Inleiding

Deesdae maak die ‘ou waarhede’ waarmee die meeste ouer garde grootgeword het, nie meer sin nie. Ons lewe in ‘n eeu waarin die feite van die wetenskap die waarheid van die Bybel verkeerd bewys. Om maar by die Ou Testament te begin: evolusie het die ‘Skepping’ verkeerd bewys; die aarde is nie plat nie, maar rond; en dat ‘n slang kan praat, hoort tot die genre van fabels. Enige dominee wat hierdie stories as die absolute en ononderhandelbare waarhede van die kansel verkondig, is ongeloofwaardig, en verloor die vertroue van veral sy of haar denkende lidmate, juis diegene wat die kwynende kerk nie kan bekostig om prys te gee nie.

Maar hoe nou gemaak? Die Bybel is tog die Woord van God, en geen dominee wil sê dat niks wat hier staan waar is nie, en ons hoef niks hiervan te glo nie. Geen dominee wil die geloofsmat geheel en al onder iemand se voete uitruk nie.

In hierdie teo-bydrae wil ek op Genesis 3 fokus, wat vir eeue lank as die ‘Sondeval’ geïnterpreteer is. Vir baie mense vandag maak dit nie meer sin nie, maar is daar dalk ‘n ander manier om hierdie verhaal te interpreteer, sonder om die radikale onderskeid te maak tussen ‘alles in die Bybel moet letterlik waar’ wees, of ‘alles is sommer net mites’ omdat die mens in die antieke tyd nie van beter geweet het nie? Kom ons kyk.

Die slang in ou Nabye Ooste

Eerstens is dit belangrik om iets van die wêreld te verstaan waarin die verhale van die Bybel gestalte gekry het. Ou Israel was deel van die ou Nabye Oosterse wêreld, en hul gedagtes was gedrenk in die denke wat deel van hul omgewing was. In die warm, semi-woestynklimaat wat slange volop, en ‘die slang’ was ‘n belangrike motief in ou Nabye Oosterse mitologie.

Die mens in die antieke tyd kon die slang nie verstaan nie. Hierdie dier het hom fassineer. Die slang was anders as ander diere. Alhoewel hy geen bene of pote gehad het nie, het hy vinniger as al die ander vierpotige diere op die aarde beweeg. Dan het hy skielik onder die grond in verdwyn, en dit het die mens van die antieke tyd laat dink dat hy kontak met die gode van die onderwêreld gehad het. Hierdie gode, moet ons onthou, was nie boos nie: die onderwêreld was ‘n plek waarheen almal, goed of sleg gegaan het. Die onderwêreldse gode het bloot besluit oor hoe die gestorwenes in die onderwêreld behandel moet word.      Die slang is dus as ‘n soort god, of ‘n chtoniese (onderaardse) demi-god beskou.

Behalwe dat daar volop argeologiese bewyse is dat so ‘n slang-kultus in die ou Nabye Ooste bestaan het, getuig selfs in die Hebreeuse Bybel hiervan. In Numeri 21:8-9 lees ons van Moses wat ‘n koperslang gemaak het, en die kinders van Israel wat deur giftige slange gebyt is, kon hierna opkyk, en dan is hulle genees. Vermoedelik was die mense van antieke tye ook bewus van anti-gif, wat van die gif van die slang verkry kon word. Maar as daar iets van Moses en die koperslang oorgely het, het koning Hiskia dit in 2 Konings 18:4 laat verwoes: hy het ‘die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op dié dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Nehustan genoem.’ Slangverering was deel van ou Nabye Oosterse kultusse, en die skrywers van die Hebreeuse Bybel dit geweet.

Die slang was tegelyk bewonder en gevrees. Iets van Rudolph Otto se opvatting van die goddelike: ‘mysterium tremendum et fascinans’. Daar is iets wat ‘n mens tegelyk afskrik en aantrek, iets wat ‘n mens bang maak sowel as iets wat jy bewonder. Iets hiervan vind ons in die antieke mens se beskouing oor slange.

Wat vir ons egter vandag baie vreemd mag voorkom, is dat die slang in die antieke tyd nie ‘n simbool van die dood was nie, maar van die ewige lewe. Die mens van die antieke tyd het waargeneem dat die slang vervel, en tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie dier nooit oud word nie. Elke keer gooi hy sy ou verrimpelde vel af, en seil jonk en nuut verder. Met ander woorde, die slang word elke keer weer jonk, en sterf nooit. Hiermee saam kom die gedagte van wysheid: as die slang vir soveel eeue lank op aarde geleef het, moes hy alles gesien en gehoor het, en ‘n mate van wysheid bekom het. Ons vind dit terug in Jesus se woorde in Matteus 10:16. Hy sê vir sy disspels: ‘Kyk, ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan ‘wys’ soos slange en opreg soos duiwe.’

Laastens is daar die eksistensiële vraag waarmee die mens van alle tyd worstel, die mens van die antieke tyd en die mens van vandag: hoekom is daar dood in die wêreld? Hoekom moet die mens sterf? Hoekom kan hy nie vir ewig lewe nie? Die mens in die antieke tyd het tot die gevolgtrekking gekom dat die ewige lewe net vir die gode beskore was, en nie vir die mens nie. Gode kon vir ewig lewe, mense nie. Af en toe het dit wel gebeur dat daar vir ‘n mens die geleentheid opgeduik het om vir ewig te kan lewe, maar dan is hulle op ‘n manier gekul sodat dit nie uitwerk nie – en die persoon wat die kullery doen, is gewoonlik ‘n agent van die gode, of een van die gode self. Ten alle koste wou die gode verhoed dat die mense soos hulle word, en die laaste troefkaart in hul hand was die ewige lewe vir gode, en die dood vir die mens. ‘n Hele klompie ou Nabye Oosterse mites vertel hiervan: ‘n mens wat ‘n kans op die ewige lewe kry, maar dit as gevolg van verkulling deur ‘n god of goddelike agent verloor.

 

Die slang in Genesis 3

Baie van bogenoemde elemente virnd ons terug is Genesis 3. Die slang word voorgestel as anders as ander diere. In die Hebreeus word die slang as ‘arûm beskryf, en die Afrikaanse Bybel vertaal dit met ‘listiger’. Baie eksegete het al daarop gewys dat dit amper soos die Hebreeuse woord vir ‘naak’ of ‘kaal’ klink, maar ‘arûm kom ook in die Spreukeboek in die konteks van wysheid voor (bv Spreuke 12:16, 23; 13:16; 14:8, 15). Die skrywer van die Hebreeuse teks handhaaf die fassinerende aard van die slang, deur die semantiese meerduidigheid van die een woord, ‘arûm. Wys, slim, slinks. Die drie lê baie naby aan mekaar.

Vervolgens kan ons ook duidelik die mitologiese element in die Genesis 3 verhaal herken. Die man en die vrou het die kans om vir ewig te lewe, mits hulle nie van ‘n sekere boom eet nie. Die slang ‘verkul’ die man en die vrou sodat hulle wel van die vorbode boom eet, en daardeur verbeur hulle die kans op die ewige lewe, om ‘soos God’ te word. Net soos in die ou Nabye Oosterse mites, verduidelik Genesis 3 ook hoekom die mens moet sterf, hoekom vroue met pyn geboorte gee, en hoekom die lewe daarbuite moeilik is.

Wanneer die Here God die man en vrou uit die paradys verdryf, uiter Hy die woorde: ‘Nou het die mens geword soos een van ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!’ Ook hierin herken ons die ou Nabye Oosterse motief dat die ewige lewe net vir die gode beskore is, en daar ten alle koste verhoed moet word dat die mens ook soos die gode vir ewig lewe.

 

  • Genesis 3 is tog anders

Maar wat maak Genesis 3 anders as net maar nog ‘n mite?

Ons kan aanvaar dat die outeur van Genesis 3 ná die Babiloniese Ballingskap gelewe het. Gedurende hierdie tyd, die Ballingskap, het ou Israel met baie van die ou Nabye Oosterse mites in aanraking gekom. Die duidelikste voorbeeld hiervan is die ooreenkomste tussen die Vloedverhaal van Noag en die Babiloniese Vloedverhaal. Ons kan dus aanvaar dat die outeur van Genesis 3 ook ander mites geken het wat oor die dood en die ewige lewe handel. Hy het werklike slange en ook die mitologie van slange baie goed geken.

Maar wat doen die skrywer van Genesis 3 om sy verhaal anders as die ou Nabye Oosterse mites te maak?

In die eerste plek ontmitologiseer hy die slang. Dit is nog steeds ‘n fantastiese en slim dier – hy kan praat, iets wat die ander diere blykbaar nie kan doen nie. Maar, hy is steeds ‘n ‘dier van die veld’ wat die Here God gemaak het. Met ander woorde, die slang in Genesis 3 is nie ‘n bonatuurlike wese of onderaardse god nie, en hy is ook nie ‘n goddelike agent nie. Hy is maar net ‘n dier en ‘n skepsel van die Here God.

Ons het reeds gesê dat die fabelagtige slang kan praat. Ook hier wil die outeur van Genesis 3 iets meer doen as om sommer net ‘n storie van ‘n pratende slang te vertel. Wanneer die outeur die slang laat praat, verdraai die slang God se woorde op ‘n baie slim manier. Hy maak asof die Here God die man en vrou verbied het om van enige van die bome in die tuin te eet (3:1), terwyl net ‘n sekere boom, die boom van kennis van goed en kwaad, verbode was (2:17). Verder prikkel die slang die vrou se intellek (3:5-6) deur vir haar te sê dat die vrug van die verbode boom nie tot die dood sal lei nie, maar tot kennis, kennis gelykstaande aan dié van God. Die slang maak God dus tot leuenaar. God het al die tyd vir die mens gelieg om te keer dat die mens soos Hy word.  

En dan sien ons dat die slang se woorde waar word. Die man en vrou sterf nie dadelik nie, hul oë gaan oop. Hulle word slim. Hulle het kennis gekry. Die kennis strek hulle egter nie tot voordeel nie. Hulle sien dat hulle naak is, hulle word skaam, hulle word bang vir God en moet vir Hom wegkruip. En die uiteinde van die storie is dat die man en vrou uit die tuin verdryf word, die tuin wat God met soveel sorg vir hulle voorberei het, vir hulle alles gegee het wat nodig was, en net een ding vereis het: om nie van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie.

 

  • Genesis 3 en Israel se geskiedenis    

Die skrywer van Genesis 3 het meer gedoen as om bloot die slang te ontmitologiseer. Wanneer die slang se woorde waar word, word hy die ‘vals profeet’ van Deuteronomium 13:1-2 wie se teken uitkom en wie se wonder plaasvind, maar wat Israel verlei om ander gode te dien wat hulle vantevore nie geken het nie. En omdat Israel na vals profete geluister het en die gebooie van die Here God verontagsaam het, het hulle in Ballingskap gegaan. Met ander woorde, die skrywer van Genesis 3 interpreteer die verhaal binne die konteks van Israel se geskiedenis. Die tuin word ‘n metafoor vir die Beloofde Land, die man en vrou word ‘n metafoor vir Israel wat, in plaas daarvan om God se gebooie te gehoorsaam, eerder na vals profete geluister het, en daarom die land verloor het.

 Die skrywer van Genesis 3 gebruik dus bekende motiewe uit die ou Nabye Oosterse mitologie, maar pas dit metafories op Israel se geskiedenis toe. Mite word geskiedenis. Genesis 2-3 vorm dus eintlik ‘n proloog tot die res van Israel se geskiedenis soos dit in die Hebreeuse Bybel ontvou: die Beloofde Land, Israel se ontrou, en Ballingskap.

 

Genesis 3 vandag

So moet ons dan ook die leer van die sogenaamde ‘Sondeval’ verstaan. Net soos wat die outeur van Genesis 3 Israel ou Nabye Oosterse mites gebruk het om Israel se geskiedenis te vertel, moes die eerste Kerkvaders Genesis 3 interpreteer om binne hul eie konteks sin te maak. Dit was ‘n oorwegend heidense Grieks-Romeinse wêreld waarin daar ook spoedig allerlei vertakkinge van die Christendom wortel geskiet het. En alhoewel ons vandag nie volledig met hul interpretasie kan saamstem nie, kan dit help as ons by die kern van die verhaal uitkom.

Genesis 3 wil nie soos die ou Nabye Oosterse mites verklaar waarom die mens nie vir ewig kan lewe nie, en dit wil ook nie verklaar waar die ‘sonde’ vandaan kom nie. Die tragedie in die verhaal is dat die besondere verhouding tussen God en mens verbreek word en die resultaat daarvan is ballingskap. Vir ou Israel was dit die Ballingskap in hul geskiedenis; vir die kerkvaders het die ‘sonde’ die breuk veroorsaak; vandag ervaar ons ‘n ander soort ballingskap. Ons maak keuses wat ons van God af wegdryf – en dit is nie noodwendig die een of ander verskriklike ‘sonde’ nie. Soms is dit die eise wat ons besige lewens stel. Ons word gedwing om belangrike keuses te maak wat al ons aandag verg, dat ons nie nog tyd kry om aan God ook te dink nie. En in die proses dryf ons al hoe verder van God af weg. Ons begin God te mis. Ons ervaar ‘n spirituele ballingskap. Dis pynlik.

Maar dan kom die verrassing: ‘Waar is jy?’ roep die Here God vir die mens in Genesis 3:9. ‘Waar is jy?’ het God vir Israel in Ballingskap geroep. ‘Waar is jy?’ het God vir die sondige mens van die kerkvaders geroep. ‘Waar is jy?’ roep God die mens vandag wat in ‘n spirituele ballingskap verkeer. Die God van die Ou Testament, die God van Israel, die God van die kerkvaders, die God van vandag, is ‘n God wat roep na die mens wat weggeraak het, maar so diep na sy nabyheid verlang.

 

Slot

Die betekenis van ‘n teks soos Genesis 3 is dus nie vir eens en altyd absoluut waar nie. Vir die ou Nabye Ooste het die mites ‘n sekere betekenis gehad. Die outeurs van die Hebreeuse Bybel het hierdie mites binne die histories teologiese raamwerk van ou Israel gegiet en hul God nie as ‘n God van mites voorgestel nie, maar as ‘n God van die geskiedenis. Die kerkvaders, op hul beurt, het ook hul eie interpretasie aan die verhaal gegee. Daarom kan ons vandag ook Genesis 3 opnuut interpreteer om binne ons eie lewenskonteks sin te maak. Ons kan die mitiese motiewe raaksien, en ons moet besondere waardering hê vir die proses van interpretasie en herinterpretasie wat die teks ondergaan het, maar ons kan steeds die geloof behou.

 

Bibliografie

  • Blenkinsopp, J 2004. Treasures Old and New. Essays in the Theology of the Pentateuch. Cambridge: Wm. B. Eerdmans.
  • Carmichael, CM 1992. ‘The Paradise Myth: Interpreting without Jewish and Christian Spectacles.’ Paginae 47-63 in Morris P & Sawyer D (red), A Walk in the Garden. Biblical, Iconographical and Literary Images of Eden. Sheffield: Sheffield Academic Press.
  • Emmrich, M 2001. ‘The Temptation Narrative of Gn 3:1-6. A Prelude to the Pentateuch and the History of Israel’ in Evangelical Quarterly: 3-20.
  • George, AR 2003. The Babylonian Gilgamesh Epic. Introduction, Critical Edition and Cuneiform Texts. Volume I. Oxford: Oxford University Press.
  • George, A 1999. The Epic of Gilgamesh. Suffolk: Barnes & Noble Books.
  • Kapelrud, AS 1993. ‘You shall surely not die.’ Paginae 50-61 in Lemaire, A & Otzen, B (red), Histories and Traditions in Early Israel. Leiden: EJ Brill.
  • Mc Call, H 2001. Mesopotamian Myths. London: The British Museum Press.
  • Penchansky, D 1997. ‘God the Monster: Fantasy in the Garden of Eden.’ Paginae 43-60 in Aichele, G & Pippen, T (red), The Monstrous and the Unspeakable. The Bible as Fantastic Literature. Sheffield: Sheffield Academic Press.
  • Von Rad, G 1972 [1961]. London: SCM Press.
Share this / Deel hierdie: