel gebore word.

Naomi se verhaal wil vir mense hoop gee, vir mense wat soos sy van God verlate voel, en selfs verbitterd teenoor Hom staan. Die hoop lê nie in beloftes van wonderwerke of ‘n bonatuurlike goddelike openbaring nie. Die hoop lê daarin dat die moedelose, die godverlate, die lewegewende God se hand in die hesed van ‘n vriend sal ontmoet.

 

Bibliografie

 

  • Frevel, C 1992. Das Buch Rut. Stuttgart: Verlag Katholisches Bibelwerk GmbH. Neuer Stuttgarter Kommentar – Altes Testament 6.
  • Fischer, I 2001. Rut. Herders Theologischer Kommentar zum Alten Testament. Freiburg im Bresgau: Herder.
  • Zakovitch, Y 1999. Das Buch Rut. Ein jüdischer Kommentar. Stuttgart: Verlag Katholisches Bibelwerk GmbH.
  • Zenger, E 1986. Das Buch Ruth. Zürich: Theologischer Verlag. Zürcher Bibelkommentare.
Share this / Deel hierdie: