Inleiding

So universeel, so oud soos die mensdom self, is die ervaring dat God swyg terwyl die mens in die grootste angs en foltering uitroep en smag na ‘n antwoord. God se swye dryf die mens daartoe om al meer en meer te praat, al dringender en driftiger, en intense emosies van droefheid, onbegrip, ellende, verstotenheid en selfs woede aan ‘n God te rig wat deurentyd stilbly, wegbly. Ervarings van ‘n afwesige God wanneer die mens Hom op sy nodigste het, skud die basiese fondamente van geloof: wat is die sin van onverklaarbare lyding, en wat is God se rol in die proses? In teologiese taal word dit die ‘teodisee-vraagstuk’ genoem.

 

Die ou Nabye Ooste

In die antieke wêreld het mense ervaar dat hulle direk van die gode afhanklik is (Nunn 2012:128). Die gode het hulle in moeilike tye beskerm en gehelp, maar het hulle ook gestraf. Mense het ‘n direkte verband tussen beloning en straf, tussen oorsaak en gevolg gelê. As jy reg doen, sal dit met jou goed gaan; as jy verkeerd doen, sal dit met jou sleg gaan.

So ‘n siening kan vergelyk word met wat ons onder ‘wysheidsleer’ verstaan. In die ou Nabye Ooste het wysheid egter nie soseer betrekking gehad op wat moreel reg of verkeerd is nie, maar het eerder verwys na kultiese en magiese kennis (Schneider 2011:97). Enersyds het die konsep wel bestaan dat wysheid te make het om in harmonie met die gemeenskap en met die goddelike te lewe. Andersyds was daar ‘n hele rits kultiese voorskrifte om die essensie uit te stippel van wat noodsaaklik was om die gode te behaag, en wat liefs vermy moes word sodat die mens nie die gode se gramskap op die hals haal nie. Om hierdie rituele voorskrifte na te kom en die gode op die korrekte manier te dien, was ‘n integrale deel van wysheid (Beaulieu 2007:7).

Dit was egter nie altyd so eenvoudig om te weet wat reg of verkeerd was nie. Daar was menigte kultiese lyste van wat ‘n mens mag of nie mag doen nie, en dit was heel moontlik om wetend of onwetend te oortree, of om bloot uit onkunde iets te versuim. Wanneer ramp of teenspoed die mens getref het, is dit gewoonlik toegeskryf aan die onwetende oortreding of versuim van so ‘n voorskrif, en daarom die bestraffing van die gode (Nunn 2012:128). Elke Mesopotamiese teks wat filosofies nadink oor godverlatenheid, voorveronderstel so ‘n oorsaaklike verband tussen kultiese nalewing en goddelike reaksie – of die mens geweet het wat hy doen, of nie. Heel dikwels, trouens, meestal het die mens nie geweet waarom ‘n ongeluk hom tref nie en in sy jammerlike situasie het hy begin nadink, en eers dan vermoedens begin kry waar hy moontlik kon fouteer het.

Die keersy van hierdie soort wysheid is divinasie. As die mens as gevolg van ‘n  kultiese oortreding deur die gode gestraf is, moes die verhouding met die gode ook via die kultus reggestel word. Persoonlike boetedoening, sondebesef in nie tipies van ou Nabye Oosterse kulture nie (Nunn 2012:128). Die mens het na iemand toe gegaan wat in die kultus en goddelike wil onderleg was (Eng: ‘diviner’); so ‘n kultiese spesialis kon vasstel watter offers of handelinge nodig was om die grimmige god of godin te behaag en sodoende die gebroke verhouding tussen god en mens herstel.

Die sogenaamde ŝu’illa–gebede is ‘n baie tipiese voorbeeld van ‘n manier waarop ‘n kultiese spesialis te werk gegaan het om ‘n lydende mens en ‘n afwesige god te versoen. Of daar persoonlike toenadering van mens tot god was, is onmoontlik om vas te stel. Die tekste getuig van gespesialiseerde bemiddeling: geykte formule-agtige gebede, en rituele wat daarmee saamgaan.

Maar rou emosie voer die botoon. Eers word die god/godin geprys. Lofprysing maak altyd deel van gebede uit. Ongeag die diepte van die mens se lyding, prys die vrome mens die god. Menslike vroomheid weeg swaar, want dit onderstreep die onbillikheid van sy onverdiende lyding. As die mens alles in sy vermoë gedoen het om die godheid te behaag, en regtig geen benul het van waar hy oortree of versuim het nie, hoe kan sy lyding verklaar word?

Die mens lê sy intense gevoelens van verwerping en verlies aan die god voor, fisies ly hy ook aan siektes wat die liggaam teister, maar ten diepste verlang hy desperaat daarna dat die godheid versag, en sy straf ophef (Beaulieu 2007:11).

Maar as die god swyg? Dit is die donker kant, die negatiewe spieëlbeeld van wysheid: dit is die teodisee-vraagstuk. Vanaf die tweede millennium vC word dit ‘n prominente motief in Mesopotamiese religieuse tekste (Beaulieu 2007:8). Hoe kan iemand wat al die leringe van die tradisionele wysheid onderhou het, iemand wat verstandig, gehoorsaam, vroom en geleerd is, iemand wat al die rituele voorskrifte getrou nagekom het – hoe kan so ‘n mens onverklaarbare lyding ondergaan, sonder dat dit die gode traak?

 

Slot

Waarom? So roep die mens, nie uit blote nuuskierigheid nie, maar in diepe lyding en uit die wanhoop van sy onbegrip. Die antwoord op die vraag soek hy by sy gode, maar die gode swyg. Hierdie ervaring is nie nuut of uniek nie, die waarom-vraag bly op die mens se lippe vir eeue lank, deur geslagte heen. Die intensiteit daarvan neem egter nie af nie; elke mens worstel op ‘n unieke manier met lyding, met God se afwesigheid, God se swye as dit swaar gaan. En meestal is daar nie ‘n antwoord op die vraag nie.

Bronne geraadpleeg

  • Beaulieu, P-A 2007. ‘The Social and Intellectual Setting of Babylonan Wisdom Literature.’ Paginae 3-19 in Clifford, RJ (red), Wisdom Literature in Mesopotamia and Israel. Leiden: Brill.
  • Nunn, A 2012. Der Alte Orient. Geschichte und Archäologie. Darmstadt: WBG.
  • Schneider, TJ 2011. An Introduction to Ancient Mesopotamian Religion. Grand Rapids, Michigan: Wm. B. Eerdmans Publishing Company.

Gerda de Villiers

Share this / Deel hierdie: